Jagters

Add photo text
Daggaboer braai op agtererf.
Voortuin met ou ingangspoort en gestorwe waterleliefontein.
Add photo text

Hoofstuk Een - Eerste Dae op Daggaboer

 

IS PLATTELANDSE VROUE platter as stadsdames? Nee. Dog, in publieke plekke soos op pyfments en in Pep, praat plaasmeisies baie harder oor selfone, bestuur bakkies al selfoon-geselsende-hande-in-die-lug oor bergpasse, laat honde bosluistyd buite slaap, bepaal hul klerekas deur temperatuur eerder as tydskrifte en eet vet vleis vir ontbyt. As ek vertel dat eiers onlangs in Amerika as ‘n vleissoort geklassifiseer is, kyk hulle my aan: O ja, hy’s die nuwe ou op Daggaboer. Dan gesels hulle verder. Almal tegelyk soos stadsvinke.

Mans tel nie. Mans is goed wat gestuur moet word.

Ek voel of ek gestuur is om klandestien kandidate vir ‘n reality show te werf - vir die jaarlikse toekenning van die Styl, Sjarme, Adco-Dol, Coke en Klippies Awards. En alreeds wen álmal wat ek sien hoofpynrolle en dis nog nie eens Vrydag nie.

Dis 32 grade in Cradock en ek is gereed om my eerste kortbroek in 40 jaar te koop. Trouens, ek is gereed om die safari-pak te herlewe en blymoedig in die peperboomskadu’s te jodel, want hier op Daggaboer is meer slange as in ‘n personeelkamer by ‘n kollege of koerant. En dan word vertel die dae van wonderwerke is Bybeltyd al verby.

Adco-Dols, Klippies en Coke, ondanks mitiese status en kosmiese geesteskragte, is geen amptelike teenmiddel vir pofadderbyt nie. Buite, langs die swembad, lê boonop een van gister se boomslange in spikkelskubbe van vier meter. Okay, twee. My ontwerp vir die safaripak sal vanjaar die langbroekweergawe wees. En die gepaardgaande Crocs sal boetse wees met tonnels eerder as gate.

Dis my eerste dag op die plaas en omdat almal reeds verneem het dat ek toeka die Rockspider Opera restaurant in Seepunt besit en begrawe het, moet ek vanaand kosmaak. My blye aankondiging dat ek weens gifwarm weer ‘n heerlike Griekse slaai gaan maak, het die prys vn Adco-Dols reeds laat styg en die idee van olywe laat daal na ‘n ongekende verwysing in die Ou Testament. Gister eers hier aangekom, na ‘n liriese reis deur asemgewende landskappe:

Gister weer soos eerste keer
God se vrou sien buite speel
Tussen Graaff Reinet en Aberdeen
Waai haar rok wolke los in ligte reën
In sluiers grys satyn róndom blomwattes van wit katoen
Bónt-om wye berge branderende kransligte blitsend op see-fluweeldes groen
In suiwer stilte in. Ja, ek weet, ja dit klink als net mooi twee te veel
En boonop het ek geen bewys nie, want ons twee was heeltemaal alleen
en toe ek my venster oopdraai, het sy my lek-triek skoon-awesome kom soen


Ek kom eintlik hier skilder en ook werk as konsultant by ‘n dinamiese onderneming waarvan ek reeds versoek is om weg bly: “Bly bo by die huis en kyk na Seuntjie”. Seuntjie is ‘n kordate Xhosa-reïnkarnasie van Dingaan en sy oë weerspieël, desondanks my ruime aanwending van byvoeglike naamwoorde, nog geen begrip die paradys wat ek van die toekomstige plaas Daggaboer probeer projekteer nie. Die perkelose tuine om ‘n gehawende Victoriaanse paleiskasarm is speelplek vir slange. Baie slange. Seuntjie vloek in Afrikaans. 

Die groot spuitfontein voor (agter is ook een), eg Victorian, is met blommende waterlelies en al begrawe. Gister. Ek seg nee, a nee a, maak oop. Maak reg. Kyk al die bome vol vinkneste. Hulle sal algar sterwe en wat gaan die Here en jou ander voorvadersgeeste dan van jou sê, Seuntjie? Steeds geen spieël in die oë nie. Nee. Stilte. Dog, reeds iets so klein en ver soos verwyt. En wat, verneem ek…maar ek kry my sin nie klaar nie, want Seuntjie vertel armswaaiende hy gaan die res van die vinkneste ook mors-af sny want die fokkon slang hy soek daai keikoens en dan hy kom hierso kak stook. 

Dis die eerste dag van my nuwe lewe, my doeke en kwasse is nog ingepak. Die slaai weier om Grieks te wees, Seuntjie wil geen waterlelies red nie want hêlle syp die fantein moertoe. En Marakkas my harteliefbrak, draf in sirkels en wil gaan stappies maar haar pa het nog geen safaripak nóg boetse vir die trip berg-óp na die vonkelfonteine nie. Seuntjie wil gaan wys hoefil kak dit vat om die blommê nat te spat. Ek slaan my oë op na die berge en my keel trek reeds wyn.


Dag Twee – Daggaboer – Donderdag 7 November 2013

En dit was aand en dit was oggend, die tweede dag op Daggaboer. Ek kyk by my venster uit oor die ruïne van ‘n hoë, imposante boogmuur met krul-en-draai hekke. Agter dit val die vallei in terrasse wyd oop, af, onder na die hoofpad toe, doer waar die padstal staan. Die ou boogmuur leun vervalle en staan effe skeef dog dapper voor die spuitfontein, daar waar Seuntjie die dam volgepomp het – die lelies lig nou hul nekke om die son in te kelk. Maar die water het reeds weggesyfer en netnou sal Seuntjie astrant sy arms kom swaai en dan hande op sy heupe anker, een voet vorentoe, om só sy ware voorspelling aangaande watervermorsing triomfantelik op te eis. Moertoe, sal hy sê. Moertoe. 

Die plaas is glo in die laat 1800’s só gedoop as bouplek van hemp. Dagga. Maar dis die cannabis-plant waarvan veselmateriaal gemaak en geweef word, soos sy. Verweefd is dit sterker as spinnedraad, sag op die vel en duursaam, sodat dit lang skeepsvaarte, harde werk en skurwe landstrekke kon deurstaan. Dis waar die woord hemp ook vandaan kom. Ons praat nie hier van die droomdagga waarmee kinders hul ouers en skole en boelies se aanvalle probeer weer nie. Of die vlugmiddel van moedeloses wat wil droom sonder om te doen nie. Nee. 

Die daggaplant is ‘n wondermiddel van onse Here God wat deur magsbefokte mense verdag gemaak is, maar ek is nie hier om dit te beveg nie. Ek is hier om te skilder, oog te hou oor die doen en late van Seuntjie Monde, te kyk na die klein pantoffelfabriek wat wragtagwaar die heel beste handgemaakte skaapvelpantoffels optoor, ‘n fyntuin aan te lê en saans as klankbord te staan vir Bjella, die eienaar van die padstal, oor nuwe idees met die renaissance van haar padstal. 

Verder moet ek Maandae en Dinsdae na Bedford en Cookhouse en Cradock ry vir inkopies, vleis en heuning, en bank en diesel, en sulke dinge wat die pompe laat loop en die dames laat kook en bottel.

Die huis is ‘n kasarm wat snags op eie asem kraak. As ek in die hoofgang verkeerd afdraai op soek na my kamer, moet ek weer Graaff Reinet oor terugkom en kompas leen op Aberdeen om my weg te vind. In die badkamer kan ‘n span krieket wydsbeen speel. In my kamer is vier slaapplekke en ‘n ou kamerstel van kiaat. Die spieëlkas is een van daardie dresgoed met drie spieëls wat ‘n mens van alkant al jou swakhede uitwys - beter as enige kerk en erger as Picasso. Dis ‘n staande bewys van simultaneous vision, die relatiwiteitsteorie en ook bewys van die skade wat son, wyn, dagga, liefde en die sielkundige terreur van die ANC aan die voorkoms van Die Mens kan doen. Fok Tracy Emin.

Graag sou ek meer wou vertel van die plaas, die huis, die uitsigte oor silwergoen berge en doringbome, die hoogste palmboom so vól vinkneste en dartelende sketterende geselsende geelvinke ek dink nie eens daaraan om RSG op te roep nie. Die mense en diere op Daggaboer is anders as elders. Die honde is gesond en lewendig en só gemaklik ónneuroties in hul eie pels, hulle knor nie eens vir my Jane Russell Marakkas Maria de la Queerelli Wolmarans nie. Hulle wil net speel.

Maar nou moet ek my gedagtes op hok kry vir die dag. Woorde soek wat tot onse Seuntjie sal spreek (die swembad staan vol vrotwater en is pruttende broeimasjien vir miljoene muskiete). Ons moet die fontein in die slangberge gaan besoek en boonop moet ek met blye galme my bokse verf uitpak en ‘n vars doek van onskuld beroof.

 

Dag Drie – Liria – Vrydag 8 November

 

Sodra haar hande voor haar in sirkels begin beweeg, met skuimwater op die vloer, stoflap op die kas, of met meel op die tafel, begin Liria sing. Dis ‘n diep, resonante klank, maar eerder steungeluide as ‘n harmonie van note. Haar blinkswart oge blý ontwykend en mens moet haar direk op haar naam aanspreek en jou oë in hare in dwing om kontak te maak. En as jy daarin kyk, is daar iets oer en vér wat ‘n mens aan geen Europeër kan verduidelik nie. Dis nie onvriendelik nie, maar kan so lyk. Dis nie bot nie, ook nie ontkennend nie. Dis ‘n eie terrein afgekleim en streng privaat. Haar siel wat nog in Zimbabwe is, in die groen valleie waar mango’s en lietsjies gedy, lemoene en avokado’s onder die bome kompos word, dis daar waar ek vermoed sy nog lag en gesels. Haar kinders is daar, ver, maar haar man is die pantoffelmaker hier op Daggaboer. Meestershandewerk verrig hulle twee saam, maar die prys vir Styl en Sjarme sal sy nie vandag losslaan nie. 

Liria kom ongevraagd help om ‘n ou tafel vir my werksateljee skoon te skrop. ‘n Moerse ou gedierte met ‘n sinkblad vol roes en lendelam pote wat lankal in ‘n ouer eeu wou gaan lê. Ons skrop. Sy steun haar borskaslied. Sonder ‘n oomblik se skroom of steun van óngemak, sak sy op haar knieë af en begin die tafel onder van spinnekoppe skoonmaak. Sy is agt maande swanger. En sy sing haar steunlied van verlange.

Soos sy daglank deur die lang gange en akoestieke kamers beweeg, praat sy met haarself in lae, donker klanke. Soms borrel ‘n vreemde laggie op, en dis onthutsend vreemd. Soos ‘n uil wat skielik opvlieg of ‘n radio wat vanself begin speel. As sy by jou verbybeweeg, en by Marakkas, van wie sy nie hou nie, gee sy ‘n knorkyk van onder haar kopdoek uit, en Marakkas se rughare staan orent. Tandjies.

(Ek is bekommerd oor hoe soet die fonteinwater hier is. Dis te goed om waar te wees. Sê nou net daar is te veel goeie elemente in wat ‘n mens se breinselle só opvars en koenek dat nuwe en verfynde gedagtes posvat, en ware manne begin om woorde soos chiffon en soufflé te gebruik - al het hulle nog nooit van só-iets gehoor nie? O nee. Ek is bekommerd. Deesdae kan mens nie meer sê nie.)

Toe ek later in my kamer kom, het Liria, heel buite die raam van haar pligte, al my klere uitgepak, weer netjies opgevou en mooi in kaste en laaie weggebëre. Soort by soort, sokkie by sokkie, medisynegoed en opvarsgoed alles op die regte, logiese plek. 

Die gordyne staan reeds geskemer teen die aannval die van oggendhitte staan ek verwonderd ena my skoon kamer en kyk. Skuldig. Die dae is lankal verby wat ‘n mens sulke sorg as vanselfsprekend beskou. Dit word straks weer soos altyd ‘n spel van uitruil en politiek, ‘n wit en swart skaakbord en bartering system. Vir eers wil ek glo dis diens uit goedertrou. Wanneer laas het iemand jou bed opgemaak? Die Zimbabweërs het bowendien, vreemd genoeg, ‘n heel ander attitude as ‘ons eie’ mense. Daar skyn ‘n gebrek te wees aan The Being Entitled. Die in-your-face eis om dubbel beloon te word vir die minimum gedaan en die maksimum ewig uitstaande. In die kombuis hoor ek Liria steun. Messegoed klater. Op ‘n dag soos vandag neem dit ‘n halfuur vir ‘n emmer water om halfvol te loop.

Toe die son sy drama van ondergaan gistraand soos ‘n opera gooi, Here-wat-‘n-show, kon ek dit nie klaarkyk nie, want ek moes gaan kos maak. Bjella en Karlyn het van die padstal af teruggekom en was reg vir aansit na ‘n dag op die voete. Maar O Heer, nee, die kombuis se vensters is als toe. Tóé. Dis onmoontlik om die grasgordyngoed weg te skuiwe en bietjie vars lug en die skone landskap in te laat. Dis hoe bang Bjella vir die slanggoed is. Als is agter slot en grendel, dig en toe, vas op knip. Ek het maar in my wyn asemgehaal tot ek sowat kon uitsig kry, en daarna vir die twee dames, al kokende, vertel hoe en hoekom onse Boeremense werklikwaar hier in Afrika opgeëindig het. Hulle het darem gelag.

Sal sien of ek vanoggend, nou die derde dag, gaan koffie kry. Alle tekens seg reeds: nee. Nie alle pienkvelle het van die pous, gereg, vervolging en algemene korrupsie weggevlug om op houtskippies en houtwaens die wilde aarde aan te vat nie. Party was regtig goed en gelowig lank voor die nood gedruk het. En altyd daarna.


Dag Vier – Vrugtegees – Saterdag 9 November

 

Dis regte egte appelkoosgees wat in die bottel gepreserveer is, konserwatiewe confiture van die beste, en nie hoeranje suikerjellie nie. Dit land op jou tafel in ‘n glasbottel van sowat  200 ml, skat ek, maar ek wil nie nou bodder met syfers nie – my roosterkoek koel al af en ek wil hê die botter moet daarop ínsmelt voor ek die konfyt opskep. Maar nee, wag, soetgoed kom later saam met die bottel gerasperde kaas. Eers die biltong pâté. Dit kom ook in ‘n netjiese bottelmaat, en dit smelt in die warm botter in, en die roosterkoek smelt in my brekfisbek in weg. 'n Bottel fynbiltong wag ook. My snor beweeg op en af en gee so ritme aan my ekstase. Die kinders by die tafel langsaan kyk my aan of hulle poppespel sien. Ek kou met groter snorgawe. Dis sekslekker soutsmake. Slukkie tee. 

Dis lekker op die stoep.

Die roosterkoek sny ek in dun skywe soos ‘n broodjie oop. Dis onmoontlik, selfs vir my, om al die bottels leeg te eet. 

Die vrouens by die padstal is lánkal vars op hul pos en die mouterbaaiks kom al brullend aan. Sodra almal hul helmets af het, en die dollas hulle hare skud en die manne hulle snorre vryf, en Marakkas kan sien dis nie ET’s of Filistyne nie, hou sy op blaf. Ek kyk nie op nie ek kou net. Ek smeer. Ek stapel.

Marakkas het ‘n nuwe bal. Een wat sy nie kan stukkend byt nie. Dit kos fokken R180, maar dis al die dier se plesiere werd. En my ontbyt al my lekkerte ook – ‘n belaglike R35 vir ‘n fynproewers-ete warm uit die oonde van die anties se harte.

Nou moet ek weer die pad opstap groothuis toe. Kilometertjie. Goeie oefening. Smeulende son. Ek voel my wintersboude dapper saamstap. Langs die pad besweer ek die slangvolk by wyse van ‘n soort ope gebed: Ek praat hard-op en verduidelik mooi dat ek hul terrein respekteer, hul slanke skoonheid bewonder en dat van my mees suksesvolle eks-kollegas ook elegante slange is. Ek glo dat hierdie gesprek ‘n soort kosmiese wederbegrip kweek en dat die slanke reptiele met die nodige sierlikheid geheel en al ontwapend sal fokkof.

Bo by die groothuis het ek my werksplek al reggepak en elke ding is op sy plek. Net in een boks het die laaste derde van ‘n 5 liter blik lekker dik akrielverf uitgelawa en als aanmekaargekoek soos ‘n kruis tussen Jackson Pollock en Tracy Emin. Nee, nie Kendell Geers nie. My goudblad is skoonveld. Koper en silwer ook. Ek vloek. Maar, ek het drie groot tafels om op te werk en twee stewige esels. Nuwe kwasse soos vliegkaartjies. Genoeg loopplek om om die tafels nog te Putt-Putt met Marakkas ook. En ek bid weer: Dankie Jere, só is die dae aangenaam en só kom ek weer tot vrede met myself en kan ek, vandag, ‘n hele paar flaters van tevore as kompos begrawe. Dankie.


Dag Vyf – Reënboogië – Sondag 10 November

 

Anders as elders in Reënboogië kom die son nie Sondae gerieflikheidshalwe ‘n uur later op nie, en het Cradock, Daggaboer, en selfs die Visrivier, name uit die dae toe God nog Afrikaans was. En nee, ons hier weet niks van Engelse Kwedik nie. Dis Kradok en klaar.

By Daggaboer lui Sondagsoggens van vroeg af ook geen klokke sodat kantoorslawe rustig op ‘n ander sy kan draai, honde kan uit om te pie of sodat ateïste kan begin rook en drink nie. Nee. Van die Bybel se ingrype staan op Daggaboer nie veel nie, behalwe dat ek met wetenskaplike oortuiging vermoed dat toe Noag met sy Ark oor hierdie geweste gevaar het, hy, vermoedelik op ‘n Donnerdag toe hy op soek was na paartjies koedoe en Zoeloe, al wat slang is hier oorboord gebliksem het. En daarom is dit vandag nog ‘n paradys met meer vrouens as mans.

By die padstal werk net vrouens, en heel demokraties dan nou ook, arbei van al die gifsoorte van Reënboogië hier – swart, wit en bruin. (Indiese slange en fluitspelers is glo skaars). Dis ‘n soort intuïsie wat my lei tot ‘n verdere vermoede, dat as jy van ver af voete stamp om jou koms aan te dui, alle bose bedrywe stillerig sal wegskarrel en vrome stilte en skyn jou met jou aankoms sal begroet . Dis maar hoe dit in alle Christenhuise al die jare ook gegaan het, so, ek oordeel nie. Veral nie op ‘n Sondag nie.

Oor die karakters, intriges, krisisse, klimakse en slang-ontknopings van die padstalarbeiders sal ‘n mens byvoorbaat boeke kan skrywe, maar soos met alle reality shows, moet alles ditselwers geredelik openbaar - en dit neem tyd, maar nie op ‘n Sondag nie. Ja, die padstal is oop. Alle dae van die jaar behalwe Kersfees. Op Sondae kom daar gewoonlik byeneste van motorfietse laag oor die aarde aangedreunvlieg. Breakfast Run. BMW-bye met black leathers. Harley Davidson brommers met baarde, tattoos en attitudes. Kawasaki’s met spiermasjienhommels voor en gifblonde heuningkoekies agterop. 

Maar sedert die padwerke van als hier ‘n stop-en-staan-en-wag-om-te-sien-hoe-die-manne-op-hul-grawe-staan-en-leun-vir-29-fokken-minute maak, is Sondae byna stigtelik. Stil.

Onheilig stil.

Ons kommer ons oor hoe dit Desember hier sal gaan. Dis net vir so 40 kilometer vóór en ná Daggaboer-padstal dat padwerkers die aarde omdolwe en roetes, tydskedules en planne van al wat leef bedonner, maar dis steeds gouer om só van Cradock na Port Elizabeth te vorder. Boonop is Daggaboer die enigste oase op pad om vars verligting aan geloofsbeproewende gesinsreise te bring.

Die kos kom flink uit die warmste harte, die lemonade is van sprankelvars suurlemoene, die gemmerbier vonkel yskoud op die tong en bruis verfrissend in die keelgat af. Die biltong praat nie perdetaal nie en daarom nie dieselle prys as die tjiep goed in winkelplestieksakkies nie. Só.

En, die soetgoed. O Here Help Almal Wat Ophou Rook Het Asseblief. Die soetgoed is onheilig en behoort op Sondae verban te word want dit is soos skelm seks in die publiek. O Jeer Jelp Dis Leklekker.

Dis nou halfsewe. Dit son is selwers vanmore ‘n skyf ligvars suurlemoen wat die silwer op die groenveld laat uitblink. Dit sing oral van vinke en en alles wat met hemelse vryheid gevlerk is. Dis tyd dat ek die grondpad afstap vir ‘n koppie vars koffie. Marakkas? Wat dink jy? Of sal ons in die tuin bly sit, hier by my skyf ysige waatlemoen en die son wat so vryerig lek aan my nek?

 

Dag Vyf – Skoonmaak en Sleepgat – Maandag 11 November

 

Niemand hou van veranderinge en skielike wending in ou roetines nie, en Seuntjie Monde nog minder. Nee. Dis laasweek al aangekondig dat ons die ou swembad moet skoonmaak. Die res van die werf is netjies, en moerse bosse is uit die tuin weggekap sodat ons die slange kan gewaar. Maar die swembad is vrot.

Vanoggend kom Seuntjie vroeg in vir die oggendvergadering, kwart oor sewe, en hy maak sy afkeer in my skoonmaakplanne duidelik deur nie te groet nie, sy rug op my te draai en net met Bjella te praat oor die dag wat voorlê. Ek is die man met die kak planne om dinge te doen wat nog altyd onnodig was en daar is al reeds te veel werk.

Seuntjie lyk vandag ál na ‘n pragtige voorbeeld van spekkerige vooruitgang en handel en wandel na waters oor God’s akker. Maar nou is daar ‘n spaai. Ek. Hy staan vas.

“Jannie groet jou,” sê Bjella. En Seuntjie skiet ‘n kwartsekonde groet in my rigting. Ek is min gepla. Het al lánk gewerk met studente wat nie wil aanvaar dat take wat woord-vir-woord van internet afgetrek word, nie aanvaar word nie. Van heilige verontwaardiging en hardekwas weiering om feite in te sien, kan jy my en Zuma niks meer leer nie. Boonop het ek gistraand die wyne só geprys en O woorde en wyshede was in alle kleure. Vanoggend was als pyngrys en in die spieël het ‘n ene Ouma Gesie na my gestaar, met Maandagoggend 'n sluier van suiwer frokken beton.

Toe ek my kar later onder die peperbome wegtrek na onderdak langs die jagtershuisie, ruk Marakkas skielik om en knor. Teen ‘n venster fladder ‘n paniekbevange hoep-hoep en my dagtes val dadelik terug na ‘n boek op varsity, Chris Barnard se Mahala, waarin hierdie voëls as ongeluksbringers geteken is. Onthou ek verkeerd? Ek gee nie ‘n Mahala om nie. Ek roep Seuntjie om te kom oopsluit. Dis die bergplek van die inlêbottels. Die arme voël is heeltemal verwilderd en stokflou, bek gapend oop, kam stukkend, oge groot en vreesbevange.

Ek seil tussen rakke en klaterende bottels deur en kry die hoepie sonder te veel drama gevang, en terwyl ek uitstap, verval ek in ‘n sotto voce Wolmatrans: “Ag-siestog-jere-my-kind", fluister ek  met die gehawende hartkloppende vogel in my hande: “Toemaar. Toemaar.” En daar vloog hy weg. Seuntjie staan en kýk my. Hy’t ‘n knowing look. ‘n Laggie. ‘n Kopskud. En wegstap. Ek loop ook, en bid hard-op dat die voël, net veer en been, sal oorlewe. Sentimental fool am I.

Goeie nuus uit meer as een oord haal nie die traag uit die oggend nie, nee, en dis nie net verdiende wingerdgriep wat my gat laat sleep nie. Dis daai inkonk wat inval wanneer jy begin ontspan en besef jy lewe en wil lewe en dan, soos op die derde dag van ‘n jaarlikse tweeweek-vakansie, val die kaartehuis binnetoe en jy hoes, jy raak effentjies, ligsensitief en gereed om verwerk te word tot hondekos. Koorspen.

My jop vandag, ‘n selfopgelegde taak vir die padstal, is om my geliefde Boervolk te jelp om die kunswerke in die padstal nie as ‘bôrrels jêm’ te sien nie. Europeërs weet hoe om delicatesse te waardeer. Die Boer wil kwantiteit hê – soveel as moontlik vleis teen die laagste prys. Altans, so lyk dit soms. Om Oom Koos te kry om R65 vir ‘n bottel van die heel beste konfyt te betaal, is om Oom Koos te nooi vir ‘n Saterkuier en die rugby aft e sit en sashimi te bedien. Gaan nie werk nie.

Maar, Jere Oom Koos, onthou jy nie jou ma en ouma se konfyte nie? Die fynsmaak en gees van vrugte het hulle saam met die soet en vlees ingelê in bottels vol son, son wat op die boonste rakke van die spens gebêre is vir wintersfeeste. Dis waar die spreekwoord ook vandaan kom, Oom Koos – die beste wat so hoog buite bereik gebêre is vir die beste geleentheid. En dan, op die regte dag, as ma vir pa vra om die bottel uit die boonste rak te haal en oop te skroef, en die vrugtestukke betower jou roosterbrood, of die saffraanpere lê kaalgestroop onder ‘n dik kombers Jersey-room, dan, oom Koos, weet selfs jy wat ‘n kunswerk is.

Nou-ja, dis waarmee ons by die padstal boer. Kos uit die boonste rakke. Fyngeskenke vir die Fynproewer. Confiture pour le Connoisseur. Keurige Kersgeskenke vir Lekkerbekke. Kerstafelwenners. Gebottelde Vrugtegees. Flesse vol Troos. Ingelegde Liefde. Gepreserveerde Vrede. Blikke Vol Nostalgie. Saligheid in Droomstroop. Gepiekelde Vrugtesiel.

Dis uitsoekkos Oom Koos. Dis afshow-goete gemaak deur hande wat dit al eeue lank doen op plase waar selfs die bome kunswerke is. Koue Bokkeveld. Hoe kouer die winter, hoe soeter die appels. Dis die kunswerke van Isabel van der Merwe, sy wat in diepjare nog op Vrydagaande steeds bottels in die oond bak en kookwarm volprop met al die vreugde wat sy self uit die aarde uithaal - en meesterlik tot fynkos verbou. Dis nie versuikerde jêmse nie, Oom. Dis geesteswerk, tradisie, trots en lewensvreugde – uit die heel boonste rakke.

By Daggaboer-padstal wil ons nou die konfyte en ander fynkosse soos in ‘n wynboetiek volgens plaasnaam begin rangskik, met inligting oor die inlêer, soos wat mens met wynmakers sou doen. Dis mos reg só. ‘n Man in België of in Brackenfell, ‘n meisie in Dubrovnik of Port Nolloth, moet kan sê: Kom oor vir brekfis. Ons maak ‘n botteltjie Wydekloof oop. Isabel van der Merwe 2008. Self in die Karoo by Daggaboer gaan koop. Goeie oesjaar. Die appelkoos het ‘n sweempie jasmyn, ‘n diep leksel somerson, iets neuterigs van die pit byt in die násmaak, amandel. Stroop ook glad nie te soet nie en die natuurlike vrugtesuur balanseer perfek met oondvars brood en plaasbotter. Of  getamelet op ‘n diepskep broodpoeding.

Ons trooskos is fynwerk wat verlange kan genees, 'n oumens kan opbeur, 'n geskenk wat die soen in 'n soen-offer is. Dis glasbottels vol ware liefde vir die dae wanneer hoep-hoeps teen vensters vasvlieg. Dis geneeskuns in flesse. Of sommer net ietsie soets wanneer jy medisyne soek na 'n aand van suurwyne.

 

Dag Ses – Gebaretaal – Maandag 11 November

 

Bjella maak groot gebare as sy praat. Sy het mos graad in Musiek, speel nie meer ‘n noot nie, maar as sy gesels,  peel haar hande nie net klavier nie, sy speel órrel. Groot. Toccatas op vele vlakke.

Haar arms gooi sy wyd uit om woorde te beklemtoon, en om gedagtes by jou vas te draai, koppie sy haar hande – vingers vooruit soos jy jou hande om ‘n spanspek sou vou – en dan wikkel sy haar vingers heen en weer om ongesegde woorde te laat vorm kry – dit als terwyl sy afkyk en oor haar bril van onder af in jou oë inkyk om die woorde in jou vas te draai.

Die gebaar van wikkelende hande wat skielik in die lug vries op die laaste woord van ‘n sin, gevolg deur ‘n lig van wenkbroue en draai van groot, helder oë, het ook iets van “finies & klaar”. Niks kan verder gedoen word nie. Dis soos dit is. Dis uit ons hande uit.

Ek sou wat wou gee om haar te hoor klavier speel.  Sy’t intense gevoelens omtrent alles en eis jou volle aandag op as sy ‘n storie vertel – dis wat mens in ‘n pianis sou soek. ‘n  Klavierspeler is tog storieverteller. Drama wat uit die hart uit loop, dit is van nature by Bjella, maar drama queen is sy nie. Nee. Dis hartsake wat hier windrigtings kry soos haar hande wapper en beduie.

Elke storie begin met die herhaling van ‘n persoon se naam, effens uitgerek terwyl sy wind in haar seile kry: “Seuntjieeeeee……..Seuntjie is mos al man hier tussen al die vrouens…..” Sy gooi hande op en skroef spanspekke in die lug los, haar oge in joune geanker. Die hande beteken allerhande dinge:  Dis nie maklik vir Seuntjie nie. Hy’t nie iemand met wie hy sy sake kan bespreek nie. Seuntjie was gewoond aan ‘n man wat hom leiding kon gee en hou nie van vrouens wat nie hulle maainds kan opmaak nie.

Al die ongesegde woorde speel soos subtitels oor die lense van haar bril as sy praat.  Die stories tel altyd spoed op terwyl dit vertak in twaalf verwante rigtings, en dan skep Bjella weer asem en sê: “MAAR…..(Pouse. Hande waai hoog of dit kinders op ‘n skoppelmaai iewers oorkant die straat aanmoedig)……Seuntjie is ‘n harde werker.  Né?” Sy maak haar oë groot vir nóg ‘n dramatiese pouse. “EN TOEEEEE…..laai sy weer spoed en laat die woorde los dat dit heeltmal van die musiekblad afvlieg.

Bjella se gebaretaal is iets wat ek ten alle koste geheim wil hou, want as die bose  Al Queda haar moet inpalm, is daar in onse wêreld groot moeilikheid. Om’n  internasionale katastrofe op die vlak van Armageddon uit te voer, moet ‘n mens net vir Bjella op New York se lughawe op die vliegveld loslaat - na twee Cokes en sonder sigarette. Haar handgebare sal binne drie minute honderde loodse onredbaar verwar, vliegtuie maan toe stuur, geboue deur siedende passasiers-missiele laat sloop en WWIII sonder enige soldate oproep én klaarspeel.  

Vanoggend moet Bjella ‘n ouditeur gaan sien en sy’s uitgevat in ‘n elegante swart rok en string pêrels blink om die nek. Sy lyk baie mooi.  Toe ek die woonkamer instap, gooi sy haar hande in die lug en skud haar kop. Haar palms na bó skud sy haar hande. Dis ongetwyfeld ‘n teken dat iets die vrede versteur, want sy't nog geen woord gepraat nie. Dis die ouditeurgoete:  “Als is goed en wel,” sê sy onoortuigend. “maar die dag as ‘n mens ‘n ouditeur, bankmens, dokter, predikant of sokke manne moet loop sien, moet jy weet jy’t ‘n probleem.” Sy gooi ‘n groot vraagteken in haar oë en kyk oor haar bril dat jy dit kan sien. Sy tilt haar kop skuins af, gooi haar oge nog 'n keer oor haar bril tot ín joune, en dan gooi sy haar hande weer hoog in die lug en wriemel haar vingers.

Seuntjie kom aan. Hy loop reg by my verby en maak geen oogkontak nie. Groet niks. Dis vandag die dag dat die swembad se gemors en vrotwater moet skoon. Na sy mening kon dit so bly tot hy sy eie Nkandla kry. En ewig daarná.

Maar, die jare het my darem al ‘n slag of wat gewys en na tien minute is ons ‘n span. Wat ons nodig het om alles makliker te maak, is ‘n goeie compressor. Ek stel voor hy moet my al die masjiene wat nie werk nie, gaan wys. Die drie generators. Die vrieskaste en stowe. Die grassnyers en grasvreters, xeroxe, stofsuiers, mikrogolwe, als wat ons kan regmaak of as skrêp verkwansel om nuwe lewe te koop. Veral makliker toevoer van water. Die swembad verkoop ek aan hom as ‘n speelplek vol helder fonteinwater waar sy kinders op snikdae kan baljaar. Die compressor sal ook sy daaglikse take baie ligter maak. Ja, hy sal wil leer swem. Ja, die kinders sal oor Kersfees veral van ‘n mooi waterspeelplek hou. Nou-ja-toe, seg ek. Bring die waterboetse en die kruiwa, die harke en die emmers. Kom ons gaan maak droog.

*****

Rondom die swembad praat ons nou. Dis duidelik dat ek ondanks die “ons” aan die begin van my elke sin nie noodwendig boots & all in die vrotwater gaan saamwaag nie. Dit sal inderdaad ‘n oase vir die kinders wees, moedig ek eenkant aan.  Langs die bad krul die oorskot van die dooie boomslang en ek sien dit eers weer raak toe Seuntjie Marakkas daarvan wegja. Het sy daarvan geëet? Siesa Marakkas. En ek dag dan jy’s so lady!

Thulaang die pantoffelman is vandag terug uit Zimbabwe. Hy’s Liria se man, maar lig en slank, oopgesig en die ene tande van lewe. Beleefd groet hy. Maar, weet mooi, hy is koning van sy eie pantoffelregering en sal hom beslis nie met swembaddinge ophou nie, nee.

‘n Onderwyser was hy in Zim. Terwyl Seuntjie en ‘n handlanger die swembad aandurf en begin opruim, wys Thulaang hoe ekonomies hy die skaapvel en sool aanvat. Hy werk met ‘n sekure slag, skalpelfyn operasiewerk, en verduidelik hoe seer sy arms en vingers saans van al die inspanning is. Eers wil ek daadlik hol en Voltarens gaan haal, maar iets seg, wag, wag eers. Hokaai.

Sy werksplek is reg langs my werksateljee en dadelik speel hy musieke. Nie onaardig nie, maar ek wonder of ek en Radio Tshona sielemaats gaan wees as ek eers aan die verf kom. Party mense kan rock’n roll luister as hulle swot of harte oorplant, maar ek wil nie ‘n gekrapperasie aan my oorgate voel as ‘n skildery my jaloers begin rondstuur om te maak presies wat sy eis nie. Ek soek stilte. Dalk ‘n Mozart adagio of Vivaldi fluit of kitaar. Feminine female vocals, ja. Maar ‘n getjommel van oertromme  en herhalende geroep van vreemde woorde ingespan op die seile van rekenaargeweefde sweef-en-springklanke oor en oor en oor en ek is Dik Oom Jan Wolmagrim.

By die swembad wikkel hulle. Emmers vol gemors. Emmers slegwater wat opgehys en weggedra moet word na waar vog nodig is. Die son dink skynbaar dis tyd vir braaivleis. Die lelies in die spuitfontein is te ver om ‘n voggie te wen.. . En ek moenie my luck te veel push nie, of daar is weer oë wat in trurat toyi-toyi. Ooglede wat swaar word.

En ag Liewe Vader Jere net toe ek en die manne, Seuntjie en Noppies,  die dinge agtermekaar begin kry en planne maak met generators en swembadpomp, herwinning van rondlêmateriale wat nuttig doel kan kry as reklameborde, toolbokse en ander testosteroonsake begin spiere wys, is Marakkas weg. In nege jaar was sy nog nooit weg nie en dis ‘n nagmerrie wat my al snags in my slaap laat bulk het sodat bure dink dis ‘n special op Crime & Investigation Channel 171. Ons kry haar nêrens. Nie in die huis nie.  Geen teken buite nie. En so ver ek roep, hoe verder val die plaas wyd om my oop in nare stilte. Die vinke hou op kwetter.   

Voel al paniekerig.  Nog nooit rêrig besef hoe groot die plaas is nie. Ek skreeu dat die kranse godweet antwoord gee. Niks. Het sy die slang geëet en iets oorgekom?  Lê sy iewers elders gepik en skuimroggel?  In 'n put? Sit sy vas in 'n pyp waarin 'n kuiken weggehol het?

Ek roep oral in die huis en my stem begin breek op haar naam. Nog nooit het sy so lank weggebly nie. Uur en ‘n half voel soos sewe. Agjirretog sy het my gered toe ek siek was en nie meer wou voortfok nie. Na ‘n nare TV-reeks, ‘n droomprojek wat nagmerrie geword het,  toe ek die ware natuur van slang-in-mens leer ken het. Marakkas het my uit myself uit kom lok en my weer buitetoe gevat om te speel. Sy’t my elke keer in nege jaar jellie-bly gemaak as ek wakker word en sy lê teen my lê en slaap. Sy is só girlie, só meisietjiesfyn en intiem. Só skoon op haar persoon.

Moertoe is al die opbou-dinge van die oggend en ek staan op ‘n muur met ‘n geskeurde stem en skreeu. Maria Fokken Callas. Seuntjie draf die pad af dam toe en roep. Niks. Die emmers word neergegooi en ons soek. Ons roep. 

Niks.

*****

Vloek voorkom kanker. Ek glo dit vas. Nee, mens praat nou nie van ‘n konstante stroom van vieslikhede en vuilpraatjies nie. ‘n Knalwoord op die regte plek, wat peper aan ‘n storie kan gee, of tjillie aan ‘n kuier waarvan die vlam laag is, ‘n knoopwoord as jy jou vinger raakslaan, of as iemand op die snelweg ongeskik aan jou boude snuiwe, dít kan werk.  Vlamwoorde. En ek glo dit beveg kanker en ander siektes wat teer en floreer op ongeluk, agterdog en vrees. Omdat ‘n goedgemikte vloekwoord angs ontlaai, ruimte skep vir ‘n mooier gedagte en ‘n wisseling in die stroomkrag van die syn losslaan. Dis ‘n vonk in vergelyking met die prut van kakpraat as katarsis.  Dís ook nie ‘n sleg vorm van terapie nie. Nie dat ek aan terapie glo nie. Konfrontasie werk baie beter.

Marakkas is weg.  Geen vloekwoord kan nou enige verligting of verruiming van gees bring nie. Ek weerhou myself met moeite om my geliefdes te bel – om wat te sê?  Kan hulle help?  Sal hulle net meer ontstel as vir my.  Soek tot jy kry.  Soek tot jy kry.  Soek.

*****

 Oor die wederopstanding van die vlees het ek al van al tien jaar oud af issues. Het diere toe al dood in die veld sien vrot, maaiers sien krioel in die oë. Het op elf Tant Stien se seun in ‘n kis sien lê ná ‘n motorongeluk. Was hulle destyds so brutaal om kinders dit te laat sien, of het ek gesórg dat ek skelm kyk? Later, nadat ‘n paraffienlamp op Tant Stien se nylon-rok omgeval en sy in vlamme rondgegil het, het sy lank in ‘n hospitaal stink geraak, en het ek haar ook in haar kis sien lê. Goudgeel en donkerblou, soos vleis wat lank in ‘n kas vergeet was.

Moenie met my daaroor  lol of diere siele het of nie. Moenie vir my vertel honde en katte kan duisend keer beter as mense ruik, voel en hoor, maar net in wit en swart sien nie. Voertsêk. Moenie my kom vertel diere se onvoorwaardelike liefde en vermoë tot vergifnis is ondergeskik aan die mens se haatlike veldtog teen die lewe nie.

En moet liefs nie met my kom sukkel oor geloof nie. Ek was ‘n paar keer al amper dood, en ek is bly jy het Jesus gekry eers nádat hulle jou gevang het smokkel en rokkel met ander mans se vrouens,  jou toegesluit het omdat jy geldjags was en ou mense van leefgeld beroof het. Halleluja vir jou en jou nuutgevonde verlossing, maar hou op om met ny te praat asof jy nader aan God is as ek. Ek is al in ‘n geveg met God vandat ek my broek kon aftrek. Ek het al ‘n paar keer  in die gesig van die dood omgedraai. En ek glo nie, ek wéét.  En met die bekrompe dominees van my kinderdae met hul teemstemme en verdoemenis het die Groot Al min te make. Alles pas wel  inmekaar in, ook die aakligste rampe is in ewige balans met die skoonste orgasme. Maar hieroor sal ook ek my bek hou. Ek soek my hond. Sy moet asseblief eendag saam met my begrawe word, sou dit so kon.

Met Marakkas naby my, is ek geanker. Sy is ‘n weerligafleier. Sy sif my lewe skoon sodat mense wat geen deernis met diere het nie, nie meer naby my kom nie. Sy roep my huistoe as giggelgatte my nooi om nóg ‘n dop te veel te skink. Sy slaap met haar kop op my bo-arm, haar pote gekruis oor my bors, en haar asem skoon en rustig in my nek. En sy gee meer liefde en aandag as waartoe ek ooit in staat sou kon wees.

Só  was die lewe aangenaam, en was my skaduwee ‘n blink-oog brak vol kolle en ewige geduld. Dankie, Rakkas. Dankie my meisie.

Sy is nêrens.

 

Dag Sewe – God’s Water Oor God’s Akker – Dinsdag 12 November

 

Seuntjie het vér gaan soek, en ek het my longe hees geroep. Liria het onder beddens en agter bosse geroep. Dis eers veel later dat ek ‘n vyfde keer die huis deursoek en wat ek Bjella se kamerdeur oopmaak. Dis ‘n deel van die kasarm wat ek nooit betree nie. Bjella se kwatiere en privaatheid. Dis doer eenkant. En daar staan Rakkas. Liria moes haar onwetend daar toegesluit het na ‘n skoonmakery. Ons kon haar nie hoor terugroep toe ek so loop en skree het nie.

Ek smelt haar in my arms op. Haar stertjie klop teen my borskas en sy lek my keel. Daarna kon ek van blydskap of uitputting net slaap. Met my brak teen my bors. Als het opgehou toe sy soek was. Alle gedagtes aan werk of verf, stories of kos, konfyt of biltong, grassny of dieselenjins, môre of hiernamaals.

Toe ek laatson die agtertuin instap, sien ek doer onder ‘n palm ‘n onbekende hond staan. Groot dier. Gehawende skepsel. Geraamtemaer. Druipstert hang hy aan homself, kouend aan ‘n dooie padda. Ek maak ‘n bak vol kos en skottel vol water en neem dit nader. Die stomme dier slurp als op. Die oē brand rooi in die vliese. Die pels stink vuil en gekoek. Hy lek my hand met ‘n lang skurwe tong en sy oē het geen sterre nie.

 

Dag Agt– Wolkvroue – Woensdag 13 November

 

Gistraand, na ek tot rus kon kom oor Marakkas se petalje, en ek haar genoeg kon soen en koester, doen ek eerste keer opleeswerk oor die Britse Setlaars en die Trollips wat Daggaboer in 1872 gestaanmaak het, as ek die jaartal nou mooi onthou. Henry en Elizabeth Trollip en hul nasate wat hier in die huis – straks in die kamer waar ek slaap, neffens die voorportaal en die imposante hoofingang - gebore is en gesterwe het.  Die grafplaas wil ek vanoggend gaan besoek.

 Laasnag het ek myself wakker geskreeu, maar Marakkas was veilig by my in die kooi. En gelukkig is Bjella se kamer te ver weg dat my geroep haar kon steur. ‘n Ruk lank het ek na die geluide in en om die huis geluister, gedink aan die eerste mense hier op Daggaboer, hoe hulle die hele plaas kon verloor op drie pond skuld. Wat als hier afgespeel het met die Anglo-Boere-oorlog. Die jong Trollip-seuns wat deur Hottentot-rebelle vermoor is. En weer het ek geweet dat niemand ooit regtig enige grond besit nie. Dat ons almal hier bloot besoekers is wat moet sorg en werk, vrugte oes en deel, waarsku en beskerm.

Die swembad is mooi en netjies, droog en  skoon. Nou kan mens darem al daaraan dink dat besoekers hierlangs kan verby op pad na die fontein as hulle self water wil gaan skep. Dis een van die takies wat in hierdie dae mooi moet vorm kry: die padstal verkoop Daggaboer se eie heldervars soetwater, reg uit die hart van die aarde, gesuiwer deur alle natuurlike klip en grond, wortel en kruid, tyd en lewensgewende elemente. Maar, die bottels het nog geen naam op nie. A nee a, magtag, dis dan eie trots. Hoe gaan die besoeker dan nou weet dis vanoggend geskep, die Here se eie werkswater?

Ons moet die fonteingoed universiteit toe stuur, sommer hier na Grahamstad, sodat die slim kjinners vir ons die wetenskaplike komposisie van die godswonder kan uitlê en ons die bevindinge met ‘n mooi etiket op die bottel kan plak. Gesondheid uit die grond uit. Nie van hierdie ander têpwater wat die skjelms in Benoni in hul buitekamers vir supermarkte kammastag bottel nie.

Water, glo ek vas, is die siel van die aarde. Dis nou maar hoe eenvoudig my geloof is. Die grond en son is manlik, water en maan pure vrouegees. Saam speel ewige harmonie tussen die twee, altyd aan’t sorg vir als wat leef. Niks vergaan ooit nie, niks ooit verlore nie, nie stikstof of ‘n spikkel sterstof nie, geen kwark of asem, geen druppel of krummel verdwyn ooit nie. Alles word in ‘n ewige patroon van geduld en genade verwerk en verweef tot lewe en herlewe.

Die water in jou glas was dalk deur die hart van Napoleon, of spermvog vir otters in Alaska, olifantbloed in Indiē. Dit het al gevloei deur die beblomde hare van ‘n brandende dooie op die Ganges, gestortreēn teen kranse  in Chile, gesneeu in die oerdae van Rusland. Dit was straks trane op die wange van Tsarina Alexandra Romanov, en die geboortewater van ‘n farao. Alles bly hersirkuleer. En val iewers weer terug om oor eeue of ure te vervorm tot ‘n vonkel nuwe kragte elders. Wolke is die hemelse draers en suiweraars, fonteine een van dié op aarde.

En ja, ek verstaan en kan byna aanvaar dat die waterlelies in die voorspuitfontein uit omstandighede moet sterwe, maar Here-tog, nie met die blomme so jonk en volmaak vól in die kelke nie. Dis ‘n sonde. Soos seuns wat moet dood omdat die dae te swaar is. Of omdat grond as syne eis. Die probleem hier is nie ‘n tekort aan  fonteinwater nie, dis die toevoer daarvan. Ek sal moet plan raam sodat Seuntjie en ek van al die stukkende ou masjiene ontslae raak en ‘n generator en compressor aanskaf. (Ewig sal dit geheim bly dat ek nog nie die vaagste benul het wat die verskil tussen die twee is nie. Kan nog nie eens raai wat die Afrikaanse woorde daarvoor is nie, en woordeboeke het ek hier nie. Môre ry Seuntjie en ek Cradock toe om hierdie dinge aan te spreek, en binnekort sal ek ‘n man van compressor-kennis wees.)

Seuntjie moet boetse kry. Dis nommer een op die lys vir Donderdag, saam met drukwerk vir die padstal. Seuntjie kook in sy skoene in hierdie skitterende Karoo-son. Nou’t ek ‘n situasie geskep waar ek vir hom my boetse gewys het : dis stewige Hi-tech’s, hard op die pad, sag op die sool. Die enkels deeglik maar sag gestut, dik gestof teen enkelbyte, en die tone boonop met ‘n staalkomma versterk sodat jy nie jou toonnaels teen klippe afskryf nie. En die materiaal haal lig asem. Nie soos Seuna se trappers nou van ene leer, asemloos aan’t wurg teen die veters nie. Maar, op Cradock, het ek nouriedag al oral gekyk, is daar net CAT’s en sulke dinge van ‘suiwer leer’. Ek maak my ogies skrefies soos ek soek na tekens Sjinees op die sole en bokse. Ja, die Geel Gevaar is al oral hier ook.

Nee liewe alla-donner my pa se Valiant Rebel het in 1971 net R1 200 kontant gekos, uit die boks uit. Nou wil hulle vir ons R1 300 ruk vir ‘n paar boetse, en dit nogal op ‘n spessel. Maar Seuntjie het nou myne gesien en iets anders in die boks gaan sy ooglede dik maak, halfmas.

Lyk my ek sal byvoorbaat vandag ook mense moet nader om vas te stel oor die pompwerke. Voor môre, ja. André Thompson in Durbanville is mos koning van besproeiing en sal dalk kan raad gee, maar dis soos om vir Elton John te bel omdat jy ‘n eie liedjie hoor in jou oor. Of om vir Gordon Fokken Ramsay te pla omdat jy wil pannekoek bak. En iemand sal moet raad gee oor wat om te doen met al die halfwerkende masjiene wat oral rondstaan en broeikas is vir slanggoed. Iemand met ‘n oog vir hierdie dinge sal moet oorkom sodat ek kan leer. Die res moet skrêpjaart toe.

Die tyd staan ook nader dat ek dit waag om ‘n paar veranderinge by die padstal self teweeg te bring, met ‘n span vrouens daar wat my skepties en skrefies-oog dophou, agterdogtig oor als. Kloekende oor hul dinge.  Die fyngebak moet beslis skuif na die yskas vóór, waar mense die lekkernye makliker kan sien. En die koeldranke moet na die yskas agter in die skemerte. Inligting oor die fynproewerskonfyte moet oral op, sodat die vakansie-anties nie jēmse sien nie, maar sielevrugte van die beste gehalte –  fyngeskenkgoed.

En ek kan nie wag om te hoor wat die padstalmeisies se verborge talente is nie, dit wat nuwe lewe in die padstal kan bring. Wie kan hekel of brei? Ek weet wat sal verkoop en in watter kleure en hoekom. Nee, nie toiletpoedels in mosterd, groen en swart nie. Maar wag, wag ‘n bietjie. Dis dalk juis tyd vir ‘n ernstige herlewing van die toiletpoedel – die gejekelde of gebreide ding met wolbol-snoet en ore waarbinne mense van ware styl en elegansie toiletpapier verdoesel. Baie slim, ja. Dit werk boonop as deurstut. Hieroor moet ons deeglik besin en dit met blye galme herleef. Wat van macramé, nee? Okay. Wie maak voorskote? Ons moet Daggaboer-voorskote kry. Beslis. En een ding is seker, die doilie moet ‘n come-back maak!

Bjella kom hande-in-die-lug my kamer binne. Haar dogter, Shirley, wil weet of Marakkas al gevind is. Agvadertog, ek het nie gedink die vertelling van my verdriete gister mense só sal aanraak nie, ek is skoon aangedaan. Shirley het dringend laat weet ons moet in erdvarkgate gaat soek.

Bjella lag te lekker en skets gou my dinge vir die dag. Ek moet Bedford toe vir biltong en droē wors, en Cookhouse toe vir kersgoed. Dalk is daar iewers ook ‘n rommelwinkel met stok-ou tydskrifte en volkspelerokke, perskeskillers en koekblikke.  Die grafplaas sal moet wag. Die spoke van die Trollips het nog nie mooi naam nie, maar dit sal nog kom. Daar is iets wat vertel wil word. Dit spook al klaar. Die hele plaas wandel vol karakters, spook met verhale wat nie vergeet wil wees nie, tog nie verloremag raak nie, nie verwelk tot niks.

Maar. dis is nou eers tyd vir bad en skoonbroek soek.

Marakkas gaan saam.

*****

 Die pad tussen Daggaboer en Bedford is silwergroen, lig bespikkel met donkerder kloste bome – dis koedoewêreld, oneindig wyd oor golwende berge en heuwels,  oop, ongerepte veldskap wat die hemeltes groot en hoog laat staan.

Die hitte laat Marakkas se tong ver uithang, al is die bakkie se vensters helemaal oop. Sy bly na my kyk, kyk nie weg nie, so ver ons ry kýk sy my. Hygende.  

Dis hemels, die ooptes hier. ‘n Mens ry sonder musiek in jou kar, die landskapmusiek speel in alle skakerings en tinte van oker, klip en groen. Groen, groener, silwer.

Hoog, hoog bó begin wolke saamdrom en ek hoop en bid dat ‘n storm sal ontketen. Dis mos vroulike goete, wolke: hulle drom so saam, hits mekaar aan, stig vonke, klits winde op, raak stil die bliksem in en laat dan alle donder op aarde losbars. Mense dink maklik, soos eeue gelede ook, dat dondertaal manlike skrikwerk en kragte  is. Eh-eh. Nee. Dis alles meisies-energie. Bou op oor dáe. Ligte losrok briesies wat flussies begin saamspeel om gerugte te versprei, heerlike reuke, dit vlerk energie van vér af bymekaar, eers giggelrig, later kloekende,  soos net vrouens met konkelbedrywe kan doen. Suiwer politiek. 

Wolke lyk van nature prágtig so ámper op hul gevaarlikste. ‘n Blits in die oog laat teenstand smelt. ‘n Lae tjello-gemor, byna bekoorlik in die voorspel tot gevaar, begin as ‘n ligte, moederlike  geneurie. En dan sal sy, as sy alles mooi tot een sikloon saamkolk, eers gou ‘n paar sonstrale laat deursyfer  vir maksimum effek – bietjie blos op die wange, vlam in die oog, blare in die wind, reēnboog doer hoog gekoepel.  Uiteindelik  ruk sy haar rok en alles los en haar woede vee álles skoon, bespat als met briesende reēn, spoel  alle weerstand weg tot niks. Geen genade nie. Onmenslik menstrueel. As jy daarná op kan staan, en aan kan gaan, kan jy bly. Tot tyd en wyl.

Verbeel ek my, of het alle vernietigende storms en orkane vrouename?

Dis aan Elizabeth Trollip wat ek begin dink. Die eertydse matriarg van Daggaboer.

Dis sý wat eerste haar melding by my maak, ‘n geruis van ‘n sisrok in die gang, of is dit ingevoerde sy? ‘n Hand wat terloops van ‘n lamp oplig en agter aan ‘n kantkraag vat, doer aan die einde van die gang. Ek beweeg in haar ruimtes rond. Is dit sy wat die spuitfonteine aangelê wou hê? Is dit vroue wat graag watergoed soek? Riviere, fonteine, spruite, gansdamme, blomplekke?  Watervalle.  Verdrinkgate.

Vanoggend by die padstal, waar ek selde kom, was daar effe onrus onder die vrouens. Wolkies wat saampak. Ek neem maar aan dis die nuwe planne en aanpassings wat met die ou roetines gaan ‘interfeer.’ Nee-wat, ontspan julle. Soos alle towenaars beweeg ek dan liefs snags. Doen my dinge stil saam met Seuntjie. Of alleen. Een oggend sal julle dalk klein veranderinkies raaksien. En soos altyd.. .pffffft....’n afkeurende windjie laat. Sien? Soms is die weer wél voorspelbaar.

Twee dinge, onder vele ander, moet jy nooit met vrouens waag nie: Moet hulle nooit ignoreer nie. En, moenie spot nie. Liefs nie. Nie met die witklipwolke nie. Of die reuk van kruit begin vonk in die lug. ‘n Blits kan jou skrikwit kyk. ‘n Donder wat smeul onder donker wenkbroue sal jou uitruik en jou bliksem. Of hoe werk hulle, die wolkvrouens?

Libby Trollip. Gebore Elizabeth Prudence Tucker Edwards, 1846 – Graaff Reinet.

Ek sal wag tot sy haarself kom wys.  Ek sal wag tot die wind reg waai. Tot ek presies kan sien hoe haar vingers oor haar bors teen haar sleutelbeen sluit, op haar hart, sal ek wag om haar stem te hoor.

 

 

SORG

 

Ek het stoep toe geloop om Liria ‘n paar note in die hand te stop vir al die klein takies wat sy so sonder ophef, so sonder melkende, eisende oge verrig. Sonder die eisj wat Suid-Afrikaners voortdurend met oogtaal aan mekaar opdring: Jy skuld my. Nee, jy skuld my.

Newens huisskoonmaak en pantoffels stik, het sy ook tyd gemaak om my kamer  te orden en  my tafel gehelp was. My skottelgoete spoel ek altyd self skoon – ten minste so dat die kosserigheid en vetstrepe af is, en ek laat dit netjies in ‘n opwasbak staan. Seperig. Skille gooi ek kompos toe, papiergoed eenkant en bloederighede was ek uit die verpakkingsgoed weg voor dit asblik toe.

Dis nou tensy die gevreesde Sauvignon Plonk as medekok rondom die stoofplate saamwandel. Dan sal daar gekapte ui op die vloer lê, en skil. Ui-skil. Daai ligte buiteblaar ui wat so in die wit uiesap aan die mes vasklou en aan jou hande vaskleef en wat jy dan vloekende afskud vloer toe. Erte. Wortel. Goed wat spat sal daar bly lê terwyl Suster Sauvignon my aanspoor tot skeppende oordaad. Ek vee die vloergoed nie op nie. Maar als wat ek gebruik vir voorbereiding, spoel ek af. Ui- en knoffelsappe was ek van die snyborde skoon – anders smaak more se konfytbrood daarna. Maar panne en kastrolle los ek kwartvol kos op die stoof vir more se sorge. Dan kan dit afgekoel yskas toe.

Van Liria verwag ek nie veel nie. Eintlik niks. Die hele Daggaboer-kasarm is haar skoonmaakwerk. En sy doen dit op haar eie tyd, tempo en skynbaar teikenlose wandelgang. Gister het ‘n laai in die kiaathangkas in my kamer vasgehaak. Ek vra toe terloops of dit altyd só was, só dat g’n mens dit sonder swetswerk en selfbeswaarding weer kan oopkry nie. “Noooo,” kreun sy, onglimlaggende. Ek besluit toe om eerder verder met ‘n kluit in die tuin oor hierdie saak oorleg te pleeg. Maar later, toe ek my kamer instap, het sy Thulaang aan’t swets voor die laai, met skroewedraaier en ander moordwapens. En, voila, daar is die laai toe weer oop en Liria wys dis hoeka waar sy my sakdoeke, onderbroeke en ander kosbare juwele gestapel het.

So loop ek toe stoep toe met die paar note. ‘n Klein dankbetuiging vir haar sorg. Om stoep toe te stap op Daggaboer, is ‘n reis opsigself, en as ek nie kon Google nie, sou ek padkos inpak en familie laat weet van die ABSA ongeluksplan wat ek jarrelank al vetvoer ingeval van skielike verdwyning, minibusrit, Tafelbergpiekniek of ongeluk tydens ‘n tafelsnoekergeveg op ‘n lesbiese troue.

Ek tel die note terwyl ek aanstap deur die gange, afdraaie, omdraaie, vassteek, heroriëntasie, besinning, en terugkeer na waar haar klanke op die stoep vandaan opklink. Net om weer te moet roep vir rigting. En ek dink dis genoeg, die geldjie. Maar weet nooit. Ek doen anyway self my wasgoed en stryk lankal net iets as ek moet dorptoe gaan en nie wil hê dat mense my ou klere moet gee of R2 in die hand stop as ek my selfoon naby hul karre antwoord nie. Kunstenaars het dit nie maklik nie.

Dis net sokkies en sakdoeke wat ek wil hê Liria my mee moet help. Ek is nie goed daarmee nie, al stel ek myself daarop in en beplan dae vooruit. Sokkies is ‘n probleem. Ek mediteer, ek bring prysliedere aan St. anTonius van Alle Sokkies, ek offer naaldwerkmandjies met silwer vingerhoede, ek los winterkouse in die krismiskouse van weeskinders, ek leer sywurms sykouse spin en verootmoedig my voor Alles van Belang, en wanneer ek my wasgoed doen, doen ek só met ‘n siel suiwer van oorgawe.

Ek tel die kouse sorgsaam af, bind dit in pare aan mekaar vas, tel dit sewe keer, lys dit weer ‘n keer, neem genommerde foto’s en speel Gospel as ek die wasmasjiendeur sluit, met ontsag – maar, steeds, met die uitpak, is daar een sokkie weg. Wég. Altyd. Só kon dit nie langer aangaan nie. Verootmoediging en selfkastyding lewer ook niks op nie. Ek het al ál die foute van my jeug as reinigingsdaad met Sauvignon probeer uitwas, myself selfs op straat goedkoop gemaak om van aweregse sokkiegode simpatie te wen, myself ook neergewerp op nagte vol vrae, maar geen verligting word my op die sokkiebaan gegun nie. Daar is altyd een sokkie wat iewers verlore lê en piep.

Net voor ek die laaste draai vat, om die lang stoep voor my te sien opdoem, is daar ‘n moerse lawaai. Ek kan die klank nie peil nie, maar dis glad nie bemoedigend nie. Daar’s dit weer! en Marakkas raak malblaffend. Thulaang is onder in die tuin besig om met een allermoers-lange yster rondom ‘n palmboom rond te bliksem. Swetsende. Eenkant staan Liria en hits hom aan, sy roep uit, sy wys, praat in tale, stamp stofwolke met haar kaal voete los.

Dis boomslang.

Die arme, arme ding was lus vir ‘n padkossie vink-eiers. Sad mistake. My hart smelt vir die stomme dierasie. Ek staan soutpilaar. Die dier krul en kronkel tussen grondkweek weg, spartel paniekbevange, lelik gewond, uit-asem, mal van skok. Die slag van die yster op die grond laat die stoepdiefwering ril.Om Marakkas stil te kry, is om ‘n maagdelike dog stormdronk eerstejaar-aktrise op ‘n sokkiejol te probeer oortuig dat sy nie mag huistoery nie.

Pandefokkenmonium.

*****

Dag 9 – Oubaas – 14 November

 

Eerste keer ooit, vandag, dat iemand ,my “oubaas” noem. Dis Liria. Een dis ‘n warm ervaring. Al is dit ‘n swart vrou wat my so noem, en al sou ander dink ek geniet ‘n misplaaste gevoel van rassistiese superioriteit, al is dit ‘n woord wat saam met wet, orde en skoon strate op die vullishoop beland het, maak dit onverwags ‘n vlam van warmte in my los. Boonop is Liria van Zimbabwe, vanwaar dan dié woord?

Ek het vir haar en Thulaang van gistraand se kos gegee. Te veel het oorgebly. Die misbakte frikkadelle is halfrou en net reg vir Marakkas.

Oubaas. Haaijere. Dis sekerlik omdat swartmense my pa so genoem het, met respek. Ontsag. Hy het hulle taal gepraat, vyf, dink ek. En Fanagalo. Fabrieke het hy landswyd saam met die spanne opgerig en hy was meer saam met hulle as saam met my. Toe ek my gedagte op 7 kom kry, was my pa al na aan sestig. Laatlam, ja. En Oubaas wás hy, ja. Grys, Hinkepink na jarre se jig en die ongeluk met die lorrie vol werkers en staal. Lelik. Lelike ongeluk. Jarre daarna, maar lank voor die nuwe Suid-Afrika, het van die werkers my pa gereeld ná aftrede kom besoek. Kom raad vra. Kom verneem na sy welsyn. Dan het hulle buite in die tuin op die draadstoele koffie sit en drink, en moes ek potlood en papier bring sodat Oubaas vir hulle ‘n bouprobleem kon oplos. As die winde anders was, was my pa ‘n argitek. Oubaas.

Die woord is vir my ‘n nostalgiese bron van eerbied. Dit loop ver by ras en ouderdom verby tot naby liefde.

Soveel van my vriende ervaar ouer word as ‘n persoonlike mislukking, ‘n ergenis, iets wat besweer en selfs ontken moet word. ‘n Bespotting. Vir my is dit ‘n bevryding, veral om nie ewig jonk en slank en sexy en spiergeslyp te moet wees nie. Laat dit vir ander belangrik wees, jonkwees het genoeg van my lewe ingesluk. Dis wonderlik dat ek onsigbaar is en nie meer moet kompeteer met die gym-manne met die grys balhare, wit wessies, witraamsonbrille en BMW’s nie. Prys die Jere. Laat hulle mekaar maar om die hoek van Moeg & Been ontmoet. Buite sig van vroulief of booifrên. Ek boer oubaserig hier op Cradock met woorde en wolke, kleure en drome – en silwer is my dae. Kan net nie ‘n moer verstaan hoe ‘n haar op die wenkbrou oornag helemaal grys kan word nie. Huh? Die hele fokken ding? Word dit nie stadig van onder af wit nie? Newwermaaind.

Lyk my ek het die afgelope tyd ‘n saak met wolke. En water. En die vrae wat die manne met die groot karre my vra, smalend kompetitief: “Maar, wat doen jy nou éintlik?” Skilder tel nie, skryf nog minder, kosmaak is selfs vir moffies te moffie. Dan sing ek my liedjie:

Ek vlieg wolke, dis my werk meneer

Wyl menere so sit-sit so  in bakkies, Porsches, BMW’s

En vloekend knorgas sluk in spitsverkeer

Loop ek losgat rond in my pajamas

En ek vlieg wolke wind en weer

Want dis my jop, meneer, dis my jop

Ja, as ou maand-einde so kopkrap kom

Sit ander eersteklas in erries en in restaurante

Dan  vlieg ek soms maar laag op my broek se pante

Ja julle koop plaashuise met panoramas

Maar ek vlieg wolke, wolke, wind en weer

En o my stories, prente, drome

Vlieër windlig op en af of donner neer

En soms, net soms, vang ek ‘n ruiker suiwer hemelskone reën

Dis my loon, meneer, dis my seën

En dis buite jou beheer

 

Min het ek geweet dat ek ‘n tyd lank self ‘n plaashuis met wye panorama sal ervaar as loondeel vir my drome en stories, my wolke en my leer wat ek met ander kan deel. Netnou gaan Oubaas afstap grafte toe, die begin van ‘n klaar verhaal lê daar en wag om woord te vang.

Maar my pa is nou weer al om my, seker ook maar omdat ek al meer na hom begin lyk. Ook die lyf. Sy naam loop by my dood en ek dra swaar daaraan:

 

Pa, ek wou so graag vir Pa ‘n kleinseun bou

Een so netjies en so nugter soos Pa

‘n Seun met vasberade kyk en fyngeskulpte ore

‘n Man van min maar skoongesifte bousteenwoorde

‘n Dromer, ja, maar handig tog met troffel en kitaar

En, boonop een wat met werkers in sewe tale sin kan praat

 

Pa, ek sou my kind mooi elke ding van Pa wou leer

Hoe Pa van gedagtes en van sand ‘n vrugteboord kon kweek

Hoe jou knipmes ‘n perske in ‘n skulppatroontjie af kon skil

Tot sap wat sopnat spat van naakste lus en lekkervlees

 

Andries Bernardus Wolmarans, só wou ek hom doop, as dit goed so is met Pa

Want luister mooi - sy fluit kan donskuikens en loslammers verlore-ver gaan haal

Sy blokruithemp en ry-kamaste is presies nét vir hom uitgeknip en nommerpas

Sy motorkar staan klaar afgewas, klopdisselboom en blinkgewaks

 

Hoor pa? Hy kan spel en tel nes Pa – geloofrekene – sy handskrif sterk en skoon

En ja, dis stiltes wat daar so vér in die kerke van sy droomgedagtes woon

 

Sien Pa nou? Met ‘n treksaag en sy sakmes kan hy linnekaste kerf

En rondom meisiekinders kan sy woorde sagte speelgrasperke verf

Voel hom, om sy borskas en sy skouers vleg in toue werksgespanne spier

En om sy bene vleg jong katte, aan sy voete speel ‘n makgeliefde tier

 

Pa, ek droom vir Pa ‘n kleinseun hier, jou naamgenoot, ons bloedverwant

Sy oë is grys van wolke kyk en van laatsomer steeds perskereën verwag

 

Proe nou, Pa – hy is jonk van grond en water, edelsteen en glas

En van elke skoongebrande weet wat in ons eens verlore leeflyn was:

Van oer af kon ons alles tog oorleef – elke moord en oorlog, elke plaag of gif

Hoe kom ek dan nou so alleen – aan die anderkant van hierdie vreemde drif?

 

Wag, hier staan hy nou

ons jonge Andries:

geskets en klaar.

Dis net ‘n sonhoed

en ‘n asem wat hy vra

 

*****

Skaamteloos sentimenteel mag dit wees. Ek bedoel elke woord suiwer opreg.

Marakkas en ek stap af grafte toe. Dis digbegroei. Welig. Genesis. God’s plant oor God’s akker. Pragtige ou grafte, sarkofae eintlik, se deksels is gebreek, vergane, verwaarloosde kruise lê eenkant. Ek neem foto’s, maar voel soos ‘n plunderaar, asof ek oortree. Boonop moet mens heeltyd op die uitkyk wees vir slang.

Op een grafdeksel, in die middel van die kerkhof, sien ek: dis die rusplek van altwee Trollip-broers, sáám – hulle wat op Oujaarsaand 1851 ook saam deur Hottentot-rebelle vermoor is. Bloedjonk. Een skaars neëntien. Die grafskrif laat  godweet my knieë knak en ek moet sit. Dis te veel om in te neem – als hier voor jou. Wat het als hier afgespeel? Hoe verloor en vergrond ‘n pa sy twee seuns op een slag?

En waar is ma se graf? Elizabeth. Libby?

Die son is te helder en te warm. Een graf se dekblad is oop en Marakkas wil ín. Ek sal moet terugkom met notaboek en met beter lig. En sonder Marakkas se lastige vragies en rondgesnuffel.

Op pad uit, deur doringtakke en oor doringdrade, sien ek: plaaswerkers het van die graftablette, granietbalke en kopstukke gebruik om ‘n oorgang vir vee te bou. Niks is ewig nie. Geen grond of klip ooit joune nie. En geen kind ‘n waarborg op voorbestaan van naam en eeue-oue oorlewingskrag nie – naam en familiesiel wat van al van die heel eerste dae af oorlewe het nie.

Die dam en suipkrippe is net hiernaas. Met die opstap terug huis toe, sien ek die eens trotse plaashuis bó argaïse ou bome uittroon, hoog, met vensters wat die verre horisonne ewe dapper bespied. ‘n Skaam en ligte pers huiwer oor die krom skouers van ou jakarandas. Ook al wil tot fleur verloor.

*****

 

Dag 10 – Pond Vleis – Vrydag 15

 

Wakker geword met die warm klanke van koel reēn op die stoepdakke, en vanoggend is als buite salig vars en nat. Wolke lê lae mis oor groen heuwels. Ek moet vroeg op. Seuntjie en Thulaang sny biltong en ek moet loop kyk. Net ‘n ogie hou, sodat ek weet hoe dinge daar werk, vra Bjella.

Die lillende boude vleis word op ‘n houttafel gegooi en ekspert in lang biltonge oopgekloof met vlymskerp messe. Die twee gesels aaneen. Een Shona, ander Xhosa. Ek kan nie volg nie. Die netjiese repe biltong word op een hoop gepak, die senings op ‘n hoop gewerp. Die eenkanthoop het groot sukke vleis in. Ek skat reeds so vier –vyf kilo. Ek vra terloops wat van die vet en senings word want Bjella, Karlyn en ek het hoeka gistraand  gepraat oor uitgebraaide kaiings met roosterbrood vir brekfis op die spyskaart. Nee, dis ons s’n, seg die manne. Dis opvallend dat die stukke vleis wat die hoop nou tref, aansienlik kleiner is sedert my aankoms en navraag.

Skielik stop Thulaang en rig die punt van sy mes op my: “Do you have children?” kyk hy my reg in my oē. Nee, sê ek. Hy kyk ‘n sekonde langer. Dan skud hy sy skouers, een keer. En begin die vleis weer aanvat. Geen enkele oomblik van huiwer in die ritme van hoe die mes die vleis in lang plat slange sny nie. En terwyl hy sny, vertel hy sy feite: Mans wat nie kinders het nie, is nie mans nie. Hulle het geen gesag nie.  Seuntjie seg niks. Is daar iets smalend om sy mondhoeke soos hy die lang vleise op die rooi hoop neergooi. Met ritmiese reēlmaat.

Ek vertel wat ek glo. Dit maak geen impak nie.

Netnou moet Seuntjie en ek Cradock toe vir sy boetse en oorpak, vir kosgoed, pakkies by die poskantoor, bankwerk, heuningbottels, radiobatterye en sulke goed – ek hoop om kans te kry om by Oilve Schreiner Museum iets van die Trollips van Daggaboer ook raak te loop. By die bib. Iewers. Iets meer as die trae info op die internet. Foto’s soek ek. Briewe. Dokumente.

Die klimaat tussen my en die plaaswerkers is toetsend. Beproewend. Hoe goed my bedoelinge of rede tot hierwees ook al is, is daar vroue by die padstal en mans op die plaas wat hul kleinbesit van dinge nie wil prysgee nie. Besit en beheer. Ego. Hulle vermoed straks ek is ‘n spaai. Hulle is verkeerd. My motiewe blyk erg verdag te wees. Dit gaan dalk lank neem om my beskeie bydrae hier te maak. Om hulle met buitestaanders-perpektief te help om beter diens te lewer en meer geld te maak.

Almal, almal by die stal EN op die plaas maak ‘n lewe uit die padstal. Die plaas self is nie-werkend. Weiveld vir skaap. Maar, ek is nie hier of maats te maak nie, eerder, op versoek van Bjella, om die padstal ‘n meer bekende landmerk te help maak sodat mense wat verbyry vooraf daarvan kennis en kan beplan om die skatte te kom belewe. Dis hoekom ons hier is. Om te sorg.  Die ongewone gehalte van die biltong, die konfyte, die roosterbrood en ander lekkernye moet van geweet word anders ry mense haastig verby see toe.

Lyk my dit gaan moeilik wees om die biltongreste as kaiings op te eis. Maar, ek is van ouderdom vier daaraan gewoond om ‘n buitestaander te wees. Ek wil niks hier hê nie. Niks. Wat ek soek, leen ek met my oē. Wat ek nodig het, dra ek in myself. Toe ek jonk was en onnosel, het ek my vingers verbrand. Seer geleer. Ek vat nIks wat nie myne is nie. Al glo min my, ek weet. Ander mag ook nie sommerso vat en vat en vat nie. 

Ek stap om vinnig my dagtes neer te skryf. Ook my struggle met vleis en biltong, renostermoord en leeujagters, die wreed en die eet. Kom nie by als nie.

Ons het politiek ook gepraat, ja.  Altans, terwyl die messe die vleis so foutloos in flarde sny, is die manne se vlak van inligting, van is en is nie, duidelik gemaak. Met gemak. Ek praat van die midde-Ooste waar almal baklei en moor om grondbesit, terwyl ons almal net moet sorg en deel. Niks besit nie. Ha. Pond vleis. Pond vleis.

Wag, ek moet loop stort en Seuntjie staan al en wag.

 

Stereotipes

 

Enkele dae na my tweejaar-diensplig, seshonderd en drie en vyftig jaar gelede, en drie dae na my pa se begrafnis, het ek as kopieskrywer by Lindsay Smithers in Sandton City begin werk. My eerste jop. En my eerste jop by die agentskap was om varkvleis te laat lekker klink.

In Engels het ons ‘pork’ in plaas van pig. In Frans  ‘n skat van sensuele woorde instede van ‘cochon’. In Afrikaans bly ‘n vark ‘n fokken vark en klaar, en ek kon dit probeer omseil met klem op ham of kaiings of..... , nee. Dit wou nie werk nie. In Engels kry jy ‘crackling’. In Afrikaans? Niks wou werk nie. “Heerlike varkribbetjies” bly klink soos ”delicious pig ribs”. Die klanke in ‘vark’ klink net ongeskik.

Toe ek begin koplosmaak met random idees by wyse van rondspeel, net om ‘buite die boks te dink’, met “Lekker snorkvars vark” en “Otjie vir die Potjie” en daar moer Zelda Mack, Engelse kopieskrywer, van haar stoel af. Hoekom sy by was weet ek nie. ‘n Varklelike en beplooide antietjie van Jew York, abrasive, selfingenome en antagonisties, het sy blykbaar gedink ek lees ‘fuck’ elke keer as ek sê ‘vark’. Huh? Sy begin toe op my skreeu, wel, soos ‘n maer vark, en weier om verder aan die projek te werk tensy iemand naastenby intelligent saamwerk. Ek hoop sy is al dood.

Tweede projek was vir Defy-stowe en wasmasjiene. En dis hier waar my verwysing na daardie vervloë reklamedae inpas met my dinge vandag, hierdie dag van onse Zuma, 15 November 2013:

Ons is destyds aangemoedig “to think out of the box.” In daardie dae nog ‘n buzz phrase. Ek dag dit toe goed om ‘n knippetjie humor in die Suid-Afrikaanse klimaat van Hoog Apartheid in te mieks en onse stereotipes met bietjie geniepsige satire by te sleep. My TV-konsep loop toe iets soos:

‘n Ossewa stop voor ‘n Zoeloe-stroois, en die flap slaat agter oop om moeder met kappie en volkspelerok te sien uitklim – stralend met ‘n bord pragtige koeksisters. Pappa kom vaderlik tevrede omgestap en sit pyprokende sy arm om haar skouer. Dan pop Poplap na vore en roep vreugdevol: “O, ek sal dit gee, Moeder!” – ‘n pragtige bruindogtertjie met groot strikke. Skielik lyk die ouers baie wit.

Uit die stroois kom die Zoeloe egpaar in tradisonele drag, en sodra hulle die geskenk ontvang, slaan witmamma die wa se tentseil op en onthul ‘n vol kombuis met outydse Defy op die ossewa. “Defy”, seg sy, guitig.

Swartmama, met bierpenspappa aan haar sy, draai om en roep: (Ons sny na binne in die stroois) en daar staan ‘n Kaapse tienerklong in ‘n spiekeries moderne kombuis met  nuwerwetse Defy  stoof, wasmasjien et alia – en hy draai om met ‘n skinkbord vol tradsionele Kaapse koesisters met klapper. Hy smaail voortandloos breed en mince met lawwe bewegings tot langs sy ouers, wat skielik baie swart lyk...

Die ouers knik innemend, knowingly, vir mekaar ...

Voice-over: Defy culture. Defy boundaries...Defy bla bla bla.

Needless to say, die kosep is ontsteld ontvang en afgelag en ‘n tweede idee van ‘Bog Met Bloumaandag’ en ander gemoedelike boerejuwele is voorgestel.

My verblyf by LS – FCB  was ondanks die lieflike geselskap mense soos Hugo Grant, Linette Retief en Madelet du Plessis baie kort – want na hokbruindrag van twee jaar en beperkte beweegruimte wou ek kleure sien, oopmaak, uitbeweeg, en het ek tydens ledige uurtjies die towerspel van winkelvensters loop soek. Tot groot chagrin van onse aanklaagsterestrise, Zelda. Sy wat nie daarvan gehou het dat ek konsepte al vinniger eers in Afrikaans en dan ook in Engels kon laat werk nie. Ek is so gou moontlik terug Kaaaaaap toe.

Vandag in Cradock het my standaard-idees oor stereotipes weer só lekker skop-onnerie-gat gekry. ‘n Ou Sjinese dame in Spar, 'n mooi en ouer vrou, wat met werkers daar in ‘n koeksistertannie Afrikaans gesels, en dan na ‘n jong seun draai en tjaaa-whaa-njong-tyjai-ghwaa. ‘n Ou bruinman, met my pa se hoed en bril op, loop op ‘n sypaadjie in my vas, draai om, glimlag, kom nader en neem my hand warm in albei syne en sê: “Ai tog, waar was my gedagtes dan nou?” Laggende. Bonga, by The Locker Room, wat in die mooiste Afrikaans glimlag:  ‘n Xhosa wat my taal praat soos ‘n taaldosent: “En wat van ‘n netjiese hoed vir meneer? Iets wat die son op sy plek hou, die jonk in die gesig en die toekoms duidelik voor die voet?”

Eeeeekskuus? Say that again?

Seuntjie het sy boetse gekry en is in sy noppies. Helemal die budget befok, maar dis goeie stewels en sal so lank hou soos Zuma. Hopelik baie langer.  Maar sal Noppies ook nou boetse wil hê?

Met die aflaai by die padstal was Karlyn en Mandel aan diens, en hulle was babbelbek opgewonde met goeie, praktiese voorstelle vir rondskuifwerk en verbeterinkies vir die seisoen wat voorlê. Die spanning en teenstand heerlik afwesig.

Tuis lê Rakkas op my hemp. Dit reën nou groen doer ver, dit ruik grond hierbuite en waters wat rus is, druis op die dak.

En dis heeltemal, maar geheel en al te vroeg vir ‘n elegante glasie geselskap.

 

Dag Elf  - Hareklowery - Saterdag 16

 

Verbeel ek my of is dit nié net hier, aan die oewerberge van die Visrivier, dat rasseverskille so gereeld ‘n dansie maak nie? Veral op Vrydae na 5 wanneer dronkwinkels se kele so wyd opstaan. Eendag as ek dood is, en ek vaar op na my Oordeel, en ek praat en verduidelik myself by onse Petrus verby Die Poorte ín, en ek staan daar kortasem op die wolkvoer voor onse Here, sal ek drie vrae op my lys hê en ek sal nie loop voor ek nie antwoorde kry nie:

Ten eerste sal ek wil weet waarom Hy ons so lank alleenlos en nie net van tyd tot tyd darem net Iemand weer stuur om water in wyn te maak, visse en brode uit te deel en in die algemeen algar te oortuig van als wat so lank gelede, té lank, geskrywe is nie. Só ‘n goddelike wese hoort ook gereeld skoonskip te kom maak onder politici en ander dieremishandelaars – só sal ek bly vasstaan en myself hemel of hel toe gesels.

Verder sal ek die kwessie oor seksualiteit aanspreek – nie dat ek iets daaraan verander wil hê nie, want ek aanvaar en verstaan dat nie almal in oomblikke van dronk ekstase kinders moet verwek soos die arme heterosiele nie. Hoe sal die stomme aarde almal  kon dra en verdra? Wat sou oorbly behalwe, op elke heterohoek, ‘n shopping centre met ‘n Superspar, Steers, apteek, videowinkel, ATM en Diamond Liquor Store? Nee.

My derde vraag, vermoed ek, is die een wat my moontlik kan hel toe stuur voor ek dit kan klaarvra: Die kwessie van rasverskille. Dit was ‘n gruwelike ontwerpfout, sal ek aan die voete van my Here aanvoer. Swak beplanning, sal ek prontuit my saak stel. En die bron van meer ellende en hartseer as Sewende Laan en alle liefdesteleurstellings saam.

Dat daar verskille opsigself moes wees, is goed, sal ek sê. Dit sal ek toegee. Soos die verskil tussen kat en hond en luiperd en tier. Die verskil in kleur is ook vanselwers geen bron van onrus nie. Ons bloei dieselfde. Maar, liewe Ellende, die hare! Welke god sal nou ‘n vrou opsaal met ‘n kop vol ontembare kroese? Is dit nou liefde? Is dit nou mooi? Die mans kan die peperkorrels nog als afskeer sodat ons in die parlement darem kan sien watter kaalkop-eier eerste uitbroei, maar die vroue? Nee. Hulle wat met die lappe en hoedens en pruike en aangenaaide vlegsels moet aanhou lewe. Dis elke oggend ‘n verkeersknoop voor die verkeer. En, weet U dit?, sal ek vra: Die mans mag glád nie aan die vroue se valshare eers ráák tydens die liefdesdans nie, of daar is oorlog.

Nee wat, U kan oor my en my foute raas soveel U wil, maar feite is feite en die kroeshare is verkeerd. Dit lei tot grootskaalse jaloesie, venyn, agterdog, swak selfbeelde, onnodige uitgawes en drankmisbruik. Só sal ek my saak aanvoer. As almal lang regtuit hare had, of almal dreadlocks, was daar minder deadlocks.

Oorlog, sal ek  aan die hemele openbaar en bewys, kan álles teruggevoer word kroeshare, afguns en daaruitvoortspruitende frustrasie.

 Teen hierdie, tyd weet ek, sal Petrus en die Poortepolisie my aan hy hare daar wegsleep. Maar ek sal só verlig voel dat ek my sê kon sê. En tog, sal dit enigiets aan die ewige en onnodige onrus en onmin op aarde verander? Al die pyn wat die mensdom bring aan mens en dier, dít sal ek oulaas agternaskreeu terwyl ek weggesleep wôrre, al die pyn sal verbeter as Iemand so nou en dan net weer kom inloer en troos! Iemand soos Jesus!

Ek wens my geloof was so eenvoudig. Ek weet reeds, vandat ek op ouderdom tien met die Here God en sy baksteenkopkerke baklei oor wat liefde mag wees en wat nie, dat ek self my eie oordeel sal moet fel die dag as die blitsie energie wat ék was opvonk die hemelruimtes in, eenword met alles, perkeloos van keuse oor waarheen nou, welke kosmos, watter sterrekolk, waffer eindelose reënboog van geesteskleure. Die Waarheen Nou sal steeds ‘n eie keuse wees. Ek glo elke siel sal ditselwers moet oordeel, en wie nie wil nie, sal moet terugkom om weer fokken skool toe te gaan, Of om te spook.

Elizabeth Prudence Tucker Edwards Trollip. Hoe het sy haar Here tegemoet gegaan? En wat, wonder ek, het sy die Here gevra oor haar twee seuns wat bloedjonk op een oujaarsaand aan die hande van Hottentotte moes gruwelsterwe?

Buite dreun die aarde deurdrenk, alles onder  ‘n miskombers van versadiging en dors geles na maande van stofsluk. Vinke kwetter iets vreesliks. En as die wolke grom, val skielike stilte oop en Marakkas kruip plat-oor in onder die duvet in.

Iemand donder iewers ongeduldig aan ‘n deur.

 

Spook in die gang. slang onder die bed

 

Ek wens ek kon met oortuiging weet en vertel dat ek nie ‘n rassis is nie, want te veel slaan oerkrete by my deur as ‘n mens op ‘n snelweg bestuur en ‘n tannetjie, of oompie met hoedjie, ry 40km per uur voor jou op die snelbaan – totaal onbewus van enigiets. Tannetjie kan skaars oor die stuurwiel sien en kyk slegs-en-alleen reguit voor haar uit. Priemende. Lippe vorentoe. Links, regs en agter bestaan nie. Glad nie. Oompie, vermoed ek, kyk slegs agteruit – in sy verre verlede in, en hy mompel by homself oor dae vervloë. In die Kaap is min dinge so gevaarlik soos ‘n naweekbakkie wat onverhoeds uit ‘n grondpad op die teerpad inswaai, met Neef Papsak Bruintjies agter die stuur en Oom Muskadel Adonis wydsbek en singende agterop.

Ek kan ook baie maklik meewarig alle skuld ontken en my nukke en neigings toeskryf aan apartheid – dis immers op skool, kerk, straat, park, weermag en oral verder amptelik in my ingebliksem, getoets, gedril en geëksamineer. Dis harde werk om dit af te breek en ‘n sinvolle perspektief te bou, en die ANC en mense wat oral hoenderbene en –bokse by karvensters uitmoer, en op straat staan en pis, maak niks makliker nie.

Die mees verbete rassiste, vind ek, die luide kafferhaters, haat álles. Vroumense, oumense kinders én swartes, en hulle sê dit ook graag as die manne saam brandewyn om die vure hap. Hulle haat ook moffies, maak diere seer vir die grap en hulle baklei lelik met gesinsmense. Broer wil broer moer, suster wil suster met woorde mes, kinders verag ouers. Praat nie met mekaar nie, net van mekaar. En gooi ‘n lappie erfgrond en ‘n paar stukke silwer by, en jy het oorlog. Hofsake. Brandstigting – met vlam én woord.

Weet gerus, as jy weer ‘n bullebak sien wat ander afknou, die dik rooigesig, sy familie haat hom soos hy ander haat. Of die dikgat skinnerfeeks wat so fluistersis. Dis hoekom hulle so is en lyk. Die haat. Moet hel op aarde wees. Soms dink ek kanker is die vrug van haat. Haat en ingehokte frustrasie, teleurstelling en woede, aangevuur deur die brand in brandewyn.

Hoe was dit hier op Daggaboer, toe die Engelse die voorspel tot apartheid hier kom vestig het? The Settlers. Die Engelse met hul vrome klasbefoktheid. Kyk, die Hollanders het die meide van die eerste dag af bekruip en so die voortbetsaan van Mitchellsplain en vele ander geilbewoonde bendedorpe verseker, maar die Engelse? Die vrome Engelse met hul fyn beskawing, krom tandjies en gretige handjies – hoe was hulle regtig?

Ek loop in sirkels want ek het pas verneem van ‘n pakkamer op Daggaboer waar moontlik nog dokumente van die Trollips is. Handgeskrewe dinge, sê Bjella, en my hoofpyn skuif ek soos 'n sonbril op my voorkop terug en staan op: Wat?

Ja, sê sy. Gaan kyk in die kamer daar agter. Aan jou bos is ‘n sleutel. Soek maar. En in die jagtershuis is ook goed. Ons moet die sleutel daarvoor laat kom. En kyk, die poskantoor van Mortimer was ook mos hier op die plaas, daar in daai rakke kan ook nog ougoed wees.

Loop nou in wye sirkels rond soos een wat weet van ‘n slang onder ‘n bed. 'n Spook in die gang. Haal oopmond asem. Dis te groot. Kan nie sommer net in die pakkamer of poskantoor instrompel nie. Moet myself oriënteer. Voorberei. Op teleurstelling. Ek wil vars wees, hoofpynloos en met ure oop voor my. En netnou moet ek al begin bredie opsit sodat dit kan sagkook voor vanaand. Vooraf eers die skaap bruinbraai, en as dit eers aan die gang is, hou ‘n bredie jou besig tot net wyn help om die spanning te besweer. Nee.

As ek daar dokumente oor die plaasgekiedenis kry, is ndaar geen omdraai nie. Dis dan tiekets: wanneer sal ek by my skilderye uitlok? Elizabeth se werk moet klaar. Carine se katelstuk is al betaal maar soek nog koester. 

As ek daai deur oopmaak, weet ek, loop ek in 'n nuwe lewe terug. Ek sal myself eers voor stok moet kry. Myself teen die muur laat staan en myself die Leviete voorlees. Verf eers, kyk kan.

In driehoekige sirkels loop ek. My gedagtes verander automaties van rat en my hande begin rondgesels soos Bjella s’n, pratende met myself, wandelende, soos Liria.

Soek moet ek gaan soek. Dit spook oral om my.

 

Dag Twaalf – Soldaat – Sondag 17

 

Toe ek army toe moes gaan was ek skytbang. Van my vriende het tevore in die angsproses probeer selfmoord pleeg en enkeles het dit deurgevoer. Een het sy kop teen ‘n muur probeer doodstamp. Louis het homself geskiet.  Ander het vreemde siektes en geite ontwikkel. Ek het, na ‘n jaar van onsuiwer dekadensie in Kaapstad, wyl ek ‘n nagraadse diploma in onderwys opgeskop en só ‘n lewe van geroetineerde sekuriteit ingeboet het, myself aangemeld soos ‘n skaap ter slagting. PW Botha was god. Mandela ‘n terroris. En ek was te mooi vir ‘n man.

Dis ‘n vreemde ding as jy grootword in ‘n familie waar nie net die meisies kwansuis ‘mooi’ is nie. En die meisies in my familie is donners mooi. Maar tussen mooi mense – my broer sou Paul Newman soos ‘n patat laat lyk – word mens  groot sonder enige idee van wat ander as ‘mooi’ sou sien. Mooi bestaan hoegenaamd nie in jou spieël nie. Dis meisiesgoed. Toe mense, meisies en grootmense, en veral getroude mans, my op sestien laat weet dat hulle dink ek is ‘mooi’, was dit ‘n vreemde skok: van skaamte, van skugter opwinding, van vrees wat reeds weet hoe kwaai dit is om gemérk te wees, en ook van suiwer behoefte tot aanvaarding wat puisies veroorsaak. Watter tiener wil nou lelik wees?

Die gemooipratery hier doen ek nou nie om my eie stertjie te staan en prys nie, daarvoor is ek lankal al te dik en verfoes. Met selfingenomendheid en selfvertoon het dit niks te doene nie. Ek noem dit omdat dit ‘n probleempie in die weermag was.

Bowie. Spook wat my oral gevolg het. Die manne wat so giggellag soos hiënas as hulle so in groepies staan met varkpanne en pikstelle. Die kommentare. Altyd in groepies. Alleen is hulle heeltemal anders. Nice. In groepietjies vieslik wreed.

Ek sal die foto soek van die dag toe ek army toe is, met my ouers en Amanda Coetzee, op die treinstasie by die Randse Paasskou, waar ek staan sonder begrip van wat voorlê, kanonvoerjonk en omhels deur mense wat my liefhet. Ek sal dit moet wys, wys hoe ek was. Dit wat was voor ‘n seun verontindividualiseer word tot ‘n gehoorsame nommer. 

Army was inhok en slagveld, ja,  maar ek sou nooit kon raai dat dit ook ‘n groot bevryding kon wees nie. Eerste vier maande was godweet ‘n strafkamp van loutere hel, hele eerste jaar van tweejaar verpligte diensplig. Ek was vaderweet die mees onwaarskynlike soldaat, maar ek het alles gedoen wat verwag is, want ek was verlief en wou nie my geliefde en my mense teleurstel nie. Boonop het ons almal in daardie dae geglo dat ons regering ten beste van almal optree En skande op die familie was ‘n opsie wat ek nie wou aanvang nie – veral as jy ánders gereken word. Want as jy anders is, is alles anders. Jy weet van pyn en selfondersoeke lank voor ander dit proe. En die prys is vir ‘n kind ondraaglik.

Op die dag, naby einde van infanteriekursus 1982, wat ons ons opleiding eindelik met lewende ammunisie fisieke eksamen moes uitvoer, met fokken live ammo, helletoets, en ek met my R4 én mortierwerper as spesialiswapen moes fyndink, die dag toe ek volgens ‘n neergelegde plan in spanverband Die Vyand moes aanval, terwyl sterbeskouerde generaals die skouspel dophou, eksamen, toe ek seine van medesoldate moes verwerk tot onmiddelike aksie en teiken, val die heelal voor my oop:

Ek duik oor ‘n donga en val wind-uit plat op my maag op harde klip en grond, my R4 kap valslag teen my ken dat bloed spat, ek luiperdkruip deur stof en klip tot onder ‘n struik in, asemloos, tande vol sand, óp die oomblik wat ek my mortierteiken moet tref, bekak van angs. My hande bewe om mortier uit skouersak te lig, stilletjies, netjies in die loop te plaas, te sien, te mik, om asem op te hou en sneller dood-akkuraat te drúk en nie te trek nie...en iets,

beweeg in die gras.

Langs my.

Steuring wat fokus wegklap.

Ek vee bloed van my gesig af weg om my teiken te kan sien. Dis nou of nooit of ek is dood. Word ‘n kantoortiffie. Pluk die kursus. Word ‘n meid. Moffie.

Uit grassies langs my kyk presies drie babahasies op in my oë in. Snuiwende gesiggies, groot belangstellende ogies, ene pienk ore. In my gesig in. En ek bekak myself. Hulle snuif tot reg teen my mond. Ruik bloed. Babadonshasies. In ‘n klap van suiwer hemelse krag spring ek op en loods my mortier, foutloosskoon op die teiken, ek hardloop, sweef,  liggewig met al my kit op my rug, in dawerende slow-motion, en vat elke teiken raak, ek ontsien niks, ekself is só lig ek ken geen gewig of grens nie nie. Ek rond die vraagteken in myself af.

Ek breek deur en word vry.

Ek los die seun by die hasies agter.

 ‘n Lieutenant word ek. ‘n Mens wat kan sien. Miskien dalk selfs ‘n man.

 

*****

By die graf van die twee broers, so saambegrawe al was daar genoeg grond en geld en tyd vir aparte grafte, staan ek en kyk. Die bome blom stilte. Die rankgoed se groenwerk is tyd. Ewigheid. Dit breek deur die grafte, lig die marmer op, skuif die graniet, laat die kopstukke tuimel.

Ek onthou goed hoe ek was op negentien, maar hoe was hulle? Plaasmanne, sekerlik. Gebrei deur dit wat Afrika is. Was. Hier voor my lê die beendere van twee bloedjong soldate. Waarom is my lewe gespaar en hulle s’n nie? Vir wat moes hulle hulself prysgee?

 Was hulle mooi?

 

*****

 

Kuier ons onlangs met vriende en my besmaat se broer en vrou, en Liana gee my onverwags ‘n bruin kardoes vol sepraaise as geskenk. “Dankie! Baie. Kan ek môre kyk, as ek wakker word?” vra ek, regtig opgewonde soos ‘n kind, “want my hande is nog vól met kerrieklaarkry en sambals maak en tafeldekkery.” Lyk darem ook nie of ek haar die plesier van my plesierkykery ontneem nie. Láter, ná almal vort is, sit ek die pakkie langs my bed, weliswaar buite bereik van brakgoed Marakkas, en hoor dinge rinkel, geure wat opslaan, maar my aandag word afgetrek deur ‘n reuse wit en geel vlinder teen my gordynmuur. Roerloos sit sy daar. Ek stoot die gordyn versigtig deur die venster sodat sy weg kan skoenlapper wanneer sy wil.

 Vanoggend word ek wakker en kyk my persent. Dis ‘n uitsoek-voorspoedpakkie vir die pad Cradock toe: Gebottelde swartolywe, gerookte mossels, beskuite en fynproewers-konfyte, biltong, rusgerookte kersietamaties in ‘n tjillierige vinaigrette. Dis soos die lakkiedip wat ek as kind van die OK Bazaars in Jaansberg gekry het – geen Kersfees was klaar sonder die boks vol goete nie: tjaams en fluitjies, hoedjies en balonne, karretjies en snyks&ledders. En saam met die warm in my hart, vlam hiermee saam ‘n ander herinnering my oë toe:

 Ek staan pisbewe-roerloos op aandag langs my bed met my eerste inspeksie in die army op 4 SAI, Middelburg. Dis 1982. Ek is 22 en die enigste skutter ouer as 20, die enigste gegradueerde en die enigste sonder snor of baard. Fokken Bowie. Na paar weke van opfok en rondval weet ek al om nié die werkende dele van my wapen in my staalkas te los as ons gaan skiet nie. Nee. My studentespekkies (as daar was) is al taaigebreide spier. En vir ‘n kaptein met DRIE sterre op sy skouers, is ek banger as vir God en Satan saam (ek had destyds nog ‘n onheilige respek vir Gesag). Ek bewe. Roerloos. En asof God en Satan saam ‘n plan beraam het, kom ‘n korporaal grootbek van die badkamers se kant af in en skreeu –  tydens inspeksie! – “Womras!! Waar de fok is Womras!!”

 Die gewyde optog van Gesante van die Kosmiese Kragte halt in hul blink spore.

 “Wie is Womras?” sis Die Kaptein onheilspellend, gesteurd in die uitvoer van sy ongoddelike pligte.

 “Wolmarans, Kaptein!” roep die lieutenant ten hemele. My dikgrys army-onderbroek brandsmelt in die skaafplekke tussen-my-boude-in weg. My mondhoeke begin wikkel, sweet begin ‘n druppel op die punt van my neus loskielie. Oordeelsfokkendag is om my in alle Mag.

 Die korporaal storm soos ‘n tjanklaggende hiëna die bungalow binne en skrik in sy spore toe vas hy die Inspeksieparade sien. Die hond het dit skynbaar elders verwag.

 “Wat is dit?” blaf die kaptein soos net Ongod kan doen.

“’n Pakkie vir Womras, Kaptein!” spoeg hy uit soos net ‘n skiewie van die fokken Duiwel kan doen. Hy kap kammastag voet in en salueer en Ek. Is. Gemerk. Nie ‘n iets wat jy tydens opleiding in die army wil wees nie. Eerder dood. Die poes kom sit die pakkie reg op my bed neer – my bed perfek gestryk en gebyt, gepoets en gemeet tot die millimeter, met my inspeksiegoed en R4-onderdele vertoon soos skitterende juwele.

 “Maak oop jou pakkietjie, Wolmarans!” bulder die Kaptein en die hemele drom swart wolke saam, ‘n Middelburgse donderstorm bliksem los en ek salueer soos ‘n nar, en stamp voet in soos ‘n doos en die druppel sweet spat op die hart my perfekte fokken browns. “Roer jou gat jou vieslike mismaaksel!” Ek vroetelvoel my knipmes iewers los en sny die boks oop. Ek sien my besvriend se mooi handskrif bo-op en bid tot wie-ook-al-oorbly as God en Satan saam iewers oorlogspeel om tog net te hélp dat daar nie ‘n brief in die boks is nie. Nie ‘n brief nie! Asseblief! Dis blikkies en bottels. Olywe. Biltong. Gerookte mossels. Keurkonfyte en beskuite. Nog souterigeite. En ‘n blikkie Coeur du Lyon Produit de France Pâté de Foie Gras Supérieur.

 “Wat is DIT?” blaf Groot Kaptein en gryp die blikkie met sy fênsie kartonhouertjie, elaborate wapens, wasstempels en linte, illustrasies en allerhande insignia wat dui op Dinge van Groot Belang.

 “Pyt de Vooi Fokkum Gras!” lees hy. “Watse fokkum gras is dié? Is jy ‘n bok, Womras? Of smokkel jy fokkum dagga in 4 SAI in?”

 Weerlig slaan en omlyn blitsig in wit-en-swartbarok die grimas op die vark se gesig, sy tandjies klein lemmetjies van die lag.

 “Dis Franse ganslewerpâté” kraak my stem ‘n geskeurde holklankie.

 “Van nou af!” blaf hy brandwagbobbejaan, terwyl donderweer onder ons beddens in weggrom, “van nou af sal jy elke dag hierdie fokkum Pyt de Vooi Gras op jou bed uitpak, Wolmagans! Blink gefokkum poliesj! Met al jou borreltjies mooimaak-goedjies! En as dit nie elke dag hier is nie, sal hierdie hele fokkum peleton klippe kak en wens jy was noooit gebore nie! Verstaan ons mekaar? VerstAAn ons mekAAr?!”

Die res van my opleiding in die duiwelskunste op Middelburg, tot kort voor my vertrek per trein na die Infanterieskool, moes ek die hele lakkiedip elke dag uitpak. Alles. Elke dag. Ek was slaggemerk. Kon netsowel ‘n Bowie-blits elke dag mooi oor my gesig geverf het. Fokkum Womras.

Iewers langs die spoor op pad na Oudsthoorn lê daar nog ‘n maagdelike blikkie lewer-pâté. Ganskak.

 Ek kyk daardie annerdagoggend na Liana se pakkie vol liefde en beste wense, en snaaks genoeg, kielie onwillekeurig ‘n druppeltjie soutwater aan die punt van my neus. Foeitog. Oor meer as 30 jaar het ‘n skryendste tyd op aarde ook versmelt tot ‘n soort souterige romantiek. Ek kyk op en sien godweet die vlinder haar vlerke vou en weer oop en vlieg. En ek sit daar, roerloos heel en vreemd vervuld.

 

Sonde

 

Ek is in kwaai moeilikheid. Dis ‘n sonde wat ek doen. Die dinge van Daggaboer, die stories van jarre gelede, spook by my en steel my gedagtes weg en ek kom nie aan die skilder nie. Vroeg Februarie moet tien nuwe werke klaarstaan vir die Woordfees. En Nelis Koegelenberg is nie ‘n man wat ‘n gesloer vat nie.  Die pakkamer met die kluis vol geheime omseil ek. Ek weet dat as ek daar briewe en foto’s en goete kry wat lampe opsteek by die gebeure van toenter, hier in hierdie huis, dan is die cool deur die kerk en ek is verslaaf. Nee. Eers moet ‘n skildery vorm kry en my snags begin roep, met my praat en my rondstuur soos ‘n jaloerse mistress,  dan kan ek die kluis gaan oopsluit.

Maar die plaasmense maak my snags wakker. Ek lieg nie:

“Sy hare blink donker teen sy sonbruin gesig, sy oë kyk grys en ver. En sonder weifeling. As die berge en heuwels groen om hom is, te perd doer in die ooptes, is sy kykers ook silwergroen.  Dis dán wanneer hy lag. As die reën kom, brand sy oë dondergrys. Dan loop hy oral sy draaie en kyk dat als mooi op knip is. Breek die rug van ‘n slang of twee te naby die perdegoed en hoenderhok. Hy sorg dat voer-emmers en watergoed skoon is en hang waar dit hoort. Sy gereedskap blink netjies, geolie, elkeen op sy plek. Die weer loop met hom saam, in die gedagtes wat vonk in sy oë,  deur hom, asof hy ‘n geleier is van groter kragte.

Praat praat hy nie veel nie. Sy stem is donker en helder, en dit borrel uit sy plat maag deur sy borskas op, onbeklem deur keelspiere wat klanke kan verskril.  Soos donderweer is sy woorde min, maar dit hou jou aandag. Van die vroue op die dorp dink hy is ongeskik. Onbeskof. Die manier wat hy jou kyk, so vanaf sy pronkende perd.  Die stilte wat hy soos ‘n gewig in hom dra, maak hulle onrustig. Maar sy rug is breed. Hy kantel nie as mense nie van hom hou nie.  Hy kou doodluiters aan sy stukkie biltong wyl hy die dames in hul dartelrokke so voor die poskantoor sit en bekyk, sy hoed laag oor sy voorkop, sy adamsappel rustig-slukkend op en af soos ‘n skuifstang in sy keel.”

Die twee broers wat so saam vermoor en begrawe is, hulle roep my. Dis by hulle wat  ‘n verhaal tot verhaal wil kom. Maar die internet gee flarde en verwarrende, teenstrydige inligting. Ek sal my hande op regte dokumentasie moet kry. ‘n Vrou loop snags  kaalvoet in hier die gang af, nagrok bo die voete gelig, en sy maak suutjies deure toe:

“Sy streel haar hande oor sy voël, en die ding lig log sy kop en staan op, ‘n dik steel warm vleis in haar koel hande. Sy frons, knip haar oë om kerslig in te laat, die twee eiers lyk dan of dit effens beweeg, asof die sakvel liggies saamtrek en hoendervleis kry.

“Hoekom maak dit so?” fluister sy.

“Ek dink hulle hou van jou.”

Sy kyk nader, en die skielike reuk van sy voël maak ‘n ongekende rilling in haar los, ‘n skielike skiet van vog, ‘n snak na asem. Dit ruik soos groen neut, soos die see met vakansie, soos iets oer waarvan sy die naam moet ken maar niks van weet nie.  Sy wil in, sy wil op, verby alle tekens van gevaar wil sy speel en diepkant inspring sonder om te weet wat onder die stil, donker water op haar wag. Haar oe het geen sweem vrees nie, haar hart nog minder. Bo-aan die breë skag van sy vogel, aan die punt van die voorvel, blom ‘n pienk, blinknat roos effens oop.

“Ek wil dit soen” sê sy.”

*****

 

Dag 13 - Fontein - Maandag 13

 

Vandag moet ons die berg op fonteine toe. Die water in die huis is opgedroog, behalwe, somehow, in Bjella se kwartiere. Iets is nie pluis nie. Boonop het Thulaang gister ‘n slang by ons voordeur doodgemaak en my luidkeels geroep dat ek kom kyk. Koperkapél. Rinkhals. Geelkobra – wat is die regte naam van hierdie lieflike dier? Verby slank en elegant, die geel en swart skubbe, die silwer tussen-in, die goud op die bors. En daardie skrikwekkende mooi gesig – die oë so vurig en onvergeeflik skerp soos dié van ‘n arend.

Dís ook hoekom die slang en arend tesame draak word – die draak wat alles weet. Met sy vuurtong en skubbestert wat elke laagste vlak van ons aarde al lekkende ken. En die arend-deel met die dapper vlerke wat die hoogste hemeltes sy veld maak. Albei diere skrik vir die geringste beweging, en as een, tesaam, as draak, eertydse heerser oor ongekerkte hemel en aarde.

Eintlik juis amper soos die Katolieke kerk wat God en sommer ook Sy moeder as hul besit opeis. Die sielediewe wat van goddelike kragte en mededeelsame wysheid ‘n slagveld maak. Politiek. Mag. Geld. Wat vrome priesters wêreldwyd soos slange uitstuur om alle inligting uit elke grondwerker af te pers: Vertel my als, maar álles, wat in jou klam klein vallei  aangaan sodat jy jou sondes kan afkoop, en los jou seun sommer hier in my koor sodat ek hom ook voor stok kan kry. Dankie, dit sal al wees. Vir vandag.

Die hemelkatedrale wat eenvoudige en ongeletterde werkersiele intimideer met die allerhoogste ribwelfplafonne, goddelike glasventers, dawerende musiek, oorweldigende skilderye en geil beeldhouwerke, wierook, paternosters – elke sintuig van die skepselmens saamgeknoop tot ‘n byna orgiastiese ervaring van die kérk, en nie noodwendig die Goddelike nie. En O die kerklike hoëlui soos arende buite bereik in hul fluweel en juwele, katoolse ou mowwe wat rondsluip met waterige ogies en gulsige tongetjies, hulle wat pers en rooi en koningsblou mag dra in hul tabberds van sy en satyn, terwyl die werkers net moes aardse kleure dra. Sak.

Die stomme arbeiders, wat in die hoogdae van die Borgia-hooghoere – hulle wat elke wet op aarde verbreek en hoogdrawend verag het – te veel kinders vir die Katolieke fabriek moes grootmaak. Nóg werkertjies wat die kerkwiele moes trap sodat die ou pous sy ongoddelike luste kon bevredig. (Klink dit dalk bekend? Is dit alom-aanvaard dat hier by ons die arme arbeider ook deur die hoogste gestoeltes aangemoedig word om soveel kinders as moontlik los te naai? Om só die stembus met groot getalle te vat en die stemselle steeds wiele vir die rykes in armoede moet bly trap?  Nie? O.)

Die orrelpypkinders wat Katolieke Europa moes oorleef op mama se kossies wat sy in die veld moes gaan soek ná die kerk haar winste opgeëis het. Sampioene het sy loop soek. Basilied. Veldknoffel. Dennepitte. Van meel het sy ‘n pot deegslierte gekook en haar groot familie gevoer met liefde, ellende en die wilde smake van die veld en bos.

Wat later ‘pasta’ sou word, is wat van liefde en eenvoud en mín gemaak word. Mens maak pasta van rondsoekgoed en oorskietkos. En basta. ‘n Lang sous van tamatie en verbeelding. Of jy smelt botter en rasper parmesaanvet met sout by as die land en kaste leeg is. Ek kry so pynskyt as mense deesdae die integriteit van pasta, van werkerskos, verkrag tot ‘n sooibrandspul van kreef én calamari, room én cognac, swartpeper én capers, mosterd én dennepitte, laasgenoemde nou die prys van goud. Dis fokken vertonery en het met gesellige trooskos niks te doen nie.

Thulaang hou die dooie dier triomfantelik omhoog, derms blom uit die plat maag. Met die dood van diere het hy geen empatie nie. Niks. Geen sweem nie. Ek vermoed hy sal ook met die dood van mense min gevoel toon as dit in sy pad moes kom, al is hy hoewat van onderwyser. Ek kyk die slang se gesig – die suiwer ekonomie van die lyne. Dis presies waarna ‘n motorontwerper behoort te kyk. Die manne wat die BMW’s daai fokkof-nou-dadelik -hier-voor-my voorkoms gee. ‘n Sportmotor se gesig moet lyk soos ‘n slang s’n – vaartbelynd, elke klein vlak saamgevat tot die uitvoer en afwys van doel en geheel. Vinnig, gevaarlik, selfbefok en so gewetenloos soos ‘n rinkhalsende piel.

*****

Seuntjie en ek is vroeg die berg op. Met ons nuwe skoene aan. Ek met my fancy seilskoene met die crash bars vooringebou en die gemaklike enkelstutte agter. Seuntjie met sy fancy nuwe boetse gekies net mooi na sy sin. En kordaat stap hy met sy nuwe donkerblou oorpak voor my uit. Dit sifreën en na ‘n paar dae van diepdrink staan die veld groen en geil, ruig. Als ruik goddelik skoon, die bome en kruie, die vars lug, die bokmis alles saam ‘n boeket van verrukking. Ek is skoon spuls van lus om die berge in te klim. Maar o moer dis reguit en skytsteil die berg op, hoog op, boontes toe, fontein toe, en die klim is glad en kronkel nie genadiglik op nie, dit vat hygreguit kortpad.

Wiekels en Bles draf saam, dis plaashonde. Bles is Seuntjie s’n. Wiekels, oftewel Victoria, nogal, is Bjella se huishond, maar draf al jarre saam met die perde die veld in. ‘n Heel demokraties kruisbloed is sy tussen alles en Labrador. ‘n Lieftallige meisie wat al die afgelope drie nagte by my en Marakkas oorslaap. Sterswaaiende, handlekkende.

Marakkas gaan vandag nie saam nie. Nie voor ek weet hoe die paaie loop en wat en waar die gevare is nie. Ek  is bang sy moer die veld in agter die plaashonde aan –  as haar oerkragte inskop agter ‘n velddier aan, luister sy niks. Fokkol. ‘n Kobra sal sy aanvat – gesig eerste.

By ‘n sementdam moet ons die bosse in om die watervlak te bekyk. ‘n Aapskedel, nog deels bedel met pels, grynslag voor my voet. Seuntjie lag. “Sien jy daai hark?” vra hy en wys na ‘n ruwe, handgemaakte steel-instrument met lang, krom harktande. “Ons hol die aap uit die water as hy hier homself kom doodsuip.”

Sou dit wees van gifbessies? Waarom doodsuip? Skouer-optrek is my antwoord.

Ons is skaars 200 meter verder die berg op of ‘n bokram duik onder ‘n struik uit en klopper die klippe op, weg, boontoe. Ek het dit nie verwag nie. Wild. Nie so naby nie. Al is die berg sommer hier neffens ons agterstoep al so oer soos Eden. Nee. Ons gesigte blink salignat van die fynsif en die koelte help om brandlong te keer. Ons klim. Ons klim. Ons hyg. Behalwe die klimpad, wat hier voor ons drup en blink, is alles soos dit was toe Eva onse Adam ‘n deeglike lewensles geleer het. Oer. Nog bokke doem uit hoë grasse uit op en kyk ons aan.

“Hoekom kom hulle terug?” vra Seuntjie. “Iets is nie reg nie. Waar is die honde?”

Hy stap die ruigbos in en roep die honde. Ek soek rond.

“Hulle sal lammetjies vang” roep hy agterna. En wragtag. Binne die eerste paar minute: oertyd. Seuntjie roep my en ek stap om die groot doringboom. Daar lê die klein ribbokkie, tong teen klip en styfskop. Ruk. Wiekels staan ewe trots en kyk haar prooi met haar kop gekantel. Geen bloed nie. Die stomme kleinding is skaars ‘n week oud, fyn en perfek, die kleine snoetjie, groot ogies, elegante dun beentjies, en dié gesig maak alles wat kwansuis onbehoorlik in ‘n man is, wild in my wakker. Maar, ek weet, ek weet, hier mag ek geen vermoederlikte toneeljie van ontferming en sjit opsit nie. Ek soek die gevaarlikste woord wat ek ken; “Jisisis” roep ek. “Jissis” roep Seuntjie.

Die bokkie gee nog een stuiptrek en die blink in die ogie verdof tot dood.

Bo teen die hang staan die ma ons en kyk. Langnek. Groot-oog. Snuiwend. Pa ook. Ek hou myself in toom. Fokken Bambi Wolmatras. Sluk.

Ons los haar daar. Dis die engele se deel. Die veldgoed se fees.

Ek dwing my gedagtes weg en kyk na die klipkrale langs die pad.  Mure wat eeue gelede gepak moes wees, netjiese vakmanskap, die harde klip getroffelkap tot reghoekige blokke, mooi proporsies, vir ‘n ewigheid gepak en en saamgessluit tot ‘n pragbouwerk. Eintlik dalk mooier na jarre se verweer.

Slaan my oë op na die berge. Waar sal my aanvoel my heen lei?

 

*****

Flits

 

Die pronkhoed vol volstruisvere smyt sy oor die vloer weg sodat die vere tol en die brakke uit hul slaap opskrik. Daar lê die ding nou eenkant in die hoek. Die kastige geskenk al die pad van Oudsthoorn af. Koninklikes dra die vespotte goed glo hoog op hulle koppe rond. Dames van stand. Gaan glo hoogmode word die wêreld oor. Vir sulke stront het sy nie tyd nie.

Hy kyk by die lamp verby teen die hekelpatroon van die tafeldoek vas.

“Asseblief. Toe? Kom nou. Moet om Heresontwille net nie weer in ‘n stilstuipe toeval nie.” 

Sy vingers trek liggies die blompatroon op die tafelgoed na.

“Praat net met my. Dis 1860. Tye het verander. Mens moet aanpas of wegstap.”

Sy gee hom tyd. Niks.

“Hoeveel grafte wil jy nog hier op Daggaboer sien? Vermoordes. Verminktes. Voordat jy sien wat hier om jou aangaan? Hoe almal net glimlag as jy jou blind hou terwyl hulle plunder, leegmelk, wegsmokkel, afransel?”

Sy probeer sy oog vang, kyk van onder af op na hom. Niks.

Dan klap sy heftig met haar plat hand op die tafelblad dat koppies rinkel en die lampfluit wieg. Die kat strek gesteurd op uit sy rus en knip sy oë, krul sy tong. Die lampvlam fladder onrustig roetvlekke teen die fynglas.

Niks.

Hy kyk net stiltes los, oë brand dondergrys, áf, gesig verroer geen spier nie.

Dan praat sy haar woorde op ewe toon en vee met haar hande oor die tafel skoon, pik krummels op: Sy praat soos een wat die laaste van ‘n moeë gedagte droogmelk: “Dis nie Europa hierdie nie, my liewe man. Jy kan dit maar vergeet. Vergeet jou studies daar oorkant en drome oor ‘n lewe hier vol opgevoede mense. Dis Afrika. Jy moet dit kan vat of loop. Van julle Engelse weet ek nie meer nie, maar ons boere het van die kerk af gevlug. Weg. Dit was ‘n bedrogspul. En as jy hier wil kom katedrale bou of kerkies of wat ook al, gaan die bliksems dit afbrand ná hulle jou beroof en als weggedra het. Steel en vat en brand is al wat hulle ken. Hulle wil alles verniet hê. ”

“Wanneer het jy opgehou om hart te hê?” skor sy stem skielik op, sy blik nog hardegat áf.

“Te laat. Te laat, hoor jy? Toe ek my ma op die grond moes optel met ‘n afgeslagte keel. Toe ek moes toekyk hoe die wa vol van jou arme fokken kerkmense deur die gebaadjiede barbare vermink word.”

“Nee, dis vandat jy begin het om met seuns te flankeer. Soos ‘n ou hoer.”

Nou lig hy sy kop en staar sy ysgrys kyk in haar in.

In een kreet keer sy die skinkbord voor haar om dat die teepot neffens hom verbyvlieg en die porselein teen die vloer aan’t skerwe skok. Sy pluk haarself orent. Kat blits weg. Honde kruip onder tafel in. Dan ruk sy vervaard die tafeldoek onder sy hande uit sodat die lamp klaterend ombliksem en die vlam soos weerlig opslaan en sissendlekker loshardloop.

*****

 

“Jy moet mooi kyk vir bosvarke” maan Seuntjie. “Die swartes, die bosgoed, hulle tanne is sjoos mes en sny die brak sy pens oop eenslag klaar derms op die grond. Pwaaah! Klaar. En die fakken hond hol na jou toe as die bosvark storm en dan moet jy gatskwenmaak of ok jy is ok stokkend. Klaar.”

Sy palms gooi hy oop om jou lot te beskryf.

Dankie, Seuntjie, vir daardie bemoedigende raad. Ek is inderdaad nou slaggereed en aangevuur  vir die tog verder.

“En dan die vlakvark. Yuuuuuu. Hy’s die vale. Heesis. Jy moet maar hol en boomklim. Of, moertoe.”

Palms oop. Klaar en verby. Fienies. Die dood altyd nader as die naaste hospitaal.

Boomklim? Ek kyk die bome. Heerlike avontuur: ‘n keuse tussen doringhel en vernietigende varkie.

Weer eens waardeer ek die ruim uitruil van oorlewingswenke en staan reeds gereed om die Voltaren-prys vir bergklim, onweifelende deursettingsvermoë, veldkennis, sjintssplints, oorlewingsvernuf, dieresielkunde en vlugslaan te omhels. Pragtrofee. Voorbladmateriaal: Veldkornet Joost Wolmarans.

Die fontein lê ver, hoog op, hoog deur klowe vol varing , velde vol klip, ons klim, ons gly, en elke nou en dan moet ek stop en omkyk: doeeeer lê die padstal ‘n wit spikkel. Die wolke duvet so wyd en grys om die bergtoppe, die reën maak klanke so sag en kleure so helder, die veld snuiwe deur my neus tot in my proe in op. Die groen uitsigte pluk aan plekke in my hart wat te lank vol TV-rumoer en koerantekak was.

 

*****

Ek lewe in onsekerheid en vrees en my dae versomber as dit saans donker word. Ontmoedig is ek. Dis Bjella wat my so verontrus. Sy eet nie bone nie. Geen boon van enige aard vars of droog of geblik of geslaai of gebredie nie, niks. Nie eens sousbone nie. Nee.

Nourie-aand maak ek soetpatats met die skaapbredie, njet. Nada. Nooit. Geen patat-se-ding aan haar lippe nie. Pampoen ook nie. O ja, ertjies nog minder. Ek laat biltong kom sodat ons kan krummelpap en kaiings eet, vliesbiltong en eiers. Net om darem die week af te skop en my en vir kragte met my en Seuntjie se stap die berge in, fonteine toe. Nee, Bjella wil van mieliepap ook niks weet nie. Ook g’n olywe nie, dankie. En anneraand het sy die amandels uit ‘n stir-fry gekrap en soos lykies op haar bord gelos. Asof dit kokkerotjies is. Kakkerlakkies. In ‘n bestudeerde rytjie langsmekaar.

Nou staan ek hier met ‘n paar goete vir ete, waaronder ‘n pakkie vars sampioene waarvan ek agter in die yskas vergeet het. Dis nog mooi. Kan met rooiklokpeper en ui braai en afkoel vir ‘n tuna slaai met feta en kookeier, of krummelbraai met kaas en groenterys. Maar, daatlik begin die fluite afgaan, alarms loei, en ‘n swart skyf skuif beduidend voor die son in: wat gaat Bjella van die paddastoele maak? Huh? Nou wonder ek. Ek wonder. Wat nou verder? My hande is in die lug, ek skud dit rond.

 

*****

 

Dag 14 – Gewoon en Ongewoon – Dinsdag 18

 

Dis my vriendin Hesti, die insigvolle medium, wat my aan daggaboer en Bjella voorgestel het. Dis ook sy wat voorgestel het dat ek die Daggaboerdae op ‘n blog moet gooi. Dankie, Hesti. Voor dit was blogs iets waarvan ek net gehoor het. Ja, ek is inderdaad ‘n strompelende reliek van ‘n vorige millenium, ‘n derdeklas reisiger van Noag se Ark, (eintlik het ek opgeslip en was nie deel van ‘n kosher paartjie nie) en dis genoeg dat ek daagliks deur die verkeer moes kom – ek wou tevore nie nog ‘n blog ook op my pad hê nie.

Watse nonsies is dit nou om elke dag jou storie te verkondig? Plies.

Maar op die eerste dag laat Bromley Cawood weet dit hoort Daggaboer Dagboek te heet. Dankie Bromley. Ky. Dis reg, ja. En vandag, twee weke later, was meer as 1000 besoeke op die blog. Kan jy dít nou oorvertel? Of dit nou in blogtaal gewoon is of nie, ek weet nie, ek weet net dis duidelik dat dit heerlik-heerlik ónpretensieuse mense is wat die storie geniet en dit nie sien as ‘n Jannie-konsert wat getamatie moet word nie.

Wat mens meer verbaas as alles, is die lesers. Dankie Jere. Die kwansuis ‘gewone’ mense wat jou laat weet jou salfies werk. Dis so interessant dat die kunstenaars, ‘skrywers’ en ander moffies dunlipperig onttrek. Geen deelname nie. Niks. Dank Vader God. Maar dís juis die ding – ek ken geen gewone mense nie. Het nog nooit een ontmoet nie.

Behalwe daai ou wat, net nadat Noag in 81 deur Laiingsburg was,  saam met my op UCT onderwysdiploma gedoen het. Hy het my die kampus vol agtervolg soos ‘n verlore bababrakkie. Eendag het ek, moenie vra hoekom nie, uiteindelik by sy huis gaan teedrink na hy my drie-en-dertig keer genooi het. Daar aangekom, in so Engelse huisie wat ruik na mince wat in water met net sout en peper kook, maak hy wragtag tee en bedien Marie biskits en daar vermaak hy my úrelank met foto-album op foto-album vol foto’s van sy fokken rose. Elke roos het hy met ‘n Instamaic afgeneem en ieder elkeen had ‘n naam en ‘n storie. Sy naam het ek genadiglik vergeet, hom net een keer jarre later op ‘n lughawe sien werk en ek moes vlug. Hy was die enigste gewone mens wat ek ooit mee te doene gehad het en hy bly ewig die maatstaf waaraan ek alle ander mense oordeel.

Verder is almal op aarde ongewoon en abnormaal. Bring my seblief ‘n normale mens, verkieslik nie ‘n roosdoos nie, en ek sal met hierdie verskynsel ‘n blog begin wat in veertien dae op die aandelemark sal shock exchange.

Wat ek eintlik wou vertel, eintlik wil verkóndig, nógal, aan alle jong storievertellers, is heel gewoon: Vertel jou storie, of dit nou met woord of verf of film of rokmateriaal of koekversiering is, aan jouself en jou eie mense. Die gewones. (Net finaal: Normaal sal jy nooit ooit sien nie en hulle bestaan net in die Hoesgenoot en woon iewers tussen Husse met Lang ore en nog langer tieties en totties).

Vertel jou storie aan régte mense. Ménse wat vanself naderstaan, belangstellend kyk, eenvoudige vrae vra met ‘n lig in die oog. Hulle wat speel en nie altyd moet kompeteer nie – dis hulle wat honger is vir jou werk. Wat dit nodig het. Dis hulle wat baat by die verligting wat jy bring. Dís jou werk: Om verligting te bring. Eendag dalk insig. Geld kom later, hulle wat jou werk lief en nodig het, betaal dit met bloedgeld af, intussen kan jy lekker leef van skone  liefde en nood. Dis die beste medisyne vir ‘n skeppende gees. Dis jou ankers wyl jy ronddobber. Hou jou naby mense wat liewer deel as neem. Dis hulle wat water bring as jy dors het, en, as jy baie gelukkig is, wyn. En as jy jou werk reg doen, met eerlike oorgawe en in alle eenvoud, lawe jy ander se pyn. En hulle sal dit nooit vergeet nie. En dit, my vriend die soekende jong skepper, genees selfvernietiging en kanker. Geen dwelm kon naby dié hooglekker nie.

Weet ook dit: As jy niks het nie, as jy nie saamsleep wat jy nie nodig het nie, bly jy ewig op reis, vele reise wat jou mooi wys wat ágter die vooraansigte skuil, agter die glaskaste van ‘n eersteklaslewe, in die harte van oprégte mense wat JOU besondere medisyne nodig het, en hulle deel lewensgeheime in ruil. Heilige, heilige terrein.

En daarmee dan klaar gepreek. Kom ons sing uit Nataniejel Sewe Honderd Sewen en Sewentig die Sewende vers.

 

*****

 

 

Annerdag was die honger hond mos hier. Die een wat so leeg en weerloos was en so swaar aan sy dun skouers moes dra, die reisiger sonder ster in die oog. Ek het hom nog nooit weer gesien nie. En my kommer hoor hom nêrens. Geen sein tel ek op nie, ook nie snags nie. Sal moet glo hy sou terugkom as hy honger was. Of seer. Of aan't lewe.

*****

 

Vandag moet ek Seuntjie oorreed dat ons nuwe rakke vir die padstal moet bou van rondlêgoed hier op die plaas. Seuntjie is ‘n kranige rakbouer en sweiser, houtwerker en nutsman, maar hy koester ‘n ondeurgrondbare agterdog oor materiaal wat nie winkelnuut is nie. ‘n Konfytrak van plank en ogiesdraad? Sies. Pyp en ou sinkplaat, die golwe in die sink platgemoer? Nee. Dis nou sommer kak. Hy wil niks weet nie.  Ek moet plan beraam.  By wie kan ek iets meer uitvind van Corruption & Bribery? Niemand by die ANC antwoord ooit ‘n foon nie. Niks is ooit maklik nie.

 

*****

 

Dag 15 – Victorian – Woensdag 20

 

Dis twee uur in die nag en die wind is ‘n besete oerdier hierbuite, snuiwe wild aan deure, fluit deur die geute, skud aan bome, ruk aan planke en plafonne, klater aan dakteëls en krap aan sinkplate. My gordyne staan bol en Marakkas se rug staan vraagteken. Sy trippel plat-oor rond en kyk my stert tussen die bene. Kry nie rus nie. Drome het my ook lankal wakker.Sal ‘n ketel moet kry hier in my kamer.

Dit klink soms of ek ‘n saak teen die Engelse het, of onnodig draak steek met die rondebrilletjies, maar, eerlikwaar, van my beste vriende is beide. Dee wat nee Efriekêns prot nie kon, én hulle met die Totiusbrille en duur skoene wat gedigte uit Fins, Fries en Lesbies vertaal. Dis my vrinne en ek het hulle lief al skeer ek lekker gek.

Dis hoeka Engels wat ek aan The Royal Afrikaans University (RAU) gaan swot het, met Afrikaans Nederlands daarmee saam as hoofvakke en kunsgeskiedenis as ekstra hoofvak. Frans net eerstejaar, Sielkunde tot tweede, en so aan. In tale het ons gepraat. En in daardie fabelagtige gebou aangemeld soos bleek pasiente by 'n boekekliniek. Als was blinkskoon. 

En trots is ek vandag op die akademiese standaard wat die boere ons ingedril het. Hulle was nuut op die hoogste punt van die Witwatersrand, arrogant, en het ‘n saak gehad om te bewys nie net teen die smalende Engelse van Wits en UCT en verder nie, maar ook teen die intellektuele snobisme van Stellenbosch, die Heilige Leerreëls van Potch en die Watervalvreugdes van Predoria. Die Totius-brille. As die akademici boonop ons gatte met die lat kon bykom, sou hulle. Ek het ou HCT Müller by Afrikaans Nederlands verpes, met sy netjiese wette en strawwe standaarde in álles, en ou FIJ van Rensburg met sy sublieme ambagte en die hoër, koue paaie van sy bril en baard. Vandag is ek Oom HCT sy verbete geloof en vakmanskap dankbaar. Salig is hy al, en iewers op ‘n wolk met sy groen tjekbadjie en oranje das. Dankie, Oom Hasie. Dankie, Oom Vy. Julle het mooi gemaak.

Ek noem hierdie dinge omdat ek nou snags ook rondsnuiwe, soos ‘n besete dier, terug na wat ek kan onthou van die Victorians. Wat ek weer moet bylees. Wat hulle als hier in Suid-Afrika en by Daggaboer aangedra het. Ook hier was geen gebrek aan aanmatigende attitude nie.

Eers moet ek neerskryf wat ek weet en kan onthou, sodat die gate en seer vingers mooi uitstaan. Dan eers kan ek begin skaats deur die internet en jags biblioteek toe jaag vir ou boeke.

Gister kon ek eindelik die grootbaas van die plaas ontmoet, en Andrew Jordaan doen die begrip Boer netjies gestand – te besig vir koffie, grys in die oog van wolke kyk, praktiese kakie-wersklere, ferm en nie-oordrewe handdruk, en geheel gebrek aan hardegat arrogansie: ‘n Man met baie plase het bokkerol om te bewys. Net te veel om te doen en alle dae is te kort. Ek vermoed, as hy eendag namens Boere in die hemel moet praat, hy sal sorg vir ‘n ekstra Sondag, ‘n langer Saterdag, ‘n stadiger Maandag, en so aan. Dalk ook minder vlieë, bosvarke, lamdiewe en vingers wat melk waar dit nie moet nie.

‘The farmer is the only man in our economy who buys everything he buys at retail, sells everything he sells at wholesale, and pays the freight both ways.’

Wie het dit gesê?

Moenie met my kom sokkel oor boere nie. Hulle staan rugrraat vir die hele ewig-honger Afrika. Hulle hou nie op werk as die yskas vol wyn, die bank vol pampiere en die koeraats vol karre staan nie.

Op een plaas bou Jordaan die allermodernste melkstalle wat ‘n man kan kry. Hy vertel, so gou-sit-op-die-rusbank-se arm, van die vele veilings wat op Daggaboer was om ontslae te raak van al die ingevoerde Victoriaanse meubels, kunsgoed en juwele. Die klaviere. Die dinge. Die goete en geite. Sal hom hier moet kry vir ete dat hy kan vertél. Die jagtershuis kan wys. Ons met sy viertrek die berge in kan ry na die agterste fonteine toe. Doer ver.

Ek nooi sommerso vir hom en Sandria oor Sondagkos, wetende hulle is te besig, maar weet klaar nie wat mens vir boermense voorsit wat woeker met beesgoed en skaap, wild en wat nóg als nie. ‘n Skaapboud met pampoenkoekies en ertjies en, O Heer, Bjella is al klaar die veld in weg. Sal mooi moet beplan. Sommer lus en doen die ou ding met die mees ouderwetse Boerekos, soos die Drie Susterslaaie – beet, wortel en sousbone. Ja, vir Bjella sal genoeg wees, so rondom die pampoen, erte, bone et al. Bruinpoeding dalk ook , en my eie roomys met groenvy en suurfudge. Maar nee wag, ons al eers vooraf stil moet uitvis oor almal se diabeetdinge, allergië, fobies, afkeure, fiemies en favourites. Geite. Deesdae kan mens nie meer sê nie.

Op ‘n dag in 1981, toe ek  eerste keer ‘n huisie in die Kaap uit veilings meubileer, snuffel ek in Kalkbaai rond. Toe al vol winkeltjies met antiques en ander klaterware. By een winkeltjie, onthou ek so duidelik soos Esmé en Jan, sit ‘n vrou by ‘n ontvangstafeltjie en radioluister. Sy dra op ‘n koue dag ‘n ligte losrokkie en blonde bolla los op die kop saamgebonnel. En sy eet mossels. Sy eet mossels in die skulp. Sy eet mossels in die skulp uit ‘n blik. Met haar vingers. Die hele winkel ruik soos koshuisseks en sy praat Hollands so oopbek met mosselvliese tussen haar tande. En sy is al prAtende agter my aan met die blik en al. Nie eerste prys vir finesse nie. Op een rak sien ek iets waarvan ek hou. “Ja, ja!” seg sy. “Je heeft wel bizondere smaak, ja? Dat zijn zuiwer genuine zestiende eeuse Victorian antiek.”

Yeah, right. Jou ma se gat.

Sien, ‘n boerklong wat aan die RAU ‘n graad soos ‘n rang moes verdien en nie net verwerf nie, met das en skoeisel en nie keffertekkies soos die Witsies nie, het kort na finale eksmanens deeglik geweet wanneer , in waffer jare, die Victorians hul vlugsoute moes uithaal om deur die driwwe van die dag te kom.

Elizabeth Prudence Tucker Edwards Trollip.

Die pakkamer vol geheime het ek nog nie gaan oopsluit nie. Die tyd is nog glad nie reg nie.

Die oerdier is weg buite, Marakkas bewe haar droompies en ek kan weer kooi toe.

 

 Oordeelsnag

 

Teen vyf slaap ek weer en eers na agt skrik ek my gat wakker, skrik in die ware sin van die woord – eers, in my slaap, hoor ek die storm aankom: Die oerdier is terug. Die draak wat raas en blaas. Sy wat uit die hoogtes neerswiep na benede en platmaag teen die grond afseil om sand en tak op te lek en stof op te skop tot die hemele hoog –  sy wat fluit en spook, ruk en pluk aan als, wat breek en klap.

Dan weer is dit ‘n geskreeu. ‘n Atletiekbyeenkoms en rasende skares, priemende gegil van dirigente. Dan weer is dit oordeelsdag in my ou restaurant, Rockspiders. Ek sluit deure oop om personeel in te laat en alles is verwoes, omgewaai, geplunder. Voor my ouma se klavier sit ‘n vrou gat-op-die-grond en steel die pedaalwerke. Ek loop haar storm maar val oor ‘n boks vol klaterende blikbekers. Vreemdes het die hele Kaap ingetrek, blas mannetjies met sinistêre snorretjies soos dié van Salvador Dali, keer my voor my eie kombuisdeur voor en ondersoek my. Dreig my. ‘n Nagklub het hulle op my perseel kom oopmaak, en ‘n stoet van hoere op hoë skoene van glas staan en wag om binne te gaan dans. Geen sê het ek nie, geen stem en geen rang met hierdie geleentheid nie. (Hoor ek iewers ‘n kwaai lesbieker wat haar femsinisme sis: ‘Nes mans is – altyd ‘n fokken rangetjie of ‘n slangetjie op die spel.’)

Als is omgekeer.

Hier kom Hazel Nyathela met ‘n baba aan. Die baba is grys. Hazel wat my by Rockspiders inderdaad grys gemaak het: ‘n industriële gasstoof wat deur ‘n bulldozer ongeroerd bly staan, sal sy die handvatsel van afruk, die plate breek, die rakke beseer, die knoppe afdraai tot in ingewande van Beëlzebub in. En geen verklaring daarvoor aanbied of met ondervraging kan gee nie. Niks. Die mondhoeke sal aftrek soos dié van ‘n dikbek kind, die oge vol aanklaag én bitter verset. Jou aangluur. Agter op haar rug is nog ‘ n baba vasgebind en dié skree ten hemele. In platieksakke wat vol inkopies moes wees, is babas. Gillende. Oral is al my tafels en stoele omgekeer, my cash box gebreek en vol kak en lekkiepêkketjuwele, vrieskaste gaap leeg, oral lê beelde rond van ernstige ou ooms wie se name ek nie meer ken nie.

Dan klink ‘n skril gelag op en ek breek deur my grys slaapwaters op om hoog asem te sluk – die rumoer weerklink teen die plafonne. ‘n Luide geklater en gesels, en ‘n stemmetjie wat bó als die verf van alle plafonne op aarde brandstroop. Liewe donnermoer.

Dis paaidag.

En dis Seuntjie en die spanne wat deeg knie en uitrol in die spens. Ek moes lankal op wees om te monitor, maar het soos ‘n sleg soldaat my plig versaak. O Jeer een meisiekind se stem skilfer vlymslerp deur alles op dat die hele Daggakasarm se akoestieke die mure uitklim. Het iemand haar gebrand? Nee, dis ‘n gelag. ‘n Geskel. ‘n Vertel.

Ek veeg my gesig skoon, knoop my woeste hare vas, sukkel pantoffels uit onder die bed en stap so regop ek kan die spens binne. Kan jy dit glo? Liewe Dierbare Hemele, dis net Seuntjie en Susan wat dié moerse rêkket opklits. Net twee mense. Susan – Soeeezen – is ‘n kleine vroutjie, maar as jy ooit iemand soek om die Olimpiese Spele met kreet en vuurwerke van stemvlam te open, is Soeezen jou meisie. Seuntjie verskaf, al rollende aan deeg, die onderklanke soos die tuba in ‘n militêre orkes, en verder bespeel onse Soeezen álle instrumente met die skrille glöckenspiel die yspik waarmee sy oordromme prik.

Oopbek staan ek en kyk. Sy hou nie op nie. As ek my nou ore sou toedruk, is dit dadelik ‘n internasionle ras-insident wat alle protokol en mensliewendheid oorskry.

Om stilte af te dwing vra ek: Hoeveel paais maak julle vandag? en dadelik halt Soezen haar luidkeelse kabaal en, wragtag, daar staan Hazel in haar se oge op – verset. Onrus. Interrogation.  Aanhouding sonder arres. Oorskry van grense en menslike etiket. Aantas van menswaardigheid. En haar ooglede en mondhoeke trek in stilte af.

Dankie Vader.

Seuntjie skommel voort met die roller oor die deeg. Hy wikkel, hy strek daai deeg, hy looi. Hy gooi. Vandag het hulle agt bakke deeg, vertel hy. Dis fakken baja. En die vleis kom netnou van die padstal af, dan moet hulle rég wees en skep. Elke paai moet perfek eweredig wees. Ja? Hoe lank moes ek aan Hazel die konsep van volume verduidelik? Volume in klank en volume van kos per porsie. Futiele onderrig.

Twee honderd en sestig paais, reken Seuntjie, sal vandag Soezen se aanvalle oorleef en heel anderkant bedien kan word.

Die pasteie, weet ek, is koningskos. Waar ander paais elders plat knolle deeg is, met ‘n verfie Knorr-kots en ‘n vliesie nier of hoendervel binne, as voorspel tot sooibrand wat Soezen tot inkeer sal blus, word die pasteie hier neffens lawaai gelaai met geil vleise, geure en genot. Die deeg is nie te dik nie. Dis ma se kos. Ek mis net ‘n knippie naeltjies by die hoender. En beslis ‘n paar vegetariese variasies vir groenreisigers op die spoor van Melissa Fokken Bachman.

 

Dag 16 – Dagga. Boom van Kennis van Goed en van Kwaad – Don 21

 

In die lang gang die kasarm af hoor ek die voetval van elkeen in ‘n eie styl klap.

Liria stap doodluiters klippetie-klop-klippetie-klop in die reëlmaat van gemak. Deesdae lig sy haar oë soms op as ek mens daarna soek om met haar te kan praat. Ek leer verstaan, dis uit ‘n soort eerdied en nie nukkerigheid nie. Sy het glo ook geen segenskap oor haar geldsake en doen en late nie, Thulaang is daar die baas. O.

Seuntjie njierts-njarts njierts-njarts vas van plan die gang af, doelgerig. Almal se dae hier is vol. Syne strek net oor ‘n baie wyer veld as ander s’n – van veldgoed en water tot paais maak en ‘n rakbougeklater, van tuinmaak en slange vang tot als uitstel tot later. Nee, ek lieg. Die man staan sy skoene vol.

Thulaang is ‘n haastige hasie. Ratelrats en astrant is hy mos, en lyk eerder na Liria se seun as haar man. Dit sal ek nou nooit hard-op sê nie, want dis heelmoontlik hoogverraad.

Bjella loop die gang nie aldag nie. As sy terugkom na ‘n voldag van van die padstal af, wil sy skoene uitskop. Klaargehardloop. Dan steek die sigaret haarself heel elegant aan en die bad loop gou kwart vir een van haar vele blitsvinnige drieminuut opvarswaterplasse. Maar as sy die dag die gang aanvat, is dit soos iemand wat ‘n winkel het. Iemand wat baie sleutels aan een bos dra. Iemand wat elke sekonde tien besluite moet neem wat die vloei en verkeer van alles en almal raak – van die bestelling van aankope, plan vir die dag, plan van die week, reken van syfers, luister na klagtes, uitdeel van raad en die harde muntehart daarvan, opskryf van idees en versoeke, aanpas by padwerke, omseil van waterdroogtes, dorptoe vir dié en die dorptoe vir daai, die eindelose e-mails en oproepe, die weer bel en weer smeek vir iets van laasweek, regmaak van als wat stukkend en gehawend raak, regskuif wat skuins staan, fokken álles – oor als neem sy besluite, en as sy die gang afwandel, steek sy vas soos een wat skielik iets onthou, dan draai sy in haar spoor terug vir drie tree, steek weer vas, sug, draai om en stap dan die gang verder – al roepende.  

As Bjella in die gang stap, soek sy en sy roep. Sleutels klingelende. Anders ontvlug sy met ‘n potjie brug oor die internet. Dit, en haar pakkie ligte sigaretjies, is haar enigste dagga.

 

Besitreg

 

Wat laat ‘n man soos Jordaan aanhou en aanhou met boer, oor wyer groot plase wat op ‘n man ín-eis in vele dissiplines, onderhoud van vele op vele, al sy gedagtes sluk tot ‘n werkskedule?  Hoekom hou hy nie op ‘n dag op, tel sy winste, en gaan vang rustig vis op Vleesbaai nie? Wat is dit, die sielesubstans,  wat ‘n man só anders maak as die een wat elke dag aftree tot wanneer hy weer dop, stop en kos nodig het? Wat is dit wat iemand laat aanhou boer, in enige beroep, lánk na verlangse familie en SARS dink die koffers is lánkal vol? Van Willem Wikkelspies tot Willeboer Smit hou manne wat groot geld maak aan met stories skryf, en dis nie omdat hulle kortkom by die dop en kos nie. Wat is dit? Grondbesit. Elke man op aarde wil sy eie kleim afsteek nie noodwendig uit vraatsug of behoefte tot meesterskap nie, maar omdat hy iets meer as ‘n drol in sy spoor wil laat. Dis meer in drang as in woorde, by party in diep stiltes meer as bid. ‘n Man wil van niks iets beters maak. Iets van niets. Iets wat bly staan nie net tot voordeel van homself nie. Iets wyer as rykdom, dieper as die les van dors, iets hoër as die vrees dat alles net ‘n jaag na wind is.

Meeste is heel gelukkig om net ‘n drol te los en by die volgende deur of reisiger te vra vir  nog ‘n ietsie. Stembusfodder. Geen tekort aan diésoorte nie. SARS behoort die werkende mens ook ‘n ruim persentasie te laat afskryf aan al die vyfrande wat hy en sy om elke draai as plig aan ‘n smekende drolwerper moet gee. Altans, só praat manne soms as die brandewyn brand.

Op Daggaboer het ek nog nooit iemand sien lyfwegsteek nie. Daar’s nie tyd vir sulke kak nie. En dit wat nie nóú gedoen word nie, is netnou ‘n krisis. Niks kan jy onder sand toeskop, onder die mat invee of armswaaiede wegredeneer nie.

Nee. Waar is dit? Wat het daarvan geword? Wie het dit laaste gesien? Gaan haal dit. Nou dadelik.

Mens kan nou maar lag, maar vir baie man is grondbesit ‘n idee van reg en erf, en dat jy daarop kan rondploeter en wag vir loon en lof. Die Jere voorsien. Jy stuur vroue uit om te gaan waterskep fokken waar ook al. Of bier. Heeldag se taak, een kalbas. Nee, twee. Een vir netnou. En jy wag. Vir beter dae. Vir dit wat aan jou belowe is.

Wat het in die spoor van die Trollips hier oorgebly? Behalwe grafte wat kraak en sug. Behalwe die kasarm wat met talle veilings van skatte leeggedra moes word? Wat het oorgebly behalwe die naam van die plaas, dit wat almal wat hier verby beweeg laat grappies maak en dieselfde vragie vra: “Waar is die dagga?”

Elizabeth Trollip. Hoe het haar klanke teen die vloer van die lang gang geval? Haar stem teen die plafon, teen haar ingevoerde meubels en fluweelgordyne?  Was dit die lae hartseer van ‘n seergemaakte tjello? Die skerp geklief van ‘n seergemaakte teef? Die vae vrae van een wat moedeloos geword het teen die aanval en opdring van soveel mense wat ‘bloedsweetwerkendes vyandig as gashere sien? Indringers wat die natuurplesier van ‘n veldkak kom ontwrig het met Viktoriaanse maniertjies. En fokken plannetjies vir werk. Fókkof, sê hulle. Voertsêk.

En waarom, waarom, wonder ek, weier Heer Trollip byvoorbaat om my iets van hom te laat weet? Geen sein, geen impuls, geen teken of onverwagte reliek laat hom voor my kom staan nie. Is dit trots? Irritasie met ‘n man wat hier op sy bloedverwerfde erf kom rondsit en tik?

Die padstal word vandag bietjie herrangskik. Kookketels en brandgoed by die koffiestal moet beter staanplek kry, hoër, eenkant, buite die raakvat van spelende kinders en haastige boude van werkers. Die vloei van werksverkeer oor feestyd moet makliker loop. Ergonomie van erge graad.  Gister het Seuntjie en ek loop plan maak. Bo by die huis het ons oplossings gevind. Vanoggend is hy met die trekker af om die kas af te laai, vullis te versorg, en met die terugslag ‘n staalrak te bring – een van sy eie werke, wat opgesny beter as vertoonrak benut moet word.

Seuntjie hou van staalwerk. Vinniger en meer akkuraat as hout, vertel hy. Netjiese kaalgeraamtes wat min plek vat en die rakjop goed doen. Ek is nie vanoggend saam nie. Hy het nie iemand nodig om hom weer te vertel wat hy reeds weet nie.  En hy verpes ‘n ewige herhaling van opdragte asof hy dit die eerste keer nie gesnap het nie.

Hy weet wat hy moet doen. Hy maak sy eie planne. En hy is trots op sy werk.

 

Dagga

 

Toe ek ‘n kind was, was ‘n daggaroker die laagste vorm van lewe. Viesliker kon jy nie kry nie. Een soos ‘n met ‘kommunis’, en daarvan het ek daar nik gesien nie, net van gehoor. In fluistertaal. Soos van kanker of moffieneigings. ‘n Sieserigheid buite die sfeer van CNN – Christelik Nasionaal Normale.

Dagga.

Ek dank die Here en al Sy Engele dat ek op skool nie daarmee kennis gemaak het nie. Dat ek hoog was op talentespel, op die lekkertes wat fantastiese onderrig my en my maats kon bied. Geen belang had ek aan drank of rook of dagga nie. Niks. My ouers het my liefgehad en ek vir hulle. Boelies kon ek fnuik met skerp intuïsie en kennis van ompaaie buite hul denke. Op skool kon ek alles doen wat ‘n natuurlike vonk van adrenalien laat lekkertes lospols. Jags van ontdekkinge in die kunsklas, op die verhoog, in die klas, en in matriek met stokkiesdraai wat alternatiewe families openbaar het – vandag nog my vriende en mentors.

Dagga is nie alman se maat nie. Nee. Oppas. Oor die siel en sondes van hierdie godsplant gedy daagliks al meer mistastinge en bygelowe, opinies en gelowe,  lagstories en hartseerverhale – meer as wat daar oor al wat goderyk is.

Ten eerste, voor jy iets van enige sielswaarde sou mog kweek, moet jy manlike én vroulike plante ná genoeg, maar nie té na aan mekaar nie, laat lewe kry. Grondvat. Soos in enige huwelik wat wil oorleef, moet daar voorts son wees maar nie doodson nie, skadu maar nie smoor nie, dorsles maar geen gesuip nie. Beweeg-ruimte vir die arms ook. Alkant toe. Nie te veel gekarring en gevroetel aan mekaar nie. En om albei sterker te laat groei, weliger én ryker, plant jy ‘n kakiebos of ander kwaaiplant naby, maar nie te naby nie – soos ‘n skoonma of ‘n lokasie net buite die dorp. Handig, maar nie te lastig nie. ‘n Klein bedreiginkie: Glo dit nou of jy wil of nie, die plante tel die seine van indringers en teenkanting op, en groei dan sterker om oorlewing. Sela. Moet nooit die waarde van ‘n vyand onderskat nie.

Oor die res van die grootmaak van dagga kan ek veel profeteer maar weet daarvan net mooi fokkol. Wat ek wel weet, is dat die farmaseutiese dwelm-aspek, teenoor die weef van die vesel, miljoene en ryk uiteenlopende moontlikhede bied. Van die bestryding van kanker tot die genees van weemoed, van die maak van werkshemp tot die insulasie van allergielose ruimtepakke.

Vir die sondige deel, die skelmrokery en paartie, moet elkeen maar goed ligloop. Elke mens reageer verskillend op die substans. Soos met geloof self. As jy vol paartie-plesiere is, gaan jy lekker paartie hou. As jy vol weemoed en verlange is, gaan jy ‘gedigte’ skryf wat die volgende dag soos apteekvoorskrifte lyk (handig dit dadelik by die naaste Diskiem in en kyk wat gebeur). As jy ‘n skuldige gewete het, gaan die gordyne begin beweeg, skadu’s aan jou lek en miere jou bespied. Het jy werkslus, gaat jy lekker klippe kap en straks ‘n blink ding optel.

Een wijde blik verruimt het denken.

Dagga skep ‘n ligte smelteffek in al jou waarneminge oop, en nie ‘n oorname van kragte buite jou beheer nie. Alles smaak lekkerder, of slégter, as jou siel só is. Kleure is mooier, as jyself mooier kan kyk. Musieke klink betowerend en eerste keer hoor jy instrumente wat áltyd daar was, maar nét buite die radius van jou fynluister. Jy wil nou inluister. Jy wil dans. Aanraak en seks is sensuele wonderwerke, as daar liefde en /of selftrots by is.

As jy steel en moor en kak aanjaag, is dit omdat dit anyway jou plan of smaak was. Niks is die plant se skuld nie. Die chemiese reaksie tussen jou en die plantstof is jýself: dis ‘n lig wat in jou aangaan sodat jy jouself kan sien. ‘n Spieël wat in jou opstaan. Of ‘n glas wat verdof tot angs en waansin. En ja, as jy pienk olifantjies en narre met dolke daar gewaar, was hulle lankal voor die al dagga daar.

Sou jy enigsins ‘n sin vir humor hê, gaat jy lag. Lekker. Vat iets saam om teen om te kan val. Soos ‘n mooi fris meisie of ‘n sterk plaasseun wat die punch kan vat. Is jy suurgat, en jy ruik jouself die eerste keer gat-eersteraak, gaan jy kots. Wees gewaarsku: as jy in oorlog met jouself en die wêreld lewe, moet jy van dagga af verder wegbly as wat die wet jou voorsê. Bly weg. Kyk Sewende Laan.

Dagga is ‘n wondermiddel, maar dis teen die wet om dit te groei, te besit en te gebruik. Die redes hiertoe lê diep verweef in ‘n storie begrawe hier op Daggaboer self, versteek en vergeet. Ek sal moet delwe.

Maar dis gevaarlik, hierdie dinge. Soos wanneer geloof of kerk ‘n politieke instrument tot magsbeheer word, so word die ware karakter van dagga verdag gemaak. Verswyg en strafbaar. Die boom van kennis van Goed en van Kwaad. Wie sê Eva het nie vir Adam met ‘n joint om die bos gelei nie? Huh? Watwou van appel! Ha!

Die verdagmakery van dagga is dieselfde soort opeis van krag en waarde van dit wat aan almal behoort te behoort, maar tot die heersers alleen toegereken word. ‘n Uitbuit van allemansbesit wat klandestien ondergrondse rewolusies finansier. Die spel van die grootkokkedore. Wat Nkandlas vir skuldbevreesdes onnaspeurbaar bou. En dit word die ontvlugtingskoets  waarmee arme kinders uit gebroke huise hulself teen die aanslag van ‘n liefdelose  lewe probeer weer.

Ons al moet sien. Ons sal moet sien wat in die ouspore hier lê.

Nee, asseblief, die padstal verkoop geen dagga nie. En in die dae hier, het ek geen teken by enige werker daarvan opgestel nie. Niks.

 

*****

 Back to Basics

 

Vanaand wil ek al my familie, my vrinne, al my naastes oornooi om onverwyld hier by ons op Daggaboer te kom woon:

ja toe trek ons mos almal terug plaas toe

wyl alman dorpskant nog so foksokkel

elke dag vas met kleinskryf-kleindief-banke

gemesmeraais tussen lang rye diskiemrakke

 \

toe seg ons nee, só kan dit nie aangaan nie

 

toe pak ons mos ons ventertjies

vol ou boeke en jong sade

ja bokse vol geel ganskuikens pak ons

en bababrakke met toffiesnoete

want met poepholalarms elke nag snags

en vet verkeerskontfeite elkuur bedags

wil ons nou net mooi nie meer nie

 

toe seg ons nee, só kan dit nie aangaan nie

 

plaas aangekom span ons son

en wind mooi rigting in

vir lektrieklig en spoelwater

van aalwyn en hotnotsvy vry ons

salfies los teen kleinseerkrygeit

kyk ons pensioenfonds is nou sak patats

en ons ATM ons slaapmatras

 

soggens kraai ons haan ons wekkerwakker

maar ons is mos lankal al op pasop

nee te moer met moerkoffie

ons sluk groentesap met knoffel en gemmer

ons melk bok-ooi, roomkoei, staljongens vól-emmer

ons befluister ons kruie ons bid saam in die tuin

maar ry nog vér woolworths toe vir sondag se vleis

want ons diere het mos name, siele en aftreeplanne

en boonop pastorale sielkundiges en tandartstanne

 

nee pille is sleg en ons moer alles weg

en knoop onse slaap weer net met sterretjies reg

kyk ons skuitjie het visrivierspiere

vir ons sondagvaart vir kerk

maar maandae het ons almal af

om van die transdans aan te sterk

ja ons bid mos as ons bly is

en ons dans mos in ons nood

huil oopbek dakke nat met troues

en lag wals-wals vir die dood o

van skoon dagga raak ons skoenlappers

en maak die mooiste apostel-sandale

en wolskaapwinterslippers

en van skandes en van ongeluk

skep ons rondpronk-roosterkoek-onthale

so maak ons maar plan met als en nog wat, dis hoe ons is

en teen skimmel en swam sal ons mekaar se voete moet pis

 

ja ons stuur wolkies mos vir water-loop-haal

maar soos volkies van ouds raak hulle maar skaars

en so leef ons voort in stil harmonie met alles tesaam

goggas en kleinvolk word liefd’rik gespaar

maar vlieg en muskiet word fokmoertoe geblaas

 

net weerlig mag hier op Daggaboer bliksem

en net wolke sal hier donder

geduld en genade bly ons enigste wette

maar ongehoorsame kinders

word aldaatlik warmgatgewetter

 

Dag 18 – Mens leer – Vrydag 22

 

Ontdek nou net hierdie vers op Facebook en moes ‘n blitsvertaling maak. As ek ‘n pa was, sou ek dit byderhand hou vir die keer wat my kind met gewonde oë tuiskom en weier om gesig te wys. Na daardie eerste verwoestende liefdesbreuk:

Na ‘n wyle leer 'n mens wel die kleine verskil

tussen die vashou van ‘n hand en ‘n siel

aan kettings bind. ‘n Mens leer die liefde nie

ken deur met jou hele hart daarop te leun nie

En geselskap is waarborg van niks…

Jy sal leer dat geen soen ‘n kontrak inhou nie

En geskenke geen beloftes mag bring

Na ‘n wyle sal jy weet, jy sal verstaan

dat ook sonneskyn in oormaat alles kan verbrand.

So, verruim en versier nou jou eie hart

Leer hoe om jou eie tuin daarin aan te plant

eerder as om so hartseer te bly wag, te wag

dat iemand jou met blomme bly verras.

(Jorge Luis Borges – Mens leer.)

Sepraais!

 

En daar gaat Seuntjie so wragtag op eie stoom voort en doen ‘n ding wat ek nie heeltemal só verwag het nie. Nie só gou nie. Nee. Alladonner.

Marakkas en ek stap na sy werkswinkel op om te hoor wat hy van die dorp af wil hê, want Bjella is netnou hier en dan moet ons padvat en vort om die week vorentoe se dinge op Cradock te naweeklaai. Almal sit hulle lysies in. En as jy weer sien, klim sommer tien mense onaangekondig ook die kar  in – elk met ‘n eie roete, missie en plan van stop-hier en stop-daar. Vinke is hulle. Babbelende Babel.

Bo by Seuntjie aangekom, is sy werkswinkel skoongemaak, uitgevee, reggepak en in die middel van die vloer staan die moerse rak wat ons gister by die padstal met trekker en sleepwa laat haal het – mooi netjies volgens plan skuins deurgesny staan die rak daar in twee – een helfte reeds met nuwe staalwerk gerugsteun en mooi groen geverf.  Klaar.  Breë rakke ondertoe wat dan al smaller opsnoer na bo sodat die bottelgoed stewig onder kan staan en die rak nie kantel nie.

Die  lyne loop mooi waterpas, die hoeke staan netjies op negentig, die rante afgeskuur en glad afgerond. Groen geverf. Ek wil hom sommer klapwangsoen, maar gee ‘n ferme handskud op sy skoonwerk. Herre, Seuntjie! Kyk nou net! Huh? Alla bliksem! Wat van ons maak plan dat jy kleinmeubels só maak vir kindergoed, pophuisdinge, skoolspeel, vir die raasgoed  wat hier by die padstal kom aansit? Tafeltjies en stoele? Jy kan die stelle mos verkoop en Bjella kry haar deel, en die mense kan die goete gou-gou laai want ons maak hulle so dat hulle mooi inmekaar inpas solat die mense daatlik kan koop en oplaai – want dis lig en prakties! En kos nie ‘n plaas se geld nie! Hoe dink jy?

Ons praat dieselle taal. Ligte dans in Seuntjie se oge. Hy lag ‘n laggie wat Krismis laat naderklink.

Ek stap terug huistoe – skoon vergeet om te vra wat hy van die dorp af wil hê – en my hele hart sing vol blink dinge en somertes en son. Marakkas kan sien iets anders tel my op. Jaag my aan. Sy maak lagtandjies en snorksnuiwe en swaaistert al agter my aan. Sy ken my mos. Hoe kan ek soveel plesier uit so iets kry? Ek is nou tien jaar jonger en wil dorp toe. Ek wil my kwasse kom optel en ook mooi maak. Seuntjie vlam my aan, vorentoe.

Seuntjie is 27. 'n Man van vele talente is hy.

 

Dag 19 – Van Pryslied tot Smarte in Een Nag – Sater 23

 

Verwege my dat ek nou weer so blomryk raak, maar ek is skatryk en kan myself nie inhou nie:

Ek kan doen wat ek wil: Vyf volle sintuie stuur my voltyds deur groen landskappe en loslyf oor briesende seeskappe, rondom ruimtekolke snags en deur droomstrome bedags, jags in geselskappe in en weer laggende by kuierkombuise uit. Dis lekker.

So is die lewe aangenaam.

‘n Sesde sintuig navigeer my spontaan by meeste gevaarplekke verby, help my fyn om afbrekendes te vermy. Ryker kan ek nie. Dit reën op my tong en spat die sinkdak van my oorskulpe skoon. In my binne-oor nes ‘n musikale koortjie babakuikens, veldkruid en jasmyn brand die skoorstene van my asem oop en my hart zoem vol bye en áls drup van ene jinning.

Dis waar. Ek sing prysliedere.

Boonop kan ek gaan waar ek wil, doen wat ek wil, my verfgoed verkoop aan mense van wie ek hou en geliefdes knyp tyd af om my gedagtes hier te toets. Te proe. Werksplek het ek, en planne. Ek het kos en wyn. Niks meer nodig nie. Net my Marakkas.

Ja, ek deel als.

Maar, asseblief, moet my geen raad kom vra nie, want daarvan het ek niks. Behalwe die letsels van ou wonde wat nuwe kaksoekers af kan skrik, is my showcase leeg. Al stap ek ook nou rond soos ‘n rondepens Zoeloe indoena, so sonder rang of luiperdpels, en bly ek in koningshuise oor en is in pondokke oral welkom, al gooi ek woorde soos ‘n sangoma en brou klein kalbassies troos soos bier, het ek niks. Geen raad nie. Bokkerol. Dit moet jy loop vra by die manne met geld en aansien, grond en gesag.

En wie wil anyway nou raad soek by ‘n man met ‘n brak as trofee, skorrokorro as koets en net verbeelding as paspoort? Hy met sy pounietyl want hy koop mos liewer wyn as om R250 te betaal vir ‘n haarsny. Wie wil so man as raadgewer pla?

Nee. Bly liewer weg.

Maar om u goed af te skrik, laat my wel toe om enkele wysbrokke met u te deel en beskou dit gewoon as praktiese leiding:

  • As ek raad kan gee, bly weg van almal wat graag raad gee en stamp jou kop self. Net nooit meer as twee keer op dieselfde plek nie - dis embarrassing, glo my.
  • Dieregeselskap is beter liefde as lywe wat skelm rondloop.
  • Moenie jou voete met Vaseline smeer en dan met Crocs dorp toe loop nie.
  • Moenie ‘n huis met ‘n swembad koop as nie jy óf die swembad meer pomp nie.
  • Moenie na 55 op troues go-go dans en strooijonkers om tafels jag nie.
  • Moenie brandewyn met Die Dans van die Sewe Sluiers  op lughawens of in vliegkajuite meng nie.
  • Maak nie saak hoe mooi en geil ‘n stad is nie – kry jy daar geen donderstorms of groenmielies nie, bly waar jy is.
  • ‘n Goedgemikte woord en opregte skets van skerp waarheid kan ‘n kind beter regklap as die vuishou van ‘n swak voorbeeld.
  • Moet geen rolprentspan ooit in jou huis toelaat nie.
  • Vars tjilliesap is nie goeie liefdeslubrisering nie.
  • As jy ‘n onderskeiding wil kry, haal die professor verbatim uit jou eie klasnotas aan en verwys ook na boeke wat hy/sy reeds as wysheid geproklameer het.
  • Lewe kontant en praat kontant maar sorg dat jy pad kan kies en draf.
  • Die mooiste drome word ryp en vol na vyftig.
  • Leer van veldkruie en weet eers als wat in medisyne is.
  •  ‘n Pynlike verskil geld tussen ‘n dokter en ‘n geneesheer.
  • Moenie wyn en dagga werk toe neem (en dit met niemand deel nie).
  • Om met woorde, winde en wolke te boer, bring min geld, maar goeie geselskap. Mens is dikwels heerlik alleen.
  • Owerspel is towerspel van sekshekse wat jou later trane sal laat skyt.
  • Die lotto word gekook en voorblaaie is gephotshop.
  • As jy nie doen wat jy weet nét  jy kan doen nie, sal wat jy nié doen nie,  jou nie net vernietig nie, maar jou geliefdes teleurstel tot als wat grens aan verdiet.
  • Lag en vars kos is die beste skoonheidsmiddels en hartseer is ‘n deur na suiwerder denke.
  • ‘n Ou mens is ‘n lewende biblioteek met dieper gange as die internet.
  • Dankie is ‘n towerwoord.
  • Roomys is ‘n salf.
  • Entoesiasme is ‘n mooi word vir stom-fokken—onnoselheid.
  • Vars lemoensap en een knippie sout hou slaaigoed vars tot oormore.
  • Onthou nou mooi – die dag as jou hart skrapnelbreek, faktap-stukkend, sal alledaagse ou popliedjies se woorde skielik eerstemaal heeltemaal sin maak en soos hoë poësie tot jou spreek: The First Time Ever I Saw Your Face. Nothing Compares, Nothing Compares – To You, If You Love Someone, Set Them Free. Luister mooi en huil. Proe die sout in die suikerwoorde. Suiwer medisyne.
  • Wat ‘n dominee, muslim prediker of Evita jou ook al toevoeg, moenie als glo wat ‘n man in ‘n rok jou vertel nie.
  • Vergeet ook die woorde van priesters en pastore – springmielies word so gebore.

 Nou moet ek gaan slaai maak want Bjella en Karlyn is honger. Die gebakte hoender en gekrummelde aartappelskywe staan klaar gebrons en gereed.

 

*****

 

Laasnag word ek wakker van ‘n eensame geween, ‘n meedoënlose getjank ten hemele. Hou nie op nie. Moet ‘n plaaswolf wees, want Marakkas het ek nog nooit so hoor smeek nie. O nee moer daar kom toe nog ‘n deskant ook by, ‘n duet van verdriet en vreeslike verlorenheid. Geen mens kan slaap nie.

 Ek vroetel om my rond, maar my madam se warm lyfie is nêrens.

Staan ek traag op en strompel die nasionale gang af om te gaan kyk, en dáár, ánderkant die twee hoë staalhekke wat Bjella se kwartiere van die res van beskawing en onbeskaafde skei, sit Marakkas en Wiekels. Keelvol aan’t wene.

 En geen sleutel het ek om die drama tot ‘n laaste traan aan te help nie. Hekke op slot. Fort Knox.

 So klim ek deur badkamervenster om nie die staalramme voor voordeure met lawaai te moet lig nie – want Karlyn en Bjella rus, maar slaapverdoos wat ek is, dink ek nie daaraan dat as die brákkekoor hulle nie wakker nie, níks sal nie – en ek sluip besonder slangvriendelik die donker stoepgang af en werk deur my moerse bos sleutels deur om die glasvoordeur oop te kry. Niks pas nie. Ek kry darem ‘n venster oop, in na die TV-kamer waar die twee hul lot betreur, maar ‘n klavier staan reg in die pad en die diere kan nie oor die rug van ‘n rusbank tot by my spring nie.

 Bjella en Karlyn slaap die slaap van verdoofde prinsesse. Reageer op geen noodkreet of sms nie. Die diere sal maar tot ná sonop hul smarte moet bekla. Ek is fokken wakker.

  

Begrafnis

 

 En dit was nag van smarte en nou die volgende weemoedige oggend: Die internet is af. Nog steeds. Van gister af al. Telkomlyn is ook al twee wekelank moertoe maar ‘n mens bly betaal of dit werk of nié en daaroor kan ‘n mens hier ook niks verder vertel nie of jy betrek al die karakters in die hele telefoonboek – en nie een kan foon antwoord of help nie. Boonop sluip Thulaang hangskouer die oggend binne en deel ons sag mee: Liria se moeder het in Zimbabwe skielik tot sterwe gekom, uit die bloute uit beswyk, en Liria sit op die dorp sonder een sent airtime en sy weet van haar smarte nog niks.

 Bjella se hande waaier woes hoog in die lug in, sy skud haar kop, sy wikkel tussen lyne wat nie werk nie, internetkonneksies wat uitgetrek en weer ingeprop moet word, goete wat geboet en weer getoets moet word, selfone wat nooit ophou lui nie en rokende sigarette wat haar in ‘n waas van brandende stres omraam. Sy juggle als om haar, sy juggle en skud haar hanne.

 Nou moet jy weet, dit beteken ons sit Krismis met die hele kasarm sonder sorg. Sonder Liria. Sonder  strykgoed en als. En dis die padstal se hoogdraftyd. Gaste is op pad, Volgende naweek kom Bjella se seun Chris. Die Jordaans kom straks spogkos soek. Kersgaste kom hul intrek neem. En hoe nou sonder Liria? Huh?

 Bjella gooi haar hande in die lug en juggle ‘n koppie tee by. Sy skud haar kop en so nou en dan vries als in die lug en sy kyk my oor haar bril met groot oë aan: Só kan dit nie aangaan nie. Só gaan dit altyd.

 Boonop kan niemand Liria se plek vat as dit by pantoffelmakery kom nie. Niemand het die kragte en fynkyk om te kan stik soos sy nie. En soos die duiwel en Malema dit sal wil hê, sal al wat Baie Belangrike Persoon is voor Krismis al in winterslippers wil belê.

 Bjella rol haar oë so wyd soos die omvang van die probleem. Ek kan net kyk.

 Ek hoop en bid dat die Zimbabweërs nie soos ‘ons eie’ mense dieselfde maandlange drama van ‘n begrafnis maak  nie. ‘n Doodberig onder ons landsbestuurders is mos ‘n sertifikaat tot wekelange betaalde verlof en ekstra baaskostes met vervoer en lewende hoenders en ander oer-trousseau wat sakkevol moet saam. Liria, moet ek sê,  is duidelik werksgetrou en voer haar pligte deeglik uit, al is dit op ‘n roete en roetine waarvan die wysheid gewone mense soos ek geheel en al ontsnap. Met pasteimakery bly sy konsekwent in ‘n vaste ritme die produksielyn stoot tot goeie resultate – die ander sal kwetter en gesels en tyd vertraag. Nie sy nie. Sy gooi skouer aan die wiel.

 Die begrafnis is môre al en Liria sit iewers in Cradock en bebroei haar kopdoek, omwetende van haar smartereis wat voorlê.

 Bjella is op die foon na die internetmense. Bjella weet hoe om te praat en nie op te hou praat nie totdat hulle die fokken goed regmaak.

 

*****

 

Dag 20 – Ras, Klas & Springmielies – Sondag 24

 

“Dis vandat die koelies orals oorvat,” sê Seuntjie.

Ons ry annerdag so geselsende op pad na Cradock vir die week se koop en sakedinge. Seuntjie sit voor langs my, agter sit Nietjie, sy vrou, en Kriekie wat ook by die padstal werk. Hulle praat Afrikaans as dit sommerso laggesels is, Xhosa as inligting geblok moet word, Engels net as dit moet en vlot stilte as enige gevaar of ongemak dreig.

“Die koelies is nou om elke hoek en draai,” vertel hy verontrus. Hy skud sy kop.

“Ai tog, a nee a, Seuntjie!” roep ek so vroom soos ‘n Sondagskooldiaken: “Hoe dan nou? Ons praat mos nie só nie?”

“Huh?”

“Nee, jong. Mens praat tog van Indiërs!”

“Huh? Wat is ‘n hiendieje?”

Nietjie en Kriekie giggel.

“Indiërs!” skud ek my kop, soos Blommie met Liewe Heksie sou doen. Ai toggie.

“Dis die koelies, Seuntjie,”  bring Kriekie haar lig. “Hulle is hiendiejers.”

“Jissis,” sis Seuntjie. “Hulle is fakken oral. Oral. Op elke hoek maak hulle oop.”

Ons ry in die township deur ‘n eindelose doolhof van stofstrate – als tot stand, ónstand, en opstand lank na die begrafnis van apartheid en die triomfantelike heerskappy van die nuwe uitverkorenes: die groen hart met die goue glimlag en die swart vuis, die ANC. Die hobbels op die pad is besonder hoog.

“Die hobbels op die pad is fakken hoog,” kla Seuntjie. Ons ry na ‘n laerskool, een van vele daar, sodat Nietjie daar vorms kan loop invul. Skooldinge. Dit was nie op die veelbespreekte agenda vir die lang dorps-oggend nie.

“Draai hier op, daar regs, daar by die koelies weer op, nee die ander koelies , die ander op...ja....”

Hoe gaan ek my pad ooit weer hier uit kry? Maar, dit maak my hart bly om te sien die township-brakke lyk heel goed versorg, pelse blink in die sonlig, sterte swaaiende. Dis ‘n troos vir my ou hart wat steeds al die gefokte ou skulde dra. Diere lyk skaflik. Nie die gewone strompelende karkasse met die dooie oë wat rondsleep vir die oorlewing van  impi’s bosluise nie.

Maar die tuine, O Heer, die jaartse, is klaagtensnaak, bar en vergane. Hier en daar lê’n speelding met net een wiel, iewers, by elke derde plek, hyg ‘n stink-afrikaner in die warm sand, dan en wan blom ‘n kanna, soms ‘n dahlia, hier en daar  staan‘n moeë mielie wat kop omhoog bo die stof probeer hou.

“Plant niemand ietsie groens nie, julle?” vra ek terloops. “Wat van ‘n boom teen die hitte?”

Stilte.

Oral wapper darem ‘n wasgoedlyn vir ‘n bietjie kleur, drade swanger met kinderkleertjies, en dit gee bietjie lewe aan die toneel. Verder fladder plastiek en papier teen die skewe drade vas. Vuilgoed en skottelgoedwater word by deure op die grond uitgesmyt.

En ek wonder: is dit maar net die gewone ou nadraai van die ou verhaal van die skoenmaker wie se kinders nie skoene het nie? Die briljante onderwyseres wie se eie kinders tuis afgeskeep word? Die dominee se spruite wat so gruwelstout is? Is dit die plaasarbeiders wat hier woon, dorp se huishoudsters en tuinmakers, die verpleegsters en onderwysers, is dit die mense wat oral vir ánder moet sorg wat hul eie hawe so moedeloos verwaarloos?

Of hoe?

Is dit dat hulle net moeg is saans, en kapoet naweke, en nie meer kans sien nie, nie na ‘n vol week van die beskawing se mure staande hou, dat hulle so voor eie voordeure mors en skyt?

Die rassekwessie sis oral, soos slange, oral, agter elke ding wat omval. Agter ou karsitplekke in die jaartse, in elke geroeste geut en gebreekte speelding, elke verslonste mens wat op ‘n stukknde stoel in die sonlig luier, luier iets dreigend. Is dit als die gevolg van apartheid, of was apartheid die gevolg hiervan? Wie sal ooit weet.

Maar, wag, hoor nou hier! Dit moet jy hoor:

Op ‘n ander dag, in Super Spar, gooi ‘n dronk Xhosa ‘n vloekende vloermoer. Lelik.

“Dis my grond hierdie!” raas hy dat die spoeg spat. Hy staan en slinger, sy vuil hand krul ‘n lang nael waarskuwend omhoog. Hy wankel, spoeg trek drade tussen sy lang geel tande. “Dis my plek! Julle moet fokkof! Almal! Voertsek! Gaan kak!”

Hy’t probeer melk steel en die witman is bleek van selfbeheersing. Die dronkie stink ‘n myl ver en almal kyk weg. Dis in die tównship deel van Cradock hierdie, nie op die dorp nie. Dis by Tam’s. Die wit werker probeer die man weglei sonder verdere insident, probeer om die melk af te neem, maar dis net vlam op die asem van die veronregte : “Dis my grond hierdie!”

Maar nee, dit is nie. Agter ‘n ontvangstoonbank staan die elegante Sjinese vrou van annerdag. Sy hou alles dop. ‘n Mooi vrou. Sy verroer geen ooglid nie en kyk hoe die witman die vloekende siel probeer weghelp. Sy maak geen geluid nie. Lyk ook nie ontsteld nie. Sy staan roerloos en fyn soos ‘n beeldjie, skynbaar gewoond aan als, en wag tot die onrus bedaar. Dan glimlag sy.

Ek staan by die sigarettoonbank en wag dat die padstal se gassilinders omgeruil word. Nou hoor ek hoe die Sjinese dame in vloervaste koeksister-Afrikaans met werkers voortgesels: “Julle moet daardie rak loop regmaak. Ons moet wikkel. Kersfees is op ons en ons gaan nie weer tyd kry nie. Skuif daardie bokse syntoe, nee, verder. Dankie. Sorg asseblieftog dat die bestellings vir batterye in is. Tjek dubbel. Maak dubbel seker. Almal koop al speelgoed. En vee op die meel in gang twee, netnou breek iemand sy nek en sit ek met die gebakte pere.”

Dis Me Tam. Sy orkestreer, sy dirigeer en delegeer, inspireer en korreleer en haar stem breek nooit die klankgrens van wat oudae as algemeen beskaafd gereken sou word nie. Sy is stylvol in beheer, maar haar slanke lyfie staan vierkantig waterpas en hou die leisels rondom alkant vas. My bek hang oop. Die silinders vat ‘n jaar om te kom en dit pas my perfek, ou eavesdropper wat ek is.

Sy vang my oog, en soos met almal wat só doen, knik sy en glimlag beleefd. Gaan aan met haar werk.

Later sal ek hoor: sy’t in daardie township grootgeword. In die ou dae van apartheid toe Sjinese as onedele eenkantgoed gerekent was. Toe hulle gesin van klein Sjinesies in die ou huis op die hoek gewoon het – regoorkant waar Tam’s die winkelkompleks nou triomfantelik die hartslag van aankoop en bouwerkdinge is. Daar is ‘n groot hardewarewinkel wat die hele streek bedien. Wholesale grootwinkel, drankwinkel en als wat ‘n township op die voete hou. Hier het die Tam-familie grootgeword tussen al wat bruin en later al swarter was, met straat-fanagalo – Afrikaans.

Vandag behoort die helfte van Cradock aan hulle. Dis húlle sweetverdiende grond waarop die ou Xhosa sy geboortereg netnou wou kleimsteek. Dis op Sjinese terrein waar sy wynwoorde val en suur verdamp. Dis grond waarvoor daar gewerk is, besit waarvoor gewoeker is, waarvoor groot opofferinge en planne gemaak is.  En die tille klingel, maar me Tam sit nie tuis en kyk TV nie. Sy suip nie omdat sy veronreg was nie.

Al die huise die straat op, so word ek vertel, van onder van die township af tot bo in die dorp, is deur die Tams opgekoop en herstel tot sindelik. Opgekoop en opgebou. Die voorreg van werk en geen maar geen bevoorregting nie.

Dis ‘n ril van ekstase wat ek beleef as ek na die fyn vrou kyk. Haar onopgesmukte triomf. Hoe sy dit dra soos ‘n liggroen mantel, ja, een met ‘n draak daarop geborduur. Die draak wat alles van die grond se geheime weet, en alles ook van ver van bó af in perspektief kan sien.

Een wijde blik verruimt het denken.

En ek ril omdat dit in myself ook weer ‘n venster kan oopmaak. Sodat ek kan onthou. Sodat ek weer kan weet dat ék ook grootgeword het, ondanks menige voorregte , as ‘n vreemdigheid.  Ek weet hoe dit voel, aan jou vél, om eenkant gereken te word, geklassifiseerd as ongewens en anders, minderwaardig. Ek weet hoe dit is om voor ‘n hele klas verkleineer te word omdat jy woorde gebruik wat hulle nie ken nie.Hoe dit is om as natuurfrats te oorleef tussen jou eie mense. Om selfs deur jou kerk as ‘n mismaaksel uitgewys te word. Dit was dikwels ondraaglik. Hoe het die Tams dit te bowe gekom?  Alleen tussen alles en almal, aller-eksoties en kwesbaar?

Ek lag van lekkerkry en besef uiteindelik waarom ek buite die sfeer van my eie mense moes leer dink en leef – buite al die stories en lesse, al die alledaagse verwysingtjies in alle advertensies, ten koste van al die Jannie-en-ander mofgrappies. Buite die wenspanne, buite die groepies en bendes, buite die speletjies en kameraderie, buite die geskiedenisse, planne en polisse, buite die wette en reg tot liefde. Ten beste was ek vol grappies en tog te ‘kostelik’, soos ‘n skoongeskropte sirkuskaffertjie.

Ek het oorleef.

Weet maar – as jy as ánders behandel word, gaan jy staks ook anders begin optree. As jy soos ‘n virus hanteer word, sal jy soos een begin speel. Of jy sal gewoon leer dink hoe om deur die dag te kom, ongesiens, ongewond. Jy leer om jou wonde weg te steek, ook vir jou eie gesin – omdat skande op die huis die grooste risiko van alles is. Was.

Ek kyk na Me Tam soos ander sal kyk na Nelson Mandela of Charlize Theron. Ek wil haar en haar gesin van oorlewendes, hulle wat ondanks alle strawwe en inperkinge, bly werk en skep het en nie soos ander veronregtes loop en afsmeek en mors met aalmoese nie. Ek wil vir hulle lotusblomme bring. Ek wil hul voete met my hare was en kommernisse lawe.

Wat sou ek nie wou gee om met daardie vrou te kan gesels nie? Sonder doekies omdraai. Wat dink sy van haar township wat 20 jaar na apartheid en met  ANC-vlag vandag só lyk? Hoekom het hulle nie hulle winste opgeskep en na die nuwe China gesmokkel nie? Soos die Grieke en Portugese en ander terug tuisland toe gedoen het nie? Stem sy ANC? Hoe lyk haar tuin? Praat almal tuis steeds Sjinees, of net as ander hus-ore geblok moet word?

Ek stap met die gevulde gassilinders terug kar toe, ook met nuwe kragte herlaai. Iewers skel daar ‘n man, vloek al te vieslik. En ek lag.

 

*****

 

Die annerdag wou ek mos met Seuntjie, Nietjie en Kriekie gou ‘n koffie by die Wimpy drink ná die onbeplande besoek aan die skool. Ietsie drink sodat ons mooi kan peil wát nog als die dag gedoen moes word en hoeveel neweroetes en verrassings van ongekende besoeke daar vir my voorlê. Ek stel toe voor hulle kan dalk elk ‘n melkskommel bestel, aangesien die somer al so lekker begin dorsmaak. Dan kan ons mos ons geselse tot ‘n plan bepraat.

Geen reaksie nie. Net ‘n gegiggel. Later eers sou ek weet waarom.

 

*****

Ek is die enigtse ding met ‘n dop wat kan spring. Ek spring met my dop en ontpop.

Sou jy my nou wou klassifiseer, ‘n etiket wou gee en in ‘n pakkie prop, dan is ek ‘n springmielie. Oral waar dinge tot die deksel toe pop en volprop skiet van die lekkerte, daar sal jy my kry. Waar gelag en stories vertel word – in die baaiskoup, die draaiwien, voor die tiewie met die aand se skouprent en by poppespel. Jy kan my sout of my suiker, mikro of olie, nes jy wil. Botter bly die beste. By die entertainment sal jy my kry. Jy kan my geur soos jy goeddink met kruie en speserye. En springmielies maak lawaai. Maar, ek hou self niks van ander springmielies as hulle te veel te kere gaan nie. Niks. Niemand hoef te weet jy’s ‘n fokken springmielie nie, almal kan dit van ver af al ruik. In ‘n moewie ook, as iemand langs my sit en popcorn vry en vreet dat hulle koppe kraak, kry ék skedelbreuk en skuif weg. Eenkant. Weg van almal af.

Alle ander droë mielies, bone, en erte, neute en dinge met ‘n dop, kan jy vuurwarm olie in ‘n pot, maar nie een sal skielik so rats opskiet en ontplof tot klein wolkies nie. Die ander goed brand net, kraak en verskrommel.

Springmielies is ánderste mielies.

Wees gewaarsku – nie almal hou van ‘n ding wat spring nie. Dis fokken aandagsoekery, sê die ander droë erte en bone. Dis onnatuurlik.

Julle moes gesien het, die heel eerste keer, toe Noag se ark daai vreemde draai op daai vreemde plek gooi en daar ‘n paar dinge oplaai – hoe daai klomp halfversuiptes om die vuutjie op die ark opspring toe die mielies skielik teen die deksel begin kletter. Spookgoed, het hulle geskree. Satansdinge uit die bose. Die tekens van voorvaders wat klein plofwolkies maak van droogpitte.

Eers het dit ‘n geheime skat geword, ‘n doodgeswygde mieliekultus waaraan net springmieliepriesters en ander mans met rokke kon behoort, soos Sem, Gam en Jafet. Later het die kulte vinnig versprei die wêreld oor, elke coven volgens sy eie vrese, wette, grondbesit en skelmstreke. Soos 'n geloof.

Vandag kry jy dit oral.

Tjiep entertainment sal ek nie meer wees nie. ‘n Poppespel van popcorn, nee. Ek maak nie donswolkies nie. Ek toor wolke op, en ek ruik eerste reën.  

 

Dag 21 – Bloed in die Water – Maandag 25

 

Omdat Boney M snags hier kom Krismislammers vang, omdat die Jore hulle vensters vol Kersvreugdes versier, omdat die Sjinese op die dorp die Blye Tyding met specials vier, omdat die ateïste reeds sushi-planne vir Kersdag beraam en ons op die plaas gaan rondhol om honger en dors reisigers te verfris en te lawe, daarom wil ek nie die kluis oopsluit wat geheime van die Daggaboer-verhaal bewaar nie.

Kerstyd is nie ‘n goeie tyd om ‘n ernstige nuwe onderneming of ‘n dieet te begin nie. Ek moet besin. Die tyd moet reg afgewag word.

Dis vandag Dag 21 op die plaas, en ‘n goeie een om dinge bietjie in perspektief te bring: my relaas hier in hierdie dagboek, is nie ‘n vertoon van liewe Jannie se lewe nie. Nee. Eerder om myself in te rig om ‘n storie diep te gaan haal en dit met respek te borduur, met doringdraad en al. En om dit te kan doen, moes ek darem bietjie wys dat die verteller ook weet van hoe dit voel om geklap te word, kishoue, hier op onse aarde. My eie bestaan is nie een van sonskyn, plesierbote en waatlemoenskywe nie, al dink my vyande so.

Dit het langer as sewe jaar geneem om myself te gaan haal, daar waar ek langs die swembad in die Paarl sit, met my voete in die water sodat die bloed in rooi wolke om my bene kolk en my toonnaels langs my op die leiklip soos getrekte tande lê.

Marakkas was ‘n baba en het gekom om my van myself te red. Daar, langs die swembad. Bo-oor my kop het lang wilgerslierte heen en weer geswiep, en Meneer vink was besig om sy nes vir die sesde keer te herbou vir sy onmoontlike Mevrou. Kwetterende.

Daardie dag, toe my lewe draai, daardie oomblik, sal ek nooit vergeet nie.

Om hier bloot liries te wees, soos annerdag met my uitpak van skatte, hier in Daggaboer Dagboek, en te vertel van my rykdom aan niks en vryheid in als, is g‘n selfingenome kunsuitstalling nie. Geen vertoon van ‘talent’ nie – dis ‘n storie wat sy grond soek en fondamente wil lê en herlê tot dit reg is. Soos ‘n skildery, moet ‘n vertelwerk ‘n sinvolle inhoud of darem ‘n aangename tekstuurspel wees. In hierdie dagboek wag straks ‘n lang verhaal. Lyke moet opgegrawe word, geheime ontbloot, beendere skoongeblaas, orgasmes moet gehoor en feite versamel word –  sodat  die spoke in alle glorie voor ons kan staan, met hul lewens wyd in hul oë.

Ek hoop op ‘n gesonde mate van geloofwaardigheid, en moet daarom wys dat ek van seer soveel as van lekkerte weet. So eenvoudig soos dit. Dit wat ons almal kan sê, maar nie maklik wil nie. Daarom, o geduldige leser, gaan haal ek nog ‘n ding of twee om myself oor die kole te sleep, dinge diep agter in my wegkruipkas:

Na ‘n televisiereeks, ‘n bliksem van ‘n blikskottel, sit ek met my voete bloeiende in die swembadwater. Ek was reeds so verdoof deur pyn ek kon geen pyn nie meer voel nie. Dis nie iets wat mense van wil hoor nie. Dis nie iets waaroor 'n mens praat nie. Marakkas is toe enkele weke oud en staan daar, gereed om my te red. Haar koppie kantel soos sy na my kyk. Die mooiste gesiggie. Sy snuiwe aan die bloedwater en die sterretjies in haar oë is helder vraagtekens. Sy verstaan. Sy verstaan nie. Sy verstaan:

‘n Vriend het my lewensvriend na 28 jaar geannekseer, met jeug en vonkelende hemel-oë. My uitkyk was so lank al donker en bedonnerd, na tien jaar van laatnagte in Rockspiders, en na ‘n wandeling deur Die Bos met ‘n sak vol geld en geleenthede, ek was geen plesier in enigiemand se lewe nie.

Ek neem my vriend nooit kwalik dat hy my en my ewige krisisse nie meer wou aanhoor nie. Tien jaar van alleen-eienaar van ‘n restaurant wees, is g’n grappie nie, veral nie as mense juis kom om grappies te geniet nie. Elke dekselse nag. En jy staan heel laaste in die ry met betaling, en heel eerste verder met als. En almal roof jou. As jy nie self elke druppel, krummel en sent elke dag tel nie, dra die liewe mense met die glimlaggies als weg. Hoe vriendeliker, hoe gevaarliker.

En kon sien dat my ou geliefde weer nuwe lewe ontdek. Nuwe energie en belangstellings. Opwinding en avonture. Daar is weer gelag. Nuwe meubels en huise is gekoop. Nuwe beddegoed en vriendekring. Die nuwe liefde het wat oud was weer mooi gemaak.

Ek is daar weg, uit die Kaap uit weg, weg van alle ou musieke wat jou hele lewe vang en vashou, ek wou ook nuwe liede hoor. Nuwe wysies en vars woorde. Ek het gat-oor-kop ‘n droomprojek aangepak na ‘n paar weke van saamspeel op Casper de Vries se Casper Rasper. Casper was ‘n tonic. Ek ‘n wandelende gees. En dit was daar, met Casper en sy span sprankelende toneelspelers, dat ek my ou selwers weer kon optel – die Jan wat ek op ‘n hoërskoolverhoog vergeet het toe my liefde so groot was soos my oë. En my oë vol onkunde.

Ek dink ek het in drie weke of wat met Casper Rasper 4, omtrent 21 karakters gespeel. Van ou tannies en ou omies tot Nataniël as kind. Van Evita Peron tot Mielie die katoolse sekuriteitsman, van ‘n stoei-afrigter tot Banana Mouskouri. Daisy de Melcker. Baie van hierdie sketse kan ‘n mens vandag-nog op YouTube kyk, tien jaar later.

Casper  was ‘n openbaring en bevryding, na tien jaar van elke dag in ‘n restaurantstoompot sit en sis. Instant happy childhood was Casper Rasper. En ek wou die vryheid nooit weer prysgee nie.

Te gou het ek ‘n voorstel aan ‘n TV-kanaal gemaak en ‘n span jong talente om my versamel. ‘n TV-koek moes ek bak, by wyse van komedie, lekker entertainment, maar toe maak Jan ‘n formidabele fokken fout: Heel filosofies kondig hy aan dat almal op die stel heel demokraties tot als bydra. En almal is gelyk. Die geheel is meer as die dele en alle dele bou hartlik saam en algar het ewe veel seggenskap op als. Siek entoesias. Simpel idioot. En daar bak ons, in plaas van ‘n drielaagkoek, ‘n lang slap pannekoekdeeg met 36 eier-ego’s, een koppie meel van kennis van goed en van kwaad en amper een miljoen liters vuurwarm olie – geld. Ek kon niemand keer nie want ek het almal inspraak gegee, en die groep jongens het saam teen my opgetrek as dit hul pas.

My nuwe maats en ek wou net grappige stories vertel en die sketse wat ons versamel het was goed. Die span se talent, intellek en werkskrag was perkeloos. Maar ‘n tannie by die TV-kanaal het nie vooraf die tekste gelees soos sy moes nie, en bykans elke keer as ek opgeneemde materiaal kom wys, enkele ure voor vasgestelde uitsending, was daar eers ‘n hartlike gelag en lieflike komplimente, en ‘n uur daarna dringende oproepe: krisis op krisis dat ons die toneel moes oorskiet, dinge moes uithaal of fokken-wat-ook-al. Ons was dan reeds besig met nuwe opnames. Met die detail wil ek u nie verveel en myself weer op loop jaag nie, maar ek skat dat u self reeds weet dat alles flink verander sodra mense die geklingel van munte hoor.

Die intriges en fynskrif van geldwoekery, die ongesegde reëls en politiek, die gebrek aan protokol en integriteit, daarvan het ons jongklomp net mooi niks geweet nie. Ons wou net konserthou. Dit was toevallig ook dan so dat almal op die produksie, al die spelers, almal laatlamme was. Die jongste van gesinne. Almal bederf, naïef en eindeloos entoesiasties. Dis hier waar ek geleer het dat entoesiasme ‘n mooi woord vir onnosel is. Was dit nie vir ons regisseur, ‘n man met vaste werksetiek, onmenslike selfissipline, sekure integriteit, vasbyt en planmaak nie, het ons almal weggespoel. Moertoe.

Die TV-kanaal het onttrek met byna alle steun toe ons nie volgens hul plan wou werk nie: ons moes die reeks onder hul toesig vervaardig, met die jongste en mees onervare regisseur en die jongste redigeerder wat slegs snags tussen twaalf en en ses beskikbaar was. Asseblief. Toe ons elders beter fasiliteite en ervaring kon bekom, teen ‘n beter prys en uurskedule, het die netwerk ons summier aan onsself oorgelaat.

Dit was pynlik in die hoogste graad om te sien hoe geldsoekers van gesindheid verander die oomblik as hulle dink hulle het jou in die sak. Hoe die warm drukkies en dierbare glimlagte verander na ysige opeis van terrein, minagtende bevel en kordate aggressie. Geld. Koue goed vir die vermaak van koue mense. En as jy die woekeraars durf stuit, hoe jou naam oral beswadder word. in ‘n baie klein en baie onvergeeflke bedryf.

Vandag kan ek net lag.

Maar, liewe leser, wees gewaarsku, moet seblief nie verbaas wees, indien u al fluitende deur Die Bos sou wandel, met ‘n sak vol silwer munte, en ‘n gans wat goue eiers lê hoog op u trotse hoof, dat u gou-gou sal geselskap kry nie. O ja. Maar, asseblief, wees bedag op die laggendes, die sprankelende giggelgatte en grapmakers wat aan u enkels lek en u met sjarme begoël – die hiënas. Die slange. Hulle wat met deernis en diep dog honger planne hipnotiseer: Oor mense wat van die stel weggeja moes word, oor genadelose winsbejag en gebrek aan werkstetiek, daarvan is ek steeds te moeg dit weer te gaan haal.

Wat ek wel moet uitspel is dit: tentyde van my horror & sorrow show, het my familie ook ‘n eerste keer in my lewe ‘n grootskaalse krisis beleef, serious sjit, ‘n tragedie wat mense later  in rystoele sou agterlaat, ander op die wieke van waansin, sommige onder terapie en ander op pynmedikasie, ‘n paar doosdronk op straat, meeste vir lank vervreemd en stug met mekaar.

In my mid-veertigs het ek eers my inisiasie tot ware wasdom beleef. Só, als gelyk op een slag. Dit was amper te laat.

Toe ek so op die swembadrant sit, sonder enige van die hoekstene wat my lewe tot dan gedra het – sonder my lewensgeliefde, sonder my familie, sonder insig of begrip wat aanvaarding kon word, sonder myself, het ek asof in ‘n tydlose trans begin om my toonnaels uit te ruk dat die bloed in boë spuit. Eers met ‘n tang. Toe met my hande.

Om die horror en selfveragting van mislukking uit my liggaam vry te laat.

En kon dit nie verdra dat mense my boonop agteraf daarvan moes beskuldig dat ek myself verryk het nie. Liewe God. Die gevreet aan my moes uit. Die voortdurende hofsake in my hart. Die moedelose onvermoë tot selfverdediging. Die bloed moes spat.

Gelukkig, Dank Vader, het ek met die TV-produksie heel demokraties almal by die opstel van kontrakte ook betrek. Almal moes deelneem aan elke woord wat onderteken is. Die papiere wag steeds op ‘n dag wat ek kakpraters kan laat betaal. Ek hoop die dag kom nooit.

 And so, I was at sea. The deep end where the sharks are. Bloed in die water. Of was dit laas ‘n bos vol wilde diere? Nee, dit was eerder ‘n see vol haaie. Ek het geswem, anderkant uit volgens elke stip van die kontrak, en myself geheel en al van alles en almal onttrek die naaste oomblik wat ek kon. Nie uit arrogansie of selfbefoktheid nie. Nee. Had to go the very second I was no longer needed. Goodbye. Dankie vir die lessies geleer en vingers beseer.

Die reeks is twee of drie keer uitgesaai, maar ek kon glad nie daarna kyk nie. Nooit. Ek twyfel of enigiemand anders het, ek weet nie.

Kaalvoet sal ek nie weer maklik voor mense kan loop nie. My voete het ek verwoes. Snaakse groeisels lyk soos krom skulpies op my tone vasgeplak. Hoppels. Hou nie lank nie. Boonop is my kanse om in ‘n Afrikaanse musiekvideo te speel, ook geheel en al van die baan – in alle Afrikaanse musiek is almal altyd kaalvoet in die fokken reën.

Paarl toe het ek gevlug, weg, en myself in myself opgesluit. Geskilder vir kos. Vriende daar het my gehelp. ‘n Galery het my met soveel liefde ondersteun, maar ek was die aandag nie werd nie. Die selfveragting het my opgevreet. Mislukking was op my asem. Was daar geen kos, het Hansie en Thea iets gepos. Ian het wyn gebring. Anna-Marie het werkies gegee. Janneman bring altyd vars geselskap. Krisjan het gereeld opgedaag met sakke vol lag en snoepgoed. Liana koop skilderye. Pearl en Helen het altyd ietsie gestuur. Oom Louis en Tant Isabel kom los mandjies vol plaasgoed. Nic en Bertus hou een aand ‘n klein papierkardoes voor my uit; oor die rant loer ‘n baba Jack Russell. Marakkasie.

Almal wou sien dat die krom vraagteken in my rug weer regkom. Chroniese akkute jig, dis reg, chronies akuut, die teenstrydigheid bestaan, glo my, het my lewe helemal skeefgetrek.

Maar my brakkie Marakkas, sý het my oë kom oopmaak, na buite toe – sodat ek kon sien. Sy het in my in gekyk en my daar kom uithaal. Ek kan die presiese oomblik helder onthou, daar langs die swembad, toe ‘n blaartjie opwaai en wegdartel en klein Rakkies agternaspeel om dit te vang. Vir eerste keer ‘n jarre het ‘n lag van suiwer liefde uit my borskas opgeborrel. Nie die siniese heeslag van ‘n dronkaard en selfhater nie. Daar, met my voete wat rooi van skok in waterwolke skreeu, polsende van elektriese liggaamsweersin. Kloppende. Salig erger as die vretende jig. As die gevoel van ‘n faalgat.

Om in daardie rooi water af te kon sak, en nie weer op te kom nie, sou makliker wees as om weer op te staan, weer my gesig te wys – nie een van die mense wat my lewe tevore regtig laat staan het, was meer naby nie. Vir middeljarige wit Afrikaners was min werk. Byna geen. Skilderye nie hoog op almal se inkopielyste nie. Ensovoort, ensomeer, ensominder. Maar selfmoord, glo my, is een sonde wat nié in ons familie spook nie.

Toe maak ‘n hondjie my weer oop sodat ek kon sien: Ek kon sien. Die vink. Die vink wat die nes sewe keer moes oorbou. Hier reg voor my. Aan die wilgertak. Die mannetjie wat dit dag na dag moes bou, en dan ruk madame dit mos weer uitmekaar. En toe, op daardie dag, was die nessie reg. Uiteindelik gereed. Op daardie tydstip. En toe het sy vroutjie ingetrek en kon die stomme voosgewerkte skepseltjie sy lewe van arbeid en sorg, van oorlewing teen wind, reën en ysweer, sy lewe kon nou oplaas begin. En myne stadigaan weer ook. Ek kon op. Ek kon op en in die huis in met my pyne losgelaat in nat bloedspore.

 

Dag 23 – Houderdom en Hougode – Woensdag 27

 

Storm bars vanmôre los. Liria moet toordokter toe. Port Elizabeth toe. Dis Thulaang wat die oggendvergadering so deurmekaarklap. Skielik. Nou dadelik, moet Liria die profeet gaan sien. Dis ‘n dagreis ver. Bjella weier en swaai haar hande soos daai Indiese godin met die agt arms. Nee, sê Bjella. Jy gaan na ‘n gekwalifiseerde dokter of jy gaan sonder my hulp en steun. Liria staan vas. Maar, sy praat nie. Sy staan net. Thulaang praat heeltyd namens haar. Driftig. Liria staan al meer eenkant, kop-ondertebo, en mompel onderlangs. Tjulaang en Bjella se stemme verwissel skerp van rat soos vir opdraendvat en styg met elke minuut een oktaaf hoër soos hulle dieselfde argument en teenargument herhaal. En weer herhaal. Al hoër skriller die verskille.

Buite bly die vinke stil.

Bjella kan nie verstaan dat Thulaang, wat mens so dikwels herinner hoe opgevoed en geleerd hy is, as onderwyser, as opgeleide boer, as opgevoede mens, hoe hy sy vrou nou wil laat betoordokter nie. En hy kan nie verstaan dat sy nie kan verstaan nie. Sy kan nie insien hoe hy so dikwels vertel dat skoolopleiding in Zimbabwe verre beter is as ons s’n hier, maar nou kom hy met ‘n goëlery uit die steentydperk hier voor haar staan en eise maak. Eise wat Liria en die baba se lewens in gevaar kan stel.

Swangerskap is ‘n jaarlikse oestyd hier. Net in die padstal alleen werk vier swanger vroue – elkeen met hul eie besondere gelowe of gebrek daaraan, en sieninge oor wat vir ‘n verwagtende moeder goed is en wat nie. Een vrou is so groot soos ‘n plaashuis en kan skaars loop, maar het tot onlangs aangedring om te bly werk. Teen wet en reëls, teen raad en wete. Sy sal vandag weer inval as sy kan. Geld soek sy. Kan skaars in ‘n kar inpas. Beweeg soos ‘n begrafnisstoet – almal moet pad voor haar oopmaak. Staan steunende die hele kombuis vol en sweet en sug en skel, en die res van die staf moet die spit afbyt. ‘n Ander rook konstant en glo vas dis goed vir haar baba. Niks gaan haar anders oortuig nie. Sy weet wat sy weet en dis feite en dis einde van die storie. So gaan dit aan.

So kan dit nie aangaan nie.  

En gerugte loop oral dat die regering jou gesin sal straf as jy nie kinders verwek nie. Hulle, die kaalkop staatskoffers, gee ruim grants vir elke nuwe baba, elke nuwe swart stem, elke nuwe babagewiggie in die skat van die paint-by-numbers. The paint it black campaign. Nuwe babas hou so die cartridges vol swart ink vir die stembriewe wat nog moet kom, só sinspeel party as die oorvloed van probleme met swangerskappe ter sprake kom. En dit kóm. Ekstra toelae as jou baba gestremd is. Help die toordokters hiermee? Is dit fokweet ‘n bewustelike komplot? Kan nie wees nie. Kan nie.

Liria is van Zimbabwe. Hoe maak dit impak op Suid-Afrikaanse stemstories? Jy wil nie weet nie. Jy wil nie. Ek krap in my moonbag, my Adco-Dols is op.

Intussen staan Bjella ongevraagd moeder vir al die gevare wat wag. As iewers iets verkeerd loop, wys vingers almal die maklikste na haar. Vinnig ook. En alle aandrag op eie sienswyses is dan vergete.

Bjella swaai arms en Thulaang skud kop. Seuntjie en ek maak groot-oog.

Thulaang hou vol: ‘n profeet van Zimbabwe, vandag met heilige dog kortstondige verskyning aan Port Elizabeth, moet vándág vir Liria sny en ‘plant' vir die geboorte wat voorlê. Vandág. Geen ander dag nie. Wat geplant moet word en waar, interesseer my vreeslik, maar Seuntjie en ek onttrek van die vergadering want dis persoonlike dinge wat daar luid opwel. Ons gesels liewers eenkant oor die padstalteken wat geplant moet word. Want hoe groener die veld word, hoe meer verskuil is die padstal agter boom en struik, en reisigers, jags vir seelug en dors vir koelte, jaag net verby.

Ons tel op ons vingers die sakke sement wat moet kom. Hoor kammastag glad nie wat in die kantoor gebesig word nie. Ons lys wat uit die stoor gehaal moet word – pik en graaf, sonhoed en koevoet, kruiwa en waterkan, als benodig vir ‘n harde dag op daardie harde klipperpad. Maar, my ore staan hus soos ek probeer hoor wat Thulaang verduidelik, na sy aandrang op wat als aan die stomme Liria gedoen moet word.

Maar Bjella gee nie kop nie. Julle ken haar nie. Sy vat nie kak van tokkelossies nie. Sy was immers grootste deel van haar lewe met ‘n mediese dokter getroud, en het elke stap van die opleidingsstryd destyds saam met hom gestap. Geklim. Sy gaat geen bosprofeet aan Liria laat sny nie. Met wat? Waar? Hoekom? Nee, haar hande waaier in sirkels klein orkane los, al moet sy op haar ou spore terugdraai en haar vervreemde man – boonop die enigste dokter op Cradock – gaan opsoek, dan doen sy liewers dit. Teen haarself in. Vir haarself sal sy dit nie doen nie – al is sy hoe siek – die afgeskrewe verlede op ‘n weeksdag te gaan oproep soos ‘n fokken ou spook nie. Nee. Maar Liria is swanger. Liria moet ordentlike sorg kry. En aan haar vorige man se geneeskunde het sy geen geloof verloor nie. Plan sal sy maak.

Maar, Thulaang wil nie kopgee nie. Hy weet wat goed is vir sy vrou. Hy slaan met sy vuis in die palm van sy hand. Sy mond vertrek van pyn met die witvrou se onkunde.

Wat wil die man vir Liria hê? ‘n Sangoma met luiperdstert en rokende kruie? ‘n Jillende rondgetos met aaptone en slangvel, bosvarktande en skulpe, knope en albasters? Snywerk met ‘n jêmblikdeksel, vishoek en gare?

Liria is hoeka nie weg na haar moeder se begrafnis nie. Hoekom nie? Die begrafnis is reeds verby maar die dodefees is oor drie weke, dan, oor Kerstyd, dan sal Liria na haar groen valleie terugkeer. Haar baba daar afwag. Volgens Thulaang kan sy werk tot die dag voor die vertrek, indien nie die dag voor die bevalling nie. “Ons mense werk anders”, vertel hy. ‘n Fees word maak van die dood, en van geboorte ‘n klein toeval. Thulaang sal skynbaar heel in sy noppies aan ‘n pantoffel sit en stiksteek terwyl sy vrou gou aan ‘n doringtak vashou terwyl sy hurk, druk, geboorte gee, en dan opstaan om die kind voor aandete gou te bad. Dis duidelik so. Ja.

Bjella wil stuipe kry.

Liria se swangerskap het my ook gepla. Moontlike komplikasies legio. Gedink dis ‘n waagstuk vir ‘n vrou in haar laat veertigs om ‘n kind te hê. Lankal vermoed Liria is ouer as Thulaang en dat dit opsigself reeds heel ongewoon is. Maar, ek verstaan toe die Afrika-ma-tesis weer helemaal verkeerd. Nou kom dit op die lappe: Liria kan glad nie ouer as 40 wees nie. Onmoontlik. Al lyk sy so. Want haar gestorwe moeder was skaars 40.

Kopspin.

Katliek! gaan staan die telraam tussen my ore en ‘n rat lig my wenkbroue tot bolrug vraagtkekens op:

Hhhuh?

Ouderdom is houdingdom is houderdom. My vriend Nic se altyd: jou ouderdom word nie gelees aan hoe jy lyk nie, maar hoe jy beweeg. Dis waar.

Tien minute later trek Bjella se bakkie in ‘n stofwolk hier weg. So ver as wat Madam kar toe geloop het, sterwe halfgerookte Voyager-sigarette van al die stres. In asbakkies en op sementpaadjies, op die grond en in haar hand. En ons lys van aankope op die dorp is glad nie afgehandel nie. Wat van die sement? Wat van die salf vir Wiekels se sere? Wat van die sojasous? Wat van die Adco-Dols en cashew nuts?

Maar agter in die bakkie, op ‘n kussing, kombers en handdoek, sit Liria al met ‘n nuwe dorpsrok blitsvinnig oor die kop getrek – ‘n beige chiffon-skepping met blomme wat in pers trosse pronkbloei en in terrasse van valle afrok na onder, vol kartels en krulle. Kaalvoet. Plat skoene in ‘n plastieksak. En haar oë lag. Dit skitter.

As ek die ma-tesis nie alweer verkeerd opsom nie, is Liria hartensbly bly om die heilige meswerk van die salwende toordokter ‘n dag langer te vermy. Thulaang sit stug. ‘n Man wat nie daarvan hou om deur vroue teëgestaan te word nie. Hy kyk by die venster uit en sy oë maak somme teen die wolke. Sy mond lyk ‘n dun sny.

Dit was rondte een.

Daar is ander dinge ook nog op die spel. En boonop is hierdie naweek reeds vol dringende planne wat Bjella die pad moet laat vat Port Elizabeth toe – ‘n roete wat sy nie blymoedig aanpak nie. Maar, haar seun Chris kom, en daarvoor keer sy Afrika om. Om hom net weer te kan sien, skaarse man wat hy is.

Dit sal interessant wees om te sien of Thulaang tevrede tuis sal bly en naweeklank die huis sal oppas, terwyl die Madam wegry PE toe – daar waar die antwoord op al sy vroumensprobleme wag, iewers in ‘n heilige pondok, wagtende, en blymoedig aan die neurie oor die aankoms van die verwagtendes.

En ek wonder, sommer net aspris, of dit dieselfde hoogheilige is wat Mugabe ook van raad bedien.

Bjella is nou al 6 ure lank weg dorp toe.

Handwringende wag ek op my nuwe pak Adco-Dols wat saam met die swangerspan van die dorp af moet terugkom, kopseer van kleinstres loop ek in sirkels en ek staan nie eens in die binnekring van hierdie hewige kultuurkonsert nie. Boonop wil die internet glad nie met my laptop praat nie. Weier volstrek. Twee dae aaneen al. Ek maak al skelm planne om my laptop saam te neem PE toe, en die heilige profeet en sy hougode daaroor te gaan konsulteer, en hom ruim te vergoed met 20 Adco-Dols, ‘n dooie boomslang, ‘n aapskedel en ‘n bottel vol regte appelkoosgees. Ruimte vir bewussynsverruiming sal altyd in Afrika wees.

 

Dag 25 - Melktert & Afgodediens - Don 28

 

‘n Man wat niks van rugby hou nie, vir hom het ek nog genade. Dalk selfs hoop, want wat vandag so op die oog af dalk bietjie skeef kan lyk, is dalk annerdag ‘n reguit lyn op jou dogter se trouroksleep of die mooi boogstrik aan die blomme op die verhoog. Mens weet nooit wanner jy sulke goed nodig kry nie.

Maar, ‘n man wat geen verhouding met ‘n melktert het nie, dit nie eet nie, nie koester nie, geen waardering daarvoor het nie, vir so ‘n boer sien ek geen uitkoms nie. En van melktertberading het ek ook nog niks gehoor nie.

Melktert is ‘n hoogs persoonlike saak en dit rym met ‘n beskaafde boer se geskiedenis, met sy grootouers en hul kombuispolitiek, met sy ouers en hul stand in die gemeenskap. Melktert is ‘n simbool van kultuurerfenis, dit dui op  jou vlak van smaak en welsyn, en is direk gekoppel aan jou geloof in die behoud van Afrikaans, veral nou terwyl onse Afrika ‘n eiland van Sjina word.

Melktert klop nader aan jou hart as enige foto van jou ouma se troudag of jou oupa se Chev. Jy kan dit ruik, proe, die romerige tekstuur oor jou tong rondrol. As jy baie mooi luister, sal jy die hartklop rustig hoor kloek. Ja, melktert het siel ook.

Jou keuses en voorkeure met melktert is wat jou van kultuurloses onderskei. Party het ‘n voorliefde vir skilferdeeg met ‘n skuimerige melkbeslag. Vir my is dit te Engelserig. Ander hou weer van die dik, brosserige kors met ‘n vlak lagie van stywe melkjellie daarop vasgelil. Nee, dit laat my dink aan die lagie los materiaal op die binnesool van ‘n goedkoop slipper.  Neem weg.

Party mense gooi die tert so vol kaneel want die eiers was al raksat en doosvoos en die melk afgeroom. Ander neuk soveel vanielje in, alles smaak soos sussie se eerste doptoets in huishoudkunde. Nee. Nee. Soos alles van groot belang op aarde – soos die verhouding tussen Skepping en kosmos, dag en nag, water en grond, man en vrou, kaiings en krummelpap, só moet die bestanddele van ‘n melktert in perfekte balans wees, in heilsame harmonie moet dit met mekaar verkeer.

Die eiers moet kekkelvars wees en die gele met die hand geskei en geklop. Die melk moet vars en romerig dik wees, verkieslik Jersey-geel. Die meel meulvars, die geursel reg uit die peul, en die gesindheid van die melktertskepper moet rég wees: ‘n Haastige antie se gebrek aan oordeel sal jy proe. Die vinnige klitser se fokkop sal jy smaak. Die heiden-bakker se deeg is rou in die middel en te die bruin gebak om die rante bó. Nee.

Nee.

En moenie vir my ‘n melktert bring in ‘n silwer bakkie foelie nie. Fokkof.

Melktert hoort in ‘n erdebak. ‘n Glasbak. Die pap moet in ‘n ordentlike bak gemeng word, en in ‘n ordentlike bak gebak word. Klaar. Glas of erdewerk. Gehalte.

So, dit was dus met geduld wat ek die dag moes afwag om melktert by Daggaboer te proe. Wou ook nie vroeër nie, want dit neem ‘n wyle voor mense jou genoeg leer ken om jou beledigings te kan sluk. As 'n ding nie na my sin is nie, en iemand vra my daarna, sal ek vertel wat my waarheid is. ‘n Swik van die gewrig wat die bordjie wegwys. Mondhoeke af. Ek lieg nie oor dinge wat saak maak nie. Vir ‘n skermusteling met die padstalvrouens, oor wat reg en verkeerd is in melktertpolitiek, sien ek nie ook kans nie. Nie nou so kort voor Krimis nie.

Maar, daar is dit toe nou vandag die dag wat Karlyn ‘n sny melktert laat wankel en dit vorm verloor en nie meer die genot van besoekers beskore is nie. En daar roep sy my: my dag het gekom.

Op ‘n warm dag moet ‘n melktert lekker koel wees. Soek haar nie warm nie. En hier kom sy. Lig van voorkoms dog vol in die lyf. Wat my hart eerste laat spring, is die diepte van die tert. ‘n Goeie ses sentimeter diep. Mwah! En die vulsel lil lekker vól op die bord. Die kaneel is liggies bo-op gepoeier – nie dik kamoeflering nie. Die kors is brosserig en net die regte dikte – nie te veel nie, nie te min nie. En dan die geur. En dan die romerige dik genot wat op jou tong en teen jou verhemelte al jou lekkerkry loslek. Ek saliveer. Dis byna pervers, hierdie heerlike getongery, en mens moet jou oë toemaak om als te kan inneem. Ek skep diep, lepels vól. Ek sou verkies om heeltemal alleen te wees, sodat ek my kan oorgee aan onwelvoeglike byvoeglike naamwoorde en nie kinders en ander Sondaggelowiges hier op die sitstoep tot die plesiere van ware sonde verlei nie. Deesdae is daar vir alles ‘n straf.

Ek sal my geliefdes hiervan laat weet, ry hier by ons langs voor jy verby, sal ek sms. Ek sal posduiwe stuur. Rookseine. Klonkies met mikstokke al langs die pad: Moenie by ‘n keffie langs die pad ‘n Kit Kat Chunky koop as jou lyf ‘n stukkie soetlekker soek nie. Hou vas, hou uit. Ry aan. Kom sit by Daggaboer aan vir ‘n stuk koel kultuurgeskiedenis, ‘n ruim plesier wat nog nie tot verderf of afgodediens verklaar is nie. Kom kry mjelktert, sit aan en luister draadloosrugby saam met ons.

 

Dag 26 - Doring - Vrydag 29

 

Van Doring het ek lankal gehoor, lánk voor ek hom die eerste keer gesien het. Soos van ‘n berggees, of die jakkalsjagter op Koornhuis, of ‘n profeet in die woestyn, so het ‘n mens van hom gehoor. Doring. Die man van die veld. Die kenner van kruie en wolke. Die man wat skaap se taal kan praat. Die een wat slange vang en fonteine name gee.

Eerste keer wat ek hom sien, was toe ek paar dae gelede op die stoep by die padstal sit en koffieskryf. Toe ‘n perd opeens runnik en ek opkyk daar daar sit Doring bloots op ‘n blinkbruin hings, op die agterpote pronk die perd, voorpote kap omhoog. Doring wat sy hoed vashou met een hand en met die ander die perd in toom hou en rigting gee. Hakke in die lieste kap. Kort in sy spoor volg Bongwani op nog ‘n perd. En dan is hulle weg, klippe klap die veld in, die berg op. Klaterpote. Die skielike sensasie was soos ‘n jet wat uit die bloute oorvlieg. ‘n Heerlike aanval op die sinne.

Dae daarna stap ek eerste keer af grafte toe. En daar in die perdekamp sit twee man. Ek stap nader: “Maar is dit dan nou nie die veelsbesproke Doring nie?” vra ek.

“Dis my naam,” lag hy.

Ek stel myself voor. “Ek wou al lankal by jou raad kom vra, Doring. Ek wou vra of jy dit sou goeddink dat ons oor Desember ‘n perd of twee opsaal, en dat die kinders van besoekers daarop kan ry. Ek wou weet of die perde mak genoeg is, want risiko vir seerkry kan ons nie aanvaar nie. Toe dag ek, ek moet jou vra. Ek moet vra of jy, of een van die jong swepe hier op die plaas, die kinders op jou perd kan toulei, sommerso in ‘n sirkel voor die stal, waar die ouers kan sien, en so ‘n ietsie ekstra verdien. Van die ouers sal dit verwelkom na ure in die kar met verveelde kleingoed.”

Doring luister my storie. Hy krap sy tande met ‘n stokkie skoon. Die veld ruik skoon na die reën en duiselinglekker van vars perdemis. Doring kantel sy kop en kyk my deur. Bongwani beloer my. Die verwysing na ‘n eksta inkomstetjie het sy oë ook gelig, die gestap in sirkels teen betaling.

“Ek het gereken ‘n pa sal maklik tien rand of selfs twintig betaal om te sien dat sy kind vir vyf minute veilig kan rondry.”

Doring kyk my. “Dis heeltemal moontlik,” sê hy dan. “Ek kan sorg dat die kindgoed nie seerkry nie.” Bongwani knik ook instemmend. Dan groet ek ingenome ek vat die pad volgens hul aanwysings af na die grafte toe.

Vir dae daarna is daar van Doring geen teken nie. Spook is hy. Iewers op die plaas doenig. En Daggaboer se grense strek vér agter die plaashuis oor die berge en valleie weg, moertoe, soos Seuntjie sê. Oos en wes, noord en suid, spruit die plaas wyd. En anderkant die grootpad met sy dreunende trekkers en werkslorries, strek die grond weer oor berge en heuwels, en oor ‘n staatswater so groot soos Hartebeespoortdam. Die dam lê soos ‘n grote towerspieël in die fluweel van silwergroen landskap, en sy gesels heel vredig met die wolke wat in haar glans gesig kom wys. Dis waar Seuntjie-hulle loop visvang. In daai moerske dam. Ek wil net pjelle bjel en roep: Bring motorbote! Bring ski-goete! Bring paartiegatte en mooi lywe. Maar, ek vermoed dis nie speelplek nie. Sal Doring moet vra. Sal moet vis of ek ook te perd kan saam syntoe. Voltaren Wolmarans, die ruiter in swart.

Vier dae gelede eers loop ek Doring weer raak. Die oggend toe Bjella vort is dorp toe met die toordokterspaartjie, toe ek Seuntjie se rakke gaan kyk in sy werkswinkel. Daar sit Doring voor op die stoep. Op die trap. En Doring is gekoring. Die waardige man van annerdag is weg. Luid praat hy in tale en keer my voor: “Jý,” sê hy. “Hoekom sien ek jou nooit? Wat soek jy heeldag in die huis? Huh? Wanneer gaan ons gesels? Wanneer kom jy by my kuier?”

Binne in die werksplek staak Seuntjie sy gesweiery. Ek loer in en vang sy oog - dit skitter van onderdrukte lag. Noppie is ook daar handig, en ‘n nuwe gesig staan met sweisgoed, Bennett. Hulle kyk groot-oog.

Seuntjie maak vuis en gooi duimteken in sy keel af, en sy gesig vonkel soos dié van ‘n stout skoolseun. Hy giggel stilletjies. O. Doring is inderdaad gekoring. Op ‘n Maandagoggend.

Later vertel Bjella, nee, dit gebeur bitter selde. En Doring loop sy eie pad die plaas vol. Hy is eintlik die boer hier, en hy het niemand nodig om vir hom voor te skryf wát wánneer gedoen moet word nie. Hy hou sy hand op alles waar hy moet, en weet waarskynlik nooit of dit Maandag, Sondag  of Sterdag is nie.

O.

Doring se pad is nie een van alomaanvaarde normes en standaarde nie, hy wandel met die wolke. Die veld vertel hom waar die skaap wei. Hy weet presies wie en wat is waar en hoeveel. Hoeveel ooie dragtig is. Waar die gevare skuil. Hy weet presies waar die bosvarke boer, die slange seil en die arende nesmaak. En hy antwoord aan Jordaan alleen.

“Ek hoor jy wil ‘n bord vir die padstal langs die pad laat opsit,” roep Doring luid na my uit.  

"Ja," vertel ek, "die karre jaag honger en dors verby en sien niks."

Langs hom op die trap sit ‘n verkreukelde vroutjie. Sy bekyk my met klein swart ogies. Glad nie ge-iempres nie. Haar mondhoeke draai af en trek rosyntjie.

“Jy moet vir my by my huis kom kuier. Ek het geen geselskap nie. Ek wil jou van Daggaboer vertel.” Hy lyk inderdaad of hy al eeue hier spore maak. Jordaan het hom eenkeer, ‘n eeu gelede, laat toesluit oor ‘n skaap wat spoorloos verdwyn het. Hom later die aand weer ytgebyl. Hom net ‘n les geleer.

“Dit sal baie lekker wees om te kom kuier, dankie.”

“Wanneer?” raas hy.

Die vroutjie blits ‘n blinkswart kykie en spoeg ‘n bruin kol op die grond. Ek neem daarmee aan dat sy nie die aand van my kuiertjie die gemeste lam gaan slag en sagkook nie.

“Dis my vrou,” klap Doring haar op die skouer.

“O. Ek dag dis jou girlfriend,” swaai ek die heuningkwas. “Dag, mevrou!” groet ek beleefd en Sploert! spoeg sy weer ‘n sliert bruin plasma teen die trap vas en kyk weg, kopdoek soos ‘n bol wasgoed op haar kop.

O, nou ja toe. My Styl, Sjarme, Adco-Dol, Coke en Klippies Awards het nou nóg ‘n kandidaat minder. Later sal ek hoor sy is stokdoof en kan stadslippies nie lees nie.

Maar, ek maak my uit die voete, want Doring is vol brawade en wil my als met geskal van trompet vertel, maar ek wag liefs tot hy weer sy waardigheid herwin. Ek groet.

Dis triekie. Sal bitter graag saam met hom om ‘n aandvuur wou sit en wyn skink, iewers in die veld met sterlig en stories, maar een dop tesame en hy het jou onherroepelik in sy sak. So sal mense my sekerlik waarsku. Die hele wêreld kan vir jou mooi woorde weef oor demokrasie en vryheid, gelykheid en broederskap, maar op hierdie aarde, hier op Daggaboer, lyk my geen grond gelyk nie. Dis skeure en kranse, heuwels en berge, geen gelykplek êrens nie. Dis ‘n paradys vol slang en lam, toordokters en tokkelossies, uile en fonteine, grafplase en spookgoed, sterre so helder en knip-oog vol kleure soos krismisliggies. En kluise en bergspelonke vol duistere geheime.

Nie dat dit vir my enigsins saak sou maak as Doring my sou hierjy nie. Ook nie voor ander nie. Maak aan my min saak as hy my in sy sak sou kry, maar dis die ander mense se politieke wat kan krap. Ek wil die stories hoor. Die stories. Hy is die kenner en orakel, die draak wat tesame slang en arend is. Sy oog sien als, sy spoor ken elke klip en water. Iets sal ek moet inboet om langs sy vuurvertellinge te mag wees. Skeel my min wat. Toorwater as dit moet. Dagga sou poëties van pas en myns insiens polities heel korrek hier wees. As dit die draak laat rookblaas en vuurpraat, is dit reg met my. Jordaan en Bjella sal stuipe kry, ja. Maar, as ek op sy grond beweeg, is ek sy volgeling en skadu. Waar hy gaan, sal ek gaan. Waar hy vertoef, sal ek vertoef. Sy volk is my volk. By my is geen dappere sug na baaswees op enige vlak nie. Maar, ‘n netjiese afstand wil ek hou – soos met álmal behalwe my oudste pjelle en my susters, hou ek my swaarverdiende vryheid, en die kans om myself rats te kan verskans, altyd naaste aan my hart. My voet is altyd in die deur. In die oop veld ook.

 

Dag 24 – Noag se Ark – Saterdag 30

 

Haelkorrels so groot soos gholfballe, op ander plekke so groot soos tennisballe, het die Witwatersrand eergistrand stukkend gebliksem. Faktap. Alle versekeringsmaatskappye is nou onseker. Die reën het glo eers ge-emmer en toe Nkandlas-vol neergedonner. In1971 het ek dit ook gesien, in Florida en op die hoë koppies rondom Aasvoëlkop – die hoogste punt bo seespieël waar die mensdom op winsjag als oopvee en platmaak vir pondokkies bou.

In daardie einste omgewing het ek in die 1980’s ‘n vrou ontmoet wie se seun van hartseer dood is. Hy was skaars twintig. Die vrou was ‘n figuur van hoë gestalte, hoog op op die sosiale leer en ook in haar duur skoene. Haar lewe was een van opera en ampsmotors, openingsaande en oop gesprekke met ministers – belangrike manne was vir haar voorname en terloopse laatnagtelefoongesprekke. Haar seun was verlief op ‘n meisie wat moeder se goedkeuring nie kon verdien nie. Eers ná sy skokdood het die ma vrae begin vra wat sy dalk eerder moes doen: Hoe het jy haar lief? Waarom maak sy die man in jou wakker, en nie die ander asters met die beter grimering nie? Wat doen sy wat jou hart laat smelt? Sulke dinge. En na sy dood het die vrou begin om nadoodse ondersoeke te doen, gedrewe, vér verby die polisielêers en dominee se innige insigte.

Sy is na mediums, psychics of spiritiste, astroloë en enigeen wat anders kon delf as predikante met net as troos as troos, soekendes wat dieper grawe en wyer wil weet. Gou het sy die kwakke en kontantjagters uitgesnuffel, die fop-sigeunerinne met te veel maskara en karavane vol kopsmokkelsnert, soos kristalballe en misrekende spooksimbole, en so het sy aangeland by gewone mense met groot talente. Mense met insigte wat uitsigte is. Mense met toegang tot kosmiese geestesbiblioteke – omdat hartseer en soeke, woede en veronregting hulle daartoe gedryf het. Verby die verbode-bordjies van die dominees met die wit dasse, bleek hande en draalstemme. Verby die vrese van mense wat deur sulke dominees vir selfkennis bevrees geword het, en beperk tot geloof in Ivan Rebroff, Die Gunther Kallman-koor, Gé Korsten en PW.

Na die verlies van haar kind, het die elegante ma begin om deur die dun membraan van vername lewe te kyk, en sy het weetbiblioteke begin oopmaak nie net vir haarself of mense van faam en belang nie – sy het om haar leer sien ook. Leer raaksien. En haar vrugte nie soos tevore net met die vernames gedeel nie, maar met almal, my ook. Al was ek net ‘n nuuskierige kind.

Wat sy oor Noag se Ark vertel het, bly my by soos die eerste keer wat sy haar mooi stem deur my verbeelding gestreel het: Aasvoëlkop, die hoë koppies van die Witwatersrand, het sy vertel, is die Nuwe Ark. Hoogste pieke waar mense kan woon. En oorleef. Die plek waar die hardste korrels sal val, die hoogste winde sal waai, die ergste storms sal woed, en dit wat nie met stormwater verspoel nie, sal oorbly vir die nuwe groot era op aarde. Van alle rasse sal daar oorlewendes wees, maar die sterkste en beste, en die opregte en eenvoudige: Bouers, vakmanne, skrifgeleerdes en sommemakers, ouer mense met kennis van plant en plaas op dae van aftrede op besoek aan hul kinders in die stad, sal onvoorsien oorbly, om hul wysheid met die klein ark van oorlewendes te deel. Met met gereeskapskaste in hul hande en in hul harte. Sodat die onkruid kan versuip, die parasiete en diewe, die suiplappe en slawe, die vrome selfdienaars en glimlaggies-vir-geld, sodat God Sy Tuin van voor af kan bewerk. Met mense wat meer bou as breek. Gee en nie steel nie. Mense wat deel en beskerm. Sulke stories het my meer gefassineer meer as So Maak Mens of Jet Jungle.

Laasnag het ‘n storm hoog bo die aarde deur die Karoo opgetrek na die noorde, en ek wonder toe wanneer die Nuwe Era van Insig met Uistig gaan posvat. Toe kyk ek by my venster uit, en wragtag, daar sien ek Noag se Ark op hoë wolke verbyvaar. En ek roep. Ek skreeu.

Omdat ek vir Marakkas aan boord wou kry (en ek soos tevore in die proses ook weer wil opslip vir ‘n front seat met ‘n view) roep ek toe ek skree dat ek dinge weet wat ‘n donderstorm soos ‘n koppie rooibos sal laat lyk.

En daar gooi die Ark ‘n draai en kom flikker haar ligte hier bo Daggaboer. Gooi nogals 'n leer af.

En daar sien ek, Here Ons, die Guptas dans Bollywood dat die arkplanke kraak, en die Zoeloes slaan tromme, en die Xhosas eet sushi, ek sien hoe word daar eiers gesteel en dagga gesmokkel (het julle geweet dat die ANC in die struggle-jare met internasionale daggasmokkelary fondse opgebou het? Dat hulle dit nog steeds doen? Het julle al gewonder waar die fondse vir Nkandla – Zuma Se Ark – regtig vandaan kom? Nee? Okay.)

Op die ark sien ek polisiemanne met hoë range soos waiters speenvarke aandra. Groot kokkedore se kaalkoppe word met goudblad gesalf. Ek sien dat al die diere gillende geslag word. Of met kieries doodgebliksem. Ek sien renosters doodbloei en hoe die uitverkorenes die horing opsnuif om ook horing te kan kry. Mevroue Zuma een tot twaalf staan op die dek met pruike en pruilmonde, Gucci-sonbrille flitsend in die nag, pêrels om die hals. Om die Nkandlas. Aangeplakte naels. Hulle eet biltong. Hulle kots sjampanje. Op die dak dans Angus Bucchan – Fiddler On The Roof: If I Was A Rich Man. Almal klap hande. ‘n Wolk vol Gospel-sangers in wit wapperende klede strooi wit roosblare oor hom heen en deel hul CD’s vir donasies uit.

En toe ontplof die ark in een bliksemslag wat ruik na die allersuiwerste kruit, O God dit vlam ten hemele, haelkorrels so groot soos medisyneballe moer als uitmekaar, donker wolke kring in blitsende reënboë weg tot donderende eggo’s, aardskuddende, tot net ‘n paar pêrels en poeshare tot hier voor my en Marakkas neerdwarrel.

Toe eers kon ons twee weer gerus in ons eie klein ark gaan slaap. 

*****

‘n Nuwe meisie het onverhoeds my lewe ingeloop, sommernetso, en al is ek plaasmeisies en wulpse gedrag van die vrouegeslag nie gewoond nie, is haar direkte aanslag vars en opwindend. Sy kyk ‘n mens aan met oë wat rokerig heuning brand, haar ruie bos hare blink ‘n natuurlike, ligte karamel in die son, en sy kom sit sommerso wydsbeen op my skoot, so in die geselskap, en soen my in my nek.

Ek smelt.

Weerstand verdamp en net babataal kom oor my lippe. Teen alles en almal wil ek haar verdedig, haar ongekunsteldheid betower my. Sy laat my dapper voel.

Haar naam is Victoria. En sy het ‘n seerplekkie.

Selfs Marakkas, sy wat geen vrougoed naby my verdra nie, skyn heel gemaklik met ons nuwe geselskap te wees.

Soos een wat vir die eerste keer verlief raak op die gemaklike styl waarmee los meisies so lig en liefderik kan stertswaai, vertrou ek alle vrede, en ek snipper vir haar losvleisies met olyfolie op die brakpille in haar bak.

Marakkas, blitsbytbekkie wat sy kan wees, leer sosialiseer, hulle kom goed klaar, en ek het in die wêreld ‘n welbehae.

Bjella se seun Chris het so pas aangeland en Bjella is bly hy is hier. Bjella vonkel.

Dan begin Marakkas iewers blaf asof 'n draak voor haar staan.

By die glasdeur klop Doring. Eerste keer dat hy so hier aanmeld. Doring vonkel nie. Daar is trawwels in perredaais. Skyn my sy kleinseun het hom teengespreek. Doring is gekoring. En hy wys my weg: "Staan agtertoe, staan weg, asseblief, en roep my miesies."

Marakkas is rifrug verontrus.

Dis vreemde pap wat in die potte prut as 'n man, so trots en eenkant outonoom soos Doring, sulke tale by die voordeur kom besig. Woorde soos Miesies.

 

Dae 28 & 29 - sPort Elizabeth

 

Ons ry PE toe met Bielie se Benz – ‘n silwer dier wat baie lyk soos myne, maar meer gespierd – 320E 1996. Bielie peper daai pad. Hy looi. Hy laat waai. Bjella gesels een strook deur en as Bielie voetneerlê by sloerlorries verby, gryp haar hande spontaan vorentoe, na die muiskas met die airbag, en haar stem vang ‘n speed wobble.

Bielie ry nie onverskillig nie, glad nie, net soos een wat weet dat padreëls en –wette bedoel is vir ander mense wat nie vir hulself kan dink nie. Hy’s ‘n lang kêrel en hy dra ‘n onrus in hom rond, ‘n ergenis met onnodighede, en sy blou oë kan skielik ver-ys as ‘n ding hom bekriewel. Hy buig vooroor, oor die stuurwiel, en as sy ma vriendelik dog effens proesteries vra dat hy nie oor dubbelstrepe verbysteek nie, kraan hy sy nek vorentoe, hurk sy skouers van besliste rigting, en hy laat wiel. Die kar ry soos ‘n vaartbelynde droom.

Môre vlieg Bielie, alias Chris,  terug Kaap toe. Hy’t net die kar op die plaas kom los oor die beperkte staanruimte op Stellenbosch, so – ons gaan hom by die lughawe aflaai en dan weer met sy kar die pad terugvat na die daaglikse dramas op Daggaboer. Maar, vanaand kuier ons eers met die familiemense op PE. Dis ‘n groot ding vir Bjella. Sy kom min in Die Baai en werk mos elke dag, jelejaar, in die padstal, en ‘n aand saam met familie elders aan tafel is bitter skaars. Bjella is mooi gegrimeer en lyk tien jaar jonger. Sy’s lief vir haar mense. Almal sprankel.

En die aand is soos ‘n Kers-ete. Bjella se sus Marié se huis en tuin is ‘n sesdimensionele glanstydskrif, die slaaie uit die boeke van die hart. Sampie en Barry braai en vertel stoutgatstories uit hul studentedae wat vandag se kinders liefs nie van moet hoor nie. Bielie is laggende ontspanne, Bokkie vonkel. So is die lewe aangenaam en ek kan net luister en weglê. Boonop het Theodorus vir my ‘n lywige koevert vol foto’s en feite oor die Trollips van Daggaboer gelos. Hy’s ‘n vlieënier en iewers in die wolke, maar hy bel en maak seker dat ek die pakkie kry. Ek verkyk my aan die vlak van beskawing in hierdie huis. Die geilgesonde tuinplante en oorvloed van blomme. Elke hoekie binne en buite  is ingekleur en afgerond met die hart en hande van sorg en liefde. Die stoof pronk vol Le Creuset. By die kombuisvenster uit staan buite ‘n netjiese fyntuin vol groente en kruie.

Volgende dag is vol van planne. Bielie moet vroeg op die lughawe wees. Wanneer hy die sleutels aan my oorhandig, rammel hy ‘n lang lys van moets en moenies oor sy kar af. Die dier is onlangs oorgesilwer en ek moet ‘n spesiale cover opsit, maar nie eintlik nie anders krap dit. Ek moet maar kyk dat dit nie krap nie. Ek moet die olie en water gereeld tjek want die temperatuur kan skielik opskiet, maar nie eintlik nie. Kyk net. En sus en so en die en daai en o ja, die kar moet voor Krimis op Cradock deur die toets gesit word op. Binne volgende twee weke moet dit, hy sal laat weet at ek moet doen. Ons laai hom by die lughawe af.

En dan ‘n oggend van rondry vir die padstal – biltonglemme doer eenkant in die indusgedeelte. Pakke koffie anderkant by die ou plek wat glo eeue-lank al, daar voor jou, keurkoffies van die wêreld oor in ‘n ou roosterstoof laat karakter kry – die geure is bedwelmend. Die Daggaboerkoevert moet gefotostateer word. Dis bankdinge daar en aankopies doer en hiernatoe en daarnatoe. Marakkas wag in die kar en moet elke nou en dan water kry en vir ‘n draai geloop word.

En dan, twee uur middag, vat ons die lekker lang pad terug. Die kar is van hoek tot kant gelaai met dinge benodig vir Kerstyd by die padstal. Net Seuntjie kon nie sy compressor kry nie want Bjella is al klaar gekompres soos dit is.

Twintig kilos by PE uit, net langs Cerebos by die soutpanne, val ‘n soutbries neer, ‘n mistigheid, en laat die winskermveërs snotstrepe oor die venster trek. Bjella wikkel haar selfoon hier langs my. Dit klater. Die knoppies kliek so vinnig Marakkas staan dit spitsoor en bekyk. Toe ‘n bakkie agter teen my gat optrek, sien ek rook voor hom warrel. Teen die oop pad agter kon ek niks sien nie. Is dit mis? Nee. Bjella? Sien jy rook agter? Nee. Nee wag, daar is iets. Huh? En dan begin die kar knetterklankies maak en ons kyk kyk mekaar groot-oog. Ek trek af.

Sodra ons staan, warrel rookkolomme by die enjin uit. Ons kyk groot-oog.

Drie uur later staan ons steeds op die AA en wag. Barry die advokaat moes sy kliënte solank tronk toe stuur en ander aanraai om weg te jaag of weg te hardloop wat ook al gebeur, en hy jaag om sy suster in verdriet te kom jelp. Hy vat ons Daggaboer toe. Maar al wat kom is die AA. Ons wag. Ons wag.

Bjella looi daai sel van haar soos sy alles organiseer. Sy moet elke letter van elke woord aan almal uitspel. Die name van die kar en versekerdes en adresse en vanne en naasbestaandes en die Dortse Leerreëls en die Heidelbergse Kategismes. Alles op die letter sodat Chané of Namhla of wie-ook-al kan leer spel. As die Twin Towers nog gestaan het, het hulle geval, só moes Bjella vuurmaak onder daai lot se gatte.

Ek staan buite in die gras, op ‘n veilge afstand. Die ure draal verby. Net Xhosas het gestop en hulp aangebied. DUDUDU EC, is ‘n bejaarde kaalkopkêrel en sy bakkie is spiekeries op hoë wiele. Alles blink, soos sy kop. Dis trotse vertoon. “duDUdu!” groet ek, en hy verhelder omdat ek die klem reg gooi. Nee, ons wag op die AA, vertel ek, als is okay. Is ons seker? Ja, die AA kom. Is die kar te koop? Nee. Ai.

Die mooi en silwerskone kar staan daar met haar keel oop, vir almal om haar rokende mangels gade te slaan. ‘n Trotste dier in ‘n openbare verknorsing. Ek wil nie eers weet wat Bielie dink of sê nie. Ek dink sy oge is ys.

Die karre jag verby. Die lorries blaas toeter.

“Jere, Bjella,” vra ek: “Wie het jy gebel? Het jy nie Alcoholics Anonymous gebel en uitgetrap nie? Vir waffer AA wag ons so lank? Miskien het hulle nou ‘n support meeting na al jou oproepe. Fokken berading. Miskien het hulle weer gebin drink.”

Ek sou ook.

Dan daag die redders op. Drie frieken ure ná die halfuur van wag wat hulle belowe het. As hulle vooraf gesê het: “Ons is teen 5 by julle,”  het ek wyn en vleis uitgehaal en solank gebraai. Alladonner.

Nee. Daar kom hulle toe na 5 aangestrompel. Sleurvoet, slordig, ongemanierd. Skiet brandende stompies die veld in. Fok!

Wit is hulle. Wit.

Barry ry ons terug plaas toe, en sy kalmte het Bjella ook dadelik weer rustiger. Hy speel vir ons musieke, duete met Zuccharo (spelling sal ek nog moet tjek!) en Sting, Pavarotti, Tom Jones, en vele ander. Dis Italiaanse rock en power ballads wat ek nie ken nie en dis hemels. Marakkas en ek sit en kyk die venster uit. Nuwe beelde, nuwe klanke. Vars veldreuke. Die Karoo hier lyk anders as wat ek dit ooit kon indink:

Weerskante toe spoel die landskap oop oor heuwels en sluimerende berge, ‘n digte karos, in 64-verskillende skakerings en vorme van groen, strek ryk en geil oor als. Hemelhoog begin die reën haar silwer spel van lig en wolke. Na al die drama van die oggend, is dit goddelike lafenis.

Ons sien sebra tussen koedoe staan, helder teen die groene afgeëts. Troppe springbok. Op ander plekke moddervet Afrikanerbeeste grondrooi teen die diepgroen, in ‘n veld vol pers blomme. Skaap en lammers. Ons sien die son deur wolke breek en die magiese wonders van die veld oop en bloot daar laat staan, omtower in goud. Die Olifantspas se eindelose uitsigte en plantegroei, daarvan kan ‘n mens nie vertel nie. Jy moet sien. Jy moet ruik. Jy moet al die soorte groen van boom en struik met jou eie siel bekyk. Jy moet dit inasem om te kan proe.

Dis lekker om weer ‘n slag as passassier agter in ‘n voortsnellende kar te kan wees.

Vanoggend hoor ek - Barry het amper 'n koedoe raakgery op pad terug Baai toe. Die diere spring mos blind bo-oor jou kar. Barry Barry Barry. Volgende keer bly jy tot ons die oggendhekke oopsluit. Die arme Victoria moes gistraand alleen slaap. Nee, so kan dit nie aangaan nie.

 

Skoorsoekers en skoorstene

 

Krismis is op ons en al wat onheil is laat geld aanslag op die sinne. Van Boney M tot by Joost en Amor se liedere met Ds Jannie en die Mofkleuters, van ligte klissieke miesuuk deur blindes tot wenke met eierwit-en-strooisuiker as krismissneeu, o, almal is in op die sent in die sentimentele. En tog kan ek nie met al hierdie plesiere verstaan waarom mense hul twee wekies van sielerus, ná ‘n jaar van kantoorderms knoop en petrol steel, nog boonop hele-familie-saam op een hoop wil gaan strandhuis nie. Dis moeilikheid soek. Dis gevaarlik.

Wees bedag, wil ek sê, wees bedag met vakansies:

Die oumense wil altyd vroeg en vrolik óp en almal wakkerkoffie om lekker langs die see te gaan skulpe soek, terwyl die jonges mompelend hul onmaagdelikheid wil afslaap. Die oumense wil vasgestelde tye eet want hulle moet pille drink en slaap en bid, die jonges is happy om elfuur vanaand te eet. Die kos gaan oor die kuier en die kuier nie or die kos nie. Never the twain shall eat. Nie sonder 'n gemor en protes en geklik van tonge nie.

Moenie verbaas wees as 'n skoonmoeder verwese oor die see uitstaar, na alles wat sy lewenslank moes opoffer, moes prysgee, moes verduur en betaal, moes aanvaar teen haar beterwete, moes regmaak waar sy gewaarsku het....om nou so misken en mishandel te word nie. Moenie verbaas wees as sy hees en bedeesd word van aandoening nie, meewarig 'n tissue teen haar bors vasklem, hyg na pille en stil dog kreunend onttrek na 'n eensame eenkantjie met Solly Ozrovech as enigte verweer nie. Nee. Spyker haar lemoensap met suiwer Russiese vodka. Dis smaak en reukloos. En sit Strauss se walse op, en as die kinders protesteer, vra hulle om gou die kar te was of met ouma te dans sien hoe skielik lawaai hulle weg see toe.

Iemand is altyd droewig-moerig oor skottelgoedbeurte en ander altyd op sint. Waar is my skelfoon? Almal soek iets. Pa moet heeldag geute regmaak en toilette wat skree tot bedaring bring. Die storte kan net skuinspiepie, altyd óf kokend óf skreeukoud, en die honde haal almal se onderdrukte behoeftes op mekaar uit. Nee.

Nee. Só hoort rustyd nie.

En, soos die kunsgeskiedenis altyd ‘n reaksie en teenreaksie in volkleur teen mekaar afspeel, so herhaal kersplanne ál om die annerjaar: alles: om te gaan uiteet – of nié.

To braai or not to braai.

Een jaar besluit die vrouens: Nee, Alle-aarde, geen mens kan bekostig om te gaan restaurantkos oorlewe op Kersdag nie. Dit kos R250 per persoon en alles smaak na opgewarmde hartseer met ‘n Knorr-sousie of aarbeistropie oor. Nee. Volgende jaar seg hulle, nee, om twee dae lank voor die potte en opwasskottels te staan en steun is ‘n straf, en, die mans is boonop altyd gaar voor die vleis gaar is, Nee. Nee. So gaan dit aan. So kan dit nie aangaan nie.

By ons op Maanligstrand bly familievakansies altyd ‘n blye belewenis, en ek kyk konsert beter as al die vermaak op TV, computer games of op Nkandla. Byvoorbeeld:

Jongensdae was onse oom Jozefus ‘n vlam op die dansbaan, ‘n kranige spandraadtrekker met groot John Deer-pryse op sy kerfstok. Voorbok met toktokkie en wat alles wat verder daaruit spruit was hy, maar later, later, na sy egskeiding, het Oom Angus hom aangeraak, en het hy in Psalms begin praat. Sy vorige spanmaats seil nou luiperdkruipdraaie om hom en jongens ontglip sy vlammende vermaninge en sy lang en troostelose gebede. En tog, elke vakansie, is hy daar, op Maanligstrand, by die vreugdevure,  met sy gebrek vreugde. Hy is die mis in krismis.

Met sy oususter Lelie wil ook niemand feestye deel nie, want Lelie is nog vol kielie in die kliere en sy knip-oog grappetjiesjas en dans saans liggies omwaas met windligte somerrokies. Sy ‘n bok vir sports. Sy is 65. En sy sit die demon terug in demonstreer as sy na drie glasies Rosé die deo uit deodorant uitwals, haar ogies glasig van opwinding, haar voetwerk onvas. Sy is die Is in krismis.

Met Oom Kawel wil ook geen siel meer Kersfees belewe nie. Nie met sy bitter politieke wat hy om die vure bepreek met kos in sy mond nie. Hangpens en lang toonnaels. Boonop steek hy oral in en óm die vakansiehuis glase dop weg. Agter die stele van badkamerwasbakke en onder die seile van Ventertjies, agter malvapotte en onder die kinders se afgeblaaste tjoeps. Van vroeg af al. Elf uur soggens is hy die Minster van Verdediging, Wet en Orde. Elf uur saans is hy die hartseerverhaal van ‘n onder-burgemeesterskap wat hom ontneem is. Hy is die was in Xmas.

Niemand wil ook met Tante Krone see toe gaan nie. Nie sy met haar wenke en rate, resepte, voorskrifte en vrome aanhalings nie. As sy een strook deur haar prate praat en wyshede lewer, moet algar stilbly en kennis neem, indien nie notas nie. As sy met Scrabble verloor, kon die woordeboek nie spel nie. Almal vertel hoe sy toeka wou Kaap toe gaan, voor die geboorte van Junior, en hoe almal wou hê sy moes weggaan om te praat oor die lug. Almal behalwe die SAUK.

En dan is daar Tant Huigie en haar seun Fokken. Hulle is altyd by die vakansiehuis langsaan maar kon netsowel ook hier in ons vakansiehuis, Villa Riediekielis, kom woon het.  Want hulle twee is van erfenis ontneem, maar steeds fokken oral. By elke braai en brekfis, by elke krisis en kreun, by elke babasak en babalaas, oral is hulle by en betrokke soos ‘n skoonfamilie by ‘n vuilstorie – aan’t vis en aan’t broadcast. Loop mens net winkel toe, staan Huigie by haar voordeur se onderdeur met haar lang groen Craven A Menthols, en sy hees soos ‘n ou gans agter jou aan, tot jy vertel waarheen jy gaan en wat jy gaan doen en wie almal daar gaan wees. Al gaan jy net Blitz koop, wil sy weet watter soort. En dan gaat sy jou vertel hoekom die ander soort beter is.

Oor haar seun Fokken kan Ant Huigie nie genoeg huigel nie. Of hy by is of nie, die arme fokken Fokken word deur sy ma uitgestal soos ‘n sepia baba-album. Van kleins af al. Kyk, hy was mos die beste deelnemer aan die Eistedfodd ever en sou Drakensberg se Seunskoor toe gaan, sy koshuisgoed was al gepak en sy foto in die Patrys, maar toe breek sy stem mos so skielik toe hy van daai rolskaats afval en sy kop stamp teen die bumper van die kar wat Engelbert Humperdink na die skouterrrerin vervoer het. Groot storie. Gelukkig het hy, kort daarna op pad kerk toe, met sy dikwielfiets oor ‘n hobbel geskommel en toe sy baloebas die dwarspyp tref, was hy onmiddellik weer ‘n helder sopraan. Maar ai, toe reeds moes jy bruin of swart wees om in daardie koor ingesing te kon kom. Niks is ooit regverdig nie.

Fokken was ook amper eerste span op skool, maar toe skeur hy mos ‘n holspier – nee, asseblief, ek lieg nie, hulle het dit destyds net iets anders genoem. Iets van sy arsenaal of sy anale kwadraat of annus horibilis , so iets medies of Latyns, ons kon nooit presies uitvind wat nie. Groot storie. Fokken wou ook nie wys nie. En Fokken was amper hoofseun, maar toe kry die ou prokureur, die ou skelm wat die skool se swembad geskenk het, se seun mos die pos. “Dan praat die koerante van crime & corruption!,” sal Huigie dan uitroep en haar artristispoot op die tafel slaat dat die Krismisboom omdonner en die babas en oumas begin senuwees kry.

En Fokken was amper in Sewende Laan, en Fokken was amper aan Anneline verloof, so gaan dit aan tot ons begin het om slaappille in Ant Huigie se sjerrie te rasper. Een jaar het sy regdeur die vakansie geslaap en sestien kilo’s verloor. Maar daaroor sal ek annerdag vertel, want daar is nog navrae oor diefstal, en aanranding, en bedwelming met die doel om onsedelik te beseer.

Oor die jonges is daar vir nou te veel stories. Die matrieke wat ma van die internet help aflaai, die karlisensie as krimispersent wat op kleindorpies onder die tafel gekoop moet word want hulle pluk mos al die wittes tot jy nie meer kan betaal nie en dan onder die tafel moet betaal. Oor sulke dinge later.

Oor Krismis, kom ek agter, soek mense meer skoor as wat Vader Krismis skoorsteensoek.

Bly weg, wil ek sê, hou Kersfees iewers in kleinmaat, alleen, as jy kan, of net met mense vir wie jy regtig lief is.

Maar, dis die probleem. Ons is lief vir ons mense.  Almal, al die siele met soveel letsels van oorlewing, skriklike tattoos wat hulle so onvanpas wys, net omdat hulle uiteindelik tuisvoel om dit te kan doen. Laat hulle maar hulle krapplekke wys en sure van ontslae raak. Wees tog genadig. In hierdie dae van somerwaatlemoen wat jaarlank se vasbyt kan genees. Mens kan eers vergewe as jyself mooi weet wat seerkry is.

Oor die Onheilige Drie-Eenheid, die drie ooms wat saam grootgeword en laterjare, op 42, op Maanligstand, so onvoorspeld, Webers ingesluk het tot hulle net boeppens kon rondstaan en braai, daaroor sal ek nog eendag vertel, maar niemand sal dit glo nie. Niemand glo mens ooit as jy vertel dat saamtrekke met Krismis op ‘n hartseer uitloop nie. En dan ‘n gelag. ‘n Gelag wat skoonmaak is.

Want wat is Kersfees sonder skoorsoekers en ‘n skoorsteen?

 

Dag 31 - Pie & Gravy, Ahum Ahum Ahum - Don 5 Des

 

Soos elke tyd in jou lewe ‘n eie klankbaan onthou, so het elke soort kos ook musieke wat daarmee saam in jou smaak-argiewe oorbly. Vir ewig.

Kinderdae met ontbyt, vinnig voor skool met jou bek nog wit van die tandepasta en een skoen nog soek, sluk jy vinnig vlokkies, Post Toasties, en oor die draadloos praat Daniël Kirstein grootmensgoete. En dan speel hulle Groep Twee. Die Padda Wou Gaan Opsit By Sy Nooi In Die Vlei – Ahum, Ahum, Ahum. En graanvlokkies word so parrakos.

 Hoërskooltyd was die oggendstem Cobus Robinson met Monitor, en terwyl jy met een hand Maltabella slurp en met die ander ‘n taak aframmel, sing Sonja Heroldt van die son en die maan en die wind. (Het jy ooi agtergekom dat Sonja en Yoko Ono presies dieselfde klienke-tie-klienk? Tjek bietjie.) Daarna eet jy nie weer maltabjella nie

 Smiddae, as ma gevoorskoot vetkoek bak en dit dadelik voorsit met botter, kaas en Lyle’s se gouestroop, luister jy Springbokradio: Geheim van Nantes. Geluksdal. Vrou Uit Die Vreemde. Toe al was dit altyd oor ‘n boer wat ‘n plaas kan verloor omdat die regering daarop ‘n dam wil bou, of ‘n pad. En ‘n astrante rooikopfeeks wat als befomfaai – die vlamstem van June Seymour. Die stroop syg in die vetkoek in en smelt saam met die botter teen jou ken af en drup in jou tee sodat dit bo-op dryf en in goue patrone kolk.

 By die braai was die klankbaan suiwer rugby. Ou Spiekeries, Gerhard Viviers. Ook oor die draadloos, buite op die plaveisel van leiklip, langs  die halwe braaidrom op kruiwawiele. Die vrouens geselsende besig om bone en dinge  te kerf in bakke op hul skote, verlief op Ds Dawie de Villiers, rugbykatein – die goue seun van die kerk en blonde afgod van die afgodediens – Ra-Ra-Rugby. Die mans braai luid oor ‘n blikkie Lion Lager : “Vat hom Dawie, vat hom laag... skoppie bal Tiny, laat die boere slaag...”

Sondae se klankbaan, met oondgebakte hoender en goue aartappels, beestong bedrup met kerrievrugtesous, smeltsagte skaapboud, sousbone, beetslaai en pampoenkoekies, had dikwels ook maar net draadloos as klankbaan – die Elizabeth Serenade. Mantovani. Ray Conniff.

Maar die klankbaan van Pie & Gravy, O dit was ‘n anner storie: Elvis en die Beatles – by die Loveday Café in Lovedaystraat, Johannesburg. In die sixties. Alles daar had die sondige opwinding van alles verbode: die jong latte met stove pipe jeans en Elvis-kuiwe, kam in die kous. Sexy tattoos. Bekke vol kougom sodat die adamsappels op en af sluk. Pakkie Lexington vas op gespierde bo-arms, onder die wit T-shirt se mou ingevou. Die giggelende meisies met geil maskara-ogies, lip gloss en rokke wat wyd uittol as hulle op plat skoentjies twist. Ja, ek was daar – my sussies was al drie al tieners.

O, die Pie & Gravy! Dit was heaven-away-from-home. By padkafees en die OK Bazaar se aansitrestaurant, selfs in hospitaalkantiens – die skilferkors pasteie met die dik sous en tjips, of cole slaw en aartappelslaai. Met Cliff Richard se Living Doll. My Boy Lollipop! Wie het dit nou weer gesing?

Pie & Gravy skep soveel nostalgie, vandag wil ek net stilte hê as ek dit iewers kan geniet, want in die ruim akoestiek van my herinnerige skuil ‘n jukebox en dit speel vanself die een treffer na die ander as ek, heel Pavloviaans, my paai met sous deurdrenk en opsmul. Maar, waar kry ‘n mens deesdae ‘n ordentlike pastei met sous? Het dit saam met die Mixed Grill uitgesterf? Saam met die yo-yo en lucky packets? Weg ja weg Pepsodent, Dippity-Do en seven singles?

Nee, o broeders en susters, voorwaar, ek sê vir julle, julle wat alle tyd en beproewing moes deurstaan, hier by die Daggaboer Padstal wag daar ordentlike Pie & Gravy. Varsgebak. Bring net jou jouself – die res is alles daar – en jou jukebox sal vanself jou eie memories speel. Love Me Do.

Die pasteie word op die plaas self gebak van regte vleise en vars alles. Hoender. Pepper Steak. Sausage Roll. Wildsvleis. Bobotie. Die deeg is skilferbros en goudgebak en met vleise volgeprop. Nie slierte niersenings en tjortse dermgoete nie. Nee. Vleis. Plaasvleis. Nie ‘n voorspel tot sooibrand nie. En as jy sooibrand kry, het jy klaar iets iets viesliks elders gesluk en die Rennies in jou sak is bewys.

 Net een ding ; moenie vir tjips vra nie, asseblief. Nie hier nie. Ook nie vir coleslaw of Amerikaanse goete nie. Nee. Hier kry jy ‘n ánder meer gepaste memory lane as bykos: bottels vol plaaskerriebone, regte vrugteblatjang en slaphakskeentjies. En natuurlik, die beker vol sous waarmee jyself jou paai kan paai. Nee, jy kry nie beter nie. En die slaphakskeentjies is nie die piekel-uie in ‘n ligte eiersous nie, dis ‘n suriger piekelding van skerwe ui wat die hompe vleis heerlik komplementeer.

Ja, ja daar is lekker vegetariese souttert ook, sou jy dit verkies. Plaasvars. Spinasie en Feta. Maar, dis koedoewêreld hierdie, skaap en bees, en van lensies lees ons net in die Bybel.

As iemand in jou gesin volksvreemde neigings toon en neus-optrek vir paai en ghrywie, beveel ek trots die roosterkoek met kerriemaalvleis aan. Dit word ook bedien met die bottels bone en blatjange en kry boonop ‘n bottel gerasperde cheddar by. Daar is geen manier wat jy by Steers, Wimpy, of Spur of beter waarde vir geld kry nie. Kan nie. En buitendien speel hulle daar net Boney M en Adèle wall-to-wall en dit los geen ruimte om jou eie klankbaan weer te proe nie – die musieke wat die lewe so mooi in jou agterkop vasgestrik het, sodat smake en geure laterjare weer die klanklinte liggies kan lostrek. Die linte wat ook na aan jou traankliere kan kielie. Ja, smaak- en traankliere is naby-familie.

Vandag weer, wil ek gaan aansit by my paai en die diepvleis: Ahum. Ahum. Ahum.

 

Blou Irisse en Rooi Sandale

 

Blou irisse, geel varkore en rooi dahlias blom voor in ons tuin en ek staan al hoër in my kerkskoene  as enige van die krone. Ons is pas terug van my eerste seevakansie en ek is bruingebak en opgedres in my nuwe klere. Vanmôre gaan ek saam met Ma busry na Johannesburg se middestad. My kuif is blink gebrilkriem. Op en af stap ek al voor die tuinhekkie en ek bly net op die paadjie sodat my skoene mooi blink kan bly.

 ‘n Roomyskar kom die straat af geklingel. ‘n Groot fiets met ‘n groot wit boks vol van Wall’s se sakkers en wit wenilla tussen wafels. Die stokkie-roomys met die grondboonbotter en sjokolade op die wenilla is die lekkerste. Die man klingel sy klokkie en en roep: “Ice cream! Three cents, five cents, ten cents! Ice creeeeeam!”

 “Haai boy!” Roep ek en hou waffers my bruin randnoot omhoog.

Die man gooi sy voet uit dat dit teen die teerpad skuur en briek die fiets tot stilstand.

“Wie’s jou booi?” spoeg hy. “Ek’s nie jou booi nie.”

“O,” sê ek. “Is jy dan ‘n girl?” vra ek dan kordaat.

Die man gluur my aan. Ek voel iets is verkeerd, maar weet nie wat nie.

“Hou jy die meeste van die ieris of die daalieja?”

Hy spoeg teen die teer. Ek huppel terug, weg, nader aan die voordeur.

 Ma kom uit. “Dankie, nie vandag nie” roep sy uit. Die man se lyf begin in lang hale maal om die fiets weer aan die gang te trap. Hy bly omkyk. Dan begin sy klokkie weer lui.

“Kom,” sê Ma. “Het jy jou sakdoek?”

“Ja, Ma. En my rand en my sakhorlosie.”

“Mooi so. En vandag is jy die man aan my sy, hoor jy? Geen rondhardlopery nie. Ook nie alles wil hê wat jou oë sien nie. Ek wil my nie voor vreemde mense vir jou skaam nie.”

“Ja, Mammie.”

 Ek is amper vyf en kan al tyd lees en my naam en foonnommer neerskryf want my Ousus Nina leer op Goudstad om ‘n juffrou te word en sy oefen al haar skoolstories op my. Alles.Van Bybelstories en optel en aftrek en Sus en Daan en Langoor en Koeloe tot by blomme se name en al die kleure in die reënboog. Die mooiste kleur is turkoois. Ma vat my hand. Met die handskoen aan voel haar hand snaaks, maar sy lyk baie mooi. Haar neus is gepoeier sodat dit nie blink nie. Blink neuse pas glad nie by vrouens nie en Nina sê ook so. My ander sussies is ook al ouer as tien maar hulle praat omtrent nooit met my nie. Ma het vandag tot lipstif aan. Dit lyk mooi by haar grys rok en mooi swart hoed. Sy lyk soos ‘n prentjie uit die Rooi Rose en ek stap netjies langs haar bushalte toe.

 “Loop mooi regop,” sê sy, maar ek het geen aanmoediging nodig nie. Ek het mos my nuwe pak klere aan. ‘n Groen kortbroek met diep sakke en ‘n netjiese geldsakkie wat met ‘n groen knoop toemaak. ‘n Wit kortmou hemp en ‘n netjiese strikdas met swart en groen strepies. Ek het dit self in Uniewinkels gekies.

 Van die boonste dek op die bus kan jy baie meer sien as onder. Ons ry verby die roomysman, deur Rooseveltpark en verby die groot begrafplaas, oor koppies en afdraendes, verby die kinderhospitaal, deur Braamfontein en tussen groot geboue in Lovedaystraat in. By die OK Bazaar eet ons paai en gravy met koolslaai en slaptjips. Ma drink tee, maar ek kies groen koeldrank omdat dit by my klere pas. Nina het my geleer dat kleure altyd mooi bymekaar moet lyk.

 “Hou stil jou voete, Jannie. En gaan borsel jou tande.”

Ma haal skielik ‘n tandeborsel uit haar handsak. In die middel van die dag?

“Daar is die deur na die ruskamer. Skrop jou tandjies mooi blink en oral skoon en was jou hande. Ek wag hier.” Sy knip haar boksie oop om haar neus te poeier en lipstif op te knap. Ek wil sien hoe sy dit doen.

“Toe, toe! Roer jou. Die dag wag nie!”

 Die ruskamer is baie groot en koud. Die vloer is in groot blokke en lyk soos ‘n groot dambord. Die wasbakke is so groot ek kan skaars die krane bykom. Die spieël is doer bo. ‘n Oom kom langs my by ‘n pisbak staan. Ek borsel my tande maar stop om te kyk. Hy haal sy meneer uit. Dit is so groot soos ‘n pelounie maar dikker. Hy pis een dik geel straal dat die skuim sommerso staan. Dan skud hy sy meneer op en af tot dit lyk of dit al groter word.

 “Oom,” sê ek. “Hoekom kom groen koeldrank geel onder uit as mens pie? Rooi koeldrank ook.”

 Ma roep by die deur. Die dag wag nie. Sy neem my aan my hand en buk af en sê: “Blaas jou asempie.” Ek blaas hard in haar gesig. Dis mooi vars en ma is tevrede.

 “Die oom pis skuim” vertel ek en ma klap my hard teen my skouer. Ons stap oor die besige straat. Daar is Chryslers en Zodiacs, Ramblers en Ford Fairlanes, Chevvies en Cortinas, Volksies en Studebakers. Te veel om te kan sê. In ‘n groot gebou ry ons met ‘n hysbak op. ‘n Omie met ‘n uniform aan sit op ‘n stoeltjie en bestuur die hysbak. Op elke vloer roep hy die vloer se nommer en wat daar is. Tandarts. My bene voel skielik seer en my asem is weg.

 “Ek wil niks hoor nie. Jy is nou mooi groot en daardie melktandjies moet uit sodat jy mooi groot byle kan kry. Jy sit stil. My kind, hoor jy my mooi? Ek wil my nie vir jou skaam nie.”

 Twaalf duisend jaar later is my bek baie dik en my voortande weg. Nou lyk ek soos ou Stompie oorkant die straat. Maar, ek het twee pêrels langs die randnoot in my geldsakkie en die tandemuis betaal baie daarvoor. Nina sê hy maak vir Koningin Elizabeth krale daarvan. My tande gaan reguit paleis toe en ek is baie tevrede.

 Terug by die OK ry ons met roltrappe op na die musiekafdeling. Toe ek die reuk van die plate kry, is die seer in my bene en in my bek sommer weg. Dit ruik ‘n bietjie soos ou boeke, maar lekkerder. Skoner. Ek weet nie wat nog so ruik nie. Dis soos skemer. Soos iets wat weggesteek word en net met spesiale tye uitgehaal word. Vandag mag ek my eie sewenshiengels kies. Twee. Die omie vra wat ek wil hê en knip-oog. Dis die oom wat skuim pis, maar ek is te opgewonde om nou daaraan te dink.

 “Y-dyza-wiek vannie Bierels eerste” sê ek.

Eight Days a Week van die Beatles” vertaal my ma.

“En Lemmintrie van Trienie Jou Pes.”

Lemon Tree van Trini Lopez,” vertaal mammie.

Dit kos twintig sent elk en ek kry baie kleingeld. “Ek wil ‘n lakkiedip ook koop, mammie! En ‘n metsboks.”

“Dis een van die dae Kersfees, dan kom ons weer. Dan kan jy ‘n Lucky Dip koop.”

 Van die rit huistoe onthou ek niks. Ek moes op ma se skoot geslaap het. Toe ons van die bus af huistoe stap, was my bene weer seer en ma se neus weer blink. Ma het ook moeilik geloop met die hoë hakskoene en gedreig om dit uit te trek. Ek het geweier en gesê dat ek my nie voor ander mense vir haar wil skaam nie. Dit het haar laat lag. Skielik roep sy uit: “Ag Liewe Jesus tog!”

In ons tuin lê al die irisse, varkore, dahlias, ranonkels, affodille....alle koppe afgeruk en oor die grasperk gestrooi. Ma trek haar skoene uit en hardloop nader.

 Ag Liewe Hiesistog!” lispel ek haasbek en hardloop agterna.

Later die middag speel my sussies korfbal by die skool, Nina kom eers teen aandete en ma lê met die gordyne toe en ‘n koue lappie op haar voorkop. Ek vat vir haar Snellerins en ‘n glasie water. Die hele huis staan vol sopborde met blomme wat daarin dryf. Ek trek skelmpies my blou baaibroekie en rooi strandsandale aan. Dis wat wat ek nou elke dag wil dra, Niks anders nie. By die agterdeur bekyk ek die drie koeldrankbottels wat daar staan. Twee is King Size. Fanta Grape en Coca Cola. Die ander een is Dad’s Root Beer. Ek dink ek kan genoeg hiervoor kry om nog ‘n sewensjienghel te koop. My Boy Lollipop of Cliff Richard se Ruby Ruby

Stilletjies sluip ek met die bottels by die tuinhekkie uit. Dis moeilik om al drie te dra sonder dat dit glip of raas. My heel eerste keer alleen by die hekkie uit om winkel toe te gaan.

Doer ver onder in die straat, om die hoek, is Oom Porra se winkel. Die straat is leeg behalwe vir ousies en honde. Net by die melkery langsaan verby, op die eerste straathoek waarop ek alleen voet sit, trek twee laaities skielik met fietse teen my op.

 “Waar gaan jy met daai borrels?”

“Winkel toe, hoekom?”

“Hoekom jouself. Hoekom het jy meisieskoene aan?”

Ek kyk af na my rooi sandale met die vissies op.

“Dis nie meisieskoene nie. Dis sandale.”

“Rooi is ‘n meisiekleur. Blou is vir seuns.”

DWAF kry ek ‘n hou deur die bek. Dit bloei.

“Hoekom het jy nie klere aan nie?”

“Ek het my kostjiem aan.”

DWAF nog ‘n klap. Die bottels val. Een bliksem op my toon neer en ek sny ‘n gil regdeur Bybelstories verby optel en aftrek, oor dooie blomkoppe en botteltjies Snellerins, deur grafplase en Lovedaystraat tot by Liewe Jesus en die Lammervanger. Die laaities gryp elkeen ‘n bottel en laat wiel. Die Fanta Grape se nek is af.

Ek kry nie asem nie. My bene pyn. My bek bloei tot op my bors. Ek begin hik. Hik. Hik.

 “Haai, booi!” hoor ek. Dis die roomysman met sy fokken klokkie.

“Ek is nie jou booi nie,” snik ek.

“Is jy dan ‘n girl?” lag hy.

 

Dag 32 – Die gezoem van die bye – Vrydag 6 Desember

 

Annerdag staan ek in die blinde kombuis en stoofbraai. Vleis. Die kombuis is donker met grasmatte dig voor die vensters en alles op slot. Dit was koel na die onlangse reën en ek wou vensters oopmaak, die vars buitelug inlaat, toe ‘n skielike gezoem om my posvat. Luid. Binne sekondes raas ‘n ongewone steurgedreun, en ek kyk op en sien die hele kombuis maal vol zoemende invallers, dit maal blitsig in ‘n dawerende kolk om my kop en teen die plafon en ek trek kop en skouers af. Bye.

Een van die eerste kere wat ek as kind by die dood omgedraai het, was op ‘n plaas toe ‘n korf bye my aanval.  Ek was byna doodgesteek. Hospitaalsake. Jarre daarna kon ek ‘n by van ver af ruik – ‘n soet, walglike steekreuk, maar ek gee nie nou kans vir die reuk om bó die geur van skroeivleis in te skerp nie en ek raap Marakkas op en vlug die kombuis uit. Maak deure toe.

Wat nou? Dis ‘n moerse gedreun daarbinne. Duisende van die goed.

Liria kom die lang gang af en ek vertel, ek beduie, ek waarsku, maar sy stap doodluiters die kombuis in, maak die deur toe en begin vensters daar binne oopmaak. Sy rammel grasgordyne weg. Ek staan in die gang en dink, wel, dis reëntyd en die bye soek nuwe nes. Hoe kon hulle inkom? Die skoorsteen! Sjit! Die skoorsteen van die es wat in onbruik is, en oopbek ‘n gatstaan, ‘n oop tonnel wat van buite af deur die skoorsteen gaap. Maar Liria is nou daarbinne. Sy is swanger. Ek roep haar, ek roep vir Bjella, en Bjella aan die annerkant van die nasionale gang is heel ongeërg, soos iemand wat nog nooit aangeval en gesteek was nie. Een wat die dag van die kort steke nie ken nie. Die gezoem binne die kombuis druis voort. Heel onmanlik voel ek. Kleinserig. Ek trap rond. Wil nie daar in nie. Maar ek kan nou nie slaphakskeentjie hier in die gang staan en weifel terwyl die stoofplaat op hoogrooi staan nie, ek wou die bredievleis eers bruinskroei voor ek verder groente wou bywerk en

ek stap dapper weer terug

om die plaat af te draai

al dink ek dat rook die bye sal wegwys

dapper stap ek dog kop-ondertebo in en kyk nie op na die malende kolk van gevare nie. Ek duck af en glip ligspoed. Draai die rooiplaat af. Net met die uitglip die deur uit en blitskyk terug: Jere, ek het nog nooit sulke swart bye gesien nie. Oral. Swart fokkers. Nog nooit sulkes gesien nie. Nie so baie nie.

Later kom ons agter, nee, dis nie bye nie, dis fokken vlieë. Brommers.

Wat?

Duisende van die fokken goed. So baie en so skielik? En ek sluk my skaamte soos verwarring af. Soos ongekotste kots. Ek wat tevore ‘n kadet was van die hiperbool, ek wat stories so dikwels aandik om dikvelliges te laat luister en lag, ek sal oor hierdie vreemde verskynsel nie geglo word nie. Nooit. Duisende bromers binne sekondes deur ‘n skoorsteen?

Met die pot skroeiende kos onder bedwang en die deure en vensters oop, het die brommergebrom  ewe vinnig verdwyn as hul trommende aankoms.

En ek staan soos vliegie die vlont. En Liria vaar voort, ongeskonde en onversteurd., die lang gang af na elders. En Bjella brei haar teemusse.

 

Politiek

 

Bjella begin skerper beheer en kontrole toepas op die biltongmakery, pasteie, koekies en nougat, porsies van als by die padstal. Ons moet fyner sny. Net die vleis vir biltong vir die week alleen beloop meer as R8000, en die mense kla reeds oor die prys van die boeregenot: R245 per kilo. Maar, as ‘n mens sien wat die vleis kos, die drama van bewerk en speserygooi, die proses van beleg en uithang, droogwerk, beskerming teen insekte, katte en mens, wel, dis ‘n moerse storie.

Geen karnivoor kan dit weerstaan om so terloops ‘n repie in die kies te pos nie. Ek ook nie. So, nuwe en strenger reëls word neergelê en Bjella skud haar hande omhoog: Sy loer kwaai oor haar bril. Ons staan soos stout standerdsessies in haar kantoor, Seuntjie en Thulaang, Noppie en Burnett (toe nie Benett nie!) en ekke. Ons kry raas. “No more wasting. Get that? No more wasting. I do not want you to waste anymore. Got that? Okay? The meat is too expensive. If we do not protect the essence of our income, we’ll all be withouit jobs. Got that? Okay? Okay?  I’m just saying it has to stop. Dis al wat ek sê. Die onnodige vermorsing. Ons moet almal ons inkomste beskerm. Dis al wat ek sê.” Dan skud sy haar hande om haar woorde te onderstreep.

Dis terwille van Thulaang wat Bjella Engels praat, maar raak sy op volle vaart, slaat sy oor na Afrikaans en ek kan in Thulaang se oë sien hy verstaan. Hy verstaan, al sê hy wát. Seuntjie het hoeka vertel hy wat Thulaang is, is al langer as 20 jaar in die land. En hy praat Xhosa vlot. Nou ja toe nou.

Later vang Thulaang my onverhoeds terwyl ek kosmaak. En hy trek los. Praat teen die spoed van lig en struikel oor sy woorde sodat ek skaars kan volg. Al sy catch-phrases word ook bygepeper – Anytime is tea time. Time is money. Do not fear innovation. En soos alle ex-pats knetter hy gedurige verwysings na die superioriteit van sy hartsland. Hoe als daar beter is. Die grond. Die groente en vrugte. Die weer. Die standaard van skole. Die opvoeding. Als daar is beter. En hoe meer hy praat, hoe meer kom ‘n mens agter waar die brandpunt van xenophobia kan vonk: Die astrante meerderwaardigheid, dis die ding wat mense afpis. Dis wat die swartes van die wittes haat, die aanmatigende superioriteit. Daardie neerhalende kykie in die oë, die wrang glimlaggie om die mondhoeke. Die aspriste houding van beterweterigheid en heerskappy. Dis die grondvonk van oorlog.

En kan kom dit: sy verwysings na die mense op die plaas, duidelik benede sy stand. Hy gooi sy groot Engelse woorde om sy opvoeding en klas as onderwyser te demonstreer. Hy sout sy taal met aanhalings, suiker sy woorde met slim sinspelinge. En dan kom die kern van sy onrus: Seuntjie het oorpak gekry en nuwe boetse. Waar is sy boetse? Huh? Waar? Hoekom moes hy vir ‘n oorpak vrá en Seuntjie krý net een? Huh? Ja, hy werk nie aldag in die veld nie, dis waar, maar weet ek hoe stink daardie skaapvelle waarvan hy pantoffels moet maak? Weet ek? Het ek al geruik? Huh? Die vieslike stof wat sy longe aantas sodat hy snags hoes. Hoe sy vrou elke dag sy enkele oorpak moet was. Hoe dit hom grief. Hoe hy dikwels moet saam, óp na die fonteine toe, die wildernis in. Het hy nie daarvoor ook beskerming om sy enkels nodig nie? Huh?

Hoeveel keer moet hy nie slange in die tuin aanvat nie. Huh?

Thulaang begin voor my dans en sy oë flits van minagting, teen alles en almal. Sy lippe krul weg en sy tande blits wit. Hy leun vorentoe en sy kop dans soos dié van ‘n koperkapel. As jy dit nie ken nie, hierdie swart vlam wat Afrika is, dit wat sissend kan vlamvat en afbrand, alles wil verdelg, dan was jy nog nooit hier nie. Hy vaar uit teen die mense wat hom makwara-kwara noem. Bitsig van ontsteltenis.

En dan kom die punchline wat my vroeg al aan wyn laat dink: “I am a Christian,” verklaar hy, hy wat sy vrou deur ‘n toorkoter wil laat besny: “I am a Christian. And I will not do it, but if I can not get shoes to protect myself against the snakes. They will come into the house. The snakes will come into the house. They will come to the madam.”

Dit was die plofblom van sy stortvloed, die gif van sy woede, die klaar van sy verklaring.

Dan glimlag hy skielik breed en verkas. Ek wandel somnambuul na die bokswyn, vyf-uur die middag al.

Ek kan Bjella nog nie van die konfrontasie vertel nie. Ek maak bredie van ‘n gedeelte van die biltong se losvleisies wat in die senings oorbly. Dit waarmee die manne hulself so geredelik help. Uit minder as ‘n kwart daarvan sny ek twee kilo’s suiwer prima vleis en blok dit vir bredie. Teen die tyd wat ek opdien is my gedagtes suiwer Sauvignon en ek wil Bjella nie met Thulaang se tirade ontstel nie, maar sy is sekerlik al gewoond daaraan en sal dit straks aflag.

Maar dit knaag aan my. Die dunverskuilde dreigement van slange wat die huis sal inkom. Ek dink hy kan sy tong afbyt.

Later die aand hoor ek. Voordat dit die nuus tref, blits joernalisvriende dit al deur die selnetwerke: Nelson Mandela is dood.

 

Pyn

 

Koebaai Oubaas. Dankie. Wel te ruste.

Vandag, ‘n dag wat ek my eie geskiedenis mag meet aan joune, Nelson Mandela, kan ek weer soek na hoe ek moes groei – van gedagtes aan jou as terroris, tot by die geneesheer wat jy is. Daarom mag ek vandag ver oor die hartslyne inkleur:

Dis pyn wat ‘n kind laat begin dínk: dieper as liefde, verby gemak en plesier, anderkant speel en ontvlugting, wyer as skoolwerk en eenkanter as verworpeling wees.

Dis seer wat ‘n jong man verder laat soek as paartyd, as partytjie, as die gewone, die alledaagse, die voordiehandliggende.

Dis onreg wat ‘n grootmens dieper as sy eie derms laat delf – op soek na begrip. Na salf. Op soek na genade – vir almal, nie net homself nie.

Dis ondraaglike hartseer wat ‘n mens laat wonder wat respek is, en hoe jy daarvan selfrespek maak. Want sonder selfrespek, sal jy ook vir geen ander mens genade hê nie. Dis wat diewe is. En parasiete. Mense wat hulself haat en vrees en ander moet seermaak.

Maar pyn is net so nodig soos liefde, sonder beide is als dood. Dis pyn wat Jesus laat weet het wat vergifnis is. Dis pyn wat jou, onse  Madiba, ook laat verstaan het hoe om van insig vergifnis te maak.

Party mense maak van pyn woede, verwerk dit tot wraak. Ander verbloem dit met skoonheid en status, verdoof dit met drank en apteeksalf. Sommiges verwerk pyn tot weerwraak wat diefstal word, verkragting, gierigheid, mag en straf. Party bestry hul pyn en vrees van minderwaardigwees deur hulself konstant oor te gee an die kortstondige ekstase van seks. Meeste sal pyn ontken en wegwerk met leë praatjies, ure verwyl voor die TV, verswelg raak deur roetine en sleurgang.

Bitter min maak van bitter pyn ‘n bron van nuwe lewe. Hoop. Vernuwing. Insig. Aanvaarding. Geluk. Liefde. Bitter min ken daardie eenvoudige dinge.

Dankie Oubaas. Ek weet ook, dis makliker om onder die mag van ‘n tiran te ly as om ‘n vrydenkende en vernuwende gees te wees. Dis moeilik. Dankie. Ek het nog 'n baie lang pad om te stap, maar jou voorbeeld maak dit ligter.

Jy het my ook weer gewys: Die prys van lyding, van struggle, is bloot pyn. Die kompos bly hoop, die blom is wyer insig, die vrug mooier uitsig, dieper begrip, deegliker aanvaarding. Mense wat opgepiep en sonder pyn lewe, is vlak en dikwels simpeldronk van onkunde.

Tata Oom, die mooiste stories bly vertellinge van seerkry, hartseerverhale geskrywe met trane, die ink van die gruwelikste humor en grootste slapstick, is pyn.

In my vriende en geliefdes tel ek geen etikette nie,  geen statussimbole nie, nog minder medaljes, bokkerol sertifikate of grade, grond het geen ewige waarde nie, geld en goud nog minder – dis die letsels wat in hul oë óm die pupil kom sterspeke maak, en liefde word, en uitkyk en inkyk met deernis meer as trots, dis dáár waar ek in stilte graag kuier. Of met die fyngespot om ‘n glas wyn – die spot wat kom van weet van seer. En hoe om dit gemoedelik te hanteer.

Gaan nou en kom tot rus. Dis mense wat groot pyn oorkom het, wat met min woorde meer vertel as boekdele vol preke.

Ek weet ook: Na hardeklippe kou, smaak ‘n koekie op sy lekkerste.

Dankie Oubaas Nelson. Daar's nog bitter baie werk aan myself. En maak nie saak wat die diewe en parasiete als met jou naam gaan aanvang nie, ons is nes jy ook al daaraan gewoond.

Rus jy nou. 

Lala Kahle.

 *****

ondergronds het ’n rif geskuif

die aarde struikel

verward swik die son

 

toe sy asem hom verlaat het in die nag

het die sterre geduisel

want alles is verstrengel

wurgend aan sy dood

sy dood en die dood alleen

 

ineens is alles droef

asof ons in ’n groot skadu staan

asof glas deur ons breek

asof klip in ons splinter

asof ons gedagtes in fluisterende wanhopige groepe rondvlug

soos assegaaie in die grond bly vassteek

 

trillend

 

in Qunu weier die beeste vanoggend om uit die kraal te gaan

by Lusikisiki lê die visse na aan die oppervlakte

in Mvezo maak die korhane geen geluid nie

 

die gedagte aan Mandela laat ons binnekante knak

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

ons kan selfs nie die mond oopmaak nie

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

om te begin praat oor sy dood om te praat oor sy dade

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

oor sy bloed wat pyl soos ’n luiperd na geregtigheid

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

om te vertel van sy werke, sy sagte ongelooflike krag

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

die lieflike nate van sy blommende vergewende kopbeen

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

die stormram van sy tong

wat toekomste tot ’n verbonde kern wring

 

ons kan nie reg laat geskied aan Ons Grote

(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)

ons wil dit nie sien nie

 

in die voetpaaie, op die sypaadjies, in busse langs die paaie

bondel ons swyend bymekaar, ons die gewones

ons sprinkel ons trane oor hom

ons besprinkel die erflating

van die Vreeslose Kryger wat ons eenmaal regeer het

ons besprinkel die lyk wat gewas moet word

ons besprinkel die geopende bloed van Mandela

ons gewones was hom nie met water nie maar met liedere

 

met droefheid neem ons sy liggaam

ons was dit, ons bad dit

met hande wat hom liefhet, raak ons aan sy dade

ons gee hom aan, van hand tot hand

hoog bokant ons koppe

die man wat ons van onsself gered het

 

o singende bloed van die seun van uNosekeni

o palms van Mvezo vol sterre en reën aan die oewers

o arms van Qunu wat ’n land se diepste wonde omhels

 

die Groot Aanmekaarbinder

niemand se strottehoof kan Mandela se lied end-uit sing nie

niemand ontglans ooit ons Groot Saambinder vir ons nie

niemand oortref hom in morele gesag nie

geen leier is nog ooit só deur sy mense lief gehad nie

hy wat ons beste gesig was

hy wat ons aan onsself teruggegee het

 

die beliggaming van die wêreld se smagting

na iemand wat omgee

wie se dade onbeskaamd goedheid wou bring

 

geliefde Mandela, bring seën op ons, jou kinders

laat jou lewe sy vingerafdruk op ons almal laat

dit sal lank duur voordat ons ooit weer ’n mens so edel

iemand so genesend en koppig mooi

so taai van inbors so streng insluitend van beginsel

so elegant en oorrompelend van hart in ons sterflike arms kan hou

– Antjie Krog

 

 *****

 

Hoofstuk Twee: Tussen Verlief en Verlies

 

How many roads must a man go down, before a man becomes a man

 

Geliefdes, vergun my die weelde om u vir ‘n wyle op ‘n dwaalspoor te lei, voorlopig weg van Daggaboer, sodat ek die politieke hier eers dieper kan peil, sodat ek na die spoke kan luister wat hier dwaal, sodat ek met die nodige ontsag eers hul verhale kan opdelwe. Kom gooi saam met my 'n Kaapse draai vanaf Springbok oor die Oos-Kaap oor en verby totdat die Krismiskarre en “die man wat ons van onsself gered het” eers tot ruste kan kom:

 

 Springbok

 

Wou nog altyd ‘n T-shirt laat druk met my geloof voor-op: Ek moet dubbel so hard werk…

en agter-op:…aan my dubbel standaarde.

Wou dit aan almal verkoop. Sommer goedkoop ook. Skatryk word, maar, dit sou nie werk nie. Klere praat mos een ding, maar harte sing ‘n ander.

Behalwe op Verloof. En dis toe waarheen mens uiteindelik sou trek.

The day Mandela died.

Tussen die wolke van Daggaboer en Laasverloor, daar iewers lê Verlief en Verlies, romantiese klein wegkruipplekkies, en tussen hierdie dorpies bloei Verloof.  Ons oase in die kontrei, ook bekend as  Denial. Maar ons ontken dit.

Tussen Dinges-Oos en Despatch-Wes, lê Verlief-Suid En Verlies-Noord. Dis nou alles wat ‘n mens nog nie op ‘n padkaart kry nie, want soos als wat werklik saak maak, bly als hier geheim. En als wat eers was, is steeds gebreek in twee. Of meer.

Oor die name en van die hartseer sal mens later vertel, want waar onse mense saamtrek, was mos maar altyd ‘n afstig van gemeentes, broedertwis en bloedverlies. En kyk, redes waarom soveel mense deesdae in en om Denial kom woon, op Verloof, is vele sonder gal. Behalwe nou dat jy als wat jy nié op die lappe wil hê nie, daar bloot kan ontken. Ruiterlik. Dis hoekom so baie hierheen trek. Almal wat moeg is van dubbel standaarde. Ons Nkandla. Ja, soos ons belaglike president – presies die antitese van Mandela ‘n Clown, ‘n vraat, ‘n aap met goue ringe – doen ons hier net wat ons wil. Ons ontken dit net.

Almal wat weer verloof wil raak maar weet hoekom, kom hierheen. Maar ons vertel niks.

Denial is almal in die kontrei se motto. Van Verlief én Verloof, oor Verlies en die hele vallei Duiwelsvallei deur:  Denial. Ons sing dit op ons parades: Ons Ontken Als! In die res van Suid-Afrika is dit ‘n ander storie.

Dáár, as jy eers een keer lieg, moet jy áltyd lieg, so mens moet liefs nie begin nie. Vandat ek in Denial is, doen ek wat ek nooit elders kon regkry nie en praat ek altyd net die heilige waarheid. Só maak ek stukkende ou dinge reg. Tevore was ek ‘n geesteswrak. My kop het geraas, my sleutels altyd soek, wyn my beste maat, pille my apostels. My aand en oggend praatjies het ook nooit gerym nie. En só het my pad begin, oor Dagaboer, en toe van Verlies na Verlief na Verloof.

Vele redes was daar voor. Net aan die geldkant alleen, moes ‘n mens met enige saketransaksie in Suider Afrika jouself pantser deur 'n prokureur, dominee, tolk, dokter, apteker, masseur, videocam en tea-lady saam te neem. Doodsaaklik. En dit was net vir die gewone locals. Met Europeërs, akteurs, sangers, musikante, loodgieters en bouers moes jy ook 'n psychic, bodyguard en psalmboek saamneem. Samesprekings met lede van die ANC, of enige munisipale amptenaar, verg boonop 'n sangoma of twee, ‘n permit om vanweë mediese redes dagga te besit asook Nkandlas vol kontant in jou gatsak. Afkoopgeld.

Voordat ek sak en pak van die groot stad weg is, was ek ‘n apteek in twee sokkies – dikwels van verskillende kleure, dilwels elk op sy eie koers. Soggens was my gesig ‘n stram lewerbegrafnis, maar saans weer laggende dansparty. Bure het vir my gebid en familie al ophou vergewe. Smiddae was ek ‘n vrome virgin wat sweer nooit weer nie, snags weer vampier. Kyk, geen man wil dit graag erken nie, maar ek was kwaai onseker en kon nie my vastigheid kry nie. My spoor het tussen ander verlore geraak, elke stopstraat was ‘n kruispad, my kompasnaald was ‘n windskermveër heen en weer en heen en weer. Almal mal gemaak. Later wou ek nie meer hare sny nie, en toe ook nie meer kam nie.

Dit het só geraak dat ek as ek by myselwers dwaal en loop dink, mense op straat vir my ou klere bring. Ook daaroor het die oumanne hul bekke vol gehad, want alles wat my getref het, was volgens hulle omdat ek te fyn was vir ‘n man, te slim vir ‘n jop, en te lui om verder te gaan leer. En die vrouens bring ou klere omdat hulle wil sien hoe ek uittrek. Dan lag die manne oopbek soos hiënas by ‘n karkas. Mens kan maar sê ek was die wandelende weergawe van daardie ou liedjie: How many roads must a man go down, before a man becomes a man

Toe, ná die Chinese Take-Aways, kom kry ek my groot gedagte, na so lang geworstel met die ou lewe en haar teefstrydighede. Wel eintlik het die ‘groot’ gedagte  mý kom kry, maar eers moet ek darem verduidelik hoe ek kaalgat in die stofpad beland het, want dis waar die storie sy eerste regte gatklap kry:

X se nuwe selfoon kon omtrent alles doen. Meer as foto’s neem, optel en aftrek, dae beplan en dreigemente illustreer, kon dit ook radio speel, TV wys, internet oproep en sterrewiggelaar wees. Boonop kon dit spoorsny, ou vriende vind, rolprente redigeer en resepte demonstreer, omtrent alles behalwe eiers lê en mandjies vleg. Maar, om ’n eenvoudige oproepie te maak, moes ’n mens omtrent ’n kursus voltooi deur UNISA én NASA én Die Internasionale Beradingsraad vir Geestelik Beproefdes.

Ek sweer ek wou net my neef Dirk bel om te hoor van “’n nuwe ou dif vir ’n nuwe ou donkiekar”. Dit was ons kodewoorde. “’n Nuwe ou dif vir ’n nuwe ou donkiekar”.

As ek van beter geweet het, sou ek alles anders hanteer het. Maar dis eers later in die lewe dat ’n mens leer dat entoesiasme ’n mooi woord is vir stom-onnoselheid. Die soort stom-onnosele entoesiasme wat mense laat trou, restaurante laat oopmaak of laat dink dis ’n goeie idee om vir aftrede te begin hoer. Ek bedoel boer. Ek sweer voor Buddha, Sjiva, Jahwe en Die Ruiter in Swart, ek het nie van beter geweet nie.

Tot my verdediging moet ek vandag bysê dat ek nog nooit ’n man vir fieterjasies was nie. In ’n restaurant soek ek ’n bord kos, nie ’n ding wat lyk soos ’n kerkhoed met anorexia nie. Ek soek ’n tandeborsel, nie ’n ding met ’n ratkas en briekligte nie. Gee my ’n langbroek met ’n toeknoop-geldskakkie vir R99 en hou jou ontwerpersding met die etikette en die offerandeprys. Maar, van watter kant ek ook al my waarheid probeer vertel, bly dit ander mense se liefde vir fieterjasies wat die groot moeilikheid bly maak. X s’n.

X se nuwe viertrek was nóg “beter” as sy nuwe selfoon. Kon alles doen. Kyk, hy’t mos sy miljoene gemaak deur te help om ou myne aan nuwe Sjinese te verhandel. Sy vrou het help aanvoerwerk doen want Charmaine was mos ’n lugwaardin in die ou dae. Alles onder die tafel. Hulle was ons gewone ouens altyd ’n paar jaar voor – toe die nuwe Suid- Afrika kom, had hulle lankal al Xhosa-name vir hul besighede en kinders. Maar nou, in hierdie nuutste van nuwe dae, is Charmaine herdoop na Chow Mein. Maar wag, ek dwaal af. Eers X se nuwe viertrek.

X se nuwe viertrek kon alles doen. Bergklim en swem, kortpad uitsnuffel, weer voorspel, seewater suiwer, sinkplaatpaaie lees soos Braille. Maar, dit kon veral klandestien ondergrondse edelmetale myle diep opspoor en die bevindinge perfek in kleurgrafieke op papier uitdruk terwyl die sitplekke jou boude masseer tot op plekke waar niemand anders meer bykom nie. Dit als terwyl dit moewies wys, koffie maal, boodskappe pos, video’s neem, vingerafdrukke uitken, Scrabble speel, kinders hipnotiseer en insittendes se ware geloof en politiek bepaal.

Ek sweer ek het dit nie besef nie. En my kodewoorde was ten alle tye korrek en ek was altyd nugter, al het dit nie so gelyk nie. So, ek vat niks van X se aantygings wat hy en Chow Mein nou teen teen my stir-fry nie.

Na X die laaste twee jaar in Sjina was, is niks meer dieselfde nie. Hy braai nou saam met parlementslede. Sy dogter, Tai Chi, is die enigste sekretaresse in ons land wat Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe, Manderyn, Sjinees en Kook en Geniet as matriekvakke gehad en alles ge-cum het. Wat nou nog die ergste aan my eet, is dat sy ma, Ouma Evangelie, deesdae bekend as Feng Shui, byna geen woord Afrikaans meer praat nie. Elk geval, hulle was almal saam in die viertrek daardie naweek, vasgegordel om te gaan myne soek. Dit saam met twee grootkop Sjinese met kodename White Rabbit en Bow Tie. Ek was al een wat nie ’n kodenaam gehad het nie en miskien is dit wat nou so teen my tel.

Okay. Ons is almal Springbok toe, met die kus langs, en deur ’n noedelspul van grondpaaie, met hulle wat almal agteruit-praat en tjwaaa-nwhaaa terwyl hulle die kompasnaald wat koper uitwys dophou. Tjwaaa-whaaang! Alles het goed gegaan tot op ’n punt. Nou, ek weet nie of jy al ooit op Springbok was nie, maar tot so goed as laasweek was daar geen Sjinese invloed nie. Niks. Nie eens ’n R5- of Happy Shop nie. Tot laasweek toe nog, as jy iemand op straat in Springbok sou vra waar jy Chop Suey kon kry, sou jy een-honderd-persent-sekerlik net daar gebliksem word.

Elk geval, so het dit dan gekom dat ek en die helfte van fokken Sjina twee weke gelede via Soebatsfontein Springbok toe is. Om te gaan jag vir koper. Om geheime inligting te bekom moes ons maak of ons heuning aan winkels aflewer of doodgewoon net diamante smokkel. Als sodat niemand onraad vermoed nie. Dis al wat die 4 X 4 nie kon doen[1]  nie.

En, ek weet nie of jy weet nie, maar om in hierdie wêreld met klippies te klingel is makliker as om ’n bakkie vol skape te volg. Almal sien jou. En jy word gebliksem as jy langer as wat nodig is na enigiets of enigiemand kyk. Die Springbokkers praat kammastag so staarag omdat hulle só tyd wen om jou goed deur te kyk. Beter as enige viertrek vol blikbreine. Terwyl hulle so lekker gesels, staan hulle oge mos doodstil in joune. Soos iets wat myn. Diep.

Elk geval, ek het mos vir Dirk lank vooraf gebel vir “’n nuwe ou dif vir ’n nuwe ou donkiekar”. Dit was my kodewoorde en al plig op die trip, want ek kan ook mos aksente opsit en daarvoor is ek die Hervormde Kerk tot vandag toe dankbaar want dit het my lewe al baie gered.

Die plan was só: ’n gesiene sakeman uit die hogere kringe van die ANC sou ons in die geheim laatnag op Springbok naby die lughawe ontmoet. Ons sou eers in die Wimpy gaan sit, maar dit maak al tienuur toe en buitendien is die kelnerinne daar te skerp om enigiets ongewoons te mis. In ruil vir inligting oor koper-neerslae, sou die ANC-sakeman en die Sjinese vir Tai Chi en Chow Mein gratis en verniet elkeen in afslagwinkel VOL smousware vir twee jaar op Springbok gee. Net om hulle op die voete te help. Solank hulle net geen woord daaroor rep nie. Niks. Aan niemand. Nie eens aan Jesus nie. Hieroor moes ons langs die pad tussen Soebatsfontein en Hoesenaams stop om plegtig ’n ritueel van belofte af te lê. Ouma Evangelie, oftewel Feng Shui, is ’n lywige vrou en dit sou na my mening moeilik wees om só ’n poeselige dame die veld in tot op ’n hoë klipkop in die volmaan te lok.

Ek sweer voor Buddha, Sjiva, Haile Selassie en Die Ruiter in Swart, ek het nie van beter geweet nie.

Ouma het gretig ingewillig, want sy was sonder my medewete vir weke reeds onder die Sjinese Invloed. Betowerd was sy deur die aanhoudende aandagte van klein Chua Lin Chan. Ook bekend as White Rabbit. Vroeër jare sou Evangelie so ’n mannetjie nooit raaksien nie, aangesien sy gebou was vir ’n man met ’n diep tril in sy stem en ’n dieptril in sy stoot, maar klein Chua Lin Chan was ’n aanhouer wat wen. Soos ’n hasie gelaai met Eveready Xtra batterye. Op alle gebiede.

Ja, natuurlik was sy aanvanklik onthuts deur die orige klein platneusie se katoolse aandaggies en sy het hom ’n paar keer ’n snotklap gegee. Maar, hy wou net myn. Diep. Toe hy haar uiteindelik bydam, was dit glo ’n openbaring. Het haar glo eers van broek tot kant deurvoel en deursnuffel, ’n lastige gekielie wat sy eers wou platklap, maar toe val hy vas in ’n ritme soos ’n bewend-vibrerende bytjie wat ’n seekoei wil doodsteek. Dit in ’n vaste ritme wat opbou tot amper breekwal en dan verwissel om met ’n slinkse versnelling die losgelonte vuurwerke van ’n ander ronding los te pols. Weifel weifel hy nie, hy speel eers vlak dan diep dan skurf, dan nat, dan met ekstatiese harde musiekstampe wat elke stukkie lekker, elke kielie, elke ongehuilde ou depressie, elke klein plekkie wat nog lewe tussen verlief en verlies, álles, losvonk tot ’n vuurvertoning wat die kosmos oopruk tot ’n silwer kreet … een wat weer liggies deur elke sel terugvonkel en sliwerskoon wegsmelt tot ’n ewige liefde. Na die eerste nag, so word ek nou vertel, het sy op haar boud die Sjinese simbool vir “krisis” laat tattoeer. “It also means opportunity. And challenge. And new horizons”, sou ek vandag te wete kom.

Wel, hoe ek weggekom het van die orgie op die klipkoppie, weet ek nie. Ek dink dit was ’n mengsel van adrenalien en iets nats in my spoor, maar twee weke later was ek hier waar ek nou is, en was daar reeds ’n eerste Sjinese restaurant op Springbok – met die allersappigste Sweet & Sour Pork. Halfprys.

Ouma Evangelie is nog steeds skoonveld. Haar dik dogter, Chow Mein, is glo iewers in aanhouding en X werk ondergronds as ’n soort karweier wat klandestien heroïen aan ryk kindertjies voorsien. Glo als deel van die Sjinese se stille insypeling. Hulle stroom in sonder paspoort, sonder Engels, sonder spoor, sonder tal. Ons het mos gedink die swartes is die groot gevaar, en die swartes het geglo die Kommuniste help hulle, maar al die tyd het die tjonkies álles vér vooruit beplan. Poets mos gedagtes so skoon soos edelmetale.

Snaaksste is, niémand het hulle sien aankom nie. Toe ons weer sien, was als hier Sjinees. En Dirk het een oggend, uit die bloute, ’n nuwe dif vir ’n ou donkiekar ontvang. Van die ANC. Dis wat hy my net nou net ge-gmail het. Saam met ’n vreemde koerantstorie oor ’n flenter tattoe op ’n stukkie Sweet & Sour-vark in ’n take-away, Kerkstraat, Springbok.

 

*****

 

Die Drie Onwyse Manne

 

Dit het my drie dae en vier nagte gevat om weer by te kom. In ‘n gastehuis op Springbok.

En dis toe juis op Springbok wat ek my eerste groot gedagte kry, maar dit was ook nou nie alles aan my eie inisiatiewe toe te skrywe nie. Want daar sit ek toe in die Wimpy en moet besluit oor ‘n brekfis special met koffie, óf ‘n bier, en die besluiteloosheid oorval my weer so erg dat my kop heen en weer wieg soos ‘n popkoei agter in die venster van oupa se kar, toe ‘n kêrel skielik ‘n koevert voor my neerplaas. Ek dag eers dis iemand wat weer uit jammerte vir my bier wil betaal, maar toe sien ek, nee, hierdie outie is vuil. Vuil naels, vuilbaard. Jonk. Sy oge skitter en sy lag is so vol vonkels soos ‘n disco-bal met nuwejaar, en dit alles voel vir my dadelik heeltemal uit plek uit. En op egte Duits seg hy: “ Ek dink dit behoort aan u.” Toe stap hy wuiwend by die deur uit, ene witte tande in die slorbaard.

Buite staan toe nog twee man, en ‘n brak, by drie fietse. Die een ou is swart en sy hare hang láng slierte, ‘n wolmus maak bondelnes bo-op sy kop. Herre, in hierdie hitte? Rasta se kind. Die ander jongetjie lyk soos ‘n model uit ‘n tydskrif – ‘n gesig wat selfs rugby-refs sal laat dig. Die Jack Russell sit kierts in‘n mandjie voor tussen die handvatsels. Dié snuiwe al stertswaai die pad die dorp uit. Oortjies soos antennas.

WTF? dag ek. Sê nou dis ‘n tjek? Een van daai wat ryk mense wat mal word en terug na die natuur wil keer uitskryf en aan iemand gee wat behoeftig dog belowend lyk? Nee, laaste keer wat ek iets verniet gekry het, was soap-on-a-rope en dit was in 1983 toe my vrou nog gedink het ek het potensiaal. Nou vertel sy vir almal van my impotensiaal en dan vra almal hoekom ek so baie drink. Ek kyk net na die koevert. Kan sweer dit het beweeg.

 Die drie manne groet buite en wuif deur die venster stoot die fietse weg en verdwyn in die rigting van die hoofstraat. Ek wou skielik agterna, maar die koevert voor my is soos ‘n slang, dit goël, en langs dit verskyn boonop ‘n bier want die bestuur ken my nou al. ‘n Lang sluk yskoue skuimbruis spoel die nag in my keelgat af, en ek maak die koevert met begrafnisvingers oop. Die woorde staan handgeskrewe, netjies, soos iemand wat nog skoonskrif op skool moes deurkom, soos iemand wat ‘n goeie opvoeding in letters kan laat krul en draai sonder om té swierig te raak, en dit praat:

Woestynvader bring brandende offerandes saans

– dis die vuur in sy oë, die vonke wat spat as sy dans

Soggens maak hy die kleur van melk aan blindes oop

Smiddae swem hy kaalgat diep in die onderwuste van sy klipperwoestyn…

WTF? Is dit nou uit ‘n bloemlesing of wat?

Stryders háát hom –  die manne met die pakke, dasse en karre – en hy lag

Want hy meet hul afsku, hul minagting en na-ywer as diepverborge lof

Skaamte en Skande is sy wagters en hou sluipers weg, soms as hy slaap.

Rykdom meet hy aan vyande wat veraf oor hom fluister, verskrik deur sy Vryheid…

Agneefok. Ek kyk op. Soek die manne deur die venster. Wil opstaan en agterna, maar ek sien hulle laat wiel reeds doer in die hoofpad teen die bult op die pad dorp-uit. Kyk rond rondom my. Niemand het ‘n saak met my nie, net die kelnerin hou my oog. Nog ‘n sluk bier sal dalk die sand uit my oë was. Ek lees:

Ewige honger maak van bossies maroggo ‘n fees

Swaarmoed of angs, eensaamheid of katastrofe

Was Ou Woestynbaard weg met wonderskone orgasmes

Skemer teen die miernes trek hy draad en skiet sy vloed

Sodat miergespierde soldate hul koningin met man-na kan voed…

Nee, o moer dis Candid Camera. Dis Leon Schuster. Dis ‘n grap. Ek kyk oral teen die plafon, in elke hoek, soek kameras, en die kelnerin dink my oë wat soos ruitveërs maak, is ‘n cue vir nog ‘n bier. Ek kýk, priem elke gesig vir ‘n laggie verraad. Niks. Almal sit met laptops of spyskaarte, met gesigte vol verledes of trae vooruitsigte vir die dag. Ek maak dan of ek lees en kyk dan skielik weer op: Niks. Fok my.

Stilte smelt hom met hemel en aarde een

Sy oë is arende, swewende, sy tong ‘n gevaarlike slang

En tot sy wye ekstase is almal behalwe diere vir hom bang…

Ek wil opstaan en loop en die broedselwoorde net daar los. Fokol met my te doen.Maar ek sit asof ek gepik is:

 

Allereenvoud bly wildebaard se enigste moeilikheid en sy moeite ken geen moeite nie

Onvermoeid lui hy lugklokke waarvolgens voëls en winde rigting vat

Hy praat die suiwer taal van vetplante wat reën kan voorspel

Soms kom kunstenaars om wysheid te skep en stap weer weg

Met emmers vol stilte, tasse vol sand, met nuutgebore storms nog wolke in hul oë…

Wat ook al, dis nie vir my bedoel nie? Huh? Kyk, ek het ‘n flippen B in matriek vir Afrikaans én kan Bitterbessie Dagbreek én Winternag nog steeds opsê, en dit na drie biere, maar hierdie? Ek bekyk die papier van alkant. Dis vuilerig. Ruik na rook. Was dalk in die Rasta se sak. Die handskrif is té netjies vir ‘n man. Dalk die mooie model s’n? Vir wat de moer sal ‘n vuil model op Springbok vir my ‘n fokken gedig bring? Ek soek kameras, ek kyk. Niks. Hier kom nog ‘n bier. Ek stry nie:

Waar ander met gebed hartswigtig raak en gebuk staan onder groot woorde

Raak hy lig, eenvoudig skoon simpel, en trippel giggelend agter vlinders aan

Sy blydskap in die mag van die kosmos is ‘n mier wat oor sy spiermaag kielie

Alles is syne. Maar hy is niks, alles is verniet, maar niks ooit tevergeefs nie…

Ek besluit om almal met hul vreemde speletjie te flous en net reguit voor my uit te staar. Tyd te laat smelt. Skelm loer ek rond, soos ‘n gesinsman met vrou en kinders wat periferaal na skooldogters loer. Oge soos pendules agter die oogvelle. Ag nee, niemand kyk eers na my nie. Hier kom my volgende bier en ook net betyds, want ek wou nou opstaan en  loop. Die stuk papier opfrommel en fokkof. Maar nou hou die vierde bier my hier:

Die hele son snuit hy met net een hand uit

Al sewe oseane van sy hart spoel hy skoon met een sluk aalwynsap

Sewe dae lank stap hy na sy uur van Sondagmusiek van winde en blare en voëls

Lag op pad met hiënas, blaffend laf by jakkalse, ‘n volstruis-eier ‘n baba in sy arms…

Ag nee. Assefokkenblief. Dit was nou alles baie oulik maar dis simpel en dis nou speeltyd verby. Ek roep die kelnerin. Nee, sy het die manne met die fietse nog nooit gesien nie. “En hulle stink, meneer! Van daai soort wat agter die bult sit en rook en daarvan klipkonfyt kook! Vieslike goed! Praat ‘n taal wat g’n mens verstanie!”

Ek verstaan ook nie:

Wyl ander in smarte en sonde wag vir hul Verlosser

Dans hy en sy Kroon sawens loslyf rond om lawwe vlamme

Die woorde van sy liedere verskiet soos sterre

Alle gisters vergete, elke volgende dag bly onverwag

Sy hede is sy Here en Asem Oral rondom hom

Tussen rotse waar eggo’s blye galme klippegooi

In grotte waar hy prente skilder met bloed, klipstof en eiergeel

Met ‘n verdwaalde klein vlakvarkie sy enigste maat

By ‘n put van douwater was hy sy baard.

Hier kom hy nou, net een nat soen op jou voorkop

Was alle doodsiek-van-te-veel-dink

Alles

Weg

Ek kyk mooi rond. Met so-fok-wat-ook-al-houding wat ek nou al lankal goed kan aansit. Vou die papier netjies op, plaas dit mooi terug in die koevert, in my binnebaadjiesak in. Ek betaal asof niks vreemds gebeur het nie, maar ‘n kwetter van kelnerinne staan my duidelik eenkant en befluister. Ogies op skrefies, bekkies afgetrek van bose insigte. Wat weet hulle?

Buite wil ek die ding skielik in ‘n gemorsdrom gooi, maar iets groter as ek hou my hand teë. Herre, ek is al so lank só voos van te veel dink, doodsiek gesoek, gatvol rigtingloos…hierdie brief is vir my! Dis ‘n antwoord!‘n Hogere Hand het Hom oor my ontferm! Eindelik! Ek wankel effens vooroor soos ek sommer wil kniel, maar ‘n antie skuifel verby en sis: “So vroeg in die môre in! Sies!” Die Wimpy se deur klap sy hard agter haar toe, en soos ‘n skoot wat op ‘n atletiekbaan klap, skop dit my gat in rat en ek vloog op en in my Peugeot in en skiet die dorp uit.

Hoe ek op die klip kom sit het, hoe presies ek daar gekom het, in die middel van oerleegtes wat klip geword en weer gebreek het, weet ek nie.

Tussen die brief en die bier, die son en die wonder, moes ek aan die slaap geraak het. My ou Peugeot 404 kan gelukkig klippe klim en soos ‘n sprinkaan oor kluite loop. Dié staan nou daar eenkant soos ‘n koei wat wei, een deur oop. Huh?  Toe eers skrik ek wakker. ‘n Luide gelag. Ek ruk orent soos ‘n pop wat gepluk word en sien die drie fietsers by my kar. Die deur klap toe. Ek wil op maar my bene wil nie. Ek roep, maar hulle hoor niks en lag al harder. Toe sien ek. Hulle is kaalgat! Losgat op hul fietse, die mooigesiggie skree soos ‘n malle en klingel my karsleuetels tartend omhoog, en hulle jaag ‘n stofwolk op die grondpad los, die klipwoestyn in, en hulle huil kammastag luidkeels, hulle tjank soos laatnagbrakke en die Jack Russell sit boonop deskant is.

Daar gaat hulle losgat die klontpad af.

 

*****

 

Kaalgat

 

Toe ek eindelik my lyf terugkry en opspring, tóé besef ek eers –  ek is ook kaalgat. Gestroop. Net my baadjie het ek aan, en skoene. Geen kouse nie. En die koevert? Hoekom dink ek eerste aan die koevert en nie aan my selfoon of karsleutels nie? Ek voel in my baadjiesak, vroetelvoel oor my lyf, en dan, soos die duiwel dit wou hê, sal ‘n bakkie met plaasvrou en skaap bo by die afdraai stop. Sy kyk. Sy leun vorentoe. Ek skuifel myself dronkerig agter ‘n miernes in. Die koevert mooi voor my voël. Die antie trap ‘n knorwolk los en jaag weg asof sy ‘n Moslem in ‘n bomrok sien.

Hoekom is ek so gekoring? Het ek die biere als self bestel..?  Huh?

Daar sit ek toe. Kaalstert. Ek en my gedig, in die middel van fokkol. Weet nie watter kant toe Springbok wag nie, weet nie in waffer rigting Soebatsfontein smeek nie, weet nie waarheen die klonge met my selfoon en sleutels weg is nie. Waarom los hulle die kar? Kon mos die fietse los! Bliksem! Weet niks. En die bier borrel ‘n ‘n lae, lelike wind uit my ondermaag deur my mond-orrel los. Snaakse smaak.

‘n Lang ruk sit ek net. Tyd hier het meer klip as sekondes. Toe frommel ek die papiere op en smyt dit weg, knoop die baadjie om my heupe soos ‘n voorskoot vas, en ek trippel vinnige akkedis oor die klippers na my kar toe. Gesluit. Venster breek? Not ‘n moer. Kattebak ook toe. Nou sit ek sit weer. Uil op ‘n kluit, en ek dink. Help niks. Los niks op nie.

Ek tel ‘n stok op, ‘n ou heiningpaal, en ek vat die pad. Ek begin lag want ek dink my boude rys soos twee wit roosterbrode agter by die baadjie uit, en wat gaan die ou vrou met die bakkie nou daarvan maak as sy van die dorp af weer verbyry? Ha! Selfoon! Ja! Sy sal mos kan help! Ek stap met nuwe geloof aan, maar nou skuur die baadjie al te lekker teen my voorklok en dié staan orent vir die dans. Het mos ‘n dink en ‘n wil van sy eie. Nee! Skreeu ek, nee! En dit weergalm teen ‘n klipkoppie. Son bak nou lekker op my boude en die hitte en gekielie en die bier wat ‘n laaste lekkerte gis, maak nou lelik marakkas. Hier loop ek, Uilspieël, nog half gekoring, kaalgat en met ‘n horing, op ‘n stofpad na nêrens. Net klippe en miershope.

Skielik onthou ek weer van die papiere, van die woestynman wat by ‘n miershoop staan en tos, en ek vlieg om. Nee. Moet daai papiere loop haal, en ek draf. Ek wil die fokken goed verbrand! Maar daar kom die bakkie doer van voor af aan. Met nog een in die stofwolk op haar stert. En hulle jaag asof hulle kinders moet koshuis toe vat. Of die duiwel moet kom keer.

Die bakkie kners tussen los klippe tot stofstil, die enjin gil asof dit vermoor word, en die antie klin uit met ‘n sambok. Agter haar stop ‘n tweede bakkie en dis duidelik skoolkinders wat uitpeul: “Moer hom, ma! Slat hom! Bliksem! Sies!”

Ek skrik amper my horing weg, maar dis te laat. Mense wat hul gedagtes deeglik gekerk hou, en wat mooi maniere het, moet my nou maar vergewe, maar ek moet die storie verder vertel nes dit gebeur het, of ek sal skuldig staan oor ‘n geliegery – en dáárvoor sien ek nooit weer kans nie. Soos ek wou omtol en hol, val my voorskoot net daar af en daar staan ek Adams in die pad – halwe horing, half gekoring en met iets soos ‘n smaail wat oor my gesig probeer loop, maar dit werk nie.

Die antie storm. Eers dink ek dis Ouma Evangelie, en ek roep: “Ouma! Evangelie! Feng Shui!” Agjirretog dit  moes ek nooit gedoen het nie. Die antie steek vas, haar gesig nou genoeg om alle Xhosas weer Transkei toe te laat vlug. Wat sy gehoor het, weet ek vandag nog nie.

“Jou wetter!” sis sy. En tóé skop sy stof en storm kopskuins vorentoe, sweep onhoog.

My lyf gooi vanself ‘n handbriekdraai en hol losklok die veld in. Die kinders gil en skree soos vir atletiek. Die antie storm oor klippers en bo-oor woorde wat selfs ek nog nooit tevore of daarna weer gehoor het nie. Ek probeer ou army-trieks en hol zig-zag, trippelende, effentjies, stadig oor die klippe, maar dit laat haar inhaal. Rats soos ‘n ratel is sy, ek kon nie glo hoe daai sware liggaam oor die klippers swewe nie, fokken twaalfton skoenlapper, en haar karwats klief ‘n nugter noot uit my gat uit los. Nou sien die kinders bloed, en hulle blaf soos diere. Brakke. Hiënas.

Kyk, ek weet nie of jy al kaalgat oor die klippers naby Springbok probeer hardloop het nie, maar jou balle gaan so pynlik aan die rondklots dat geen halwe horing dit langer kan hou nie. Maar daaraan kon ek toe nie meer dink nie, want die pyn oor my stêrre was van so aard dat ek vandag toe nog sweer dít was die sekonde toe my lewe ‘n draai vir beter dae gemaak het. Ek glo dit nou nog, soos Evangelie, ja. Maar, op daardie oomblik sou ek dit beslis nie kon snap nie. Nie met die honde wat toe van die bakkie afspring en tjankend bloedlus vat nie. Nie met die fietsklokkies wat skielik agter my begin lui nie.

Ek was nog aan en draf en raas, smeek en roep, val en vloek, hande oor die gat soos ‘n kind wat slae kry, gillende, toe ek omkyk en sien: die drie fietsers staan daar ewe kaalgat in die pad, koggelend. Laggend. Jillend. Hulle hou iets omhoog. Die kinders druk toeters en skreeu rooimoord. Die antie steek vas. Sy kyk om. Die honde blaf op my af en maak tande vir my keel. Ek wou net dood toe duik, toe ek die tante hoor fluit. Die honde steek reg voor my vas, mal in die oë, skuim om die bekke, hare orent. Niks aan my was meer orent nie, ook nie ek nie. Soos ‘n groot hand wat voor die son inskuif, het alles skielik swart voor my geword en daar syg ek soos ‘n lappop kop eerste voor my eie voete neer.

*****

 

Ek hoor boeremusiek. Ek ruik boerewors. Ek hoor stemme. Dis boere. Ek lê agter op ‘n bakkie met ‘n sak oor my lyf. Dit krap en kielie, my kop wil bars.

“Ons kan hom in die plaasdam gooi,” sê ‘n jong man.

“Moenie bedonnerd wees nie. Sy kaalgatmaters sal hom kom soek. Ketters. En as daai poeliesmeide eers een keer op jou plaas was, is jou trekkers môre weg. Als wat hulle sien, kom vat hulle. Nee, Ons versuip niemand. Dit dryf altyd weer iewers op. Julle gaat gooi die drek neer net waar julle hom loop kry het. Laat hy daar vrek en ;lat die veld hom vreet.”

“Maar dis op ons plaas, Pa!”

“Nou gaat gooi hom annerkant die draad by die Steyns. Hulle plaas kan vlekke vat. Aaron, jy ry saam met die miesies en die honde. Die kinders bly hier en was my bakkie.”

“Aag pa!”

“Sjarrap! Aaron jy vat ‘n pik en graaf saam. As hy klaar dooi is, gaan gooi jy hom daar by Geraamtegrot in die gate af. As jy enige spoor of woord iewers los, is jy volgende.”

Die sterre vonkel so naby ek kan al die lae laag op laag onderskei. Party soos groot soos disco-spieëlballe. My brein wil als dadelik ontken. Dis die nuwe Afrikaner se ondergang, het my pa altyd gesê: Ons kyk die waarheid nie meer in die gesig nie. Ons hol weg. Stert tussen die bene. Ons ontken als wat ons nie pas nie, terwyl alle onheil op ons afstorm. Ons het geleer om te lieg.

“Bel die poeliese, Pa.” Dis die vrou se stem.

“Te moer met die poelieste,” skel hy. “Kan die ketters met niks vertrou nie. Netnou kla hulle van moord en dan moet ek hulle wie-weet-wat betaal om los te kom. Fok dit. Aaron, loop haal die pik en graaf!”

“Ja, baas.”

Pleks dat ek opstaan. Wegglip. Plan maak. Wegkom. Of net praat en verduidelik, lê ek verbaas en luister hoe daar nog gebaas en gemiesies word in hierdie wêreld, asof ek ‘n storie luister en buite alles is.

Word vervolg...

 

Daggaboer Dag 35

 

Op  Daggboer verkeer Bjella en ek elkeen in ons eie soort van exile. Bo by die huis. Die opstal. Ons kasarm. En ons is twee warm potte op een stoof. Albei swartgekook op ons eie manier. Bjella, sodra sy van die padstal terugkeer, bad dadelik (daar is geen vrou op aarde wat vinniger kan bad as Bjella nie) en dan trek sy ‘n ligte somerpajama aan en neem plaas voor haar rekenaar om die wêreld aan te vat vir ‘n potjie brug. En sy rook. Sy stook, die Bjella. Sy is ‘n Voyager op ‘n rookwolk.  Al die vensters dig op knip. Teen die slange. Ek kan net TV daar kyk vir ‘n wyle, dan moet ek elders loop sit waar ‘n luggie trek. Tensy ek natuurlik die aand saamrook, maar dit doen ek net as ek wyn drink, so vierde aand. Só is ons twee saam op ons selfgeskepte warmplaat, ek die bodemlose wynketel, sy die pikverstikte koffiepot. Ons is gelukkig só.

Nou so kort voor Krismis, trek alles op Daggaboer saam net tot op die onmiddellike krisissies – die vrieskas vol vars pasteie vir die volgende twee dae ( Kerstyd moet jy vooraf vries of toemaak) wat morsdood loop staan.  Moertoe, alias Seuntjie. Oor ‘n naweek. Oor ‘n naweek wanneer Seuntjie en Doring al singende visvang by die goewermentsdam, doer ver. Wanneer die karavane al om die padstal saamtrek, hulle wat die Kersfeesster see toe volg. Oor ‘n naweek wanneer jy manne met naweekpas moet loop soek om te help kyk: Hoekom trip die fokken switch? Waar het veldmuise of penvarke die koorde deurgevreet? Dis ‘n gerondhol, sulke dinge. Om te help plan maak en die pasteie elders te herberg voor dit ontvries. En Bjella skud haar hande, stap in sirkels en blaas rook.

Wat mense, hulle wat nooit ‘n eetplek aanhou nie, nie weet nie, is dat al die werksvroue tjaailatyd huistoe gaan met geen sweem van gedagte aan iets anders as Sewende Laan, Bobby van Jaarsveldt of Eben Etzebeth nie. Maar Bjella moet steeds, na ‘n potjie brug, sit ek woeker met die balans tussen elke sent, elke druppel, elke krummel in die stal. Dit hou nooit op nie. Ook nie in die nagte nie. En hoe meer mense vir jou werk, hoe meer moet jy sit en soek na balans tussen als. En hoe meer lyk dit vir almal of jy net sit. En rook. Ek wil dit nooit weer beleef nie, dankie.

Gistraand sit Bjella weer so by haar lessenaar en tel krummels en druppels, krap kop, met haar siegretse en koffie of Coke, en ek kyk TV. Musica adverteer nuwe Krismis-nekompilasies,  CD-stelle van 3 elk: Disco Classics, Power Ballads, lekker ou jongdae se klankbane. Nee, sê Bjella, pfffft, ‘n Musica op Cradock? Ha! Die een op PE of Oos Londen is ook al toe. Nee, die dae van musiek in winkels koop is verby. Mens moet van die internet aflaai.

Dis waar ek nou dig in die oude doos sit – ek wil nie die musieke aflaai nie. Ek wil dit gaan koop, dis ‘n reis wat ‘n mens onderneem, verkieslik nog na ruim ou winkels waar  langspeelplate volgesig met kleurvolle omslae aan die musiek ook visuéle siel gee. Sonder Pin-Ups se omslag, was David Bowie nie dieselle ervaring nie. Led Zeppelin se Houses of the Holy sou minder aangrypend wees sonder die kaal kinders wat rondklim op die ruïne. Of later Grace Jones se Nightclubbing.  Patti Smith se Horses. Nee.

Op skool destyds is klieks, bendes en bose klein gemeentes geskep na gelang van die musieke én plaatomslae. Die ouens wat Neil Diamond woes gesmaak het, was op die voorgesperk onder die palmbome met hul boeke en broodjies met Melrose driehoekies en slaptamatie. Die Bowie en T Rex ouens in  die kunsklas met paais en Coke. Die manne met Black Sabbath se Sabbath Bloody Sabbath was agter die krieketbaan of fietsloods, rokende, vloekende, ‘n kondoom of twee in die bo-sak tussen die kloppende hart en die skoolwapen.

Jy het jou plate na partytjies gedra as ‘n soort paspoort, ‘n vertoon van jou geloof, ‘n bewys van wie jy is. Springbok Hits was ‘n derdeklaskaartjie by die ingang van die garagre-paartie. Die klankbaan van Ipi Tombi ‘n politieke statement. Rocky Horror Picture Show ‘n poeshou op die bo-lip.

Vir my ouers se generasie – my pa sou nou 103 wees – was musiek iets waar die musikante bý was, lewegewende lewend, die opskop-manne met kitaar, viool en konsertina, hulle wat die paartie kon gees gee en die dansers se genot kon volg, daarop floreer om beter te speel, dele herhaal wat meeste geniet is – beter as enige DJ vandag. Vir hulle was ‘Live’ die real deal.

Ek wil nog my musieke self gaan koop, dankie. Tussen rakke wil ek rustig rondsoek tot ‘n omslag my oog vang. Dis ‘n avontuur om huistoe te ry, agter in die bus, met jou sak van Look & Listen. Hillbrow Records. CNA, Met ‘n hele somer se klanke nog maagdelik onder jou arm, sindelik op ‘n glinsterende skyf wat op ‘n Blaupunkt –doodskisplatepeler klanklewe gee aan ‘n tyd wat jou nooit ooit weer sal verlaat nie. “n Tyd waarin almal altyd jonk is en lag, so tussen die klappe deur.

Hel ek mis die ritueel van platespeel - die omvang en voel van die omslae, die prikkelende  impak van die gesigkant, die reuk van die platespeler. 'n CD-paartie is nes 'n blikkie sardiens as jy 'n skaapbraai verwag het. Nee.

Kinders vandag speel nie meer nie. Niks. Nie kennetjie of blikaspaai of pophuis of plate nie. Ek het nog duisende LP's in hemelse toestand om eendag weer uit te haal en met ou pjelle te dans en te onthou. Van Elvis se Pot Luck tot Marianne Faithful se Broken English , Springbok Hits  tot Bowie se Diamond Dogs, Beatles se Revolver tot Donna Summer se Love To Love You Baby, Pink Floyd se Dark Side of the Moon tot Brenda Fassi se Too Late For Mama. Oh, stop!

Speel vir oupa weer daardie een van die parra wat wou opsit...

Bjella is weg Bedford toe en ek moet my verfplek regkry. Buite loop Seuntjie en swets.

*****

 

                                                   Woestynbaard

 

Voordat ek my storie hier kan voortsit, al wandelende hier in die klipwoestyn buite Springbok, moet ek eers belydenis aflê, want vorentoe sal ek ligvoets moet beweeg en daarvoor is my hart nou te swaar. As ek lewend hier wil weg, sal ek nou moet aflaai.

Ek moet ook vooraf vertel dat ek geen jammerte oor myselwers ronddra nie, want daarvoor is geen plek in my borskas meer oor nie. Omdat ek geen kragte meer het om ‘n ou skadu saam te sleep nie, moet algar dan nou maar weet: ek het grootgeword in ‘n land waar dit geloof was om mense van ander kleur en kerk en nuanses van liefde in ‘n ander kraal in te ja. Elkeen in sy eie. So was onse maniere. Ons het nie gedink dit was verkeerd nie, want ons wou aan ieder en elk ‘n plek gee om hul eie liedere te sing en voete na hartelus na eie hartval te stamp.

Ek moet erken dat ek aandadig was aan die gedagte dat ‘n man wat heeldag slaap, en die boog van die son oorlaat aan te veel vroue wat water moet dra – ek moet Vaderweet erken – vir só man had ek geen respekte nie. ‘n Man wat by sy eie deur pis. ‘n Man wat sy kinders verruil soos beeste. Maar, dis wat ek gedink het voor ek geweet het. Want voor ek geweet het, het ek sonder gedagte sommer net geglo.

Elkeen moes hier sy eie potjie krap of leer krap volgens die gees van sy stamvaders. Dié wat op die stoep wou sit en die son bekyk tot die mielies vrek, kon so doen as hul geloof dit so wou hê.  Dan sal hulle tog maar weer by ons kom aanklop met leë hande en so weer die waarde van ons werk verhoog. Só het ons gerekent, ek inkluis. In daardie dae het ons geglo dat God Afrikaans is, omdat hy dit dan so duidelik in die Bybel aan ons openbaar. Wie my nie glo nie, aan so ‘n persoon, van welke vel ook al, sal ek Sy woord met vers en kapittel kan bewys – in die allermooiste Afrikaans. Ja. As ek ooit lewendig uit hierdie verknorsing, nou, wil ontsnap, sal ek my skaduwee hier moet aflê.

En hier is my woorde wat soos spoke is: Onse geloof van afsonderlike dinge is in ons in gedril op skool, in die kerk, deur die weermag en op straat – en ons moes daaroor toetse skryf, eksamens deurkom, parades hou en medaljes wen. Mens kan maar sê dit was ‘n soort boeresport, maar met wapens.

Almal sal dit nou nie kan of wil verstaan nie, maar so ‘n geloof is ‘n hardekwas besigheid en is lastig om af te skud en dis nou juis dít, onder andere, waarvan my hart so oorlopens vol en my skadu tot in die nagte in al swarter en swaarder om my word. Ander sondes hou nie hierby kers vas nie. Oor Maria, wat ek in die spens gestreep het, oor die dop en die omdop, oor die feite wat ek al uit nood verswyg het, oor die wegdra van skryfgoed uit die kantoor, sulke dinge wil ek nie nou hier byroer nie want als is al beroerd soos dit is. En dit alles is dalk die rede waaroor ek vannag hier in die woesterny sit, met die dood in my gesig en ‘n dolk van rots teen my rug.

Wat ek toe, daar in die doodsgrot, nie wis nie, is dat honderde myle ver, beskawings ver, ‘n hoeksteen van my toekoms op my wag. Terwyl ek soos Moses in die woestyn gedwaal het, met my skaduwee ‘n lang slang aan my hak, het ene Jonga Eliswe Jikelele in tale gepraat.

Terwyl ek met my rug teen die rots was daar in die spelonk, het Jonga hierdie tale gebesig:

 

Jonga Eliswe Jikelele

 

“Dis die Hlungwani wat ek hiersô praat," vertel Jonga Eliswe Jikelele, "dis die siekret woorde van onse mense van onse plek wat wegkruip. Die mense van onse plaas, Hlungwani, ons soek nie die witmense hiersô nie. Hulle is te veel en hulle oge staan te hoog.

"Ons soek ok nie die swarte mense met die sonbrille en die plakhare nie. Hulle raas. Hulle moet ook voertsêk met hulle wit oge wat so afkyk op ons.. Ons het nie die tyd vir die speel nie want ons hande moet werk.

“Hiersô by Hlungwani, ons het nog nie die wiel gemaak nie. Ons kry hom nie want ons soek hom nie. Even now, vandag se dag, ons maak nog nie die wiel nie. Want ons maak niks plan om anderplek te ry nie. Ons bly hier. Klaar. Als wat ons gaan soek, gaan ons hier kry. Klaar en reg en skoon en mooi soos water. Onse marrasyn sy is hier by die veld. Die Jere het klaar vir ons gastier. Ons is gesorg.

“Ok, hier by onse plek, ons kry nie die boeketeek nie. Onse kinders hier leer by onse oumense. Hulle luister mooi vir die oumens. En die oumens praat mooi al die woorde van die weet. Van al die dinge wat in onse bloed loop van die eerste dag af. Nie sjoos by die dorrop nie. By die dorrop se mense die kinners hulle raas en hulle vertel vir die grootmens wat sy moet doen. Tjiekie. Hulle wil nie by die toy shop gaan gavoorbyloop nie, hulle wil toyi-toyi tot hulle alles kry. Alles. Sy demand. Sy demand.

“Hier by onse plaas ons ken nie die ryk mens of die arme mense nie. Hiersô ons is anmal net reg. Daar by die lektriek Syd Afriek, daar ons kry die arme mense sy is vet, die kriemienel is die poeliesman, en die ryk mense sy loop maer. By die dorrop ons sien die guest house sy is baja meer as die guest. By onse plaas, anmal sy is die guest.

“Die witmense sy oog is blou want hy soek die Jere bo by die lug. Hier by ons, onse oog is bryn want ons kyk by die grond. Ons kyk by onse aarde. Ons soek die Jere daar en ons gaan voor Hom daarsô kry. Ons krap die grond kan kom die kos. Die mielie. Pampoen. Die boon. Die tappel. Ons kry hom. Dis die Jere. Hy stier die water. Soos ons kenners kry die siek, ons gaan nie ons hande skud by die lug nie. Ons kyk by die velddan kan ons die marrasyn daarsô kry. Sy staan klaar. Ons gaan uithaal daai wortel. Dit is die Jere.  Ons prat nie daar hoog bo by die blou nie. Sy is te ver. Ons kan nie die lug in die pot sit nie en die water loop weg as jy hom wil vang. Hy vrot. Hy moet kan loop by die grond dan bring hy die kragte wat die plant laat staan. By Hlungwaki ons gaan nie die Jere by die kerk soek nie. Ons kry voor hom in die grond. By die water, in die blom, die dier en die oog van die kind.

“Die witmens wil die Jere vang. Hy wil hom vat. Hy wil die Jere verkoop. Hy wil mos als bottol. Dis hoekam die witmens loop so baie by doe bottelstoor en die appateek. Hy is lief vir die bottol en hy wil onse mense ook so leer. Ons sê njee. Hier by Hlungwani. Njee.

“Hiersô, soos ons wil die Jere vra voor die reent, ons gaan Hom dans. Ons gaan Hom sing. Ons gaan Hom maak die vuur en die liekie. Ons slaan die drom. Ons dans. Soos die anner mens kom voorby, hulle vra nie: Wat maak julle? Hulle sien klaar. Ons dans. Ons prys die Jere en sy Vrou, die Water. Hulle vra nie: Is julle dronk? Nee. Hulle sien klaar ons vra die reent. Dan hulle sit neer die pot en die hoender en hulle kom ok dans.

“Hulle vra nie: First, before we commence, tell us: From which denomination are you? Methodist, Anglican, Catholic, Presbytarian, Penetcostal, Lutheran, Apostolic, Episcopalian….Hayi! Eh-eh! Ons ken net een Here en sy bly oralster sjo tussen ons, binne ons, in die grond, in ons harte en in ons hande – nie daarbo by die lug nie. Daar's bokkerol daarbo. Gaan soek maar.

"Yu, maar wag, ek moet die pap gaan maak. My kinders soek die sjellet. My twins. Victor en Victim. Die Here kry vir my kwaad want ek het hulle hier gebring by lektriek South Africa. Too much trouble. Too much. Hayi eh-eh….”

*****

Kliploper en kleinlewe

 

As jy dit nie weet nie. moet mens dit darem nou vir jou sê, want hier, aan die eenkant van Klippekop, ver in die noorde, aan die ondersoom van Namibië, hier loop bobbejane met kieries. Só is dit van die klippe. So dit vra nou eintlik min van my om verder te vertel dat daar so min of meer geen bobbejane meer in hierdie genoorde oor is nie

So het dit dan gekom dat ek vir veertig dae en veertig nagte in die klipwoestyn moes wandel, soos Moses van ouds. Of was dit nou Abraham? Ek moet seker maak want my suster Kleinie het op laerskool in Bybelklas geskryf dat Paul Kruger die Tien Gebooie op Tafelberg gaan haal het, en in later jare het dit baie teen haar getel – veral toe sy haar bestuurliksens ses keer gedop het.

Ewentwel, mense sal baie vrae vra as jy vertel dat jy weke lank tussen klippers moes oorlewe, met soms net ‘n vliegtuigrokie as teken van menselewe. Maar, dit sit nie in almal se broek nie. Nie dat ek ‘n broek gehad het nie.

 Toe ek vir dood in die grot gelos is, teen die tyd dat ek my bewussyn moes oorgee, het ek al reeds my veertig vrae wat ek deur die woestyn moes dra op die tafels van my hart geskrywe. Spookwoorde wat my nie sommer alleen sou los in die middel van aasvoëls nie. Toe die swart ferweel om my vou, toe ek die eerste poorte van die dood sien, wou ek nie terugdraai aarde toe nie. Of jy my nou glo of nie, dis jou saak, maar ek was geheel en al betowerd deur die eindelose kleure wat om my oopgaan, blom, wyer, dieper, verder in die oneindes in, met planete wat oral spin, klanke, lagge, roepe en régrondom – bó én onder, óral – kring dit uit en uit in ‘n eindelose weelde van rus en wondere.

In alle rigtings heen ontvou ‘n skouspel van kleurwolke, dawerende stilte, soos ratte in ‘n opwen-horlosie draai groot kosmosse inmekaar in en uitmekaar weg, in ewige vrede, als vloei saam in soomlose rus en salige proporsie, niks te veel nie, niks gemis nie. Aan die gees van tevredenheid is geen einde nie, en dan herken jy daar álles wat wás. Alles. Almal is daar, elke mens en elke dier van jou lewe, elke grassie en reuk. Elke oomblik is álmal saam. Dáár. Al die musiek. Maar niks is teen mekaar nie. Alles gelyk, maar geen geraas en geen spanning nie.

Dan besef jy skielik dat jý in enige rigting kan beweeg, sonder grens of gewig, sonder tyd of teenstryd – enige kleur of klank kan jy word. Binne-in jou ouma se lag in, of beweeg regdeur ‘n planeet wat in vlamme vergaan, of diep-in die siel van ‘n appelpit wat eers nog blom wil wees. Net voor ek wou insmelt, ruk ek my terug. Het my ouma my teruggestamp? Ek wou bly. Iets het my teruggestuur. Iemand. Wie? Waarom? Ek wou daar blý...

In die klipwoestyn moes ek my 40 vrae loop en herkou, dag vir dag, nag vir nag. My vrese moes ek begrawe, een vir een. My liefdes afsterwe, vooroordele snags in koorsvlamme verbrand, die foute uit verledes sif tot net been oorbly, rowe afkrap, hatighede uitbrand met gebed en belofte, maar tussen alles het my ou selfsug bly staan. Die ek ekke ek. Taai fokken ding.

En hieraan moes ek spartel tot ek die dop kon kraak en afkou tot op die kleine pitjie selfliefde daarin. ‘n Skrikkerige dingetjie en so vlamblou soos die skielike flits van ‘n diamant teen die lig. Ja, ek het ‘n diamant ook opgetel. ‘n Regte egte harde reënboog. Niemand hoef my te glo nie, maar ek het dit en sal dit dalk eendag wys. Dit het voor my voete geflits na die laaste van die sebra:

Weke tevore het ek een oggend wakker geword van ‘n nare gesteun. Eers gedink dis my tant Geestie wat in 'n tent langsaan weer wil swanger raak, toe ek besef ek, nee, ek is steeds in die klipveld. Ek klouter toe op ‘n stawel rotse, en dóér ver gewaar ek die steunende dier onder ‘n broodboom. Sebra. Sy was gedaan. Haar tong in die sand het sy wydsbek lê en stof asem.

Toe eers raak ek bewus van die plunderaars wat sirkels on haar draf, jakklase, hiënas. Ek is die rotse af asof die wind my vlerk gegee het, asof die aarde self ‘n skoen om my vrotsenuwees van voete was. Nou moes ek die jagdiere verskreeu terwyl ek boonop water aandra. Aghere ek weet nie hoe lank dit my geneem het om bakhandjies vog van die grot af tot by haar te dra nie, hoeveel kere weet ek nie.

Sy was te moeg om van my weg te draai, te swak om teë te gooi. Die reuk van die woestyn moes al van my besit geneem het, want sy het my verdra. Die gulsige asems en tartklanke van die jagters het haar laaste krag wit in haar oë laat bulk, want klanke kon sy nie meer maak nie. Die vul se pote was al sigbaar agter, en die miere al aan die leerstaan tot binne in haar in, want hulle kon ek nie ook nog verja nie. Die vulletjie het ek uitgetrek met kragte dieper en verder as my eie. Vanwaar wil ek nie sê nie, want daar is altyd mense wat nie daar was nie wat meer daarvan sal weet as ek. Mense wat kerke bou van nie-weet-nie en jou dan daarin wil verkelder. Nooit weer nie.

Ek sweer voor God dat dit my trane was wat die kleinding se oge laat oopgaan het. Soos ‘n mal mens het ek aanhou loop en water dra, my bene stokkies van rou senuwees, my voete ‘n modder van bloed en miere, my asem flenters van skreeu en vloek. Moenie by my kom met storietjies dat my Skepper nie van vloekwoorde hou nie. Na die klipperhel en die sebras weet ek dis soms ál wat Hy beantwoord.

Hoe dit gekom het dat die merrie haar vul kon melk gee, kon skoonlek, weet ek nie. My dae het strepe gekry van heen en weer loop, my oë was blind vir alles behalwe die dier en haar kind, my hart was doof vir moegword.

Met aalwynsap en spoeg het ek ons wonde gedokter.

Ek het aangedra wat ek kon, grassies, plantjies, woorde teen hemele, dreigemente teen God en Sy Hemelse trawante wat afwesig hulle wesies laat kwyn en vrek. Snags het ek soos ‘n mal mens vir die twee diere sit en liedjies sing, ‘n hele koor van naggeluide daarmee tesame. Vanwaar kom paddas in ‘n dorre land?  

Sy het my gewoont geraak. Engela.

Moenie vra hoekom ek haar so begin noem het nie, dit was asof die naam self gekom het. Ek was net die draer. Toe ek een oggend wakker word, was hulle weg. En het ek soos ‘n malle te kere gegaan en gehuil. Vloekwoorde gespoeg en vieslike tekens aan die stiltes uitgeblaker. Eers het ek God luidkeels van wreedheid beskuldig, omdat Hy weer ‘n vreemde liefde in my blootlê en dit dan weer wegruk. Wat-virre-god-doen-dit?

Later die dag, opgekrul onder die broodboom, het ek myself van kop tot tone vol sebramis gesmeer. Soos een wat in weelde bad, met ‘n hele bloemlesing van liefdeswoorde in my keel. En so daar aan die slaap geraak. Gek.

Teen my ooglede was die patroon van Engela se strepe ingebrand, sodat ek vir altyd in ‘n dwarrel van diere na haar sou kon soek en haar vind. Maar waar? Die volgende dag het ek net so vol kak rondgestrompel en halfbewusteloos die helder diamant opgetel.

Strompelende het ek loop en prewel. Van die vrae wat ek aan die Kosmos wou vra, aan die Here Self, het heelwat onbeantwoord gebly.

 

Woestynvaart

 

Op die diepste van die atoom, Vader, tussen die golf en stofpartikel, is dit waar U in Alles woon?

Hannon Bothma se tande, Here. Is dit alles sy eie emalje?

Tot welke gebed moet ek my wend, O Heer, in ‘n supermark, voor by die til, as ‘n ou antie heeltyd haar handsak staan en vasklou terwyl haar goed ge-scan word, en dan, na als deur is, sy dán eers begin om in haar handsak na haar beursie te soek? Eers na haar bril. Dan die beursie. Dan die kaart in die beursie. Hoe presies moet ek bid om kragte te kry om haar nie met ‘n pelounie aan te rand nie?

Soos die ander dag in die mall. Staan ek in die tou by die betaalpunt in Checkers, Heer, en voor my anker ‘n massiewe man met ‘n halwe witbrood, pak warm tjips en liter melk. Voor hom pronk ‘n dametjie met ‘n mandjie vol sushi en verslankgoed en voor haar staan die teiken van my oerdrif – my lus om knuppel te slaan en te wurg. Vergewe my Heer, maar beproewinge kon in vele vorme. Dis ‘n ou tante wat ‘n maand-se-groceries (geblikte spaghetti in rooisous by die dosyne, boeliebief) uitpak asof sy in trurat vashaak. En haak. En haak. Dan begin sy bewerig die strokie proeflees, nee wag, waar is die bril?

O genade nee, dis in die handsak. Sy pak die sak uit. In trurat, Here. Die man voor my begin tjips eet en die asynreuk maak my oerder. Die antie pak pille uit, dosies, ‘n Tryna du Toit-omnibus in groot biblioteekletters. Tissues. Sleutels, Foto-albumpie. (Ag Heer laat dit tog U wil wees dat sy nie die kleinkinders een-een aan die til-antie vertoon nie. Kan U my verwsoek onthou?) Wag, wat nog? Sy pak uit. Toiletrol. Breinaalde. Hoesstroop. Ek verwag die ware Osama van Staden om enige oomblik uit die gehawende handsak te voorskyn te tree. ‘n Hawe vir vele skyn dit wel te wees. Huh? Wat nou? Stephen King in onlewende lywe? Dan kry sy die bril o nee fok wag nou lui haar selfoon maar die bril moet eers skoongemaak word. Tissue-tissue. Wasem-wasem. Tissue-tissue. Ek begin uitslag kry. Die tjipsman drup van olie en asyn en hy smeer dit aan sy boude af. Ouma se fountjie lui eenstrookdeur - klankies wat oudae in juweelboksies klingel as die ballerinatjie dans. Tienkelieng-tienkelieng-tieng. Kinderlike onskuldklankies wat mens in scary movies hoor nes die meshoue val. Of as die grynsende nar in die verlate speelpark giggel.

“Hilou?” skrou die vrou skielik. Sushi, die supermodel, lyk of sy haar bring-en braak-partytjie nou al gaan vooruitloop. Tissues was daar genoeg. “Kyk op die side-board,” skreeu Oumie. “Sê jou pa moet kyk in die koeraats agter Oom Tossie se kas. Julle moet die bloed eers afvee ek wil nie sokkel as ek daar kom nie. Nee! Hou die koppe en pote eenkant.”

Die eens pronkende Sushi verslank in een lae beweging agter in ‘n langer tou in. Die tjips-man burp. Nou sit Ouma die fountjie weg en sê: “Waar’s my bril?”

“Mevrou het hom op,” kom dit versigtig van die tilslanerestrise.

Ouma roggel. Nou eers begin sy haar beursie soek, nee wag, sy het eers koepons vir die All Gold Tomato Sauce en die Checkers Housebrand Curried Vegetables. Ek begin tjoklits inpak. Die drifte van Dionysos soek suiker en soek dit nou.  Ek sluk eerder sonde as om te skreeu. Uitslag. Dit jeuk tot tussen my tone. Ek haal toe die hart-aanval uit my hempsak, blaas daarop soos mens met ‘n flou vinkie sou doen, en sit dit in my moonbag: soos ‘n slotmasjien proes die moonbag drie Adco-Dols in my hand.

Eendag, het ek gedink, eendag as ek as skerm-engel moet kom diens doen op aarde, as ek as ligte bries van suiwer en wyse gees verligting moet bring aan die mensdom, sal ek die bestuurder van Tjekkers kom inspireer om gereeld oor die luidsprekerstelsel te sê: Attention please! All customers older than mad, please keep your cash or credit cards ready BEFORE you fall into the pay line or else we will confiscate your fucking pills and glasses. I repeat: Aandag asseblief!...

Oumatjie skuifel toe weg. Waarheen het die tjipsman verdwyn? Voor my op die vloer, waar ouma ander-eeu was, lê ‘n rooigevlekte banksakkie vol luiperdnote. Maar daaroor eendag weer meer, Here. Nou is dit eers ek en my veertig vrae. My vrae wat ek aan die hemele rig:

Waarom gee maer vrouens meer aandag aan skoene as aan hul kinders?

 Is dit waar dat die ketters al die miljoene van die Lotto vir hulsef steel en dat die balle wat die nommers uitspoeg, gekroek word?

 Het diere ook siele?

 In die hel, as ‘n mens daar aankom, wag al die diere – die beeste, skape, varke, hoenders, bokke en eende – wat mens al geëet het almal daar om vir ewig en altyd by jou te spook?

 Is dit waar dat gay mans drie keer puberteit kry?

 Om sulke vrae te vra moet ‘n mens privaat wees, en ‘n woestyn is net die regte plek, sodat jy hard-op kan vra en weer as dit moet.

 Hoekom is al Suid-Afrika se mense so stukkend? Die atlete sonder bene, die sangers sonder stem, die leiers sonder leiding, die verpleegsters sonder deernis, die poelieste sonder wet?

 Hoekom is die arm mense in Suid-Afrika die vetste?

Meeste van die vrae sou ek slegs met my Skepper en nie wou deel met ander mense nie.

 Liewen Heer, waarom sou dit so wees dat as ek voorneem om nooit weer enige lewende dier te eet of leed aan te doen nie, ek snags geteister word deur muskiete, wakker word met miere in die suiker en ‘n vlieg in die melk?

 Mag ek vra waarom dit so moet wees dat wanneer ek my instel om gesond te eet, daar skielik vriendinne opdaag met roomkoeke, jêmterte en sooibrandpasteie?

As ek mag vra vir duidelikheid, moet ‘n man in ‘n bus – op die heel verste end van die lughawe – van sy stoel opstaan en plek afstaan aan ‘n vroumens met groot boetse, manshorlosie, kort kuif, giftige ogies en lippies dun soos lemmetjies? Is dit reg in U oë in, Here?

Maar die grootste vraag van alles was die een wat ek al so lank bid:

Vader, wys my Die Weg. Ek wil vir my voorvaders geen verleentheid wees nie. Wat moet ek Doen om my bestaan hier te regverdig? Wat is my bydrae? My ouers het te veel opgeoffer om my groot te maak. Waarvoor? Kinders wil ek nie hê nie want ek sal soos Abraham dsie bliksems se kele afsny voor hulle sestien is. Help my. Vader!

Toe my laaste vraag aan die Groot Kosmos, Die Allerlewe, Die Groot Is gerig was, en ek gevra het om ‘n teken wat my van my koersloosheid sou genees, het ‘n hemelse stilte om my neergedaal. Ure lank het ek gewag vir ‘n sein, ‘n wonder, ‘n brandende bos of ‘n duif met ‘n blom, maar niks. Net iewers ver, oor ‘n klipkuil of verlate ou watertenk, ver weg, het die wind gehuil soos een wat ‘n laaste asem oor die bek van ‘n leë bottel blaas. Ek moes daar aan die slaap geraak het.

Word vervolg....

 

Daggaboer Dag 36 -Miljoenersonde 

 

Een van die redes waarom die Jode en Christene geen reïnkarnasie in hul strafboeke bywerk nie, is omdat Moses nie weer wil terugkom en kans loop om weer die woestyn te bewandel en weer die berg te moet opsukkel vir Gebooie nie, want hy weet, hierdie keer sal dit nie tien nie, maar ‘n duisend Gebooie wees, en vyf sal handel oor Millionaire’s Shortcakes.

 Dis in ‘n droom aan my openbaar dat Moses ook weet dat ten minste 25 nuwe wette oor tjoklits sal gaan, maar vele ander oor suikermishandeling, koekverslawing, teepartytjies en ander ongesonde soetboetes. Maar, dis die Millionaire’s Shortcakes waaroor Moses issues het. Daarvoor kan u my woord neem. My nagte is geen rus nie.

 Duurder per gram as Lindt-sjokolade, tuisberei, handgemaak en fyngebak, is dit ‘n sensuele belewenis só na aan sonde dat Moses – aldus verskyn dit in die droom voor my  – dit soms wél oorweeg om homself weer as mensch te beliggaam. Net om ook te kan proe. Maar, O, hy ken reeds die prys. Die straf. Hy weet ook reeds waar die naam vandaan kom, want Elizabeth Taylor, slinkse Jodin met die allerduurste smaak, het die plesiere aan hom uitgelê, doer in die hemelse weergawe van Los Angeles.

Hier op Daggaboer word die koekies ook handberei, en boonop doelbewus in mooi  klein pakkies sodat jong verliefdes onskuldige meisies daarmee kan verlei, om stout mans op die langpad soet in die trok te hou, en om kwaai onderwyseresse teen toetsmerktyd te laat smelt. Dis alles suiwer goëlwerk. En dit is voorts aan my openbaar dat Moses, as hy weer kom, kakao in dieselle klas as kokaïene gaan gebooi. Maar hieroor het ek gesweer om stil te bly, alvorens ek weer my Moses teëkom.

 Om te verhoed dat die resep by Daggaboer uitkom, het engele hul vlerke beseer, dominees gepreek en demone hul gatte gesien. Maar dit het niks gejelp nie, want Bjella het haar eie resep bedroom.

 En O Jeer, dit kom in vierkantige blokkies. Onder is die ryk sjokoladeblok, beide vogtig én bros. Ja, ek weet dis onmonntlik, maar dis wat toorwerk is. Bo-op die smeltsagte broskoek  geur ‘n lagie karamel, nee, nié die kondensgoed uit blikkies nie. En bo-op dié tameletjie span ‘n droompie sjokolade die kroon.

Teen die prys behoort ‘n mens net een op ‘n slag te eet – dit in jou mond te laat wegsmelt sonder om te kou. Net te sit en mediteer. Mozart adagios luister. Een per aand. Maar, ek het helaas hiermee geen selfdissipline nie en dis hoekom beskermengele soveel keer per dag my gat moet red. Ek sal dit by kindertjies afneem, met geweld, want Millionaire’s Shortcake is ‘n grootmenssonde. Daar behoort ‘n ouderdomsperk op te wees. Ek sal ou anties tot in Cradock agtervolg en helder oordag oorrompel en van hul swietspakkies beroof. Die krismiskouse van wesies sal ek meedoënloos hiervoor plunder. Vir Zuma en sy trawante daarmee in ‘n wip in lok.

 Wees gewaarsku. Laat my met Daggaboer se Millionaire’s Shortcake by ‘n tranekonsert van Oom Angus los, en ek sal die knielende skares seksueel heeltemaal disoriënteer. Vir die eerste keer sal hulle weet waar die sjok in sjokolade vandaan kom, maar, dit sal te laat wees. Selfs vir trane. Die sjonde sjal sjeevier. En Moses sal weer sy kierie moet kom slat.

 

Klippekou, Springbok

 

Ek het gewag onder die sakke agter op die bakkie. Luisterend na wat die Boere met my wou aanvang. Hulle het my in die veld loop neersmyt. In 'n grot. Spelonk. Veldkos.

Wat ek gedink het, weet ek nie – eers iets gehoor soos R4-skote en gedink ek is in die bos-oorlog, toe weer gedink dis klappers, die dag toe Fransie sy ballas weggeblaas het. Weer aan die slaap geraak met die onthou dat Fransie hospitaal toe is, en daarna weg na die Drakensberg se Seunskoor – want nou kon hy ook die hoogste note fronsloos bykom. Maar, ons wat daar was, ons weet, die note kon hy haal nie omdat sy eiers weg was nie, maar omdat ons hom alle hel op aarde gegee het oorlat hy ‘n krêkker onder ‘n hond se stert opgedruk het.

KLAP!

Ek skrik orent, dis skemer oor die veld. KLAP! ‘n Klip klap teen ‘n ander, hier reg na by my kop. My magtag! Doer teen die lig sit ‘n mens! Ek probeer skree, maar my keel speel nie. Dis soos ‘n droom waarin jy roep,  maar niemand hoor jou nie.  Dan staan die man op. Oompie.  Ek struikel op my voete, swaai arms, maar my keel blok my en brand asof ‘n lap vol blits daar ingedruk is. Ek smoor met my mond oop, die man staan op, wys voertsek met sy hand, en spring met sy rug na my van ‘n rots af weg. Half gebukkend staan ek, en begin sonder enige selfbeheer op my voete te pis. Dis salig, die bietjie warm vog op my voete, en ek syg neer op my gat. Die donkertes in tuimel ek af. Die droom vang my soos ‘n ma ‘n kind vang, en ek smelt weg.

                                                                  *****

 

Ant Glorie

 

Dis seker oor ek so in die veld op myself staan en pie het, maar die eerste van die droom wat in my kleur kry, was van my Antie Glorie. Tant Glorie wat haar plestiekkoeldrienkbottel boom-afsny, omdraai en teen haar vroetelfontein vasdruk, en dan staan en pis soos ‘n man – wydsbeen met haar rok opgetrek tot teen haar nawel.

In die Karoo het sy langs die pad so al drie karre laat rol, ses taxi's afgeskryf en vele vetplante laat vlug of net daar van skok laat uitsterwe.

Laterjare kon ons haar mos nie meer saamneem Loftus toe nie.

Maar vinnig vloei die droom weg, pis in die sand, weer na die bos-oorlog en die skote wat klap. Soois se hand wat in die sand lê en kriewel soos ‘n rooi krap, die potsierlike trek om sy mond terwyl die vonk uit sy oë verdamp. ‘n Smaak van metaal. Roes.

Dan weer is dit die boelies op Infanterieskool. Omdat ek ‘n vraag gevra het: Wat is ons saak, het ek gevra. Ons saak is reg! skreeu hulle. Ek wil weet hoekom ek moet gaan veg. Nie dat ek nie wíl nie. Nie dat ek banggat is nie. Ek sal fokken enigiets doen om nie skande oor my ma se huis te bring nie. Maar, ek wil weet hoekom SWAPO ons vyand is. Wrong question. Any question a wrong question. My wind word uitgeskop. My bek dikgebliksem. My broek afgetrek (hoekom trek boelies so graag  seuns se broeke af? Altyd in groepies? In ‘packs’, soos diere?)

Iets kielie oor my lippe. Iets heerlik nat en souterig-soet. My tong is ‘n kurk, dik en droog, ek probeer agter die kielie aan lek. Is my ma by my? My ooglede skeur van mekaar af weg en die ou man se gesig deins voor my rond. Oompie. Ek knip-knip my oë, maar geen beeld kan stilstaan nie. Die man praat nie. Hy kielie voggies met ‘n takkie fynblaar op my lippe af. Gretig spons my tong dit op, te dik om dankie te sê. ‘n Paar veldklanke knetter skielik oor sy lippe. San? Khoi? Khoisan? Dan frommel sy gesig op in ‘n masker van vrolikheid en hy seg in mooie boek-Afrikaans: “Ek het hierheen gekom vir my vierde troue, met die dood. Ek is reg, maar jy trou nou nog eers met jouself. Trou nou klaar met jouselwers en staan op. Vra jou vrae en maak jou beloftes aan jouself.”

Dan bars hy uit van die lag hy en skud sy kop asof dit die allerbelaglikste ding is wat ‘n man ooit sou kon doen. Beloftes maak aan jouself. Nes sy lagbui bedaar, druk hy ‘n bondel gras onder my kop in, en sê, met ‘n gesig so ernstig soos ‘n veld-Mandela: “Vee jouself bymekaar. Jy is nog nodig. Die lewe gaan jou nog nie prysgee nie.”

Ek weet vir-seker ek het dit nie gedroom nie, daardie woorde. Dis nie veld-Afrikaans nie. Die onvanpaste klanke het hulself eenkant in my droom gestoor. Maar die gevoel van ‘n stroom pis wat salig uit my vloei en teen my bene af oor klippe spoel, dit moes ek gedroom het, want my lyf was te leeg.

Met sonsopkoms was ek terug in my spelonk, met jakkalsvelle om my gevou, ‘n bedjie onder my ingemoeder, ‘n volstruis-eier vol water daar, ‘n bokskedel vol fynwortel hier, en ek was skoon. Alleen.

Blare en veldgemmer met rieme om my voete vasgewoel. Ek voel oor my lyf. ‘n Doek is om my skaamte gedraai. Op my bors brand dit yskoud – my diamant. Ek ruik vuur. Warm. Stadig draai ek my kop na die rooi kole, naby die ingang van die grot. ‘n Pakseltjie droeë hout en -tak staan daar wag. Anderkant staan ‘n veldbrak en snuiwe. Hiëna se ma.

*****

Piesangskil

 

Ver ver hiervandaan, in groen vallei diep tussen hoë berge, langs ‘n rivier wat silwer is van rus en spartelende vis, pak Jonga Eliswe Jikelele haar sak. Rondom haar pruttel haar dertienjarige tweeling in die hut rond. Lastig. As die een sê suiker, roep die ander een sout. As een sê ja, nors die ander een nee.. As een vra vir koffie, skree die ander een tee. Victor wil saam dorp toe, maar mag nie. Victim wil bly, maar moet saam. Só is die ellende van ‘n ma. Die gewig wat ewig en lig tussen twee of meer vure moet bakstaan.

“Jullê moenie voor my klar moeg maak nie, kyk hoe lyk my knieê.,” sug Jonga terwyl sy hout pak. “Die Jirre sien vor jullê, en jullê moelakgeit gaan kom met die stok by my hand.”

Sy het haar pensioengeldjie plat-plat opgevou, nóg platter gestryk binne-in ‘n flentertjie foelie, dit Vaseline gesmeer en bó haar valstande teen haar verhemelte vasgetong. Dis die laaste plek waar die tsotsi’s sal soek.

Sy pak piesangs, want dis lekker brandstof vir die langpad en skille mag ‘n mens maar langs die pad in die gras weggooi. Sy pak Cuppa Soup, potjie grondboonbotter, LifeBouy, Vaseline, Dawn Cocoa Butter, oupapoeiers, TCP, Deep Heat, koeksoda, vars gemmer, Jamiaka gemmer, haar Bybel, ‘n knipmes, kopdoeke, sykouse, rompe, bloese, bra’s, bloemers, tekkies.

Kinders kry elk iets nuuts by Pep. Selfoon sal sy kry wanneer sy by haar bestemming aankom – voor dan sal dit net die aandag van voertsêkke trek.  Die klein pakkies witpeper hou sy in geknoopte kondome in haar jersiesak. Sy het al vele kwaaijongens hiermee ‘spetel’ toe gestuur. Hospitaal toe. Huilende.

Nou draai sy na die twee seuns: “Jullê moenie nou voor jullê ma stan kwaai mak nie. Ek gaan werrek soek, anners waar kry ek die sjellet?”

“Hoekom kan ma nie geld hier in die village kry nie,” antwoord Victor in Hlungwani. “Almal hier kweek groente en maak goed geld.”

“Die groente van hieriedie mensa, sy is die groente wat die mensa rwêk. Dagga. Ek gan nie my hart swaarmak met darrie nonsons nie. Hai!”

Sy knoop haar pakwerk deeglik toe en sug: “The future is not what it used to be.” Dan klap sy die palms van haar hande netjies en tevrede teen mekaar skoon. Skwên.

“Ek wil nie saam nie,” huil Victim. “Die mense gaan vir my slaan.”

“Dis orlat jy aldag sjo skrou dat algar voor jou wil moer, Victim. Hou jou bek en pôlies jou skoene.”

Jonga wag tot almal na skemer klaar gekook en gewas het, en die strate buite die klein vallei ‘n wyle stiller raak, vir ‘n minuut of wat byna kalm, ná die marakkas van die pensioendiewe en later die molesmakers wat prooi loop soek. Dán vat sy Victim aan die hand en loop in die donkerte weg, in haar toekoms in.

Victor het klaar sy Leviete gekry. Alles is in plek, soos dae lank al afgespreek. En sy geldjie wag duidelik verdeel in dae en dinge wat daarmee gedoen moet word. Alles punt vir punt op skrif agter op die almanak van Ellerines. Sy selfoon is op buzz vlak onder die grond onder sy kopkussing begrawe. Sy skoolwerk reeds netjies op datum.

Vyf kilo’s verder, op die teerpad uit, óp teen die eerste berg, het Jonga in ‘n skommelstap vasgeval wat haar asemhaal, borsteswaai, boudewieg, kophou en voetval als tot een skoon ritme vasvat. Ka-oe-ka-tja-ka-tja-ka-tja-Ka-oe-ka-tja-ka-tja-ka-tja. Dit word ‘n soort musiek in haar kop wat self eie woorde kry soos die tekkiesole klap teen die pad. Woorde wat aanmekaar herhaal, aanmekaar herhaal en ‘n melodie word oor haar lippe. Victim draf kort op haar hakke met ‘n blikkie kondensmelk. Eers wanneer voete brand, asem jaag, hart skoon en haar kop leeg is, sal sy rus. En daarná miskien die hellevaart van ‘n taxirit oorweeg.

Die brandstof wat haar laat bly werk, laat bly veg, laat bly hoop en laat bly loop, is haar allesoorweldigende begeerte om te bly glo aan ‘n wêreld met ‘n doel en orde. Dis ‘n staalraam in haar wat sál bly staan. Genoeg had sy van chaos en valse beloftes. Sy wou die Here persoonlik gaan spreek oor Sy gebrek aan sorg, aan wet en waardes. Só kon dit nie aangaan nie. Kinders wat aan grootmense voorskryf. Snotneuse wat skole afbrand en oumense beroof. Polisie wat steel en moor. Geleerdes wat onkundiges uitbuit. Nee. Genoeg.

Ingedagte, omdat sy wat Jonga Elizwe Jikelele is so dikwels al prewelende met haar Skepper loop en worstel, het sy onwetend, net duskant Huilfontein, ‘n piesangskil op die teerpad laat val.

PAROW HILTON SLIPS ON BANANA

Só basuin die voorblad van die poniekoerant en oral op straatplakkate. En ‘n pragfoto pryk daarby. Parow sit pimpel en pers in ‘n hospitaalbed met ‘n piesang wat sy suggestief tussen haar borste koester. Haar hare is so blond, die bottel hik nog. Dit word berig dat die ewigdurende skoonheid teen ‘n bergpas met haar moederfokkerviertrek op ‘n piesangskil gegly en teen ‘n boom vasgeredeneer het. Parow lyk desondanks haar kneuse en knoppe baie ingenome met die kameras. Verder word berig dat sy op ‘n geheime sakebesoek was aan ‘n wondervallei waar fris fonteine die helderste vonkelwater hoog in reënboë boogspuit. Me Hilton het, ondanks ‘n klein terugslag van slegs enkele miljoene, duidelik en soos altyd weer ‘n broek vol planne.

 
Grotman

Die grot lyk asof dit vir ‘n opera ontwerp en gebou is. Groot rotse ondersteun deur stapels kleineres hou die dak vas asof dit deur die Skepper self só bedink is. Vlamme lek patrone in brand-oranje, roesbruin, ‘n spelerige geel flikker oor die klippe en ek sien gesigte, diere, demone. Dank vader geen teken van vlêrmuise nie. Die reuk van die brandende hout werk soos salf op my in, saam met die geur van vars kruie. Tussen saligheid en brandende gevaar lê ek, op die dun lysie tussen troos en oorlog, lewe en dood. By die bek van die grot kiwwel die veldbrakke onrusgeluidjies, tjankies, die laaste klankies van ‘n wag wat vér te lank gerek het.

Parow Hilton

Parow  is verveeld. Sy sit op haar bed en Facebook, en pos lusteloos kietsie-kietsie-kiekies. Sy trek skewebek en skud haar kop oor almal wat die wêreld vol rits en interessante dinge doen.  Verveeld is sy met al die boodskappies vol wysheid en troos, klaar met al die versies vol bemoediging, óp met die geteem oor moord en doodslag.  Sy wil iets dóén. Sy wil op. Sy wil uit. Hierdie hospitaalbed sluk haar vas soos ‘n doodskis. Niemand bel meer of kom neem foto’s nie, én sy het spesiaal, vier uur vanoggend al, haar hare gedoen en bloukolle begin toeverf. Glamour is ook nie meer wat dit was nie. Niks is nie.
Sy straal met die lang-arm deur die TV-kanale. Nêrens is sy op nie.Dis net Mandela voor en agter. Gister of wat sy voor op al die koerante, vandag net mooi so goed as dood. Oral net vet Amerikaners op TV, grootbekke wat op die kyker skreeu – op die krokodilkanaal, koninginkanaal, moordkanaal, verdwynkanaal, die Hitlerkanaal, die Afrikatranekanale, die siek katjies en Kardashians, oral, net onrus en teenspoed. Selfs op die koskanale skreeu die kokke soos mal donners. Dis tyd dat sy weer ‘n bietjie sensualiteit en spesiale afleiding aan die verrigtinge verleen. Sprankel. Sy wou net ‘n snuifie van die cutex remover vat, toe haar foon lui. Sy kyk op die foonvenster. Haar ou fokken suster in Denial.
 

Vurkpad

 

By ‘n vurkpad sien Jonga ‘n man op ‘n kruiwa braaimielies maak. Die vonke spat en die geur oorval haar. Sy steek vas. Victim snik halt op haar hakke. Sy vroetel aan haar bors. Teen ‘n boom hang ‘n plakkaat: God is in Denial. Jonga knip haar oë op skrefies en soek na haar bril.

 

Me Hilton

 

Parow se eerste seerknak het gekom toe sy op dertien wou gaan sokkie. Oupa en ouma het haar streng Protestants grootgemaak maak nooit geweet sy sy self ook sou protesteer nie maar oupa wou van sokkiejolstories net mooi niks weet nie.

“Te jonk! Te jonk! Nee! Wil jy nou soos nou sjoos jou sje ma in die nagte in loop sjuip?”

Boonop het Oupa haar gewig weer bygesleep. Gesê sy lyk soos ‘n dragvark.  Vet.

Op vyftien is Parow uiteindelik na haar eerste sokkie, kort na haar oupa se vreemde dood.  Die vetjies was weggenetbal. Oumie het vir haar ‘n strikrok gemaak van los materiaaltjies, loslappies van ‘n strooimiesierok uit toeka. Maar, bypassende skoene was daar nie, en Perdjie moes maar verlief neem om haar skoolskoene mooi blink te poets en blomstrikke oor die veters vas te knoop. Dit was die begin van die einde. By die skooldans aangekom, het meisies in groepies, hees gegiggel, hand-voor-die-mond na haar gewys:

“Pragtige rokkie, Parow! Het jy dit self gebou?”

“Mooi sterk fondamente!”

“Het jy die dagha self gemieks?”

“Wie was die argitek? Noag?”

“Waar het jy die bakstene opgetel?”

“Ai, die skoene! Was daar ‘n special by die lykshuis, Parowtjie? Perdjie? Klein merrie?”

Parow het stil bly staan en luister. Eers gebid. En toe gesweer. Eers niks gesê nie. Wall flower met lang oë. Gewag tot die meisies losgemaklik in hul beterwees was. Toe, nes Cyndi Lauper begin met Girls Just Wanna Have Fun, stap sy skielik tot régvoor die voorbok, tussen die giggelende sokkieslette in, en sê vriendelik dog palm-teen-die-bok-se- strot: “Rok ontwerp deur Sir Herbert Baker. Jy sal nie weet nie. En jou tiete is tamponne. Donsdoos.”

Toe Parow haar keelgreep los, wou die meisie nog hygend terugkap, maar Parow het haar gewrig gegryp-knypdraai en liggies by haar oor gefluister: “Ek weet van meneer Hanekom.”

Die nabyreuk van Musk Beechies. Stilte binne-in die lawaai. Glimlag binne-in die gesig. Musk.

Parow die strikrok het heel aand verder lank met ‘n lang koshuislat van Springbok bly dans, tot aan die flou-einde van die orkes. En met meneer Hanekom wat haar talente lang-afstand takseer met ‘n bek wat al kouende ritmies kougomdraadtrek. Musk.

 

Boodskap

 

Dis asof daar ‘n beroering oor Jonga kom, asof voorvadersgeeste hier reg oor en deur haar sweef. Asof ‘n boodskap net vir haar daar gelaat is. Sy knip haar oë. Hoor niks. Dan haal sy haar bril af, vroetel haar kopdoek los en gooi dit oop op die grond. Sy gaan sit op die sypaadjie. Die kinders se geneul hoor sy nie. God is in Denial.

                           

Meanwhile back at the ranch....

 

Ver weg, in ‘n ander tyd en op ‘n ander plek, ‘n soort paralelle univers, sit ek nou hier op Daggaboer my en ek kommer my. Bielie, Bjella se smeuldonker seun, het nog niks van hom laat hoor sedert ons sy kar so gewond aan die verteenwoordigers van die AA afgestaan het nie. Daardie slonskous laatkommers, die hangskouerslapgatte, hulle wat brandende stompies die veld inskiet. Sies.

Ek kommer my oor Bielie se kar, want ek is byna seker dat die enjin bloot oorgekook het  en hopelik niks verder oorgekom het nie – die ‘rook’ wat uit die enjin opgewarrel het, was stoomwit. Geen grys of swart roke nie. Nee, ek weet van enjins helaas minder as van ginekelogie, maar ek het foto’s van die enjin geneem ná dit afgekoel het. Ja, ons het net voor ons die Baai uit is, water en olie getjek. Ja ja ja. Bjella is my getuie. Wat my kommer is dit: Sê nou net die ouens wat die kar moet regmaak, lieg ‘n lekker lang  storie by?

Geldwoekerasies. 

Ja, die enjin het inderdaad knetterklankies gemaak en ons het gou stilgehou. Maar, ek het al tevore ook al gesien hoe ‘n enjin kan rookborrel as ‘n petroljoggie vergeet het om die olieprop terug te sit. Dit wharrie my, hierdie storie. Om ‘n ander man se mooi ou spiermasjien, silwerskoon en ge-make-over, aan twee teermatrose af te staan. In die boendoes. Op ‘n lorrie te laai soos ‘n stink ou karkas. Nee.

Ek vertrou die vrede nie. Bielie se stilte is ook ‘n onrus. As ek hy was, was ek bemoerd.

Buite om die plaaskasarm, hier op Daggaboer, is Seuntjie besig om gate in waterpype te soek. Ons sit alweer sonder water en van al die kliometers van pypwerk doer van die fonteine af, weet geen mens waar ‘n perd ‘n ding stukkend kon trap, waar ‘n penvark op ‘n plastiekelmboog gebrekfis het of waar die stroomwerk na die reën ‘n verspoelinkie kon laat oopwas nie.

Ons dra kanne water aan, maar kom dit by kook en afspoel met kosmaak, opwaswerk, wasgoed, toilette spoel, stort en die alledaagse dinge soos gereeld handewas, raak dit soms benieud. Onsindelik.

Ons ry die week se rommel weg om verbrand te word. Ek staan poeliesman met die oopgooi van biltongskerwe wat moet droog en fyn vir roosterkoeksmeer. Elke krummel tel. Ek rank lang slange wildswors oor die droogdrade, help lang biltonge van hoë drade afhark en in sakke te bêre wat vog absorbeer. Marakkas is al om my voete – mal van al die reuke. Teen die plafon van die biltongkamer woer twee ou waaiers, ‘n ouwêreldse gemor soos die klanke op die stoep van ‘n ou hotel, een van daardie Victoriaanse veranda’s waar waardige mense yskoue gin & tonic met warm tonge troetel.

Liria was vloere en politoer die lang huisgange na gister se pasteimakery, ‘n gewerskaf wat alles, maar alles, vol meel gelos het. Netnou gaat Liria weg PE toe. Die stories oor die toordokter en sy profesieë bly spook. Op die TV in Bjella se kantoor, pal aan die gang,  lê Oubaas Mandela in steeds staatsie, en buite is geelvinke woes aan die nesregmaak, kwetterende in die groen ruigtes, singende uit volle bors.

Als hier is lewendig na al die sifreëns.

Thulaang praat luid op die stoepgang met iemand oor sy selfoon. Ek neem aan dis Shona, want ek herken geen van die klankvalle nie. Ek gaan probeer om dit op te neem en hier by die storie as klank by te gooi – want dit klink fokweet soos Chinees wat agteruit speel. As daar enige konsonante in sy taal is, spoel sy tong daaroor soos stormreën oor gladde klippe. Die klanke bots met als wat jy ken, maar ek is seker dit sou vir die algemene mensdom meer sin maak as enige van Zuma se vrome voorlesings.

Marakkas het al vrede gemaak met alles en almal. Selfs Meneer, die groot grys kat, slaap al by ons op die bed. Dis net as die kat met een sprong van die vloer af tot bo-op ‘n tafel floep, wat Marakkas mal word. Op haar gesig speel vir ‘n skril sekonde eers die skokvraag: What The Fuck??, en dan wil sy mal agterna. Sy ken katte nie. Haar agterpote spin op die vloer soos waansin haar takel. Kyk, sy is self ‘n hoogspringer en atleet van formaat, maar hierdie kat se fokken magic is vir haar net te veel vir ‘n lang dag op die plaas. Sy wil ook op die tafel spring. En sy wil die kat nihiliseer. Geen trooswoorde of skerfie gesteelde biltong bring haar van koers nie: Alle fokken katte moet sterf. One cat, one bite.

Verder leer Rakkas goed sosialiseer. Selfs Victoria, alias Wiekels, het haar intrek ook by ons geneem. Sy eet saam met ons en slaap snags op ‘n gastebed in my kamer.  Maar, met Thulaang kan Marakkas geen vrede vind nie. Niks. Sodra Thulaang se klank of reuk haar aandag kielie, trek haar ore plat, haar bo-lip sper óp en sy knor. Grom. En hy haat dit. Sy oë blits. Katterig.

 

Noppie en Bart, jagters op Daggaboer

 

Bart is ‘n swart steekhaar plaasbrak, jagter, met groot sielige oë, en hy loop annerdag so stokbeentjies, eina-eina, asof hy oor rooi kole probeer wegkom. Nee, nie wat spoed betref nie, nee, hy trippel so effentjies, hy trap hoog. Dis asof al sy pote vol dorings is en hy nie weet hoe om weg kom van die pyne af nie. As ek met hom wil praat, koes hy weg, ore plat, kromrug van vrees. Ek vra vir Seuntjie wat die dier makeer. “Nee,” lag Seuna, “ek het netnou sy ballas afgesny.”

O. Geen verdowing nie? Nee. Hy lag.

O. Ek wil omval. Voel skielik onvas op my voete soos ‘n Woolworths-tannie wat terloops vir lamtjoppies vra en skielik sien hoe die slagter triomfantelik ‘n  lammertjie keelafsny dat bloed spat en die dingetjie sy laaste skoppietjie skop: “Heerlik vars vir u, mevrou. Ek kap dit net gou in braaistukke.”

Doen net daar ‘n ongevalle, op die vloer voor die yskas met die koue wyn. Ambulanse. Helikopters. Bid-ure. CNN en Sky. Memorial service. 

Dubbelstandaarde is ‘n sware straf. Alkant waar ek kyk, staan ‘n spieël wat my alkant vir myself wys – nie ‘n mooi portret nie.

Ja, ek voel soos ‘n ou antie met al my geskokte ou stiltetjies oor alledaagse gebeure wat heel normaal is, hier op die plaas. Noppie wat so tussen opruimwerk in die tuin ‘n kettie vat en ‘n paar voëls doodklits net vir die pret. Dan stap ek uit en ek gaat aan’t preke – al het ek self kleintyd op die plaas tortels gewindbuks: “Nee, Noppie,” klink ek soos die meewarige en lewensvose ou tante van Sewende Laan se koffiewinkel: “Daardie voëls het kuikens daar in daardie nes, daar. Sien jy? Wie gaan hulle nou voer? Hoekom maak jy so dood? Gaan jy die voëls eet? Is jy honger? Na aan dood? Is jy sterwend van die honger? Hm? Nou hoekom maak jy dan die goedjies so dood?”

 So probeer ek die sinlose doodmaak wegmaak, maar die jongelied, hy is 18, se oë lag vol ongeloof en agterdog. Dis mos niks. Niks. Wat is Meneer se probleem? Hy noem my meneer, want hy wil nie ‘oom’ of “Jan’ sê nie.

Noppie is ‘standerd ses’ al die skool uit “want die loskoppe wil my sleg leer.”

O.

Maar hy praat ‘n vlot en mooi Afrikaans, seepgladde isiXhosa en is glad nie sleg met die Ingels nie. Algoa FM. Boonop leer hy by Seuntjie sweis, houtwerk doen, tuin bou en in die padstal kan hy begin leer van bak en brou. Nou gaat Oom Jan alweer aan’t preke: “Jy en Burnett moet weet, elke taal wat jy kan praat, elke handigheid wat julle op die plaas en by die padstal leer, ons kan julle inskryf dat julle daarin kan matriek maak.” Ongeloof. Kop onderstebo. Mompel: “Ja, Meneer.”

“Nee, kyk my in die oë, Noppie. Ons kan vir jou ‘n matriek bou van wat jý graag wil doen, en ons werk vir jou kursusse by, in die Baai, in sweiswerk en wat nog. As jy daarna in die Kaap of waar ook al gaan werk soek, en jy kan boonop kaaskoeke bak, en pasteie maak, koekies, gemmerbier en als, dan gaan jy werk kry. Ek kan jou help. Of wil jy liewers net so hier op die plaas bly? Is jy gelukkig hier?”

Kan netsowel met die klipmuur gesels.

Dit was annerdag. Vandag is Bart die steekhaarbrak weer hier, en hy loop sommer baie beter. Maar hy het gewig verloor. Seuntjie dokter hom darem gereeld  “sodat die vlieë nie daar eiers lê nie” sê hy en Oeps!..... daar is ek plotseling weer ‘n bewe-tannie wat wil omval en ek soek vervaard ‘n yskas vol wyn om aan vas te hou terwyl die aarde om my swengel.

Nee, Herre. Ruk jou reg.

My pa het ook diere kastreer. Sonder enige seremonie. Ek het ook hoenders kop afgekap en met bak kookwater skoongepluk,  ingewande uitgeslag, die donse met spirits afgebrand  en gehang vir winddroog. Nou is ek so effentjies oor als ek wil snags by apteke inbreek. Ek Lees Solly Ozrovech agteruit. Yskaste vermy my. Groente het senuwees.

Noppie het my mooi ou houtblaaie begin voorberei om op te skilder. Hy vra vrae. Sy oë kyk tegnieke raak. En hy sien hoe ‘n ding van niets tot iets vorder. En hy wys, in hom, in sy groot wit oë met die neutbruin vrae, wys hy ‘n jong verwondering waarin enige denksaad kan grondvat en rank.

 

Paartie in PE

 

Ons hou paartie. Dis half-twee in die nag en ’n span stoere boere sit buite en kyk na die Engelsman wat so rondpraans en hounding inslaan. Die outjie soek nie net aandag nie, hy eis dit op. Ons kyk, ek en die  manne met baarde en hande wat werkskurf is, ons sit op ’n ry. Annerkant sit die vrouens in hulle paartieklere, en hulle kyk ook – almal saam soos ’n klomp meerkaje wat orent-sit, sit ons, verwonderd oor die praat-aap wat aangaan of hy malpitte in het.

 

Die kêrel kry geen einde nie, hy praat aaneen, gee niemand ’n kans nie. Boonop staan hy op die voor-verhoog van alle geselskap, almal verder sit, verdwaas, en hy dwing sy retoriese soliloquy non-stop op almal af, seremoniemonster wat hy is. Ek dink hy is op cocaine.

 

Ek vermoed hy trip op ’n chemiese substans want sy brawade is aangevuur deur ’n soomlose dog meedoënlose energie: hy trippel rond,  hy boks, hy maak cool gevegbeweginkies om sy woorde te aksentueer, soos ’n parmantige straatkat voor ’n gehoor van muise. Ons sit stil, verwonderd oor die man se lang betoog. Hy praat soos ’n teenager: “And I’m like, cool, this is it, big time, I’ve been jiving clubs all ma laf. I ride horses and women – young women. Or they ride me. I keep fit. Nobody knaas A’m 49. Nabary. I’m like fit, and I’m like: Wait a minute! Do me a fava! Don’t compliment your kids on poor behavia. Don’t reward bad results. I’m like: Come On! Wake Up!....”

 

En nee, niemand kan hom stilkry nie. Behalwe dat hy die vrouens, gasheer en almal verder beledig deur sy rasende sub-teks wat duidelik uitspel dat hy homself superieur voel bo boere en ouer vroue, bo mans met pense en growwe hande, praat hy die musiek dood. En die musiek is fokken hard.

 

Die man het duidelik ’n formidabele mid-laaif craasis. Hy is inderdaad fiks en slank – geen ons vet op die lyf nie. Smal heupies en breë skouers, tight jeans en kougomkouer, maar niemand is op enige manier met sy vertoning geïmponeer nie. Of met sy skrander voorkoms nie. Ons kyk hoe die malpitte hom rondjaag. Op en af, heen en weer op sy klein en selfingenome verhogie. Ure aaneen. Ons koppe lyk of ons tennis kyk op Wimbledon. Dan staan ek op, vat Marakkas en fokkof.

 

Dit was ’n vriendelike, ligte bries wat my vroeër by Port Elizabeth ingewaai het. Ek weet nooit of dit The Friendly City of The Windy City is nie, gister was albei, maar lig en vars en aangenaam, so met die wit perdjies op die groen see. Barry en ek laai vir Hesti by die lughawe op, en ’n vriendlike, ligte wind waai ons tot op die stoep van ’n wynhuis in kuierstraat.

 

Dis Hesti se eerste dag weg van ’n jaar van matrieks jaag, jaarboeke maak, skoolkoerante baar, soggens 5-uur op en saans na 12 gaan slaap. Barry, die sagmoedige advokaat, is ook ontspanne. Dis naweek se voorpoorte. Ons quaff keurwyne. Vanaand, dag ek, gaan ons sushi eet, maar nee. Nee. ’n Vriendelike dog besliste wind waai ons na ’n huispaartie. Nee, ons moet syntoe gaan. Paartie toe. Ek sê nee, ek het laasnag min geslaap en ver gery en wil nie moeg by ’n aand vol vreemdes aankom nie. Nee, sê die advokaat, dit gaan lekker wees, jy kom saam. Hier kom Sampie, Barry se boesemvrind, ’n man so rustig en gemaklik in sy vel, so egalig in sy stap en lag, in sy kyk en gesels, mens voel of jy hom  al lewenslank ken, al is dit skaars 2 maande en drie keer se sien. Sampie skink nog wyn, sy vrou en kind is weg op besoek en hy is vandag ’n slag loswynpot – daar sal geen gerussery wees voor vanaand nie en geen sushi nie. Almal gaan paartie toe. O.

 

Ek het nie klere om boeremense tuis te ontmoet nie. Nie die die regte egte plaasboersoorte nie. Ek het net skilderklere – by Pep ’n tjiep groen werkbroek gekoop, lig en lekker en mens kan daarop mors. My hemp wapper los – in die vriendelike paartiewinde van PE – en dit frommel soos ’n kraamrok oor my pens. My lang hare staan vervaard. My snorbaardjie blink muisgrys: Willie Nelson meets Chicci the Clown. Maar, die mense is warm en heerlik ontspanne.

 

Jere, daai oop gebrek aan pretensie is so verfissend. Die tafels staan vol kos. Eenkant dans ’n vreugdevuur, oorkant dra ’n tafel swaar aan wyne en yse, whiskey en soda, brandewyn en Coke en ’n groot bak vrugtevolle vrugtepons. Dis lekker musieke wat speel- golden oldies en nuwe dansgoete – boonop my beste nuwe somerklanke, John Newman se Love Me Again.

 

Mense kom stel hulself voor. Boere met plase so groot soos Malawi. ’n eks-Polisiegeneraal met rooi naels, blonde bob en slanke lyf. Dis warn handdrukke, oop gesigte en geen sweem van vertoon nie. Al het hulle meer geld as Zuma. Als, oral is praktiese gebruiksgoed. Die swembad vonkel en die dogter word dertig – oral flikker-flakker kerse en ballonne, lampe en lanterns, blinkgoed gooi kleurlig tussen feeskos.

 

Van die jongeliede hier woon tussen Oos-Kaap en Londen. London. Ek weet nie waar om te eavesdrop nie, want almal gesels geänimeerd oor die jaar se dinge. Die meisies is almal mooi. Pragtig. ’n Ma met drie kinders lyk soos ’n joolprinses. Ouer manne met heeslagte en stout oge vertel mooi stories, jonger latte met lang lywe en diep stemme kom gee hul anties stywe drukkies, kindertjies speel sonder tantrum en lawaai. So is die lewe aangenaam.

 

En toe kom Mister Insister. Met sy attitude en onbereidwilligheid om centre stage prys te gee. Ons het lank bly luister want hy wou nie ophou nie, van sy argumente was nogals interessant, en, vreemd genoeg, ondanks sy hartstogtelike noodkreet na ewige jeug, het hy nie een keer gevloek nie. Ek kon hom so ook met bietjie bekyk, net voor ek vaak moes fokkof, die man wat skielik besef 50 jaar is verby en hy’s nog steeds ’n kind.

 

Pink Floyd: And then one day you find ten years have got behind you, No-one told you when to run...

 

Ek sal glad nie omgee om weer eendag met die man – wat is sy naam? – te kan saamgesels oor die lewe en haar angswekkende spoedhekel nie. Maar, dis die boere wat ek weer wil sien. Die manne wat die geskiedenisse van groot plase dra in die lagkraak van die stem, die akoestiek van ruim borskaste, die warm handdruk en die mooi manier waarop hulle met hul vroue en kinders praat. Die vroue wil ek weer sien – Marleen wat by jou kom sit en haar hand warm op jou arm lê as sy ’n woord in haar gesels wil uitlig, haar oë onbelemmerd deur strawwe oorlewing, skoon in joune in.

 

Wag. Marleen het ’n soutring gemaak, hiervan moet julle hoor. Dis ’n resep om almal se pense baie lekker te sement voor jy enige paartie aanvat en wyne gooi of  klippieskopkuier: Keer ’n ringvorm om. Smeer met botter en pak lae van die volgende tussen lae grofgebrosde Bacon Kips: roomkaas of cottage cheese, dan Kips, ham of ontpitte olywe, Kips, rasperkaas, sulke goed....tot laaste ’n laag fyn avo bo-op. Laat die vog deur al die Bacon- Kips werk vir ’n uur of wat, in die yskas. Keer om en gaste skep die ring weg met soutkoekies. O allamoer. Dis ryk, maar roomleklekker en almal kan daarna kuier sonder om om te val. Ja, jy kan maklik ’n lekker vegetariese weergawe gou-gou optoor met jou gunstelingsoutsmake.

 

Later sit ek eenkant en luister die gesprekke. En ek kyk na die manne en hoe manlik hulle is. Sterk. Fors, maar sag in die hart. Warm in die lag. Wys in die baard. Ordentlik. Ek dink aan die stereotipiese internasionale beeld van die Afrikanerboer, as halstarrige ou bliksem. Onvergeeflike meester. Onderwerper van vroue, kinders en werkers. Daai ou gal. Ek sien daarvan net mooi niks hier nie. En ek wonder weer hoe ons mense hier moes kom – uit Europa, hier in die Oos-Kaap kom grond bewerk en proviand verbou vir al wat leef. Ek luister na die vroue wat sneeuwinters in Europa by hul kinders gaan kuier, want hier is die koue darem te erg. Ek wonder oor die karakter en redes, die hoekoms en waaroms, die aanvuur van ons voorsate wat oor ver skrikwaters moes vaar, oor berge en eindelose dale, teen aanslag van als, om ons sterk mense vandag hier steeds te laat plaas maak van vyandige paradys. Hoe het ons hier gekom?:

 

1759

 

Hy vlug weg uit sy donker noorde met net woorde as brood

 Hy vlug een hand om sy hart en stilte op sy lippe

 Met kaarte nét in sy oë klim hy op ’n skip gekittel uit niks

 En vaar weg oor ver waters, sy vuiste klippe vol vuur

 

Teen die wind hurk hy, eenkant, sy dun klere soos geloof om sy lyf

 En sy drome klim golwe sonder plek of einde plek of einde plek of einde

 Toe hy die Kaap eerste keer moes sien, was sy oë lankal al wolke

 Sy derms ver uitgeskyt oor vloekende golwe, met net splinters as vingers

 

Tas hy na die eerste gesig van die nuwe strand, drywend in die sand

 Van alle verledes. Elke spier in sy kuite klamp om ou slotte vas

 Sy spoeg kolk ’n spinnedraad, ’n spookspiraal krampe, dan

 Fluister die stem van sy ma op die wind, haar asem salf op sy voete:

 

Sy wys hom dat hy kan staan, sy roep hom orent, sy wys hom die weg

Voor hom, soos ’n droom wat kaart kry, doem ’n vlamverroeste Tafelberg

 

 Kerse en Vonke

 

Ek bid vir min dinge. Eintlik net een. Hier is my mantra, my refrein, my bloedklont: “Wys my seblief my regte pad, Here.”

Dood wil ek nie neerslaat voor ek dit gedoen het waarvoor ek hier is nie, waarvoor my ouers en onderwysers en soveel ander - ook ek self - moes opofferinge maak nie. Maar dis ‘n lang pad en vol afdraaie en slaggate. Ek is ‘n laatlam en laatblommer. Rypvrug en brommer. Iets moet nog gebeur.  Soveel staan onklaar.

Hoe verduidelik jy aan ‘n gewetenlose mens wat ‘n ‘gewete’ is? Is dit dieselfde as om aan ‘n onskuldige te vertel wat ‘skuld’ is? Nee. Ek weet nie. Mens sou dink dat die persoon wat die storie wil vertel, die boodskap’ wil oordra, self vroom en van suiwer gewete moet wees. Onskuldig. Rein. Wel, ek is nie. Toe ek jonk was,het ek my vingers verbrand, maar my les het ek geleer. Ek onthou alles steeds vlamhelder.

Oor Kersfees hier om niks tot stilte nie, maar alles hol in halfsirkels in ‘n kataklisme in van inkopies, uitpakkery, ingooiery, uitvallery, inboekery, rooi-oog uitkruipery. En op heilige dae val ons reënbooggees van versoening weg en skep ruimte vir familietwis, dikbek personeel, prag en praalvertonery, oordaad en jig.

Ek vlug. Nie soseer Daggaboer af weg nie, nee, ek sou baie graag alleen op die plaas met Marakkas bly terwyl almal weg is vir hul een dag per jaar af. Nee, ek ry net weg, ‘n wye veld in met meer groen en oergenade as wat ek ken.

Oukersdag vat ek ‘n pad wat ek nie ken nie. Min dinge so lekker. En die pad is stil – weg van Daggaboer weer oor Cradock uit op die Queenstown-pad na Tarkastad-omgewing. Ek het nie geweet daar is nog plek in ons land wat só wyd en só groen en só eindeloos voor jou kan oopval nie.

Ry jy tot op ‘n bult of pas, speel annerkant een wye ononderbroke landskap in alle rigtings weg tot in die fyn mis van die niet waar berge en hemel versmelt tot goddelike kalmte. Oerveld. Groen. Dikwels geen elektrisiteitsdrade of foonpale nie. Soms darem heinings en hekke – of dalk het dit alles net weggesmelt in die honderde spoelplekke van groen en hemelsblou, wolkwit en reëngrys.

By Tarkastad vat ek die Adelaide-Bedford-pad uit, dit word metterwoon grondpad, en ek ry in ‘n koffietafelboek vol volkleurprente in. In ‘n sesdimensionele almanak in, vol duisende foto’s van landskappe wat mens altyd net in prente sien. Ver van die grootpad af. Ek gaan kuier by vriende se nuwe skoonfamilie – die vriende en ek is al so jarelank-so saamgekuier, ons is lankal al familie. Die nuwe plaasfamilie word ook binne een dag vriende.

En hier is rus en samesyn. Water en bome en rus. En elkeen word oorgelaat aan sy eie dink en doen, eet en drink, rus en kleredrag, lag en gesels. Niemand loop rond met ‘n klap in die stem en spreek ander aan oor wat gedoen moet word en wanneer nie.

Oukersaand word jy wel na die klipkerkie saamgenooi – in die niet iewers naby, tussen heuwels – om te gaan luister. Luister na hoe gelowiges van alle kerksoorte en tale elk ‘n familielid aanwys om iets uit die Bybel te lees. Geen predikant nie. Dis veral jong mense wat graag voorlees. Marilyn wat in ‘n kaftan staan en almal om haar bymekaarmoeder. Almal sing in Engels. Kerse brand. Kinders speel rond maar niemand kry daarvan hartversaking nie. Kort en kragtige diens. Daarna drink jy wyn.

Maar, toe die ou Kersmusieke in my keel nie meer kon klankmaak nie, en deur my oë begin brand, moes ek uit. Buitentoe. Tussen die ou grafte in. Op en uit na die oop blou lug waar wolke begin saamtrek in al die kleure van die son, sodat ek die sandsteenkerkie van buite kon lees, in al die eenvoud van haar plaas-Gotiek. Dapper klein kerkie. Welversorg. Ek kyk. Kyk sodat ek kan sien en hoor hoe die groen berge, die rivier, die suisende populierbosbome en die mensestemme haar kordate en gespitste skouertjies omvou. Sy met haar grafte en nuwe babaklanke.

Later die aand, om die Kerstafel, het ons rustig fees gevier – eers begin met Jock se spontane gebed van liefde en deernis. Jonge mense, ou mense, almal kuier om bottels vol yskoue uitsoekwyn en spoggerige, regte Franse champagne. Ons gesels om skottelsvol plaasgerookte ham, smeltskaap, soutvleis, eend, hoender, kalkoen en knarsvars groentes. En O, die poedings. Die poedings. Die poerieng. Die jig.

Kersdag kry ek boonop drie groot en onverwagte geskenke. Groot. Ten eerste, weer ‘n oop en warm oggend-ontvangs van onvoorwaarlike aanvaarding. Dit is iets wat mens net in die oë van mense kan lees en kan herken as jy die teendeel ken. Tweedens, ‘n geskenk van Liana, ‘n resepteboek wat een strook stryk met my geite en gesonderwilwees, en derdens – die verlore skakel van ‘n storie waarop ek al tien jaar broei maar nooit die regte toegang of ware feite kon vind nie. Daar, op een plek, in een gesprek, per toeval, knoop jarrelange losgelate leidrade almal saam tot een gesels wat ‘n hele tydperk afsluit en ‘n nuwe deur oopmaak, vórentoe.

Ek bid vir min dinge. Eintlik net een: “Wys my seblief my regte pad, Here. Die een wat ek moet loop sodat my pa se naam nie verlore raak nie.”

Terug by Daggaboer-padstal is dit woes bedrywig, dis die jaar se spitstyd. En tussen al die Kersvreugdes broei onrus onder die werkendes, brommende, hulle wat self geskies het om Kerstyd te werk. En onder die plaasvolk moedig wyne veel onreine dade aan. Vir dae moes ek net eers peil wat aangaan, eenkant, soek, kyk, wie die vonk in die klein dog dreigende vuurkolkie is, waarom daar vreemde pap in die potte prut.

En weer sien ek, op heterdaad, hoe vielik klandestien mense misbruik kan maak van als – nadat daar met groot oorgawe en baie liefde reeds veel meer gegee is as wat wet of deernis vra.

Hier is slange met vrome gesigte hier, en vele valse tale, sluwe plotters en vatters, blameerders en adders, vertoners wat moet weg. Skelmgeite. Te veel mense se gatte staan lelikdik van die room afgeskep deur ander se werk en vruggebruik van hul krag en verbeelding.

Die land van room en vleispotte lok alle liplekkendes saam.

In die nuwe jaar sal ons vroeg moet snoei om volgens goeie reg te kan oes. Wat ons sal moet aanspreek, is nie politiek nie, dis erger, dis gewete. Ons sal moet soek na wat gewete is. Dis die voos en verlore besem. En dis dikwels mense wie se menswees tevore onredelik ondermyn is, wat gewetenloos begin speel. Die oorvriendelikes wat wonde met wraak vergeld.

Ubuntu Robuntu

 

“Onthou, die Here sién jou”, het Tant Isabel van der Merwe teen die vensters van haar Karoo-huisie geplak. Die een in die droë Karoo waar skaap en wild moes loop tot die lente in blomme losbreek, en die diere dan weer aangejaag moes word, terug, grootplaas toe. Elke oggend moet die diere weer getel word, en elke aand weer.

Oral is daar wagters. Oppassers. Vertrouelinge.

Boonop het Tant Isabel toepaslike versies uit die Bybel in haar netjiese handskrif teen die vensters bygewerk en die hoofletters met Koki-pen versier. Dit was haar diefwering vir die tye wat die huisie leeg moes staan, veral in die hoë somermaande wat die son sy tong daar rasper. En so moes sy, onse Tante wat nooit weifel in haar geloof aan goedheid nie, ook maar leer dat ‘n dief geen gewete het nie.

Nee, ‘n dief is trots op sy trofeë. Hy stal dit aan sy maters uit. Nkandlas neem vele vorme aan, en die oorsprong daarvan laat geen spore nie. Altans, so dink hulle, die diewe.

Die ding begin so – die kultuur van diefstal was tevore geen sonde nie. Jy sluip oor ‘n koppie, nadat jy jou vyande die aand tevore vriendelik bier gevoer het, en dan, terwyl hulle die oggend-ure besnork, slaan jy toe en jaag skaap aan. Gryp sommer ‘n mooi meidjie ook en sleep haar as verlowingsvleisie saam. Dis tradisie. Kultuur.

Dis met trots wat ‘n dief wandel, nie met skande of skaamte nie. In die bendes van die vlaktes is die grootste dief die grootste held, die rolmodel, die breker deur wie jong meisies ingebreek wíl word – hy met die goue tande, silwer kar en wit beloftes. Hy pronk met sy steelgoed. Hy wen.

Dit wat eens Ubuntu was, gedy nou omgekeer en ons sien die teenbeeld oral: selfde struktuur, net  andersom en onderstebo. Inplaas van gee, vát jy en deel. Robuntu. En net een reël geld: Moenie gevang word nie, want dan is almal in die kak. En jý sal betaal.

By my restaurant het ek die volle glorie van operandus robuntu leer ken: almal in die kombuis werk en waak saam, slaan saam toe as niemand gewaar nie, elkeen met ‘n spesialisveld. Een sal stilletjies eiers kook en later in haar bra wegdra, sodat jy te laat van besoekers moet hoor - die bobotie is hel-droog. Dit help nie jy tel die eiers af nie. Jy moet bystaan terwyl die kos gemaak word. Of liewer – doen als self. Maar, wie kan? Wie kan?

‘n Ander smokkel drank in klein botteltjies in haar beker vol lou tee. Doodluiters, na buite. Die oudste lid, meewarige liefding, skep ‘n klein krisis waarmee die eienaar gyselaar gehou word. Sy breek aspris ‘n slaaibak voor in die restaurant om jou daarheen te laat haas. Dan stort sy in trane ineen sodat jy moet troos en vergifnis bring. Terwyl die ander vinnig saam in die kombuis room afskep.

Vanaand, in die minibus, ruil almal onder mekaar trofeë uit – opwasseep, toiletrolle, vleis, drank, tafeldoeke, batterye, blikke konfyt en botter, alle kombuisware. As jy hier gaan opdaag en stem dikmaak, en gewete soek, gaan jy net woede kry. Stil woede. Ontkenning. Gewetenloosheid so oud soos kultuur.

Die mag van robuntu lê daarin dat almal moet saamwerk en steel, as jy eenkant bly word jy gemerk en uitgewerk, en so kry die monster menige koppe. Impi. Die nag van die vol flesse. Jy kan dalk een uitvang, maar nooit almal nie. Kap een kop af, en ‘n duisend meer verskyn. Raas en beskuldig in die trop in, en jy kry sleurvoetstaking. Dik ooglede, halfmas. Dikbekke. En die dik gatte wat so sidder van al jou winste verlore, stamp teen als. Stamp stoele om. Aspris.

Hierdie magsbedeling bou op tot in die allerhoogste kringe. Probeer maar die een wat sy paleistrofee ten aanskoue van almal uitstal aanspreek, probeer hom berispe, en jy sal net swye kry – of ‘n brabbelende gebabbel en aantygings van rassisme wat met woede verwerp word. Met sluwe dreigemente net in die oog. Net in die glimlaggie. Die glimlag ontplooi deur die mag van maats wat saamsteel. Groepsvertroue. Mag.

As ‘n mens keer op keer, soos nou weer hier op Daggaboer, jouself vasloop teen die spinneweb van diefstal, wonder jy nie meer of dit uit weerwraak op apartheid is, en of apartheid ‘n weerwraak was op die eindelose gediewery nie. Nee. Want jy kan sien – die patroon loop oral deur: die wittes staan ook glad nie onskuldig nie. Die mees korrupte een skree die hardste teen die swartes, gooi die witste klippe. Almal staan met krummels op die lippe.

En jy staan met jou vadoek oor jou skouer, in die vertroebelde ruimte wat jy skep as werksplek en oase, as bron van lewe vir soveel, maar dis nooit genoeg nie. Jy sien dit word ‘n ontembare oorlogsveld, en jy sê: “Die Here sien jou.” 

Jy, die eienaar en werkverskaffer (what a word!), moet bly opspring en werk. Terugdraai is daar nie. En jy is die laaste in die tou wat betaal word. Nee, so kan dit nie aangaan nie. Die gebreekte vensters word met staalwering vervang. Staalwering van woorde, wet en trekpas. 

Wel. So maklik is dit nie. As jy een uitvang, sal jy almal moet wegjaag. En dit kan nie. Die deure moet oopbly. Jy moet aanhou. Jy word gyselaar in jou eie siel. DIT is mag. Die mag van Robuntu.

 

Parow soek haar Arrow

 

Ver weg, hoog verhewe staan Parow Hilton en slaan haar oë af na Tafelberg; waar sal haar hulp nou weer vandaan kom?

Al haar kontakte, huwelike, kredietkaarte en botox is uitgewerk. Verby. Op. Klaar. Niemand.herken haar eens meer nie. Gister se voorblad begin vandag se braaivleisvuur. So kan dit nie aangaan nie.

Sy’s ’n has-been en sy staan verlate voor ’n groot glasmuur op die 42ste verdieping van die Parow International Pain & Pimm’s Rehabilitation Clinique en sy kyk uit oor die wye Kaap. Haar glanslewe lyk geheel en al verby. Die wind waai woes, oral, en doer ver hang lang slierte grys mis teen die berghange af en kataza seersekerlik die mense in Vredehoek met klapkarwatse wat rondpluk aan hare en kardeure, rokke en afdakke. Oor die see wapper bote weg diepkant toe. Perdjies.

 Sy suig ’n lang teug aan haar Craven “A” Menthol en trek haar oë op skrefies soos sy skiem. Sy reken. Sy koenek idees en vermenigvuldig feite en knoop vermoedens. Sy kies kortpaaie en kom ompad weer in aanraking met haar manlike sy. Die een wat sy laas in ’n skoolkoshuis gelos het.

 Blyplek moet sy kry. En blitsvinnig. Goedkoop maar gerieflik.

 Om van ’n slegte storie ’n nuwe avontuur te maak, is Perdjie se spesialiteitsveld. Om dit wat teen jou tel te gebruik vir die beste. Om van kleur te verander, van voorkoms en van geloof. Van naam. Om diep te delf na ’n skat in die ruïnes is almal se dagtaak, maar vir Parow is dit meer as geloofsaak. Dis meer as oorlewing. Dis wins.

 In die kliniekgange af kreun en steun van die wêreld se voorste celebrities en ander rampdelwers in hul luukse kamers. Heerlik half bewusteloos na ’n regtreksnywerkie of tien. Oral weerklink die vloeke en roepe van bekende stemme. Akteurs en sakelui, modelle en politici, weeraanbieders en sangers van internasionale faam, almal in alle skakerings van pers, groen en geel. Die weledele wesens van wonde. Glase ratel, vase breek, personeel skarrel. Dis die voorportaal van die hel, ’n plek aan onse Parow nie onbekend nie.

 Sy draai om na die slotmasjienwinkel agter haar en bekyk die ware agter die glas. Tjips en tjoklits troos haar nie. Nog nooit. Sy kyk na die Coke wat nou weer cocaine in het. Of darem brandwyn. En na die joghurt in al die nuwe smake en name: Madco-Dol, Sindol, Propayne. Valley-Hum, Allzam, Oblivion. Organic marijuana. Sy sluik ’n stapel papiernote deur die gleuf en selekteer ’n nag se voorraad.

 Dan lui haar selfoon die huweliksmars.

 Sy kyk tussen rook deur na die naam wat op die foonvenster flikker. Dis die man met die nood. En dis hoog fokken tyd. Dan stryk sy oor haar nuutgevonde uniformlaplelle en stryk haar skoonmaakwa voort. Rustig. Tot by die glasboks met die alarm. Haar gesteelde skoene njierts-njarts.

 Vir ’n oomblik onthou Parow dat sy, onder andere, die kleindogter is van pastoor Habakuk Proes en sy nerveuse vroutjie, Patat Schietekat-Proes, alias Ouma - die ouers van haar moeder, die alomgevreesde en verdwene Papsak. Sy hoor weer haar suster se stem. Die een in Denial. Die een wat van elke oproep 'n uitkaksessie maak.

Dan breek sy die glas en druk die alarm.

 

 Hospitaal op Horings

 

Die alarm weergalm deur die kliniekgange en Parow stap vinnig na die oorkant van die wagkamer.  Flink draai sy om en skiet haar sigaret deur die lug bo-oor die wagkamerstoele tot binne-in die emmer vlamgoed by die glaswinkel. Voor ‘n sisgeluid of slag opvlam, flits haar hartseer lewe in ‘n oogwink voor haar verby.

 Sy sien haar eerste Barbie-pop in die kaggel wegsmelt en stinkfrommel. Sy beleef die fatale kardakroeiery op die parradam. Meneer Hanekom se impromptu besnydenis en sy geskreeu jaag deur haar. Die Hele Petalje as Mej Suid-Afrika. Foktog. Die sewe huwelike en die wittebrood met Hathersage Hilton, als rammel soos ‘n stoomtrein deur haar hele bewussyn. En dan O, die tyd tot inkeer in die tronk. Die fokken tronk. Maar wat die sterkste tot herinnering brand, is die oggend toe sy aansoek gedoen het vir die pos as persoonlike asisstent tot die nuutverkose Pres. Nelson Mandela.

Die pos wat sy een hele oggend lank met alles in haar vermoë beklee het, maar wat so wreed en inderhaas aan Zelda le Grange oorhandig is.

Parow het gereken dat sy vir die pos uitgeknip was. Almal het dit gesê. Haar tyd in die tronk het haar boonop ingeskerp op die mind-set van die eensame denker. Sy had begrip vir die eenvoud van sy dieet, die omvang van sy lyding, sy pligte. Na nege swanger maande as Mej SA, had sy ook insig tot die problematieke wat wysheid meebring en die omvang van die onbegonne taak om wêreldvrede te bewerkstellig. Sy kon die ou terroris 'n paar goeie trieks leer, dinge wat jy in geen boek kry nie.

 Verder het sy gereken jy voer die Oubaas net sy pap in die oggend, poeier sy pantoffels, sit sy blomhemp netjies reg, stop sy kouse, voer hom hoesstroop elke 30 minute en spyker sy tee gereeld met slaapgoed. Wat kan dan nou makliker wees?  Verder het jy toegang tot alles en almal. Bono. Tokyo Sexwale. Die kinderfonds.

Die eerste oggend het alles besonder goed verloop. Dit was fabulous. Die Oubaas het gehou van haar uniform. Hy’t self so gesê. Maar, toe stuur Parow mos gou vir Winnie winkel toe om vir haar te gaan Menthols koop. Kyk, die tip het ook niks gehelp nie. Al was dit vooruitbetaal en saam met die lysie in die banksiesak. Van wanneer af is R5 ‘n kak tip? Parow was verslae. Na alles wat sy die heel-oggend vir die ondankbare Mandelas gedoen het, is sy daar uitgeboender, met haar vanity case en al.

Dis hierdie beeld van haarself, met haar stiletto’s in haar hand en haar nuwe sykouse kaal op die teerpad in Houghton, verslete in die donderstorm, dis dit wat haar die meeste aangryp. Die fokken ondankbaarheid. Dis als is ‘n bitter smaak in die vlugsketse van herinnering, terwyl sy nou daar staan en die wagkamer in oranje vlamlig opkikker.

 Asof versteen staan sy daar, sy sien nou blitstonele uit die aand met die drie dronk joernaliste in ‘n kroeg in Booysens, toe Beeld nog in Doornfontein was, hoe hulle haar aanmoedig om haar lewe in ‘n boek te verewig. Sy onthou hoe daardie boek haar vernietig het, al het net enkele stukke daarvan in die verkeerde hande beland. En dit was die meer gematigde dele wat die ergste kwaad gedoen het.

Die deel getiteld Interpenetrale seks en die Poephol, Hooftuk 81. En Die Vulva en daaruitvoortspruitende Fabels en Fokkops, Hoofstuk 518. Dit het haar geloofwaardigheid as mens en denker later nadelig getref, want mense is mos nie meer as simboliek gewoond nie.  Maar, die robuuste manuskrip is mos nooit voltooi nie, want Parow moes vlug. Sy was, onder andere, toe reeds $1m vooruitbetaal om OJ Simpson in ‘n wip te gaan lok, maar sy is by die lughawe op Los Angeles summier teruggestuur.

Almal was op haar spoor. Die FBI. CIA. Winnie se sokkerspan. Joan Hambidge. PG du Plessis. Quentin Tarantino. Sy moes vlug in vrees en boonop haar voorkoms verander – ‘n fatale fout. Maar die begin van ‘n alternatiewe lewe. 'n Lewe in die onderwêreld van spioenasie en smokkelary.

Teen die tyd, nou, op hierdie oomblik, stap Parow rustig deur die skreeumal skares, haar heupe wieg, sy slenter doodkalm deur die sale en versamel juwele en ander gedenkwaardighede uit handsakke en medisynekabinette. Sy is so koel soos ‘n souterige margarita. Sy is op haar beste, noudat die hospitaal op horings en in vlamme staan. Dan smyt sy ‘n beker water oor ‘n japon uit, trek die nat ding oor haar skouers, syg in ‘n rystoel neer en skreeu hulpeloos, bloumoord roep sy, om redding.

 ‘n Jong spiermasjien kom vinnig aangedraf en laat wiel haar die gang af tot by die glybaan en wenteltrap wat langs die kliniek afspiraal. Toe hy haar eerbiedig tannie noem, teef sy hom ‘n snotklap. Hy knip sy oë verbaas. En hy pos haar tussen ‘n klomp gillende celebrities in die wentelbaan af. Poeshou.

 

JONGA  VLOEK NOOIT

 

Jonga vloek nie. Nooit nie. Sy het geen nood of nut aan ‘n gevloekery nie. Selfs haar woord “hesses”, die een wat sy soms so radeloos sug as die kinders haar gek maak, is ‘n onskuldige woord.  Dis vry van enige sake van die hart of kerk, taal of wet. Dis net ‘n geluid van verwondering of verslaenheid.

Hesses. 

Dis juis omdat Jonga op haar eiesoortige manier so intens gelowig is, dat dit byna onmoontlik vir haar sal wees om hesses en Jesus met mekaar in verband te bring. Nee, dit sal nooit. Haar vieslikste woorde is “voertsêk” en “fokkof”, opgeroep na die graad van haar verontwaardiging. Verontwaardiging met ongehoorsames – enigeen van hulle op straat.  En dan die ewige probleem met geld.

Sy staan nou in die oop vlaktes, ver uit op ‘n nasionale pad, in die son, onder haar sambreel. En sy kook.  Die bondel dragoed op haar kop weeg swaar. Haar nek swik. Langsaam sit sy die sambreel en bondel op die grond langs haar neer. Sy steun. Sweet loop oor haar nek teen haar rug af.

Hesses.

Victim sit dikbek onder ‘n skramse boompie.

“Victim,” roep sy ma. “Die Jere sien voor jou! Kom nou. Ons pad loop ver. Die Jere het my gepraat. Hy’t my sy woorde gastier. Hy wag voor ons in Denial. Ons moet Hom syntoe gaan soek dat ons onse hart met die Jere kan regpraat. Kom! Ek wil nie meer sjo sokkol nie.”

Victim kyk weg. Hy mompel. Tjiekie. Hy skop stof op. Sy ma loop nou ander paaie.

“Victim! Die son gaan voor my stokkon! My voete sy kry die swaarte!”

“Ek wil nie meer saamloop nie.”

“Dan moet jy hier bly dat die tokkelos jou kom kry."

"Tokkelos se moer.”

Nou’t sy genoeg gehad en sy stap wiegend dog beslis weg om ‘n slaanlat van ‘n boomtak af te stroop.

Hesses. Ha-yi.

“Die son sy brand my stokken,” kerm die kind. “Ek gaan swart word.”

Sy stop, en draai om. Dan brand haar hart. Sy sien die kind kry swaar. Sy sien die sweet loop blink oor sy voorkop. Dan kyk sy rond vir aalwyn, maar sien ‘n bos plumbago raak, 'n groot en mooi rankbos vol blou blommetjies.  Dis of ‘n koel briesie deur haar waai, en sy lag.

“Kom, Victim! Kom jelp salf pluk!”

Sy steun en stuur haar swaar lyf deur die krapperige graspolle en lae struike, strompelend, sy kyk mooi vir slang en mier, stamp haar voete, en dan begin dan bloublomme pluk. Plumbago! Die skramse geur en soet herinnering aan haar ma maak haar ligter, en sy begin neurie.

Victim bly eenkant sit. Asprisserig. Hy kyk weg. Hy wil nie weet van Denial nie. Hy wil dorp toe gaan. Hy wil nie veldsalf hê nie. Dis nonsons. Salf kom in mooi klein blikkies. Jonga laat hom begaan. Sy pluk haar voorskootsak vol blomme en stap moeisaam terug na haar bondelgoed. Hesses. 

Sy vleg die bondel kopdoeke los, krap rond en vind haar botteltjie Vaseline. Singende soek sy vir die blikbeker.  Plat op die grond gaan sit sy dan en blom haar sambreel bo haar kop oop, al singende, en sy knyp die handvatsel onder een oksel vas en begin om die blommetjies in ‘n blikbeker op haar skoot los te breek.

Sodra die beker halfvol blomme is, begin sy dit met die Vaseline-bottel fynstamp. Die pasta maak sy onder haar vingerpunte verder fyn tot ‘n satynerige slym. Dan meng sy ‘n goeie skeut Vaseline en vars grond daarby in. Grond, nie sand nie.

“Kom, Victim!”

“Hay-yi.”

“Ek gaan jou los vir tokkelos!”

“Ha-yi.”

“ Ek gaan jou skoene vir die tsotsi’s gooi.”

“Hay-yi.”

“Kom mou, my kjent. Hesses. Jou ma is moeg. Ek wil jou help dat jy nie so seerkry nie. Kom nou my ou soontjie. Toe? Dan drink ons bietjie Oros.”

Kop-onderstebo kom hy aan. Dikbek. Skoorvoet. Kom val langs sy ma op die warm grond neer en kyk weg. Sy smeer haar salf stadig en egalig oor die kind se gesig, nek en arms. Oor sy bene. Dis koel. Dit vang die geringste windjie raak en maak die luggie koel en nat.

Soos hulle nou verder aanstap, koel die kind af. Hy stap nou waffers onder die sambreel en sy ma hou ‘n kopdoek onder voor haar gesig oop – twee punte vas onder die bondel op haar kop. Haar gesig blink ook van die bloublomsalf en sy sing. Sy jubel.

Saam loop hulle en sing. Dit maak altyd alle paaie korter. Dis ‘n kerklied wat saamval met die klank van voete op die pad. En dis helder. Een met min maar groot en skoon woorde. Woorde van dankbaarheid en van lof.

Ma en seun vat die grootpad nou oophart aan. Sonder enige vrees. Hulle strompel soms, maar ly nie. Want, gelowig is Jonga - dit maak haar las ligter. Goedgelowig is sy ook, en dit maak haar pad soms weer swaar, want sy vertrou soms die verkeerde mense. En bygelowig is sy veral. Haar voorvaders raas nie net in haar drome nie, hulle raas met haar sommer helder oordag op straat. In die skielike toeter van ‘n taxi. Die skel van ‘n likkewaan wat stertswaai oor die pad hardloop. ‘n Hoep-hoep wat skielik opvlieg. ‘n Kleurmannetjie wat sy oge vir jou rol. Tekens op die pad. Mens moet mooi kyk. Daar is baie boodskappe. Waarskuwings. Aanduidings. Maar die een wat haar nou stapkrag gee, is die woorde op die plakkaat. Die woorde nou mooi opgevou voor in haar Bybel: God is in Denial.

Hierdie plek gaan sy kry. Hierdie Denial. Die taxi’s ken alle plekke. Jy moet maar net vra en bly vra. En jy moet weet vir wie om te vra en hoe.

Sy sal God daar in Denial kry en haar dinge met Hom gaan uitpraat. Regpraat. Reguit. Skoonmaak. Sy sal alles uitpak en blootlê sonder enige vrees vir berou, sodat sy haar kinders deur die skool kan stuur sonder soveel pyn in haar knieë.

 

Stilte na die storm

 

Op Daggaboer heers nou weer kalmte na al die feesbedrywighede. Die padstal kook nog, almal hol rond, die karavaankarre stop lang toue en almal koop nog feeskonfyte. Roosterkoeke. Biltong. Gemmerbier.

Bo hier by ons by die huis word pasteie gemaak dat die meel wolke poeierwolke staan. Al wat vloer en gang is, is wit. Almal is wit. Maar, dis stil. Die gemoedere is stil. Die onderstrominge het bedaar. Die groot storm het nie net dakke afgewaai nie, maar boskarste skoongewaai. Skoongebliksem met weerlig en donderknorre wat die berge laat sidder het. Ook ek is nadese weer suiwer van geloof, Marakkas luister as ek praat en selfs die Xhosas praat weer groot-oog Hoog-Hollands en beduie eerbiedig naar het Hemelen.

So is die lewe aangenaam.

Annerdag moes ek  verantwoordelikheid aanvaar vir iemand anders se diefstal, want dit was op my veld van toesig. Een persoon is een minuut te lank by priviand gelos en ek kon in skaduspel teen die muur duidelik sien wat afspeel toe ek terugkyk. Nee, jy kan niemand summier aanspreek en aankeer nie. Die wet vertel jy moet geen genade hê nie, maar dis ‘n vieslike politiek. Die plaas is ver weg van als. Die ontkenning is heftig. Sien nie kans vir die verskuilde dreigemente nie. Geen salf daarvoor nie. Die boosdoener is boonop hier deeglik opgelei in ‘n bedryf wat nie oornag aan iemand anders oorgedra kan word nie. Dit kon skuld tydens ‘n vergadring na vore bring, maar het nie.

Nee, ek wil hier g’n betoog oor ‘robuntu’ opsit en die mense wat dit hul plig stel om te roof waar hulle kan voor stok te kry nie. Daarvoor sal koerante nog vir ‘n wyle braaipapier moet maak.

Annerpad loop ek. Ek vat Marakkas en my feesjiggie vir ‘n stywe stappie die veld in. Ek maak my kop skoon. Uit, buitentoe. Op die wandelpad, ja met stok en hoed, besef ek weer – Liria gaan volgende week kraam. Sy wandel oral in haglike klere rond. Stil. Sleepvoet. Bra-streps swengelende onder haar arms. Dooigesig. Hierdie baba is vir haar geen bron van vreugde nie. Sy sug. Sy sing nie meer nie. Haar ander kinders is al werkgroot, maar Thulani blom lagtande oor sy “prowess as a man.” Kan my nie indink hoe dit moet wees om sy onderdaan te wees nie. Liria aanvaar haar lot met ‘n somber gesig en zombie-bewegings.

Ek sal haar saamneem dorp toe, dink ek, sonder hom, en met geld ingesamel vir die baba gaan sjop. Die kinderklere by Pep is ougat en glad nie van sleg gehalte nie (China or China, choose your store) en met ‘n paar honderd rand kan ons dalk ‘n bietjie kleur en gerief na onse Liria aandra.Sy sing niks meer nie. Die pastei-vrouens stem dadelik in. Hulle is in met ‘n geldjie. Geheim.Elkeen gee wat sy kan al is dit R10. By die padstal sal Bella ook rondvra.

Wie sê ons kan van hierdie kind nie ‘n welkome nuwe lewe op die plaas maak nie?

My stywebeen wil nie regtig teen die son die berg op nie. Nee, moer, ek gaan sit onder ‘n boom waar die storm Nuwejaarsaand die oersand in patrone losgespoel het. Ek sit op ‘n klip met ‘n hoedjie op en lyk sekerlik soos my pa se kind – behalwe nou die lang hare.

Die sand onder die doringboom is droommooi. As kind sou heeldag hier speel, in die koel, vars grond. My eie Nkandlas bou. Paaie. Petrolstasies. Elivis se huis en Min Shaw se paleis. Karretjies sou Beatles aanry en Des en Dawn wegry inry toe. In die koelte van die boom wat rustig wind maak, sit ek. Dit droom my in die stilte in en annerdag  se gedagtes spoel weer terug:

 

Stillewe

 

Vandag kom skep ek myself weer skoon, hier by jou, hier

in jou wyelek en ver-groen dieptes, by jou ewige potte vol speel, hier

in jou alles so vól níks – my lekker Stilte, my onsigbare vriend.

 

Van kleins af bly jy my geduldigste ou speelmaat

en nou ek kom kry jou weer hier, langs die grondpad, hier

waar ek jou as kind ontdek het, eenkant, soetjies, hier

by ons speelbome oral, enige plek waar hande kan speel

in die sand van verlore-ver gedagtes

 

Hier in jou groen koeltes, waar droomwoorde van modder toorbriewe bou

hier kom skep ek myself weer oop, by ons geruislose klank van tydloosheid.

Langs jou warm boomstam waarin goddelike beelde nog sluimer.

In jou wiegende skadu wat hartseer suutjies wegvee tot skoner wete.

 

Hier waar jy my uitwas met die skoon melodie van suiwer niks.

 

Jou swye bly die geheim van al my lekkerste resepte:

die plesier wat bly in die proe met koskook

die vlam wat skoonbloei uit ons losloperkwas

die woorde wat aanspoel in die vredigheid net voor reën

-       al het mens se beste oomblikke selde nood aan woorde.

Jy, ou Stilligheid , is my geheime spesery, my perverse lekkerkry

 

As die sekonde van ekstase te swaar word om te dra en te val

is jy, my Leegte, daar om die oomblik vas te vang

Jy, ou kalmte, is die geboorteplek van alle opregte verskonings.

Jou geraasloosheid is die kerk van marmerskoon begrip, van insig en vergifnis.

Jou waters ontkiem die droomsade van alle rusmusiek.

Jou donkerte knoop alle loskleure om my vas tot een helderste lig

en vleg weer alles los tot blote

ís.

 Jy, wat niks verklik nie, maak van reënpoele ‘n gladde spieël

en maak my daarin ‘n rimpellose, ewig-jonge siel.

Dankie, ou Donderloosheid. Jy is ongewoon.

Vandag kom skep ek myself weer mooi

hier by jou tydlose stilte skoon.

 

in ‘n reënboog 

in ‘n reënboog 

 

Filistina & die Gewondes, en Bjella kry seer

 

Hoeveel keer ‘n mens tot bekering moet kom, dit weet ek nie, maar gistraand, hier op Daggaboer, was dit weer sulke tyd. Gisteroggend moes ons eers tot ínkeer kom. Eers was dit warm, toe kook ons. Tien-uur al. Toe begin die warmgebakkery sodat sinkplate doer ver hul lot bekraak en die vinke oral verslae sit en gaap. Geen windjie en geen wolkie nie.

Die geskroei het elf-uur al begin en teen middag al was die yskasdeure op beseringstyd en die gordyne het vanself begin toetrek – die waaiers almal vol-oop, maar, dit roer die gloede net effentjies rond. Marakkas se tong hang halfmas. Victoria sug wydsbeen op haar rug. Alles broei en krap, jeuk en kriewel. So kan dit nie aangaan nie.

Werk kan jy nie, want die verf droog op die kwas. Kosmaak voor ‘n stoof of vuur is glad nie moontlik nie. Ons eet blare. Appels. Ons drink water.  Brakke kry koue pelounie – van winkelpille wil hulle niks weet nie. As jy probeer lees, dans woorde mirage-dansies. Dis of die hele dag koors het.

En toe kom sy. Laat. Toe die dag al van hitte gevrek het.

Toe eers kom die Dans van Ons Suster,  kort na skemer. Klaarstaantyd – die tyd wat geslepe vyande in die skuilskemer toeslaan. Eers oor die bergtop loer sy en sy lag saggies. Die eerste windjie ‘n ligte lafenissie. Spelerig met die vadoeke op die waslyn trippel sy oor die werf en klap besems om en laat harke val. Sy  kielie oor die grassies. Sy wals met die bome.  Die honde se ore staan al amper weer regop soos dinge op die werf begin lewe kry. Die vinke kwink bevele vir die nag se regmaak. Ongesiens op die horison drom wolke saam en begin liggies brom. Dan gooi Onse Suster skielik haar spieël tussen wolke stukkend sodat katte kromrug wegslink, brakke wegduik en Bjella van haar internet brugspel moet opkyk. Sit af die rekenaar, Bjella. Filistina is op ons.

O Donner Filistina ruk geute los. Sy lig dakplate. Hoeveel keer sy haar spieël in silwer skerwe neerwetter, dit kan ons nie tel nie, ons hol, ons koes,  en Marakkas bewe helemal belektriek. Haar tong hang laag en drup een strook bangstroop. Haar ogies skitter wild van angs. Sit kan sy nie. Staan ook nie. Lê beslis niks. Ek troos maar niks help nie. Ons wip soos ons skrik.

Dan staan Elizabeth Trollip skielik weer in my op. Haar hele teenwoordigheid dwing haar aan my op. Nee, ek wil jou nog nie ken nie, sê ek reguit. Ek is nie reg nie. Het nog geen kaste of kluiste of laaie oor jou gaan ooptrek nie. Kan jy nie sien nie? Elke dag daag daar nuwe gesigte op Daggaboer op. Die karakterlys, ons Dramatis Personnae, is reeds ‘n eie fokken telefoonboek en ek is nog nie eens tien weke op die plaas nie.

Nee. Gaan weg. Ek wil jou storie nie halfhartig of sommerso met die linkerhand aanpak nie. Gee my kans. Ek wil die fondamente eers weet en die mure toets om die storms te kan deurstaan, voordat ek jou en jou grafte aanvat.

Niks help nie.  

Dit sidder en bliksem buite. Die lang gange in die huis eggo met geroggel van die donder. Reën vál nie, dit klap. Kletter. Dit klief skitterend deur die tralies oor die stoep teen die vensters vas en spat als nat. Geen spieël in die hemel bly heel nie.  En as die hele landskap  op een slag  blitsverhelder  en in ligte laaie staan, dryf Daggaboer op ‘n oseaan van silwer mis en oerwater. Ons is op ‘n skip.  ‘n Ark.  Aarde en wolke is nou als een massa woedende water, hoogs die bliksem in.

 

Vanoggend is alles weer salig en skoon. Vroeg-oggend kwetter die vinke en almal maak neste reg. Alles is vars. En wat nie gebreek is nie, is vredig.  Ons kan weer kruie ruik. Ons kan weer dink.

In die stort skrop ek met Hesti se tuisgemaakste Wakkerword Lyfskrop. Dis haar growwe soute en sitrus se siele-olies betower met geheime oerbestanddele soos koeksoda en anderlei, en my lyf sing.  Dit kielie van  vars lekkerte.

Nes ek my hare drooghanddoek, kyk ek op en sien teen die ou klerereëling in die aantrekkamer  ‘n ou houthanger hang. Klerehanger. Op die hout staan duidelik uitgespel: Trollip. E. Trollip.

Nee, sê ek. Nee. Hou nog eers verby. Ek het tevore al te veel diepkant ingespring en tussen haaie beland. Of tussen hiënas. Nie weer nie. Hou jou woede en jou vrae tot ek reg is om jou mooi te hoor. Miskien sal jy dan al afkoel sodat jy kan vertel en nie aandag afdreig nie. Ek het lankal geleer. Dreigemente vuur net oorlog aan. Gee tyd. As jy wil hê ek moet jou hoor, sal ek luister sodra ek my werk hier klaar het. Wag. Wag todat ek oopkop en oophart kan oopmaak en enige tyd dag of nag na jou kan luister. Al jou geite en geskiedenis kan aanhoor en aanteken. Maar, vir nou los jy my tot my skilderye klaar is. En tot Parow Hilton, Jonga Eliswe Jikelele en Die Grotman hul bestemmings bereik. Sorrie. Ek is voorlopig volbespreek. So gesels ek kliphard.

Vars en skoongeskrop, vol lewe pluk ek ‘n seilbroek en T-hemp aan.  

Dan roep Bjella. Ek moet kom. Dis hospitaaltyd. Kóm, roep sy.

 

******

 

Bjella moet dadelik dokter toe. Erg vreemd. En sy is glad nie een vir pyne en skete nie. Nooit het sy klagtes oor hoofpyne of ander iepiekonders nie. Nooit lang stories oor pille en grille nie. Verhale oor dokters en aptekersonkostes ook niks. Sy is altyd net op dreef. Aan die gang. Maar, vanoggend het sy skerp pyn in haar sy. Sy stap effens skuins en een skouer vorentoe asof sy ‘n dringendheid het en die naderende muur langs haar nie sien nie, soos my ander vriende as die wyne hulle laatsaans gang-af lei badkamer toe.  Sy lyk effens dronk.  Vreemd. Bjella drink glad nie.

Ek staan nog so en weifel want ek dag dis sekerlik Liria wat in barensnood verkeer, maar nee. Dis Bjella wat seer het. En sy roep. Ons moet Somerset -Oos toe. Nou daatlik.

Die hospitaal op Somerset-Oos lyk soos ‘n ou gestig in ‘n sepia movie. ‘n Ou siekfabriek met blinde vensters en leë, verwaarloosde tuine.  Die mure wat die vensters insluk, skilfer  lelik af. Die deure wat die mense insluk het ou bloedspatsels op. Die personeel waggel tydsaam in dik boude. Hulle wandel en kou kougom. Die sieked kreun op harde banke, die rakke is leeg, die gange eggo ‘n vae vrees wat lankal ook net leeg is. Hol.

Pasiënte sit buite en droom. Hulle kyk in selfoonvensters in asof hulle raaisels sien in leë spieëls. Hulle wieg, rook borrel uit woeste bosgasies op. Piesangskille en stompies word lusteloos neergegooi. Net daar. Langs die asbak of asblik. Tjipspapiere en blikkies val voor die voet. Dis ‘n begraafplaas vir lewendes. ‘n Plek waar die koekoek so nou en dan oorvlieg en net een lig in die gryse en verlate reeks venstertjies laat aangaan, maar in niemand se oë nie.  

Om hier diens te vra, is om dooies te koggel.  Om disrespectful te wees.

Die personeel is spekvet, die siekes brandmaer.  Die mans op die wagbanke is dronk en vol wonde, die vrouens swanger en vol sere. Nie, dis nie armoede nie. Almal het selfone, gestileerde haarhapperskapsels, sonbrille, karsleutels en lekkergoed. Sigarette. Die kinders is popmooi en vol strikke.

Deernis het ek. Ek het lank daarna gesoek en dis salf wat my telkens help red. Een ding kan jy amper skreeu van die Boere: die Boere wat hulself so met trots, nee, met hubris, verhef het tot onmenslike selfbeheptheid – hulle het van probleme ‘n plan gemaak, van eenvoud ‘n toonstuk en van diens ‘n hartsaak. En dit deeglik gedoen, met trots, met paraatheid, netheid en diensplig – al het hulle nie almal daarmee bedien nie. 

Waarom nie?

Wat moet ‘n mens aan gebroedertes gee om selfrespek te kan kweek, as hulle reeds als geneem het wat daar was? Hoe leer jy ‘n verpleegsuster om, binne twintig jaar van vryheid en smartvergelding,  die snot van haar neus te vee en dit nie met vingers uit te krap en aan haar uniform af te smeer nie?  Hoe verduidelik jy aan ‘n blonde narcissis met lang rooi naels dat haar voorkoms nie haar redding is nie? Wel, jy kan nie. Want wys jy die video, is jy die stigter van onrus.  

Ons mág vrae vra. Juis omdat ons destyds nie het  nie. Omdat onself al narsisme moes koors. Ons mag vergelykings maak. Maar moet geen antwoorde verwag anders as verontwaardiging en aanklag nie.  Okay dan, fok dit: As ons verkeerd is, sal ons leer. Ons sal leer. Ons sal met elke misplaaste vraag weer erken as ons verkeerd is en toelaat om te sien dat ander ons luid verkeerd bewys en so nuwe grond tot samewerking skep. Nog twintig jaar gaan kopverskuiwings maak, nie snotverskuiwings nie.

‘n Man in ‘n netjiese swart fluweelbaadjie, in snikhete, daag op soos ‘n wafferse burgemeester. Hy lyk soos Geoge Benson en groet almal asof hy almal ken. Dan wiel hy trolliesvol leë bokse van die hospitaal af verder in die straat af en moer dit op ‘n hoop neer. Keer op keer. Sy styftoegeknoopte swart fluweelbaadjie hou hy aan. Sy sonbril haal hy binne of buite nooit af nie. Maar, hy beweeg. Hy doen iets. Hy het trots in sy werk.

‘n Jong dokter daag op, terug van haar rondtes af. Sy is vars en vriendelik. Bjella kry ‘n inspuiting om haar pyn te demp. My pyne kry nog vlam. Ek sien personeel wat papire in die voortuin neersmyt.

Ons jaag Baai toe. In stilte. Stilte ongewoon met Bjella saam want ons altwee gesels ‘n koedoe uit ‘n bos uit.

By die St Georges in Port Elizabeth is dit die heel ander storie as in Som-Oos. Dis skoon en netjies. Dis mooi. By die ontvangs is ontvangs - iemand met oë wat kan glimlag en groet. Daar is rekenaars. Die rekenaars werk.  Daar is meer as diens.  Hoflikheid. Bjella is in goeie hande. Sy word  deur ‘n netjiese jong man in ‘n rolstoel by die kar opgelaai. Elzandrê.

 

*****

 

Terwyl Bjella ingeboek word, raap ek ‘n brekfis as middagete by Dolcé in die voorportaal op. Dis leeg binne. Buite in die kuiertuin sit ‘n groep  Indiërs aan tafel en eet. Mans. Dis opvallend, want Indiërs is ongewoon in my daaglikse veld, al sien Seuntjie dit doer in Cradock anders.  Die mans sit intens en gesels, skuif tafels stilweg  eenkant en sit nader aan mekaar. Ek bly binne want ‘n grys en bedrukte hitte heers buite. Toe ek weer van my avoslaai met vlam-haloumi opkyk, het die groep buite vinnig om die restauranttafels aangewas. Mooi Indiese vroue in mooi klere, maar geen sari’s nie. Die vroue kom stil aan en groet met soene en gaan sit losweg eenkant, die mans sit in die middel saam.  Niemand gesels nie. Groet net en sit en luister. Almal fokus op een plek waar iemand skynbaar ‘n woordjie lewer. Almal luister. Dis vreemd, so hier in die openbaar, dat ‘n groep so intens saam verkeer. Ek kyk. Hoor niks.

Sodra ek my bord wegstoot, sien ek die mense lyk nou of hulle bid. Ek kyk. Kan niks hoor nie. Ek probeer tel – dis meer as 36 mense. Geen kinders nie. Die vroue maak hul oë toe en lig hul gesigte na die grys daglig bo. Hulle met die hare wat vroue oral begeer en mans betower. Die mans krom hul nekke af en hou oë toe. Prewelend. Ek kyk. Ek brand. Bestel koffie vir die lang pad terug Daggaboer toe.

Toe ek weer opkyk, luister almal nog en die son breek deur grys wolke en kleur goud oor die stoep buite. En tussen die gehoorsames, loop nou poue rond. Oral. Die poue pik krummels op. Die poue word al meer. Vir die eerste keer in my lewe sien ek ‘n moederpou met kuikens rondskrik – die kuikenveertjies lyk jonkverward en deurmekaargrys,  maar op hul honger koppies pronk reeds kamme. Ek kyk.

Opeens vlieg ‘n fluweelblou mannetjie op die rugleuning van ‘n stoel neer,  en hy kyk langnek tussen in die groep mans in, en ek dag:  Please Don’t Shout.

So mooi soos hulle is, maak hulle wragtag die aakligste geluide. Soos tieners. Die mense bid voort.

Meer as sestien poue tel ek nou. Al meer as veertig Indiërs.  Dan gooi die poumannetjie op die stoel sy stertvere in ‘n reënboog oop, sodat die son al sy oë daarin laat sidder. Blink. Huh? Ek wil pis.

Ek staan op en stap stil uit. Los my foon en sak op die tafel. Ek sien die mans hou almal saam die hande van ‘n man vas. Die man in sy blou hemp sit vooroor in ‘n rystoel. En iemand sê: “In the name of Jesus. Amen.”

Toe maak almal hul oë oop, en almal sien die poue. En almal lag en sê:  “Amen!”

Ek wil pie van skone verwondering. Maar die toneel is te ongewoon, ek wil wet wat aangaan en ek wag ‘n oomblik en loop nader vra: How is it that one man can gather so much love around him?

En iemand sê: We have all been saved from ourselves.

En almal sê: “Amen!” En lag.

Toe eers sien ek, nie een van die vroue  dra ‘n rooi kol tussen die oë nie.  En ek voel , ek kon voel, hoe die hele seremonie spontaan was, sommerso en sonder vertoon. Openbaar, maar met ‘n gemaklike fokus en gewoon sámesyn.  Bewussyn. Liefde. Seremonie deurleef tot ‘n stylweet, ‘n beskawing wat van vrae saam doodgewone en nuwe oomblikke maak.  ‘n Ritueel waarvan die tapyt en patroon elke keer weer oorgeweef word.  Om saam te bid en iemand in pyn te steun.

Soos ek dit vertel, alles van vandag, is soos dit was. Wel dan, in  my oë wat vrae het meer as kleur.  En met meer verwondering as iets wat mens daarvan kan maak.

Ek ry plaas terug plaas toe. Deur Olifantskoppas in die reën met vensterveërs wat net in die laagste rat werk – net elke sekonde swiep die veerraam die strontmis van jagende lorries voor my uitsig weg. Dit reën hard. Ek sit heelpad vorentoe. Mik heelpad. Ek kan nie sien nie, maar my kopligte brand en my kar is ‘n lewendige dier, vonktrots en gedienstig omdat ek hom gereeld diens. En die pad is mooi. En ek weet Bjella is veilig.

 Nee, ‘n Jesus-jafeliet is ek nie.  Allermins. My lewe het nie pajama-blou oë nie en my geloof is in geen baksteenwoorde vasgemessel nie. Nog minder  is ek ‘n skrikwitwolf nog enige selfgeregverdigde aanspraakmaker.  Geen evangelie of stel leerreëls het van my besit geneem nie. Die vlag wat ek sal wapper, bly my eie vraagteken. Ek sien , en ek leer vertel , en al my eie wonde laat my wonder,  laat my verwonderd kyk.

Op die plaas is al die ligte af. ‘n Swart en bedeonnerde nag. Dit dawer van die reën. Ek snoetvoet myself die modderpoele om tot in die huis. Al die krag is oral af. Als is stikdonker. Bjella is nie hier nie. Geen Bjella nie. Kerse is soek. Die padstal doer onder is donker. Mariana bel nes ek ‘n kers laat vlam – die alarmmanne is van Cradock af op pad na die padstal - voor ons gaat slaap moet als daar eers aan en werk. Deeglik. Ek is in die reent af padstal toe. Ek stres nie. Al my sleutels kry ek in die donker. Elke sleutel wat elke hek en deur moet oopsluit, kan ek in die donker te al raakvroetel. Ek wil ‘n selfoon met skerp flits in hê. Ek wil kan sien ook. Ek beter alles beter leer beplan.

 

Die Oorsprong van Alle Onheil

 

Ver ver weg, eenkant in ‘n geheime groen vallei om-arm deur geduldige ou berge, doer ver tussen Verlief en Verlies, lê Verloof –  ‘n sluimerende dorpie ook bekend as Denial.  Naby die oewer van ‘n rivierloop wat droog word as mens en dier lesse moet leer, of oorstroom as almal die teendeel moet weet, staan ‘n stil kerkie tussen hoë bome. Heeljaar lank suis net stiltes hier, en die bome maak liggies wind net as dit te warm word, of die blare lig hul vlerke om waarskuwings te stuur sodat voëls skielik opveer en raas, sodat katte skrik en honde blaf en ganse snaterend draf om só al tekens aan almal te gee:  Luister. Loer. Wees bedag.

Dis hier, in die ou pastorie, waar gesoute joernaliste vroegjaar byeenkom om die jaar se spoke en vrese, gelowe en bygelowe, liefde en haat aan te blaas. Hier sit hulle soggens bymekaar, elkeen voor sy eie laptop as meditasiemandala, soos generaals voor ‘n ligte oorlog, soos monnike by die lyk van ‘n kind, en hulle bepaal of botter of margerien vanjaar die straf sal dra. Hulle besin deeglik oor die inherente waardes en gevare tussen olies soos olyf en sonneblom. Hulle verklaar en verkondig waarom, vanjaar , alle kunsmatiggekweekte eiers traagheid in kinders sal veroorsaak, en verduidelik, nee orrreed mekaar, hoekom organiese plaas-eiers jou geliefde aan ‘n jonkaanval sal laat beswyk. Want volgende jaar is dit alles weer ándersom en alles moet élke keer núwe sin en rede hê. Daarom vergader hulle hier, in stilte. Hulle dink. En hulle doen dit verniet.

Dis hier waar ‘hulle’ opereer. Die ‘hulle’ wat opereer in “Hulle sê...”. As jy in ‘n tydskrif sou lees “sielkundiges sê” of “kenners beweer”, moet jy weet: daardie woorde is hier gebore en getooi.

Alles maar alles hier is ernstige sake, als uiters geheim, en die sekuriteitspan wat die veilgheid van alle klandestiene gesprekke waarborg, is daarom ook suiwer organies –  bome, bosduiwe, veldkatte, brakke van alle soort, en ganse. Om net die voorspelers te noem. Kyk, as jy ooit slange wil weghou, maak ‘n gans groot (dis ook goeie raad met die grootmaak van tienermeisies), en jy sal só leer weet wanneer jy jou ore moet spits en jou gedagtes bevel moet gee vir aandag slegs op die onmiddellike.

Die voor die hand liggende.

Dis hier waar sporthelde en sakemanne saam braai om die jaar vórentoe se kriekettellinge en afloop van fietsrywedrenne te borg. Dis in hierdie kamers, hier,  waar modebase en ander kokaïenverslaafdes presies uitwerk of PAISLEY vanjaar op dasse of rompe sal herdebuteer, en of pastelkleure oplaas sal versoen  met die herlewing van shoulder pads én fabulously daarmee saam die fyne balletskoen, alles om lente aan die verbeelding van jagters te gee.

Dis hierheen wat presidente kom, vermom as sekuriteitswagte, om  nuwe verkiesingsveldtogte hok te slaan:  Just Say No, I Don’t Know. Kopieskrywers ken dit as Classic Denial Syndrome, maar die kopers en stemmers hoor die teenkant van die liedjie: It Is Nan Of Your Business What I Do In Pryvet. Dit werk elke jaar. Yes We Can. No I Didn’t. Woorde soos hierdie eis vele argitekte, groot geld, koffersielkunde.

Kuns-afslaers kom hier byeen om weer eens saam te sweer, om te bevestig:  Bevorder Joodse kunstenaars in Suid-Afrikaanse Kunsgeskiedenis want dis die Jode wat internasionaal kuns koop en mekaar ondersteun. Die res kyk fokken sport.

Dis hier, agter in die casino van die konsistorie, waar Parow Hilton as jong kelnerin begin werk het. Dis einste hier waar sy geleer het om enige kraanwater as fonteinwerk te bottel. Sy en soveel ander lugwaardinne en eks-Mejuffroue  SA. Hul spore sluimer hier. Hul parfuum huiwer oral. Dis hier waar hulle ou mans met water in die oë en ys in die bank ontmoet. Waar veeartse en renostermoordenaars laggend in gebare-Koreaans oor ‘n bier saamklets. In hierdie klein klipkerkie met al sy ondergrondse kamers, hier  waar predikante eens bedieninge en bediendes uitgeruil het.

Dis dan uit hierdie oorde vanwaar Parow Hilton soveel jare later selfoon-opdragte ontvang. Opdragte wat haar sonder vrees in geboue vol sluimerende celebrities laat inloop, so koel soos ‘n souterige ysmargarita,  om daar met vlamme skrik te skep, om met die voetval van geloof, of verlies daaraan, te roof.

Dis hier waar alle onheil uitbroei.

 

Parowdynamics

 

Die hospitaal staan in vlamme.

Die sexy spiermasjien se vuis koenek Parow volgesig fokken-Oshkosh en sy gil agteroor en sy gly, sy gly poeshou-bloedbek in die tuimelaarspiraal af tussen mense en beddegoed rolstoele en dik wit bakkies halfvol vla en jellie skommel tussen Bybels en Dan Brown en muisgenote pakkies peanuts ‘n transistor-radio wat luidkeels die Aandlied van die Voëls herleef tref haar teen haar slaap skoolskoene met lapstrikke  ‘n bedpan tref haar koek koekoekklok en die wenner is Dr Williams se Pienk Pille en dan sien sy ‘n gesig – sy dag eers dis ‘n mooi perd maar besef dan dis Amor Vittoloni van der West- en Oost-, Noord- en Suidhuizen wat met anal bleach so bó oor haar gat-oor-kop bollemakiesie slaan sy sien Marilyn en Elvis Osama bo-oor Wilma Lawson-Turnbull verdwyn, en dan, met luide kommentaar deur Gerhard Viviers, verloor sy haar bewussyn. Alles ruik soos Musk Beechies.

 

Soen

 

Ek soen haar. My oë sluit en smelt binne toe weg tot hoog in die koepel van my skedel waar als hemel is. Alles kan vergaan, ek gee niks om nie. Ek gee nie om of ek hiervan sterf nie. Alles wat ooit vekeerd was, is nou reg. Geen skaamte of verleentheid oor my liggaam hou my terug nie.  ‘n Vlam lek warm regdeur my gat en ‘n ster ontplof diep onder in sondekliere los. Sy lok en ek volg. Sy val nie aan met tong en oordaad nie, met ‘n gehyg en gesuig nie, nee, haar lippe streel en soek oral oor myne en soen eers liggies, borsel ligte senuwesies los, dan pols sy stadig ‘n ritme aan wat effens dieper delf en wyer lek, sy kan gee, sy wil hê, ons is lig, ons is saam, saam word ons kaal en heeltemal leeg en heeltermal vol en weer leeg en ons vlieër op, weg, saam in ons eie geheel en al in om nooit weer terug te kom nie.

Wanneer ek my oë weer oopmaak, fladder vlêrmuise teen die swart plafon van die grot. Dit neem ‘n wyle om te registreer wie en waar ek is. ‘n Lae rooi vuur speel gru-patrone oral teen klip en rots, dansende maskers en monsters, dan spoel die beelde van die laaste paar dae weer in flarde terug. Wie is die vrou? Wie het my so teer gesoen? Waar is Engela en haar pajamababa? Hoe kom ek hier in hierdie donnerse verknorsing? Waar is my kar? My broek?

Ek onthou die manne met die fietse en die hond. Wie was hulle? Fokken Three Stooges! Wat soek hulle? Die brief! Die fokken gedig! Is ek mal? Ek is mal.  ‘n Verwarde gek wat in die woestyn wandel en met diere praat en huil, versorg deur ‘n veldmens met woordeboektaal? Ek is gek. Moertoe verby. Als wat ek ooit verkeerd gedoen het, het my op een slag kom haal en nou laat betaal. Nou. Dis my graf hierdie. Dis die einde. Die ingang na die hel met sy monsters en maskers, draalgedrogte wat teen die grotwande dans. Waar is fokken Petrus met sy volstruis-eier en bitterwortelsap?

Ek skreeu: “Fok jou Petrus en fok die fietsfokkers en bring my kar! Bring my fokken kar!”

Eggo’s, in ‘n grot, in die nag vol gruwels, klink nie mooi nie. ‘n Leë rilling kriewel my nek af oor my rug. Dis verby. Faktap. Buite by die grot se bek hoor ek hiënas snuffel en snuif, giggel en lag, soos hoere by die ingang van ‘n nagklub. My days are done.

 

Die Skepsels op Verloof

 

 

Die mense in Denial vergeet nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle moet. Omdat ons moet. Elkeen se verlede en vergete is altyd anders, maar almal vergeet wel selektief. Nie, dis nie ‘n bewustelike ding nie. Dis meer soos ‘n soort wasseep, nee, suur,  wat stresgewys  die onderbewussyn insypel en broksgewys als wegvreet, witmaak – als wat lanklaas gebruik is, of te donker is om te dra.

Baie hier  onthou belangrike gebeure slegs as vae drome, sepiatonele in slow motion, maar klein en onbenullige dingetjies, dit bly skerp vassteek in kleur, geur en selfs byklanke. ‘n Tante se platgetrapte skoene op ‘n deftige troue.  Die woorde van Die Lappop. Die groen sterre in ‘n jong man se oog as hy na jou kyk asof jy van toorstof en roomys gemaak is, eendag op ‘n draadhek op ‘n plaas met die naam Jonkheersfontein.  Die reuk van ‘n skooltas waarin grondboontjiebotter en stroop deur die boeke geloop het.

Almal kom ook op Denial aan met die vasbeslote idee dat hulle almal van edele afkoms is, beter as ander. Maar, die name van hul oupas ken hulle nie. Ouma se nooiensvan nog minder. Nog minder weet hulle dat vele voorouers uit Europa moes vlug, weg voor die gereg, in woede teen die kerk, om hier te kom woede wreek.  Denial, eintlik mos die pragdorp Verloof, is die laaste vlugoord van die bemoerdes en beseerdes. Almal hier het al meer vergeet as wat hulle kan onthou.

Bitter bly die gedagtes aan dit wat ‘n mens gedoen het. Bitterder dit wat nie gedoen is nie.

Maar, ons ontken wat ons kan. Ons doen ons bes. Dis nie maklik nie. Die geheue, soos ‘n belustige vrou, is dikwels onbetroubaar.

Teen die een hang van die berg,  op die Venusheuvel,  woon Die Verdrietgriete. ‘n Gedugte kudde lesbeërs. Olifante. Nee, darem nie – hulle onthou nie aldag so goed nie. Eintlik is hulle ‘n snater kostelike ganse wat met ronde lywe rondwaggel, kop omlaag, en gevaarlik blaas as hulle mans sien aankom. Saans skryf hulle liriese gedigte. Soggens berei hulle vreemde geregte wat geen vleis bevat nie, ook geen eiers nie. Geen neute nie. Hulle brand wierook en loop kaalvoet. Dra hemde van hemp. Fyntuin organies. Hulle boetseer robuuste borsbeelde uit rou klei. En smiddae lees hulle romans en hartseerstories en huil oor soene wat in rookspirale verloor is of in bierwalms verdamp het. Dis swaarkry wat hulle met soete deernis die beste onthou.  Veral die jare op skool, waar eensaamheid en spottery wonde gelaat het. Letsels. Wat is ‘n Lettie Sonder ‘n Letsel? So lui die titel van een bundel wat hier gemaak is, die niespapierwoorde van Reminiska Radeloos.  Van die vroue is besonder hatig teenoor mans, maar ironies genoeg, neem hulle juis van die mansgelag se goorste eienskappe aan:  kleredrag raak slordig – die jrans en skoffelskoene, die kort hare en dik lywe, die lelike manier van eet en lag. Hulle is aggressief en wil baklei, vuisslaan,  as iemand net skeefkyk, maar vind groot plesier daarin om met ander die spot te dryf. Baie van hulle is as kinders deur katoolse ooms seksueel gewond. Baie van hulle is tere wesens in woedende lywe.

In die hoogste huise in die oudste buurt, doer bó,  woon dié wat slegs in die verlede beweeg. Die hede, nee, dit ontken hulle geheel en al. Dis ou musieke wat krapperig op ou draaitafels treur. Vera Lynne. Tafels met kantnette sug vol ou krummels uit die spense van vergete resepte. ‘n Stokou maar blinksilwer Mercedes Benz staan wag voor die huis, ‘n pronkwa so silwer hyself kan geen pad huistoe meer onthou nie. Wonings  soos hierdie ken slegs suiwer Afrikaans, uitgespreek asof dit ‘n outydse drama is. Moedertjie. Almal hier gesels net oor kinderdae. Die Goeie Oue Tyd. Die vetrekke binne is skemer . Varings gedy in koperbakke op hoë houtstaanders met vier pote. Tuisgebak staan gepreserveerd onder hoë glaskoepels op die geelhouttafel. Die boekrak is ‘n begraafplaas van vergeelde woorde. In kaste met kerfversierings hang rokke van groen sy oortrek met los kantwerk , rokke met lang stringe pêrels. Dansrokke. Die mans dra onderbaadjies. Nêrens  speel daar kinders nie. Geen deur gaan toe of venster meer oop nie.  Geen besoekers klop ooit aan  nie. Al speel  die musieke hoe hard kan niemand dit hoor nie.

Agter die bult weer, daar woon diegene wat die hede totaal ontken. Heeltemal. Geen verlede word ooit opgeroep nie. Nooit.  Almal ontken alle vorige dae, enige skuld, alle oorloë, alle wanpraktyke en winsgoëlary, maar almal  ry rond in astrante nuwe motors. Als wat gedra en geëet, gekoop en gedrink word , is slegs uit die heel boonste rakke en kos meer as die mense langsaan se gesigsoperasies. Die hele buurt hier is ewig jonk en beleef elke dag van die jaar slegs die lente. Oorkant die straat kan mense verkluim en van winter vergaan, maar hier sprankel swembaddens vol sjampanje. Die jongeliefdes  speel al te graag sport, lag skitterwit, gesels oor fone met belangrike name, knip-oog parmantig vir almal wat verbystap, en dans op techno –  bewapen met witraamsonbrille, tandreinigende kougom  en die nuuste jagswater van Jean Paul Derrière.  Die klein bietjie wat hierdie sprankelaars wel sou kon onthou, word gereeld heerlik uitgevee met lang teue aan lang zolle tuisgekweekte droomtwak. Niemand hier is ooit ongelukkig nie. Prokureurs en dokters, tand- en oogartse, gym-instrukteurs en en boukontrakteurs, aktrises en aktuarisse, skoonhiedskoninginne en event planners, almal speel saam en die musieke kadoefdoef  24 uur per dag. Niemand hoef eens ’n danslied se naam te onthou nie, want dis almal als dieselfde oor en oor. Die mans lyk almal sensitief, maar is nie. Die vrouens lyk na natuurgodinne, maar is nie. Die kleingoed lyk na modelkinders, maar is nie. Niks is wat dit is nie. Niemand word ‘n dag ouer nie en elkeen is ‘n eie Unreality Show.

Oral in die dorp, tussen almal, woon kunstenaars. Alle soorte. Vele ouer vroue, omvlei deur kolkende blomrompe,  woon hier, wandelende in sagte oosterse pantoffels , diep  aan die neurie onder wilde rooi henna-hare, en hulle skilder nagtonele van swane en mane.  Jong verwers en beeldhouers hier wil vernuwing skep en pos portrette van hulself van faceboek tot galerye in New York – skoktonele in uitdagende skriktegnieke waarin ou vrae nuwe skelportrette word. Elders het ‘n agtal  ooms hul rykdom en suksesvolle praktyke prysgegee om nostalgiese landkappe te maak van mooi ou huise, trekkers en donkiekarre.  Ander val weer  verfdoeke aan met dik pastas van helder kleure, aksiespatsels, “boekette van kleur” wat blomme moet wees in die huise van mense wat smaak in alles – veral in die liefde – verloor het.  Hier skuil ook die skhrywehrs. Eenkat tussen almal. Die bhefhaamdhes met die pype en ronde brille. Hulle wat die kouer, hoër paaie van denke en doen ontgin en ou bande met die Nhederlhande herbevhestig.  Maar meestal werk hier  kunstenaars wat ou wonde wil vergeet en wat nuwe werklikhede wil skep en wil mooi maak, met net dit wat hulle het. Al is dit vuurverbrande eie houtskool en koerantpapier.

In die midde van die dorp, in klein huisies en bekrompe kantore, woon en werk die mensdom wat net in die toekoms leef. Als is vir eendag. Die idees en spaarplanne, polisse en versugtinge, reisplanne en droomkope, selfs die tee-servieste en geelperskes in mooi bottels, alles gaan eendag gebeur of gebruik word. Als sal mooi uitwerk. Mens moet net glo. Eendag as die skip kom, dan sal als goed wees. Elke dag word verwyl met sleurwerk, soggens steunende aan die opstaan, saans sugtende aan die slaap, smiddae brommende aan die werk. En Sondae is dit kerk, want die Verlosser kom ook. Eendag. Dis hier waar Parow se suster woon. En sy raas bemoerd op die langdraadtelefoon:

*****

Jagters

 

Dae lank was ek van stryk gebring deur klein observasies met groot implikasies. Kon nie met my dagboek praat nie. Niks. Want, om te vertel wat mens sien, moet jy als vertel soos jy dit sien, of dit los. ‘n Koek kan jy nie met net versiersuiker maak nie. ‘n Slaai soek ‘n goeie skeut asyn. Dit weet ons almal. Maar, as jy aldag wil ‘waarhede’ soek, moet jy  liewers rondloop met ‘n prokureur, advokaat, predikant, poeliesman, geneesheer en apteker, ‘n harlekyn of twee, en beslis ‘n masseur.  Oral.

Om op Daggaboer te skrywe, is soos om voor ‘n klas te staan – dis die boelies en domgatte wat die meeste van jou dinktyd roof. Die luiaards en skelms. Hulle wat geen huiswerk doen nie. Erger nog, die mooi gesiggies met die vals vriendelikheid en sluwe plannetjies, dis mos maar hulle wat  dink dat niemand hul saai energie opmerk nie. Hul opmerklike doelwitte om te kry sonder om te gee.

Dis snaaks.

Liria het laasnaweek haar baba gehad, Samantha, ‘n pragtige en welgeskape kind, natuurlike geboorte, en vanoggend loop sy na haar huisie met ‘n emmer water op haar kop en sakke hout in haar hande. Dit sien ek terloops deur die gordyne toe ek kyk of die jagters nog op die plaas is. Ek het Liria op Somerset-Oos by die hospitaal loop haal, want Thulaang het my vertel sy gaan duimgooi huistoe met die baba in haar arms en babasakke in haar hande. Nee, alladonner. By Pep het ek vir haar babagoed gaan koop – doeke en poeier, jel en borslappies, baby grows en kousies so oulik ‘n siniese ou oom word weer daarvan sagmoedig. Kombersies en lyfolie, allerhande goete wat ‘n alleenloper nooit aan dink nie, dit koop ek.  En meer.  Ek wou almal wat kon vra om by ietsie by te dra, ‘n paar rand, maar sommiges het blits-oog vertel dat dit nie hulle ‘skuld’ is dat die baba die lewe ingehelp word nie.  In hulle wêreld, verstaan ek, word alle babas sorgvuldig beplan, en dit beslis sonder hulp van die regering. Ek aanvaar dit so. ‘Grants’ is uiteraard net vir sukkelaars en uitbuiters. Jagters neem vele vorme aan. Maar, dis nie my sake nie.  Ek weet net dit: Alles wat ek sien het perspektiewe waarvan ek nie weet nie en eers van moet leer.

My sake is skilderye wat stadig sluimer, maar my snags matriekwakkerskrik en bedags laat in ‘n dwaal.

Gistermiddag drink ek naweekwyn en kyk na my skoongeskropte werksvlakke op die rowwe optelgoed, dit waarop ek wil verf, vervoos van vele idees om wat daarmee te maak, toe Marakkas en Wiekels Victoria begin blaf asof die Filistyne op ons is. En daar staan hulle. Buite, op die agter-erf. Drie man en Doring. Doring die plaaskenner en deurwinterde veldsman. Die res ken ek nie. Nee, die manne soek sigarette. O. Die dorp is mos donners ver. En toevallig het ek darem ‘n ekstra pakkie en ek neem dit uit. Die manne is fris jong bulle, en lus vir gesels, en ek nooi hulle vir dooswyn. Het ek nie brandewyn nie? Nee.  Eisj. Dan sal suurwyn maar moet. En omdat ek nou matriek al elke Novembertyd Veertig keer met nagmerries deur is, voel ek oud genoeg om hulle aan te sê om tafels na die skadu te sleep terwyl ek gaan soek na glase en ys. Fluks is hulle, kakieklere en veldhoede, fris kuite en helder lag.

En daar sit ons toe en gesels die geselse wat ‘n alleenman aanknoop met jong jagters. Wat het julle kom skiet? Nee, ek jag nie self nie, vleis kom van Woolworths af.  Is dit julle wêreld hierdie, op is julle op besoek? Die manne is jonkgetroud en ek vra, wynparaat : Waar het julle julle vrouens ontmoet en waarom het julle besluit om met juis hulle te trou? En hulle vertel, hulle gesels, mooi skoon en oop en sonder terughouding, so vertel hulle hoe hulle, hoe hulle hul vrouens gejag en hulself daarmee makgemaak het.  Doring vertel ook. Almal se stories is vol menswees en deel die senuwees en kwesbaarheid van jag. Ons skink my boks dooswyn tot hy omval en slinger. En toe is die manne daar weg, nadat hulle my die ruim koelkamer invat om die bokke aan die hakke te sien hang. Skemerte. Koel. Mosreuk.Party is takbokke, ingevoer om hier te teel omdat die bokke op Daggaboer se aarde goed aard, omdat hulle goeie vleis lewer, en ek kyk na ‘n bul,  en Neels sê: Vat aan sy horing. Dis so lekker sag soos fluweel, sê hy.  Ek voel. Dit is so. Dis fluweel op die horing wat elke seisoen afval. Ek kyk die dooie diere, en anders as weersin voel ek weer die heerlike siklus van onse wrede planeet, en dis ‘n mooi en triestige stillewe wat voor my staan. Hang. Nature morte. Stadsmoffierig wat mens kan wees, kyk ek, ek  wat niks wil doodmaak nie, nie eens ‘n slang nie, maar met ywer muskiete, vlieë, vlooie en bosluise doodbliksem, staan ek, en ek kyk. My woorde te vol wyn om nog vrae te kry.

 Dan sou dit ook nou wees dat een van die jagters juis die kroonprins van Daggaboer is. Hy, jong Andrew Jordaan, wat vertel hoe lank en met hoeveel omsig hy sy toekomstige vrou in sy visier geëien het. En dat sy hom gelukkig maak. Die man blom as hy van haar praat.

En al die manne wys almal op hul selfone foto’s van die vrouens wat hulle man maak. En dis mooi.

Daar is te veel van Daggaboer om te lewe sonder om te vertel. Bjella is ‘n week al terug op die plaas na haar skietpyne en hospitaalstories. Sy kla nooit oor haar gesondheid nie, en sy werk soos ‘n wafferse stafsersant wat militêr lyste maak van als wat moet gebeur. Sonder haar is alles in chaos. Bjella is die vroedvrou wat oorkoepelend na almal se welsyn omsien, maar nie almal na hare nie. Dis Sondag en daar is weer geen water in die huis nie. Seuntjie is soek. Die plaas kook in die hitte. En die brakke volg my oral omdat ek biltong wat op die vloer geval het in hul pap sagkook.

My skilderye jag my.

 

Liewe lesers van Daggaboer Dagboek, ek het ‘n bekentenis om te maak. Die blog het onverhoeds begin as ‘n relaas op Facebook oor my aankoms en verblyf op die plaas, en spoedig ontwikkel tot ‘n blog – iets waarvan ek niks weet nie. Wat ek wel weet, is dat dit ‘n blog myns insiens ‘n organiese, groeiende en veranderende skepsel is wat geredigeer en aangepas kan word na gelang van gebeure. Dis nie ‘n boek nie.

My bekentenis is dit: ek het entoesiastiese lesers vervreem deur fiktiewe stories by te vleg omdat ek van die werklikheid op die plaas moes wegbeweeg.  Ek moes terugstaan omdat ek kon sien dat die slange wat giftig pik nie in die beeldskone landskap skuil nie, maar in mense. Kwaadstokers en roomrowers met vriendelike glimlagte en oë vol sluwe planne. Om dit als bloot te lê sou inderdaad in lekker vervolgverhaal wees.  Maar een wat met oorleg bekyk moet word.

Omdat die blog ‘n lewende wese is,  gaan ek die Dagboek en fiksie eersdaags van mekaar skei tot twee aparte blogs, want dis wat die nuwe tegnologie mens toelaat en dis wonderlik wonderlik. Ja, ja baie ou lesers mag pfffft onttrek.  Mens verstaan. Maar nuwe lewe en lesers kom by.  Die verhaal is gratis.

Ek kan nie wag om dit wat gebeur te wys nie – maar intussen gaan die stories albei eers eenkant wag tot die gevaarlikste slange dankvader weg is, en totdat ek skilderye vir die Woordfees klaar het.

Dis met groot groot verwondering en dankbaarheid wat ek lesers-aandag kon geniet en my storie kon begin vertel. En dis ‘n wedergeboortenis bine-in my. Dankie.

Vandag pos ek die laaste deel van die landskap Verloof/Denial. Annerdag begin die Aksie daar en is die omgewing klaar geskets en staan dit apart op ‘n eie blog.

Nou eers is dit tyd om te verf. Wish me luck.

Groete

Jan Wolmarans

(C) Jan Barend Wolmarans. 2014.

 

Besoekers in ligte luim na 'n potjie van ons beroemde daggatee.
\
My gunsteling by Daggaboer Padstal - Roosterkoek met biltongsmeer, rasperkaas, fynbiltong en appelkoosgeeskonfyt.
Diere is baie welkom by die padstal. Hierdie kater is van vroeger dae. Honde, katte, bobbejane en skoonma's word almal ewe hartlik ontvang en kry water en stukkie droge wors.
Grondpad van Daggaboer Opstal af na Padstal - die wit spikkeltjies

Write a new comment: (Click here)

SimpleSite.com
Characters left: 160
DONE Sending...

Clarissa Venter | Reply 02.02.2014 22.24

Jou skrywe gee my n nuwe blik op DagouBoer. N hemelse paradys in die dorre karoo waar ek ook eens op n tyd lafenis vir n aantal maande kon vind.

annaline | Reply 29.01.2014 10.28

ai maar ek mis die skrywes op die blad...

Irene Cornelissen | Reply 18.01.2014 17.40

Jan, jy was saam met my dogter in Florida Hoër - Therésa Cornelissen. Sy het my van jou geselsblad vertel. Moet asseblief nie ophou skryf of skilder nie. Groete

annaline | Reply 14.01.2014 10.15

baie dankie vir wat jy ons bied...kannie wag om weer te lees nie...neem die kwas op en maak mooi xxx mooi wense uit die Kaap

annaline | Reply 09.01.2014 10.22

ek het lekker opgevang...geniet dit elke keer meer xx

Carine | Reply 07.01.2014 04.42

Dankie, Jannie! Eerste keer in lang tyd weer kans gekry om te lees. X

annaline | Reply 01.01.2014 20.36

ek sit hier en lees en voel danbaar vir die ontvluging wat jou skrywe bied...wens jou n vreugdevolle nuwejaar toe xxx

Alec Dick | Reply 24.12.2013 14.20

Ai ek voel nou weer beter. dankie Jan. geniet jou kersfees tyd.

Zenobia Kellerman | Reply 20.12.2013 19.35

Dit is raakvat, soms eina woorde. Baie kosbaar.

Carine | Reply 12.12.2013 08.08

My mond water, demmit!

See all comments

| Reply

Latest comments

02.02 | 22:24

Jou skrywe gee my n nuwe blik op DagouBoer. N hemelse paradys in die dorre karoo waar ek ook eens op n tyd lafenis vir n aantal maande kon vind.

...
29.01 | 10:28

ai maar ek mis die skrywes op die blad...

...
18.01 | 17:40

Jan, jy was saam met my dogter in Florida Hoër - Therésa Cornelissen. Sy het my van jou geselsblad vertel. Moet asseblief nie ophou skryf of skilder nie. Groete

...
15.01 | 15:59

hi Jannie. ken jou nie persoonlik, maar Bella my vertel van jou. so bly jy deel daai groot ou huis met my vriendin. maak my meer gerus oor haar. ek is haar kleintyd en groottyd vriendin. saam pop gespeel, gevry, gelag en gehuil. hou van jou site oor Dagga

...
You liked this page